Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/15 bl. 12-19
  • Die wagter het gese: ”Geval het Babel”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wagter het gese: ”Geval het Babel”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • PERSOONLIKE REAKSIE OP BABILON SE VAL
  • WAT DIE WAGTER HET OM TE BERIG
  • “Babilon het geval!”
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Jehovah verneder ’n hoogmoedige stad
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Vertrou op Jehovah—nie op “’n sameswering” nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • “Gaan uit haar uit, my volk”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/15 bl. 12-19

Die wagter het gesê: “Geval het Babel”

1. Waarom moet ons onsself staal om die “gesig” wat Jesaja ons kan vertel, te ondersoek?

DIE gesig van die dinge wat voor die deur is, is ’n harde. Dit is hoe die profeet Jesaja dit selfs gedurende die dae van die Assiriese Ryk wat destyds die wêreld oorheers het, beskryf het. Is die “gesig” te ‘hard’ vir ons om dit vandag te ondersoek? Laat ons ons egter staal om te hoor wat Jesaja sê: “’n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes.”—Jes. 21:2.

2. (a) Wat word as “die verwoester” geïdentifiseer, en hoe? (b) Teenoor wie was die “ontroue” veral “troueloos”, en waarom?

2 Alhoewel hy nie by name genoem word nie, kan die een wat by uitstek “die ontroue” was, uitgeken word. Dit was eertydse Babilon, wat die Derde Wêreldmoondheid geword het. Hy het berugtheid verwerf omdat hy die stad Jerusalem en selfs die Allerheiligste van die tempel van Jehovah aldaar verwoes het. Jehovah het Babilon se keiser, Nebukadnesar, weliswaar as sy “dienaar” gebruik om die koninkryk van Juda te tugtig, maar Babilon het Jehovah se verbondsvolk troueloos behandel. Hy het nooit die Joodse ballinge vrygelaat om na hulle Godgegewe tuisland terug te keer nie, selfs al het so te sê 70 jaar verstryk (Jes. 14:3-17). Die veroweraar van die Babiloniese Ryk was nodig om in die jaar 537 v.G.J. die weg huis toe vir hierdie “gevangenes” te open. Die “gesig” wat aan die wagter Jesaja meegedeel is, was dus tereg ’n “harde” vir Babilon, die verwoester van nasies, veral die verwoester van die volk van Jesaja se God.

3. Wat kan ons oor Babilon se hedendaagse teenbeeld as ’n “ontroue” en ’n “verwoester” sê?

3 Wat van die hedendaagse teenbeeld van antieke Babilon? In haar handelinge met daardie Christene wat in ’n verbondsverhouding met Jehovah God is, was sy geensins minder troueloos waar dit by die leerstellings van die Christelike godsdiens kom nie. Sy het sulke Christene meedoënloos verwoes omdat hulle die gebooie van Jehovah God bewaar en van sy gekroonde koning, Jesus Christus, getuig (Openb. 12:17). Die valse Christendom was aan die voorpunt in hierdie program van trouelose behandeling en verwoesting, veral sedert die dae van die Eerste Wêreldoorlog. Sy in die besonder sal die krag van die ‘harde gesig” ondervind wanneer dit vir die hedendaagse wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, vervul word. Maar wie sal Jehovah gebruik om daardie “harde gesig” binnekort ’n werklikheid te maak?

4. Wie word in Jesaja 21:2 geroep om Babilon aan te val, en waarom word die Perse nie hier gemeld nie?

4 Jesaja lê die grondslag vir die antwoord wanneer hy voorts sê: “Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek ’n einde” (Jes. 21:2). Elam was geleë aan die oostekant van die Tigris en het ’n deel van Persië geword, hoewel Iran vandag oor daardie gebied regeer.a Medië was die groter gebied aan die oostekant van die Mesopotamiese vallei. Omtrent 200 jaar na Jesaja se profesie het Kores (II) die Grote die Meders verower om aan die koninkryk van Persië die oorhand oor Medië te gee. Sy moeder was egter ’n Meder, en die meeste van die soldate in sy leër was Meders. Hierdie Kores is die Kores wat Jesaja onder Goddelike inspirasie voorspel het (Jes. 44:28-45:7). Toe Jesaja se profesie gegee is, het die Medo-Persiese Ryk nog nie verrys nie, en dus het die Perse nog nie na vore gekom nie. Jehovah het dus slegs vir Elam en Medië by name geroep om Babilon aan te val.

