My soeke na vryheid is beloon
Soos vertel deur Edwina Apason
“NOU”, het ’n bejaarde slaaf gefluister. Onder die beskermende sluier van duisternis het ’n klein groepie swart slawe dit gewaag om van ’n koffieplantasie in die noorde van Suriname af te vlug. Ergernis, spanning, wanhoop en tog ook hoop was op hulle gesigte te lees. Kinders het vasgeklou aan hulle moeders wat reeds oorlaai was met gereedskap wat hulle op die plantasie gesteel het. Die manne het byle en kapmesse gedra.
“Vinniger, vinniger! Moenie stilstaan nie!” was die uitroep. Indien hulle gevang is, sou hulle teruggeneem word na die plantasie om gemartel of doodgemaak te word. Die uitgestrekte oerwoud het ondeurdringbaar gelyk; hulle het egter geen ander keuse gehad as om dieper te gaan nie. Die kapmesse is gebruik om die weg verder suid in die oerwoud in oop te kap. Dag en nag het die vlugtelinge gesukkel om voor hulle goed gewapende agtervolgers, wat deur die plantasie-eienaar gestuur is, te bly. Enige las wat hulle vertraag het, moes agtergelaat word. Die gehuil van party babas wat net daar agtergelaat is, het hartverskeurend deur die woud weerklink. Na baie maande van ontbering het die voortvlugtendes eindelik die Tapanahoni-rivier, 200 kilometer daarvandaan, bereik.
Later het nog maroons, of wegloperslawe, hierdie voorbeeld gevolg. Hulle het volgens los, of families, langs die rivier gaan woon en goed beheerde gemeenskappe onder ’n Gran Man, die opperhoof, gevorm. Daardie vlugtelinge van meer as 250 jaar gelede was my voorouers, en hulle het die Aukaner-stam gevorm. Ondanks groot ontberings en lewensgevaar het hulle eindelik iets gekry waarna hulle gesmag het—vryheid! Hulle was vry mense, of so het hulle gemeen.
VRY, MAAR STEEDS SLAWE
’n Ander soort slawerny het egter gesluimer. Tydens hulle knegskap kon dit nie ten volle beoefen word nie. Dit was ons vorm van godsdiens—duiwelaanbidding.—1 Kor. 10:20.
My ouers het gesê dat ’n waarsêende gees ons voorouers gehelp het om te ontsnap. Hy het die teken vir die vlug gegee, hetsy gedurende die dag of gedurende die nag. En toe ’n berg die pad van party vlugtelinge versper het, het die gees hulle beveel om dit uit te klim—maar agteruit. Dit moes die agtervolgers laat dink dat die slawe afdraande gevlug het. Hierdie gees is gou tot Gran Gado, of hoofgod, verhef, kompleet met ’n priester en assistente.
In gevalle van siekte of die dood is hierdie god geraadpleeg. Nadat ’n persoon byvoorbeeld gesterf het, is iets wat aan hom behoort het—moontlik sy hare—aan ’n doek gebind en dan aan ’n plank wat twee manne bokant hulle koppe vasgehou het. Die gees van die afgestorwene sou glo op die plank sit en die familielede van die oorledene het dan gevra: “Is jy aan ’n siekte oorlede?” Indien die plank agteroor gehel het, was die antwoord Nee. Nog ’n vraag: “Het iemand jou met towery doodgemaak?” Indien die plank vorentoe oorgehel het, was die antwoord Ja. “Wie het jou doodgemaak?” Dan het die manne onder die gees se krag na ’n sekere huis gehardloop en die moordenaar sodoende geïdentifiseer. Daarna is die Gran Gado geraadpleeg om die uitspraak te bevestig.
Die Gran Gado is egter nie die enigste god van die Aukaner-stam nie. Hulle aanbid ook bome, diere en klippe. En om afgestorwe voorouers te paai, word voedsel en rum as offers rondom ’n gebedepaal in die middel van die dorp geplaas. Die mense gehoorsaam ook die koenoe, of kwelgees, wat deur ’n menslike medium werk. Hierdie kwelgeeste is glo persone wat deur ’n familielid vermoor is. Hulle keer dan glo terug om wraak te neem en daar word gemeen dat hulle persone met ernstige siektes teister. Die siek persoon raadpleeg op sy beurt die medium. Die besete medium skryf dan voor watter kruiemedisyne gebruik moet word, watter offers geoffer moet word en watter wette gehoorsaam moet word. Party duiwels vermaak hulself met die siek persoon en laat hom van die een obia-man, of toordokter, na die ander gaan. Hierdie soeke na genesing duur voort totdat die slagoffer geen geld of offervoedsel meer het nie. Maar hy is steeds siek en brandarm.
Party mense maak gebruik van wisi, of swartkuns, om hulle medemens kwaad aan te doen. Hierdie soort aanbidding lok waarlik die bose geeste na die omgewing. Omdat die mense altyd bewus is van hulle teenwoordigheid, dra hulle tapoes, of amulette van tou, skulpe of dieretande. Dit word rondom die arms, nek, heup of bene gedra om hulle teen onheil te beskerm. Die Aukaners hang selfs bottels bier bokant hulle hutte of maak dit vas aan stokke in die hoop om skade aan hulle gewasse te voorkom. Hierdie mense lewe, eet, werk en slaap elke dag in vrees. En wanneer ’n indiwidu verander en nie meer so lewe nie, veroorsaak dit ’n opskudding in die dorp.
HOE ONS LEWE
Dit was 48 jaar lank my milieu. Omdat daar geen skool in my tuisdorp, Godo-olo, was nie, was almal ongeletterd. Maar ons ouers het ons van kleins af sekere vaardighede geleer. Ons meisies het geleer om te bak, te kook en te was. Toe het ons begin om ‘ons spiere te oefen’ deur die grond te bewerk, hout op te tel en dit met ’n byl te kap. Ons het geleer hoe om met die kroejara, ’n boomkano, te roei, nie alleen in stil waters nie. maar ook deur stroomversnellings en watervalle. Mettertyd het ons liggaamsbou goed vergelyk met die van enige man! Die seuns het andersyds geleer om bote te maak, te jag, bome af te kap, vis te vang en houtsneewerk te doen.
Volgens ons gebruike word meisies teen die ouderdom van 14 of 15 aan ’n man beloof, en later lewe hulle met hom saam. My ouers het vir my ’n man gekies, maar ek het nie van hom gehou nie. Soos sake verloop het, is die man met wie ek nou getroud is die vader van nege van die 11 kinders wat ek in die wêreld gebring het. Terloops, hy is oud genoeg om my vader te wees.
Omdat ek ’n persoon is wat daarvan hou om dinge gedaan te kry, het ek dikwels die leiding gegee in verskeie pligte van die vroue. Dit het die instandhouding van die dorp en die versorging van die siekes en bejaardes ingesluit. Gevolglik het die kapiten, of hoofman van die dorp, my gevra om sy vroulike basja, of assistente, te wees. Dit het groter verantwoordelikhede meegebring. Een hiervan staan in verband met begrafnisse, wat ’n uitgerekte seremonie is omdat die lyk nie dadelik begrawe word nie.
Grafgrawers glo bygelowig dat indien hulle sweetdruppels op die graf sou val, dit hulle eie dood sou meebring. In die warm son duur dit natuurlik nie lank voordat ’n mens begin sweet nie. Daarbenewens is die graf nie naby die dorp nie, maar so ver dat ’n mens met ’n boot soontoe moet reis. Elke dag roei hulle dus na die begraafplaas en grawe hulle ’n bietjie. Omdat die lyk nie gebalsem word nie, versprei dit ’n ondraaglike stank. Terloops, die kis word so gebou dat dit die vloeistof opvang wat uit die liggaam kom. Dit word weer in ’n gat op die rand van die dorp gegooi. In die geval van gewone mense duur die begrafnis vyf dae of langer; in die geval van die hoof van ’n dorp, 10 dae of langer. Maar vir die Gran Man se begrafnisseremonie duur dit drie maande. Gedurende daardie hele tyd moet die vroue kos berei vir sowat 30 of meer grafgrawers, benewens die tromslaners, dansers, rouklaers, en vir die oorledene.
HOE ’N VERANDERING PLAASGEVIND HET
In 1959 het ek en my man die rivier met ’n kano aangedurf en deur watervalle en stroomversnellings geroei. Na vyf dae het ons Albina op die oostelike grens van Suriname bereik. Daar het ons ’n goeie vriend, ’n obia-man, besoek. Hy was daardie dag egter besig om te luister hoe ’n 20-jarige man prente uit ’n boek verduidelik. Die jongman het my genooi om ook te luister, en ek kan sy woorde nog duidelik onthou. Uit die prente in die Wagtoring-publikasie Van die verlore parades tot die herwonne paradys het ek geleer dat God die man en vrou oorspronklik in ’n paradys gesit het. Hulle het daardie paradys weens hulle ongehoorsaamheid verloor. Maar dit sou beslis herstel word, want terwyl hy aan die paal gehang het, het Jesus Christus vir ’n kwaaddoener beloof: “Voorwaar ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Luk. 23:43, NW). Ek het dit ook geglo. Jesus, die Seun van God, kon nooit lieg nie. My hart het gebrand van begeerte om in daardie paradys te wees.
Gedurende die volgende sewe maande het die jongman geduldig die betekenis van elke prent in die Paradys-boek verduidelik, soms twee uur of langer twee keer per week. Geleidelik het die ware geloof duidelik geword en het dit vir my duidelik geword dat ek ’n gevangene van valse aanbidding was. Kon ek genoeg moed en krag bymekaarskraap om met daardie aanbidding te breek? Volgehoue studie en omgang met ’n klein groepie belangstellendes het my pasgevonde geloof in die Grootse Skepper, Jehovah, versterk.
Die eerste persoon wat my ontmoedig het, was my man, wat geen belangstelling getoon het in die dinge wat ek geleer het nie. Hy het begryp dat hierdie nuwe geloof ’n hoë standaard in die huwelik vereis het. Hy het dus besluit dat ons moet terugkeer huis toe, waar ek vir die volgende sewe jaar alle kontak met Jehovah se Getuies verloor het. Maar die Bybelse hoop het in my hart gelewe. Nadat ons teruggekeer het, het ek dadelik vir my moeder, vader en ander familielede geleer wat ek geleer het. My ouers het my ondersteun. Twee jaar later het my vader met die paradyshoop gesterf, en my moeder het later ’n getuie van Jehovah geword.
GROOT BEPROEWINGS
Toe kom daar ’n onverwagte beproewing. Drie van my kinders het baie siek geword en hulle bewussyn verloor. ’n Toordokter is dus geraadpleeg. Hy het gesê dat ons plasie getoor is en dat dit die siekte veroorsaak het. Die toordokter het gesê dat hy die betowering weggeneem het, maar toe ons terugkeer huis toe, het die kinders sieker geword. Binne ’n week het my driejarige sowel as my agtjarige kind gesterf. Dit het gelyk of die derde kind ook gaan sterf.
Nadat hy van die kinders se dood in kennis gestel is, het die Gran Man ons ontbied. Toe hy sy Gran Gado raadpleeg, is ons meegedeel dat ’n kwelgees die skuldige is. Daar is aanbeveel dat ek die kwelgees aanbid deur vir die vroulike medium rum en voedsel te gee en haar in pangi, of lendedoeke, toe te draai. Daar is gesê dat indien ek weier om dit te doen, die kind wat ek destyds verwag het met geboorte sou sterf. Ek het nietemin geweier omdat ek geglo het dat die demone die dood van my twee kinders veroorsaak het.
Toe my kind gebore word, was een van sy arms by die skouer uit lit. Dit was waarskynlik die gevolg omdat ek my voortdurend op die grond gewerp het uit droefheid oor die dood van my kinders. Ons is per vliegtuig na die hoofstad waar sy gebrek reggestel is. My vertroue in Jehovah het met rasse skrede toegeneem en ek het hom behaag deur nie valse aanbidding te beoefen nie.
’n Latere swangerskap het op ’n miskraam uitgeloop. In so ’n geval word die obia-man gewoonlik geraadpleeg vir beskerming. Maar ek is eerder na die hoofstad om daar te herstel. Na my herstel het ek na die Getuies gesoek, maar sonder welslae.
Terug by die huis het ek voortgegaan om uit my verslete Paradys-boek te getuig. Omdat ek besluit het om gedoop te word, het ek vir die dorpsowerstes gesê dat ek nie langer aan afgodiese feeste sal deelneem nie. Die dorpenaars het my man aangeraai om my na die hoofstad te vergesel sodat ek gedoop kan word, aangesien hulle gemeen het dat die moontlikheid bestaan het dat ek nie weer sou terugkom nie. Hy het dus saamgegaan.
Toe ek Christenvergaderinge begin bywoon, het my man dit teëgestaan. My antwoord? “Indien jy my nie vergesel nie, sal ek jou eendag moet verlaat om my hartewens om Jehovah te dien te vervul.” Tot my verbasing het hy my na die vergadering vergesel. Toe het hy begin om die Bybel te bestudeer. Hoe wonderlik was dit toe ons later ons lewens in ooreenstemming met Jehovah se wette gebring het deur wettig te trou! Daarna is ek gedoop, en later ook my man.
Ons verblyf in die hoofstad het ons gehelp om verdere kennis in te neem om ons geloof te versterk. Weens ekonomiese druk het ons egter na ’n plek 60 kilometer uit die stad verhuis om ’n stuk grond te bewerk wat goeie oeste opgelewer het. Maar wat ’n verlies was dit vir ons en ander toe ’n stootskraper ons plotte vir ’n projek gelyk gemaak het! Ons het teruggekeer na die stad, waar ek as ’n gewone pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) begin dien het. Gedurende daardie tyd het ander Getuies my geleer om te lees en te skryf. Deur in die moedertaal van Suriname uit my eie Bybel te lees, het ek baie mense van verskillende stamme bereik wanneer hulle in die stad werk kom soek het. Met my man se samewerking het ek na drie jaar die voorreg gehad om ’n spesiale pionier te word. Watter seëninge het ons tog as ’n gesin geniet! Uit vier dogters en een seun wat gedoop is, het een ’n gewone pionier en twee ander spesiale pioniers geword.
NOG ’N TOETS
Terwyl ek eendag ’n Bybelstudie gehou het, het ek skokkende nuus ontvang. My oudste seun, wat nie ’n Getuie was nie, is doodgeskiet terwyl hy aan ’n protesoptog deelgeneem het. Hierdie pynlike verlies het tot meer spanning aanleiding gegee, want my familielede het gesê: “Indien jy nie volgens die gebruike rou nie, het jy geen moederlike gevoelens vir jou seun nie.” Volgens die gebruik moes ek as moeder my hare afsny, my kop in ’n wit serp toedraai, maande lank rouklere dra, opsetlik stadig loop en ’n jaar lank saggies met ’n gedempte stem praat—alles net om vir die mense en vir die sogenaamde ‘gees van die afgestorwene’ te wys dat ek werklik bedroef was. Maar indien ek hierdie dinge sou doen, sou my predikingswerk beslis tevergeefs wees en sou ek my skoon gewete voor God verloor. Jehovah het my egter te hulp gekom deur die voortdurende aandag van medegelowiges.
Om ’n moontlike opstand onder die Aukaners te voorkom, het die regering die nodige drank en voedsel vir my seun se begrafnis voorsien en sy lyk na my dorp gebring sodat hy volgens die stamgebruike begrawe kon word. Die vakbond het selfs ’n gedenksteen ter ere van my seun in die middel van die hoofstad opgerig. Maar ek hoop dat Jehovah hom in die opstanding sal onthou.—Hand. 24:15.
Na ’n paar maande het dit tyd geword om die routyd met tradisionele feesviering, dansery en drank- en voedseloffers te eindig. Eindelik bad al die rouklaers in kruiewater wat deur die toordokter voorberei is. As die moeder moes ek weer na my dorp terugkeer, maar ek het dit ’n maand voor die tyd gedoen om te verduidelik waarom ek nie sal deelneem nie. Party het probeer om my bang te maak en gesê: “Jou seun se gees gaan jou kwaad aandoen.” Maar ek het ferm verduidelik dat die kruiebad nie die smart kan afwas nie. Dit was ook aangenaam om vir persone wat geluister het van die nuwe stelsel van dinge te vertel.
JEHOVAH ANTWOORD OP DIE UITDAGING
Kort daarna het ek ’n nuwe aanwysing as spesiale pionier ontvang—Godo-olo, my geboortedorp. Ek het na die dorpshoof gegaan en hom herinner aan my vroeëre belofte om na my doop terug te keer. Ses jaar het verloop voordat ek daardie belofte kon vervul, maar hy was baie bly oor my terugkeer. My tuisdorp was reg om bearbei te word. Eerlank het ek 20 Bybelstudies met mans, vrouens, en soms hele gesinne, my familielede inkluis, gehou. As gevolg van hierdie studies het 11 indiwidue hulle lewens toegewy en hulle as Christene laat doop. Onder hulle was die vrou wat die medium van die kwelgees was wat ek na die dood van my twee kinders dan glo moes aanbid.
Laat my toe om nog net een ondervinding te vertel. In 1972 het ’n sekere man duiwelbesete geraak deur ’n gees wat klaarblyklik sterker was as die van die Gran Gado. Met toorkrag het hierdie man enige teenstander doodgemaak deur sy towerstok soos ’n geweer te gebruik. Die mense het eerlank nie meer die “onttroonde” Gran Gado aanbid nie, maar wel die nuwe god van hierdie man. Baie dorpenaars het hom ’n houtpilaar in hulle dorp laat oprig, iets wat glo gewaarborg het dat daar op daardie plek vyf jaar lank geen sterfgevalle meer sou wees nie. Maar die dorp Godo-olo het hom ook met ’n ander doel genooi. Alhoewel dorpenaars wat teen ons gekant was, probeer het om ons (’n klein groepie Getuies) die swye op te lê deur ons hutte af te breek en ons te slaan, het ons aangehou om oor Jehovah te praat. Dreigend het hulle vir ons gesê: “Vandag gaan die invloedryke priester opdaag en dan sal julle almal sterf!” Maar ons het met vertroue geantwoord: “Ons is nie bang nie. Ons sal nie weghardloop nie, want julle sal sien dat Jehovah, ons God, sterker is!”
Kort daarna het die toordokter met sy gevolg dansers en tromslaners opgedaag. Ons groepie Christene het vergader en kalm gewag terwyl ons op Jehovah se beskerming staatgemaak het (Ps. 34:8). Die tromslae het al hoe harder en wilder geword. Toe verskyn die toordokter, aangehits deur die duiwel. Die man het voor ons stilgestaan. Hy het sy towerformules uitgespreek en sy stok na ons uitgesteek. “Nou gaan hulle sterf!” het die toeskouers geskreeu. Maar ons het bly staan, en die toordokter het op die grond geval. Hy het flou geword!
Groot verwarring het onder die teenstanders ontstaan. Baie verleë het die skare die toordokter vinnig weggedra en hom probeer bybring. Jehovah se naam was voorwaar ’n “sterk toring” (Spr. 18:10). Daarna het ons nog meer Bybelstudies begin. Ek het later die toordokter tydens my getuieniswerk van hut tot hut ontmoet. Ons het ’n bespreking van twee uur gehad en hy het erken: “Jehovah is sterker.”
In Godo-olo is daar nou ’n bedrywige gemeente met 27 verkondigers en drie spesiale pioniers. En op 15 April 1979 is ’n Koninkryksaal wat deur die hande van geestelike broers en susters—ja, en ook deur die klein handjies van kinders—gebou is aan Jehovah toegewy. Hoe dankbaar is ons daaroor dat sy gees op ons rus en dat daar nog verdere geleenthede is om dissipels in hierdie omgewing te maak!
My voorouers het gesukkel om vryheid te verkry. Maar ek het geestelike vryheid gevind. Dit is vryheid van valse aanbidding. Watter vreugdes en seëninge smaak ’n mens tog wanneer jy die ware geloof beoefen! En dink net! Liefhebbers van Jehovah sal hom vir ewig in ware vryheid kan aanbid.