God se Woord is lewend
God gebruik die geringes
AMOS woon in Tekoa, ’n dorp sowat 16 kilometer suid van Jerusalem. Na die ooste lê die woestyn van Juda, met sy ronde, dor heuwels en diep valleie en klowe. Selfs gedurende die reënseisoen is die plantegroei maar skraps. Dit is hier waar Amos ’n nederige skaapboer is. Gedurende die betrokke seisoen is hy ook ’n knyper van wildevye. Die vrug word geknyp of geprik om dit vinniger te laat ryp word en om dit groter en soeter te maak.—Amos 1:1; 7:14, 15, vgl. NW.
Terwyl hy sy herderswerk doen, word Amos geroep om as ’n profeet van Jehovah te dien. God se gees dring hom om noordwaarts na die gebied van die Tienstammeryk van Israel te gaan. Amos kondig moedig die ondergang van die koningshuis van Jerobeam, die seun van Joas, aan en voorspel ook Israel se ballingskap.—Amos 6:7; 7:9, 11.
In Bet-el, ’n sentrum van kalfaanbidding, ontstel Amos se profesieë die afgodsaanbiddende priester Amasia baie. Hy probeer Jehovah se profeet bangmaak deur vir hom te sê: “Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar! Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is ’n koninklike heiligdom en ’n tempel van die ryk.”—Amos 7:12, 13.
Versterk deur die gees van God staan Amos sy man. “Ek was geen profeet en ook geen profeteseun nie”, sê hy, “maar ek was ’n veewagter en kweker van wildevyebome. Maar die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel.” Dan vertel hy vir Amasia van die oordeel wat aan hom voltrek gaan word omdat hy God se boodskap teenstaan: “Jou vrou sal in die stad hoereer [omdat die soldate van die seëvierende leër haar sal verkrag], en jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel word [deur diegene wat die land in besit neem], en jy self sal in ’n onrein land [buitekant die land Israel] sterwe.”—Amos 7:14-17.
Die feit dat Amos in die negende eeu v.G.J. as Jehovah se profeet gekies is, lig kragtig toe dat die Almagtige nie van die wêreld se wyse mense afhanklik is om sy werk gedaan te kry nie. Selfs vandag nog behaag dit God om die geringes te gebruik wat bereid is om hulle deur sy gees te laat lei. En hoe onverskrokke het hulle tog sy naam en koninkryk verkondig! So word die wyse mense in die skande gesteek. Jehovah God toon sodoende dat hulle wysheid nie nodig is nie. Dit blyk dus dat die vermoëns waarop hulle so trots is, waardeloos is.—1 Kor. 1:26-31.