5. Hoe het Jehovah ’n einde aan “alle gesug” weens haar gemaak, en is die “gevangene” bevry om huis toe te gaan?

5 Sou daardie aanvallers slaag en die situasie in suidwestelike Asië en die Midde-Ooste verander? Ja! Dit is aangedui deur Jesaja se volgende woorde: “Aan alle gesug maak Ek ’n einde.” Dit is in werklikheid die woorde van “die HERE van die leërskare”, die Soewereine Heer van die heelal. Deur Elam en Medië as sy instrumente te gebruik, het hy ’n einde gemaak aan “alle gesug” weens verdrukkende Babilon. In ’n beroep op Jehovah God om hulle te verlos van gevangenemers wie dit nie kon skeel of die Israeliete in hulle gevange staat weggeteer het nie, het die geïnspireerde psalmis gesê: “Laat die gesug van die gevangene voor u aangesig kom; laat die kinders van die dood oorbly na die grootheid van u arm” (Ps. 79:11-13; Jes. 14:17). Hierdie gebed is in die 70ste jaar van die Jode se ballingskap in Babilon verhoor toe Kores die Grote sy koninklike bevel uitgevaardig het.—Jes. 35:8-10.

PERSOONLIKE REAKSIE OP BABILON SE VAL

6, 7. Hoe beskryf Jesaja die uitwerking van Babilon se val op diegene wat nadelig geraak word?

6 Die val van die magtige Derde Wêreldmoondheid in 539 v.G.J. met besondere voordeel vir die landjie Israel was natuurlik iets wat ’n mens jou moeilik kon voorstel. Dit sou ’n ingrypende verandering in die verloop van wêreldgeskiedenis meebring. Dit sou ongetwyfeld pynlik wees vir indiwidue wat nadelig geraak is deur die val van die Ryk waarvan die “woestyn van die see” die hartland was. Die uitwerking hiervan op sulke persone word soos volg beskryf in Jesaja se woorde oor die “harde gesig”:

7 “Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie. My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ’n verskrikking.”—Jes. 21:3, 4.

8. Hoe toon Jesaja se beskrywende woorde wat die reaksie van die godsdiensleiers in die valse Christendom en die heidendom tydens die val van die wêreldryk van valse godsdiens sal wees?

8 Daardie beskrywende woorde oor die val van die trouelose Derde Wêreldmoondheid lig die skokgolf toe wat deur die wêreld se godsdiensgemeenskap sal beweeg wanneer die hedendaagse teenbeeld van Babilon val. Dit sal die godsdiensgevoelens van die hedendaagse teenbeeldige Babiloniërs baie seerder maak as die kragtige boodskap wat nou gedurende hierdie “tyd van die einde” sedert 1914 deur Jehovah se Getuies verkondig word (Dan. 12:4). Die priesters en ander ampsbekleërs van die godsdiensliggame van die valse Christendom en die heidendom sal verbyster en oorbluf wees asof hulle nie kan sien of hoor wat plaasvind nie. Hulle harte sal geen stabiliteit, geen rus, geen vermoë hê om onwankelbaar staat te maak op die gode wat eens aanbid is nie. Hulle word verskrik deur ’n situasie wat afgryslik genoeg is om ’n mens te laat sidder, veral omdat hulle godsdienshuigelary aan die kaak gestel is. Die “skemeraand” wat die belofte van rus en ontspanning aan die einde van ’n dag se werk inhou, sal vir hulle ’n tyd van toenemende duisternis wees wat hulle verskrik. Die dag waartydens hulle die mense in hulle godsdiensorganisasies kon mislei en verdruk, sal verskriklik eindig. Hulle sal inkrimp soos ’n vrou wat haar heupe vashou weens barensweë.

9. Watter bevel van Jehovah laat die toneelskikking wat vir Jesaja onthul is skielik verander?

9 Skielik verander die toneelskikking wat vir die profeet Jesaja onthul is soos tydens ’n verandering van tonele in ’n teater. Hy hoor die bevel van Jehovah af: “Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink. . . . Staan op, o vorste, salf die skild! Want so het die Here vir my gesê.”—Jes. 21:5, 6.

10. Wat het daardie goddelike bevel beskryf, en wanneer het die toneel wat beskryf is die allergrootste veragting vir Jehovah God bereik?

10 Dit beskryf kortliks die toneel in die paleis in Babilon tydens die laaste nag van haar wêreldoorheersing. Dit beeld die fees van Belsasar, die seun van die afwesige keiser Nabonidus, aanskoulik uit. Daar was toe inderdaad ’n rangskikking van sitplekke vir die duisend maghebbers van Babilon. Daar is vrolik geëet en gedrink. Maar dit het gepaard gegaan met die allergrootste veragting vir Jehovah God toe hulle begin eet en drink het met die eetgerei wat aan Sy tempel behoort het totdat die Babiloniërs Jerusalem ingeneem en sy tempel verwoes het.

11. Wat het Jehovah nou wonderdadig by hierdie heiligskennende fees van Belsasar gedoen, en hoe het Daniël by daardie geleentheid as uitlêer gedien?

11 Belsasar se fees word nou heiligskennend, want Jehovah is by die saak betrek. Hy het op wonderdadige wyse ’n hand gestuur om die woorde “Mene, mene, tekel ufarsin” teen die muur van die banketsaal te skryf waar die koning dit kon sien. Die Joodse balling-profeet Daniël moes ingeroep word om daardie kode te ontsyfer. Die laaste woord van die handskrif, ufarsin, is die meervoud van die Chaldeeuse woord peres en dit beteken “verdeeldhede”. Tydens sy geïnspireerde uitleg het Daniël dus gesê: “Peres—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.”—Dan. 5:28.

12. Wat was die “skild” wat deur die vorste gesalf moes word, en wat het die bevel om so ’n “skild” te salf aangedui?

12 As beloning is Daniël met koninklike klere beklee en die “derde in rang” in die ryk gemaak. Maar dit was nie die vervulling van Jehovah se bevel aan die adel van Babilon nie: “Staan op, o vorste, salf die skild!” (Jes. 21:5). Dit was ook nie ’n bevel aan die vorste om hulle oorlogskilde te salf om teen die beleëraars van Babilon te veg nie. Die uitdrukking “die skild” het eerder verwys na die koninklike hoof van die nasie. (Vergelyk Psalm 89:19.) Wat beteken die bevel om ‘die skild te salf dan? Dit: dat koning Belsasar eerlank om die lewe gebring sou word sodat dit nodig sou wees vir ’n ander om die posisie van ‘tweede in rang’ in die Babiloniese Ryk te aanvaar. Maar hierdie inhuldiging van ’n nuwe simboliese “skild” deur salwing het nooit plaasgevind nie. Belsasar se gewelddadige dood het nie werklik plek gemaak vir ’n opvolger in die koninklike gesin nie.

13. Is die bevel in Jesaja 21:2 dus tevergeefs gegee, en het die posisie wat Daniël pas tevore ontvang het onder die nuwe bewind gegeld?

13 Daniel 5:30, en 6:1 sê: “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Darius, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.” Wat ’n blitsvinnige verandering in wêreldpolitiek was dit tog! Jehovah het nie tevergeefs beveel nie: “Trek op, Elam! Beleër, Medië!” (Jes. 21:2). Na Babilon se val voor die Meders en die Perse het Darius die Meder die plek van ‘tweede in rang’ in Babilon beklee. Die posisie van “derde in rang” in Babilonië wat Daniël pas tevore ontvang het, het nie onder die Medo-Persiese bewind gegeld nie. Daniël is egter nie saam met Belsasar om die lewe gebring nie.

14. Wat beeld eertydse Babilon se val af, en hoe sal diegene wat daaraan verbonde is, geraak word?

14 Antieke Babel se verrassende val beeld die skielike val van haar hedendaagse teenbeeld, Babilon die Grote, af. Dit sal wêreldse godsdiensbeoefenaars onverhoeds vang. Indien persone wat aan die onoorwinlikheid van die wêreldryk van valse godsdiens glo nie verwag dat sy binnekort gaan val nie, gaan sulke oorgeruste persone ’n hewige skok kry!

WAT DIE WAGTER HET OM TE BERIG

15. Wat dui die bevel wat na die profetiese beskrywing van Belsasar se fees gegee is aan omtrent eertydse Babilon en haar teenbeeld?

15 Waarom gee Jesaja ons egter vooraf daardie kykie in Belsasar se fees op daardie pynlike nag van 539 v.G.J.? Weens dit wat daarop sou volg, naamlik die aankondiging van daardie groot gebeurtenis van die eeu vir Jehovah se verbondsvolk, wat hulle sou verheug oor die val van “die ontroue”. Jesaja 21:5, 6 toon wat kort op die hakke van Babilon se val sou volg wanneer dit sê: “Staan op, o vorste, salf die skild! Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit ’n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien.” Aha, die gebeurtenis sou wêreldwyd publisiteit geniet! Net so moet die val van Babilon die Grote in die nuus kom!

16. Wat kan gesê word omtrent die “wag” wat in die geval van eertydse Babilon uitgesit is, en die een wat in die geval van Babilon die Grote uitgesit is?

16 Dit was Jesaja wat aangesê is om die “wag” uit te sit sodat hy te kenne kon gee wat hy gesien het. Jesaja het nie gelewe om ’n ooggetuie te wees van die dinge wat hy voorspel het en waarvan hy ons ’n skriftelike verslag gegee het nie. Iemand anders uit Jesaja se volk sou dus as die wag moes dien wat uitgesit is. Lank voor Babilon die Grote se dreigende val is ’n soortgelyke wag uitgesit. Dit is die klas wat met Jehovah se gees gesalf is, ’n klas wat gepas verbonde is aan die tydskrif wat nog steeds Die Wagtoring genoem word. Die getuienis is beskikbaar om te toon dat Jehovah God daardie “wag”-klas deur middel van Jesus Christus aangestel het. Dit het in daardie hoedanigheid gedien reg tot hierdie onheilspellende uur van die “nag” wat die hele wêreld in duisternis hul (Matt. 24:45-47). Wat kan ons nou verwag dat hierdie “wag” ons op die bestemde tyd sal meedeel?

17. Wat het die “wag” wat uitgesit is, gesien, en wat het dit voorgestel?

17 Jesaja se profesie oor die “wag” sê voorts: “En hy het ’n strydwa met ’n span ryperde, ’n strydwa met esels, ’n strydwa met kamele gesien. En hy het noulettend aandag geskenk, met groot opmerksaamheid” (Jes. 21:7, NW). Daardie strydwaens nader klaarblyklik met die snelheid van ’n span vinnige Persiese posperde of ryperde en kom vanaf “die [verowerde] woestyn van die see”. Daar is waarskynlik kolonnes strydwaens. Die kolonne strydwaens wat deur esels getrek word, stel die Mediese magte onder Darius die Meder voor. Die kolonne strydwaens wat getrek word deur die groter diere, kamele wat vinniger as perde kan hardloop, stel die Persiese magte onder Kores die Grote voor.b Hierdie Pers was inderdaad die aanvoerder van die gesamentlike magte van die Meders en die Perse. Dit was nie Darius die Meder nie, maar Kores die Pers wat die veroweraar was wat Jehovah deur Jesaja gesê het Hy by sy naam sal roep. Dit is voor hierdie Kores dat Jehovah God die metaalpoorte en -deure van Babilon sou oopmaak sodat hy uit die Eufraat se bedding kon opklim en die sterk ommuurde stad Babilon kon inneem.—Jes. 44:27-45:4; vergelyk Daniel 8:1-4, 20.

18. Watter soort wagter sou die “wag” wat uitgesit is volgens Jesaja 21:8, 9 wees, en is dit die geval?

18 Hoe getrou en betroubaar sou die wag wat uitgesit is sy werk as wagter verrig? Jesaja 21:8, 9 (vgl. NW) dui dit aan deur te sê: “En hy het geroep soos ’n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte. En kyk, daar kom ’n stoet [strydwaens met] manne, ruiters twee aan twee.” Wawyd wakker het hy op sy pos gebly totdat sy deurborende oë die betekenisvolle gesig gesien het waarop hy onvermoeid gewag het. Om sy Godgegewe opdrag uit te voer, het die “wagter”-klas van vandag eweneens deur middel van Die Wagtoring en ander teokratiese publikasies en openbare toesprake onverskrokke met ’n bulderende stem gespreek. Deur Jehovah se onfeilbare krag sal hulle voortgaan om dit te doen totdat hulle die langverwagte aankondiging kan maak.

19. Wat toon of die wagter die betekenis van die naderende strydwaens reg vertolk het?

19 Die wagter het die betekenis gesnap van die strydwaens wat hy binne gesigafstand van die wagtoring waarop hy gestaan het, sien kom het. Volgens die tyd wat deur Jehovah bepaal is—70 jaar van verwoesting vir die land Juda—en volgens die profesieë wat deur die balling Daniël voor Belsasar se heiligskennende fees in 539 v.G.J. gegee is, kon die wagter die betekenis van die ongehinderde koms van die nie-Babiloniese strydwaens reg vertolk. “Toe”, sê Jesaja 21:9b, “het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle [hy, NW] het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond.”

20. Waarom was dit nie die Jode wat ballinge in Babilon was wat die gesnede beelde van haar gode gebreek het nie, en wie was die beeldestormer?

20 Jehovah, die een lewende en ware God, die jaloerse God of “God wat uitsluitlike toewyding verg”, is die beeldestormer waarvan daar hier gepraat word (Ex. 20:5, NW). Deur toe te laat dat die Meders en die Perse wat nie die gode van Babilon aanbid het nie, haar verower, het Jehovah getoon hoe vals die afgode van die Derde Wêreldmoondheid is, dat hulle nie bestaan nie. Dit was nie die weggevoerde Jode in Babilon wat in opstand gekom en die Derde Wêreldmoondheid omvergewerp het nie; Jehovah hulle God het hulle nie gemagtig of beveel om dit te doen nie. Hy het eerder Darius die Meder en Kores die Pers gebruik om afgodsaanbiddende Babilon as ’n wêreldmoondheid omver te werp (Dan. 2:32, 36-38). Dit was dus nie die “wagter” wat die val van “die ontroue”, Babilon, veroorsaak het nie. Hy het bloot oor die val daarvan getuig, ter regverdiging van Jehovah as die God van profesie en as Soewereine Heer.

21. Watter aankondiging soortgelyk aan die wat die “wagter” van Jesaja se profesie uitgeroep het, moet nog gemaak word?

21 Daar is voorspel dat ’n aankondiging van universele belang soos die van die “wagter” van Jesaja se profesie in ons tyd gemaak sal word. Die Christenapostel Johannes, wat tot aan die einde van die eerste eeu gelewe het, het ’n gesig gehad van die een wat die aankondiging gemaak het en hy het geskryf: “Ek [het] ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls.”—Openb. 18:1, 2.

22. Wie gaan Babilon die Grote in ’n verlate woesteny verander, en watter werktuig gaan hy hiervoor gebruik?

22 Die Grotere Kores, die verheerlikte Here Jesus Christus, is die Een wat die komende letterlike val van Babilon die Grote gaan veroorsaak sodat sy ’n verlate plek word wat deur mense vermy word. Die Christengetuies van Jehovah kan vandag dwarsoor die wêreld omtrent Jehovah se koninkryk en die dag van sy wraak getuig soos hulle wil, maar dit sal nooit die wêreldryk van valse godsdiens laat ineenstort nie. Hulle wag gretig op die tyd wanneer hulle die aankondiging kan maak dat Babilon die Grote geval het (Openb. 18:2). Aangesien die Grotere Kores nie sy vredeliewende dissipels op aarde gebruik om Babilon die Grote omver te werp nie, toon Openbaring hoofstuk 17 dat hy ’n dierlike instrument sal gebruik; dit word afgebeeld as ’n skarlakenrooi dier met 10 horings. Sy sewe koppe beeld die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis af. Die internasionale hoer, Babilon die Grote, het met die stigting van die Volkebond na die Eerste Wêreldoorlog op hierdie twintigste-eeuse simboliese dier geklim.

23. Op wie sal die voormalige ondersteuners van die simboliese dier dan met volle mag ’n aanval doen, en wat sal die Grotere Kores doen?

23 Babilon die Grote ry tot nou toe op die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke. Maar binnekort sal die politieke ondersteuners van die Verenigde Volke moeg word vir oorheersing deur die wêreldryk van valse godsdiens, en dan sal hulle haar afgooi en vernietig. Dan, nadat die “wagter” uitgeroep het, “Geval het die groot Babilon”, sal hulle die oorblywende Christengetuies van Jehovah met al hulle mag aanval. Dit is hier waar die Grotere Kores, Jesus Christus, die “Koning van die konings”, sal ingryp en die voormalige ondersteuners van die V.V.O. tydens die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal vernietig. Jehovah se gesalfde “wagter”-klas en die “groot menigte” wat gereageer het op die inligting wat die samegestelde “wagter” uitgeroep het, sal daardie finale oorlog onder goddelike beskerming oorleef, tot die regverdiging van Jehovah God as Soewerein van die hele hemel en aarde.

24. Hoe was eertydse Israel ’n “seun” van Jehovah se dorsvloer, en aan wie se soortgelyke dorswerk sal daar vandag ’n einde gemaak word, en hoe?

24 Die Jode wat 70 jaar lank ballinge in eertydse Babilon was, was aldus asof deur ’n dorsproses gedissiplineer. Hulle het, simbolies gesproke, die “seun” van Jehovah se dorsvloer uitgemaak. Na Babilon se val sou daardie dissiplinêre dorsproses eindig. Waar dit hierna verwys, sê Jesaja 21:10 simpatiek en vertroostend: “o My vertrapte en gedorste volk [seun van my dorsvloer, NW], wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.” Babilon die Grote is eweneens toegelaat om Jehovah se getroue getuies te dors. Maar nadat sy geval het en vernietig is, sal sy niemand meer kan ‘dors’ nie. Haar voormalige politieke minnaars sal probeer om die dorsproses uit te rek. As vergelding sal hulle self op Jehovah se simboliese dorsvloer gedors word totdat hulle vernietig is.—Openb. 14:14, 15: Joël 3:13-16; Miga 4:12, 13.

25. Waarom is dit, met die oog op die naderende val van Babilon die Grote, nou nodiger as ooit tevore dat Jehovah se “volk” sy bevel uitbasuin, en met watter doel?

25 Aangesien die val van Babilon die Grote ophande is, is dit nou nodiger as ooit tevore dat die “wagter”-klas en die “groot menigte” die goddelike bevel uitbasuin: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb. 18:4). Ja, “gaan uit haar uit”, nie om by haar politieke minnaars of die ongelowige magte van hierdie wêreld wat teen God gekant is, aan te sluit nie, maar om deel te word van “my volk”, Jehovah se toegewyde volk (Jer. 51:45). Handel nou volgens Jesaja se “Godspraak oor die woestyn van die see”.—Jes. 21:1-10.

26. Waarom is ons “die HERE van die leërskare” dank verskuldig, en watter geseënde hoop het diegene wat daarop ag slaan?

26 “Die HERE van die leërskare, die God van Israel” verdien dus al die dank omdat hy ’n “wagter”-klas verwek en uitgesit het en omdat hy hom so ’n wonderlike tyding gegee het om wyd en syd bekend te maak! Almal wat ag slaan op die Godgegewe tyding het die geseënde hoop om die verskriklike “nag” op hierdie wêreld te oorleef en om die heerlike “more” van die regverdige nuwe stelsel van dinge onder die bewind van die Grotere Kores, Jesus Christus die Bevryder, te begroet. Dit sal “die HERE van die leërskare”, ons Soewereine Heer, behaag en tot sy lof strek.

[Voetnote]

a The Jerusalem Bible (Frans) sê oor Jesaja 21:2: “Elam is die naam van die eertydse bewoners van die hoë plato waar die Perse hulle oorsprong het. Voor die verowering van Babilon was die Meders die dienaars van Kores.”

b Kyk The History of Herodotus, Boek I met die titel “Clio”, bladsy 29, oor Kores die Grote se gebruik van kamele tydens oorlog.

Die Franse Drioux-Bybel, uitgawe van 1884, lewer die volgende kommentaar oor Jesaja 21:7: “Hierdie twee ruiters wat op ’n strydwa ry, is die twee konings wat Babilon moes verower, Darius die Meder en Kores. Soos Menochius [’n Italiaanse Jesuïete-Bybelkommentator van die 17de eeu] dit baie goed verduidelik, stel hulle bestyging die Meders en die Perse voor.”

Kyk soortgelyke kommentaar oor Jesaja 21:7 in dr. Adam Clarke se Commentary on The Old Testament. Deel 4, bladsy 2724.

Kyk Hoofstuk 20 met die titel “Die Grieke en die Perse” van die boek The Outline of History deur H. G. Wells, bladsy 257, paragrawe 2, 3 van die 1971-uitgawe oor Kores se gebruik van kamele in oorlogstrategie.

[Prent op bladsy 13]

Belsasar se heiligskennende fees het aanleiding gegee tot Jehovah se finale strafgerig teen Babilon

[Prent op bladsy 16]

As vergelding omdat hulle Jehovah se Getuies ‘gedors’ het, sal eers die wêreldryk van valse godsdiens en daarna haar politieke minnaars self ‘gedors’ word totdat hulle vernietig is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel