Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/15 bl. 23-27
  • John Wycliffe Kampvegter vir die Bybel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • John Wycliffe Kampvegter vir die Bybel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WYCLIFFE NEEM SY STANDPUNT IN
  • DIE EERSTE WYCLIFFE-BYBEL
  • DIE GESKIL VAN TRANSSUBSTANSIASIE
  • SY LAASTE JARE
  • Die Lollarde, moedige Bybelpredikers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • “Die woord van ons God . . . sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Hulle was lief vir die Woord van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Die mees verhewe diens”, “die aangenaamste lewe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/15 bl. 23-27

John Wycliffe Kampvegter vir die Bybel

IN DIE Engelse graafskap Leicestershire vloei die Swift-rivier rustig deur landerye en weivelde en verby die dorpie Lutterworth. Eindelik vloei hierdie stroom naby Rugby in Warwickshire in die Avonrivier in. Dit is vandag moeilik om die rustige toneel te verbind met party van die gebeure van 600 jaar gelede. Een voorval in die besonder is so eienaardig dat dit redelike persone tot vandag toe verbaas.

Ons neem dalk ons vryheid om die Bybel te lees as vanselfsprekend aan, maar dit was baie anders in die dae van John Wycliffe. As ons ondersoek instel na party van die gebeure wat aanleiding gegee het tot die skokkende optrede waarin die Swift-rivier ’n rol gespeel het, sal ons groter waardering verkry vir ons eie vryheid om die Heilige Skrif te bestudeer.

Gedurende die Middeleeue het die feodale stelsel in Engeland bestaan. Die lewe in gehuggies en selfs dorpe was baie afgesonderd en die landheer het oor die mense geheers. Hy het ’n groot deel van hulle arbeid geëis in ruil vir die baie beperkte vryheid om hulle eie kleinhoewes te bewerk. Die krotte van die boerestand het ’n skerp kontras gevorm met die yslike kliphuise en kastele van die ryk landhere. Weens ’n gebrek aan onderwys en omdat hulle gevolglik baie onkundig was, was die landbewoners baie bevrees en bygelowig, iets wat grootsliks vererger is deur veelvuldige pessiektes en hongersnode wat ’n hoogtepunt bereik het met die Swart Dood van 1349. Die invloed van die Kerk en die klooster was ook baie verdrukkend.

Met weinig geleenthede om te leer was die plaaslike pastoor dikwels net so onkundig soos die landbewoners. Die monnike het andersyds die geestelike lewens van die mense beheer. Hulle het na die mense gegaan om die ‘sewe dodelike sondes’ te verkondig en om aalmoese en bydraes in te vorder om hulle klooster te verryk, wat vrydom van belasting geniet het omdat dit as die eiendom van die pous beskou is. Die aflaatstelsel en die verkoop van aflate en relieke het daartoe bygedra dat misdadigheid en losbandigheid verskoon is, en gevolglik het dit toegeneem.

Baie mense het moeg geword vir hulle lyfeienskap. Mettertyd het party here begin om huur te vra in plaas van arbeid—’n reëling wat vir die landbewoner groter vryheid gebied het. Namate sy onafhanklikheid toegeneem het, het die landbewoner meer geleenthede gehad om te dink en aan ander sye van die sosiale lewe mee te doen. Al wat hy nodig gehad het, was ’n gesaghebbende stem om uiting aan sy gevoelens te gee. So ’n stem is gevind in die persoon van John Wycliffe.

WYCLIFFE NEEM SY STANDPUNT IN

John Wycliffe, wat omstreeks die jare 1328-1330 gebore is, is na Oxford-universiteit gestuur, waar hy bevorder is totdat hy teen 1361 die hoof van Balliol-kollege en, ’n paar jaar later, ’n doktor in die teologie was. Sy vertroudheid met Engelse wet en kerkwet was nie bloot die gevolg van sy belangstelling in die onderwerp nie, maar van ’n diepgewortelde begeerte om toe te sien dat vryhede verdedig en gehandhaaf word.

Sedert die dae van koning John is ’n skatting aan die pous betaal ter erkenning van sy oppermag oor Engeland. In 1365 het pous Urbanus V ’n eis vir hierdie geld ingestel, tesame met die agterstallige geld vir meer as 30 jaar. Die volgende jaar het die Parlement besluit dat koning John sy regte oorskry het, dat die feodale skatting nie betaal moet word nie en dat die land, indien nodig, teen die pous verdedig moet word. Toe die pous sien hoe vasbeslote hulle is, het hy sy eis laat vaar, maar eers nadat heelwat tweedrag onder sy handlangers, die lede van die kloosterordes in Engeland, gewek is.

In antwoord hierop het Wycliffe ’n verhandeling geskryf waarin hy die standpunt wat die Parlement ingeneem het wetlik verdedig. Sy argument was geklee in die woorde van verskeie Lords van die Grootraad.a Een lord het geredeneer: “Dit is die plig van die Pous om ’n vername volgeling van Christus te wees; maar Christus het geweier om aardse heerskappy uit te oefen. Die Pous behoort dit dus eweneens van die hand te wys. Aangesien ons van die Pous kan verwag dat hy sy heilige plig moet nakom, volg dit dat dit ons plig is om hom teë te staan in sy huidige eis.”—John Wycliffe and His English Precursors, bl. 131.

Die skatting was nie die enigste geld wat die pous uit Engeland probeer kry het nie. Van tyd tot tyd het ’n pouslike gesant en sy dienaars deur die land gereis, kollektes gehou en dit na Rome teruggeneem. Tydens een sodanige besoek in 1372 het Wycliffe ’n wetlike verhandeling geskryf waarin hy hierdie gebruik veroordeel. Hy het aldus ook die beginsel dat alles wat die pous doen noodwendig reg moet wees, bevraagteken. Daarbenewens het Wycliffe naam gemaak as ’n uiters bekwame verdediger van die weg wat die Parlement ingeslaan het. Dit is dus geen verrassing dat Wycliffe in 1374 aangestel is as een van die koning se kommissarisse tydens onderhandelinge by die pouslike konferensie in Brugge, waar klagtes teen die Roomse Kerk voorgelê is nie. Daardie selfde jaar is Wycliffe tot die rektoraat van Lutterworth benoem, moontlik weens sy dienste aan die koning.

Ondanks sy aansien in party kringe, het Wycliffe baie vyande gehad. In 1377 is hy gedagvaar om in die St. Paulus-katedraal voor ’n konvokasie biskoppe te verskyn. Sake sou waarskynlik vir hom skeef geloop het as dit nie was vir die tussenkoms van Jan van Gent, hertog van Lancaster, en ander invloedryke bondgenote nie. Omdat hulle planne hierdie keer verydel is, het Wycliffe se vyande hulle op die pouslike hof beroep. Die pous het vyf bulle teen Wycliffe uitgevaardig waarin sy leerstellings as kettery veroordeel is en daar aanbeveel is dat daar teen hom opgetree moet word. Gevolglik moes Wycliffe voor nog ’n raad in Lambeth Palace, Londen, verskyn; maar hierdie keer het die koning se moeder ingegryp. Om hulle steun te toon, het ’n groep gewone burgers met geweld toegang verkry. In die lig van hierdie sterk verdediging het die raad geaarsel om op te tree soos die pous graag sou wou hê en het hulle Wycliffe bloot verbied om lesings en preke oor die aanstootlike leerstellings te hou.

DIE EERSTE WYCLIFFE-BYBEL

Dit is nie seker hoe lank Wycliffe se vriende hom sou kon beskerm nie. Maar die dood van pous Gregorius XI het ’n situasie geskep wat die Kerk in so ’n stryd gedompel het dat daar in kontinentale Europa so te sê van Wycliffe vergeet is. Die optrede van die nuwe pous, Urbanus VI, het gou party van die invloedryke kardinale van hom vervreem. Om te protesteer dat sy verkiesing onwettig was, het hulle hulle steun onttrek. Toe hulle nie so daarin geslaag het om Urbanus uit sy amp te kry nie, het hierdie kardinale hulle eie pous. Clemens VII, verkies en sodoende aanleiding gegee tot die Groot Pouslike Skisma.

Namate mense en nasies hulle aan die kant van die een of ander van die pouse geskaar het, het dit Wycliffe al hoe meer gewalg. Hy was bereid om sy steun toe te sê aan die pous wat bewys het dat hy opreg is in sy aansprake. Maar toe hy sien hoedat elke pous die ander een veroordeel en niks onchristeliks ontsien om mag en posisie te verkry nie, het Wycliffe gesê dat albei pouse vals is. Sy oë was nou heeltemal oop vir die huigelary verbonde aan die amp waarna hy hom vir geestelike gesag gewend het. Waarna of na wie kon hy hom wend vir die ware geestelike gesag van God en Christus?

Sy soeke, bepeinsing, debatte en redenasies het gou vir hom duidelikheid gegee. Die Bybel was die enigste maatstaf van waarheid, die bron van alle ware kennis oor geestelike dinge. So ’n gedagte klink vandag nie vreemd nie, maar op ’n tydstip toe die verspreiding van die Bybel grootliks deur die Kerk beperk is (met baie min daarvan in Engels beskikbaar), was dit vir die meeste mense ’n vreemde en verbasende stelling. Wycliffe het ’n verhandeling geskryf met die titel “Oor die waarheid van die Heilige Skrif”, en een van die vernaamste doelwitte was om ’n duidelike onderskeid tussen die Skrif en tradisie te tref.

Wycliffe het eerlank besef dat die Skrif aan die mense verkondig moet word, dat daar geen verskil tussen ’n priester en ’n leek moet wees nie en dat die gewone landbewoner die Bybel self moet kan lees. Saam met ’n paar van sy medewerkers het hy begin om die Bybel uit die Latynse Vulgata in Engels te vertaal. Dit sou destyds in Engeland ongehoord wees om die oorspronklike tale te gebruik. Grieks was eeue lank verwaarloos, en Wycliffe het geen kennis daarvan gedra nie. Van 1379 tot 1382 is die vertaalwerk met groot dringendheid gedoen. Wycliffe het terselfdertyd verdere onderrig en opleiding gegee aan reisende predikers wat die land met die Woord van God deurreis het.

Die Christelike Griekse Skrifte was klaarblyklik teen 1382 klaar vertaal. Daar is toe ongetwyfeld gewerk aan die Hebreeuse Skrifte onder die toesig van Nikolaas van Hereford, ’n ywerige volgeling van Wycliffe. John Purvey, nog een wat met die werk gehelp het, was etlike jare lank Wycliffe se sekretaris. Die vertaling was ’n baie letterlike weergawe, dermate dat die Engelse idioom geïgnoreer is. Maar dit het vir die eerste keer die hele Bybel binne die bereik van die gewone mense geplaas.

DIE GESKIL VAN TRANSSUBSTANSIASIE

John Wycliffe was reeds jare lank daarvan oortuig dat die Here se Aandmaal ’n baie belangrike geleentheid is. In 1381 het sy begeerte om Kerkleer en -tradisie te skei van wat in die Heilige Skrif geleer word, gelei tot sy aanval op die gedagte van transsubstansiasie. Hierdie leerstelling, wat die eerste keer in die negende eeu voorgelê is, het aangevoer dat die brood en die wyn inderdaad in die liggaam en bloed van Christus verander het nadat dit deur die priester geheilig is. Wycliffe se argument het berus op gedeeltes in die Evangelies en Paulus se geskrifte wat regstreeks op die geskil betrekking het, en ook op talle ander verwante tekste. Toe Jesus byvoorbeeld gesê het, “Ek is die ware wynstok”, het hy nie bedoel dat hy ’n letterlike wynstok geword het of dat ’n letterlike wynstok in die liggaam van Christus verander is nie (Joh. 15:1). Dit was eerder ’n gelykenis wat gebruik is om ’n belangrike waarheid te leer. In sy blootlegging van tradisie met behulp van God se Woord het Wycliffe beklemtoon dat hierdie leerstelling oor transsubstansiasie nie deel van die leer van die vroeë kerk was nie, en dat selfs Hieronymus by die Bybelse begrip gebly het.

Van al Wycliffe se uitgesproke geskrifte en preke was dit waarskynlik die een wat die Kerk die minste kon veel. Die leerstelling oor die Mis was ’n vername manier waarop die mense in onderdanigheid aan die gesag van die Kerk gehou is. Selfs sy groot bondgenoot, Jan van Gent, het na Oxford gegaan om Wycliffe die swye te probeer oplê, maar tevergeefs.

Die Boere-opstand in 1381 het nog meer teenkanting teen Wycliffe gewek. Duisende opstandelinge onder Wat Tyler en ander leiers het na Londen opgetrek, brand gestig, gemoor, en eindelik die aartsbiskop van Kantelberg tereggestel voordat hulle verslaan is.

Wycliffe is deels vir hierdie opstand verantwoordelik gehou, want daar is gesê dat sy leerstellings die mense aangehits het om die gesag van hulle meerderes te bevraagteken. Hoewel hierdie aantyging ongegrond was, het hierdie gebeurtenis meegebring dat ’n nuwe aartsbiskop, William Courtenay, aangewys is. Toe hy biskop van Londen was, het hierdie man reeds teen Wycliffe opgetree. As aartsbiskop het Courtenay in 1382 ’n raad byeengeroep wat Wycliffe se leerstellings as kettery en ’n dwaalleer veroordeel het. Wycliffe is uit die Universiteit van Oxford ontslaan en ’n bevel is uitgevaardig wat gesê het dat enigeen wat die gewraakte leerstellings verkondig of selfs luister na iemand wat dit verkondig, geëkskommuniseer sou word.

SY LAASTE JARE

Die feit dat Wycliffe steeds ’n vry man gebly het, moet toegeskryf word aan die volgehoue steun van party van sy invloedryke vriende en aan die gesindheid van die Parlement, wat nog nie die pion van die nuwe aartsbiskop was nie. Aangesien sy bedrywighede nou hoofsaaklik tot Lutterworth beperk was, het Wycliffe voortgegaan om te skryf en sy volgelinge te besiel. Sy aandag was hoofsaaklik toegespits op die dade van die biskop van Norwich, ene Henry le Spencer, wat met sy moed en leiersgawe tydens die Boereopstand vir homself naam gemaak het deur die rebelle in Norfolk te verslaan.

Die trotse biskop, met sy pasverkreë reputasie, het besluit om kant te kies in die Pouslike Skisma. In 1383 het hy ’n bul by Urbanus VI gekry wat hom gemagtig het om ’n kruistog teen Clemens VII te organiseer. Hy het gou ’n leer op die been gebring deur vergifnis te beloof aan diegene wat onder hom sou dien en deur aflaatbriewe aan hulle te gee. Wycliffe het homself reeds onomwonde teen die skisma uitgespreek, en nou het hy ’n verhandeling met die titel “Teen die oorlog van die geestelikes” geskryf. Hy het die skisma vergelyk met twee honde wat oor ’n been baklei. Hy het aangevoer dat hulle hele rusie strydig was met die gees van Christus, want dit het gegaan om wêreldse mag en posisie. Wycliffe het gesê dat die belofte van vergifnis van sondes weens deelname aan so ’n oorlog op ’n leuen gegrond was. Hy het gesê dat hulle eerder in ongeloof sou sterf indien hulle gesneuwel het in ’n oorlog wat geheel en al onchristelik was. Die kruistog was ’n algehele mislukking, ten die eens trotse biskop het vernederd na Engeland teruggekeer.

Vroeër, in 1382, het Wycliffe ’n beroerte-aanval gehad wat hom gedeeltelik verlam het. Twee jaar later het ’n tweede beroerte-aanval hom heeltemal verlam en stom gelaat. Hy het ’n paar dae later, op 31 Desember 1384, gesterf. Hy is in Lutterworth se begraafplaas begrawe, waar sy oorskot meer as 40 jaar lank ongestoord gebly het.

Maar in 1428 het ’n eienaardige en skokkende ding gebeur. Die graf van John Wycliffe is oopgebreek volgens die bevel van die Konsilie van Konstanz wat 14 jaar vroeër gehou is. Sy oorskot is opgegrawe en verbrand, en die as is na die Swift-riviertjie ’n entjie daarvandaan geneem. Daar is hulle op die water gestrooi sodat hulle met die rivier af na die Avonrivier, toe na die Severn en eindelik in die see in gedryf het. Die persone wat aan hierdie daad skuldig was, het niks simbolies in gedagte gehad nie. Maar dit is so vertolk deur diegene wat ’n bietjie vertroosting uit die wraaksugtige daad wou put. Waarom het dit so lank na Wycliffe se dood gebeur, nadat hy nie langer self ’n doring in die vlees van Engeland se godsdiensowerheid kon wees nie? ’n Toekomstige artikel oor sy volgelinge, die Lollarde, sal die antwoord verstrek.

[Voetnoot]

a Daar kan nie vasgestel word of Wycliffe die woorde van hierdie lords regstreeks aangehaal het en of hy ’n literêre kunsgreep gebruik het om gesag aan sy eie woorde te verleen nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel