Rebekka—’n vrou wat deur Jehovah geseën is
JEHOVAH GOD het dit so bestier dat Rebekka as die vrou van Abraham se seun Isak gekies is. Maar waarom is Rebekka gekies? Sy moes baie wenslike eienskappe in God se oë gehad het. Sy moes geskik gewees het vir sy doel as die moeder van ’n nasie wat ’n volk vir sy naam sou word.
Dit is na die dood van sy geliefde vrou Sara dat Abraham reëlings tref om ’n vrou vir sy seun Isak, wat nou omtrent 40 jaar oud is, te kry. Omdat hy nie wou hê dat sy seun in dieselfde juk moes trek saam met ’n persoon wat Jehovah nie aanbid het nie, het Abraham die bestuurder van sy huis, heel waarskynlik sy getroue kneg Eliëser, gevra om reg tot in die noorde van Mesopotamië te reis. Hy het geen spesifieke instruksies aan sy dienaar gegee om hom te rig nie. ‘Die engel van Jehovah sal dit doen’, het Abraham met vertroue gesê. Hy het vertrou dat die Allerhoogste op die een of ander manier ’n geskikte huweliksmaat vir Isak onder sy familielede sou uitkies.—Gen. 24:1-9.
Abraham se dienaar neem 10 kamele wat vol kosbare geskenke gelaai is. Saam met sy bediendes reis hy dae lank totdat hy eindelik die stad van Nahor in die boonste deel van die Mesopotamiese vallei bereik. Hy is moeg en dors van die ry toe hy teen die aand se kant daar opdaag net toe die jong vroue van die stad uitgaan om water by die put te skep. Wat ’n goeie geleentheid om sy heer se bevel uit te voer! Maar hoe sal hy weet watter meisie om te kies? Hy wend hom tot Jehovah en bid dat Jehovah vir hom ’n teken moet gee—naamlik dat die gekose meisie ook sal aanbied om vir sy kamele water te gee wanneer hy haar vra om vir hom water te gee.—Gen. 24:10-14.
JEHOVAH VERHOOR ’N GEBED
Nog voordat die dienaar klaar gebid het, kom ’n baie aantreklike meisie met haar kruik op haar skouer daarheen. Hy weet dit nie, maar sy is Rebekka, die kleinniggie van Abraham. Die dienaar rig sy versoek tot haar: “Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink.” Gaan hierdie jong vrou Jehovah se keuse wees? Minsaam antwoord Rebekka: “Drink, my heer!” Sy laat sak gou haar kruik en laat hom drink. “Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het”, sê sy. Rebekka maak dus gou haar kruik in die drinkbak leeg en hardloop keer op keer om water by die put te skep vir die 10 kamele. Wat ’n werk! ’n Kameel kan tot 26 liter op ’n dag drink.—Gen. 24:15-20.
Die dienaar besef dat sy gebed om leiding tot sover verhoor is. Sy aandag is gevestig op ’n jong maagd met die wenslike eienskappe minsaamheid, gewilligheid en vlyt. Nadat hy ’n duur neusring en twee pragtige armbande vir haar gegee het, vra hy haar uit na haar gesin en die moontlikheid om in haar vader se huis te vernag. Sy identifiseer haarself geredelik en sê: “Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek om te vernag.” Met ’n hart wat oorloop van dankbaarheid teenoor Jehovah buig die dienaar hom neer en seën hy die Allerhoogste.—Gen. 24:21-27.
Daar is nie die geringste twyfel in Rebekka se hart om gasvryheid aan hierdie man te betoon nie. Sy hardloop huis toe om vir die onverwagte gas voor te berei en vertel vir haar familielede wat gebeur het. Nadat hy dit gehoor het, hardloop haar broer Laban na die put om die vreemdeling te verwelkom. ’n Fees word tuis voorberei. Niemand in Rebekka se familie het vir die vreemdeling gevra wie hy is en wat hy wil hê nie. Hulle aandag is daarop toegespits om gasvryheid aan hom en sy bediendes te betoon en sy kamele te voer.—Gen. 24:28-32.
Abraham se dienaar het egter net een ding in gedagte—om sy opdrag getrou uit te voer ooreenkomstig die leiding van Jehovah se engel. Voordat hy instem om die maaltyd te nuttig, identifiseer die dienaar homself en verduidelik hy die opdrag wat hy ontvang het. Hy vertel hoedat hy vir Jehovah ’n teken gevra het en hoe Rebekka volgens die teken opgetree het.—Gen. 24:33-49.
JEHOVAH BESTIER SAKE
Hoe gaan Rebekka se familie reageer? Wat ’n angswekkende oomblik vir die dienaar! Vol verwondering en eerbied besef Laban en Betuel, die vader, dat hierdie saak van Jehovah moet kom. Hulle antwoord: “Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy ’n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die HERE gespreek het.”—Gen. 24:50, 51.
Daar heers groot opgewondenheid in die huis. Die dienaar haal kosbare geskenke vir Rebekka, haar moeder en haar broer uit. Dan nuttig almal die voorbereide maaltyd. Volgens die gebruik van daardie tyd is hierdie bedrywighede in Rebekka se huis die sluiting van ’n huwelikskontrak.—Gen. 24:52-54a.
Maar dan pleit Rebekka se moeder en broer dat hulle nog ten minste 10 dae moet aanbly. Die dienaar dring daarop aan om dadelik te vertrek. Eindelik laat hulle Rebekka besluit. Hulle roep haar en vra: “Wil jy met hierdie man saamgaan?’’ Die dienaar het seker sy asem opgehou. Gaan sy dadelik haar huis verlaat vir ’n man wat sy nog nooit gesien het nie? Wat gaan Rebekka se antwoord wees? Is sy gewillig en gaan sy haar aldus aan Jehovah se keuse onderwerp? “Ja”, is Rebekka se antwoord. Geen uitstel, geen aarseling, geen twyfel, geen voorwaardes nie! Wat ’n merkwaardige maagd! (Gen. 24:8, 54b-58). Rebekka is nie alleen aantreklik, minsaam, gewillig, vlytig en gasvry nie; sy is ook vasberade, versiende en vol kinderlike geloof. Sy sien Jehovah se hand in hierdie saak, en aarsel nie om ooreenkomstig Sy wil op te tree nie. Omdat sy weet dat haar grootoom Abraham Isak in die vrees van die Almagtige grootgemaak het, het Rebekka geen rede om besorg te wees oor hoe sy as ’n vrou behandel sal word nie.
Hierdie jong vrou vertrek met die seën van haar familie: “Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!” Haar oppasster en ander diensmeisies vergesel haar op die kamele.—Gen. 24:59-61.
Dae later sien Isak in die koelte van die aand ’n karavaan kamele. Rebekka het hom ook gesien. Grasieus gly sy dadelik van die kameel af. Toe sy meegedeel word wie die man is, bedek sy haar met haar sluier en betoon so onderdanigheid en eerbied vir haar bruidegom. Die jong vrou wat bereid was om Jehovah se leiding te volg en wat sonder twyfel of vrae bereid was om saam met ’n dienaar na ’n onbekende land te reis om ’n onbekende bruidegom te ontmoet, is voorwaar ’n vrou wat liefde verdien. Die Bybelverslag sê: “Hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná die dood van sy moeder.”—Gen. 24:62-67.
Rebekka is net die vrou wat Isak nodig het. Haar gretigheid, ywer, lewendigheid en ondernemingsgees maak hom weer gelukkig namate sy die leemte vul wat in sy lewe ontstaan het weens die dood van sy moeder. Baie jare na hulle troue verheug Isak hom nog oor sy geliefde Rebekka. Hy is bang om haar te verloor. Wanneer hongersnood hom dwing om onder die Filistyne te gaan woon, dink hy aan Rebekka se skoonheid. Isak vrees vir sy lewe en redeneer dat ’n man hom dalk sal wil doodmaak om haar as ’n vrou te kry. Om dit te voorkom, stel hy haar as sy suster voor.—Gen. 26:1-11.
REBEKKA AS MOEDER
Net soos Sara bly Rebekka ’n lang tyd kinderloos. Isak smeek Jehovah aanhoudend ter wille van haar. Eindelik, twintig jaar na hulle troue, skenk sy die lewe aan die tweeling Esau en Jakob. Voor die geboorte weet Rebekka dat sy ’n tweeling gaan hê. Haar swangerskap is baie pynlik. “As dit so gaan, waarvoor leef ek dan?” roep sy uit wanneer sy voel hoedat die babas binne-in haar worstel. Rebekka ontvang die belofte van God dat twee nasies uit haar liggaam sal voortkom, dat die een sterker as die ander sal wees en dat die oudste die jongste sal dien. Sy vergeet nie hierdie belofte nie.—Gen. 25:21-23.
Na die geboorte van die twee seuns vestig Rebekka haar verwagtings en toegeneentheid op Jakob, en mettertyd verag Esau selfs sy eersgeboortereg (Gen. 25:28-34). Die jare verstryk en die dag breek aan wanneer Rebekka self stappe doen om ooreenkomstig Jehovah se profetiese belofte op te tree. Sy hoor hoedat haar bejaarde en blinde man Isak sy eersgebore seun Esau ontbied. Dit is Isak se plan om sy opvolger te kies en te seën voordat hy sterf. Maar voordat hy Esau seën, stuur Isak hom uit om wild te jag en ’n smaaklike ete vir hom voor te berei.—Gen. 27:1-4.
Omdat Rebekka weet dat Esau nie Jehovah se keuse is nie, doen sy stappe sodat Jakob daardie seën kan kry. Terwyl Esau nog jag, sê Rebekka vir Jakob hoe hy te werk moet gaan om die seën te verkry wat na regte syne is. Jakob maak beswaar uit vrees dat sy blinde vader hom deur aanraking sal identifiseer en hom dan sal vervloek. Maar Rebekka is so vasbeslote soos altyd. “Laat jou vloek op my wees, my seun!” sê sy vol vertroue. “Luister net na my.” En dit is wat Jakob doen.—Gen. 27:5-14.
Daarna klee Rebekka Jakob in Esau se klere wat na die woude, die veld en die aarde ruik. Sy vat ook die sagte, syerige velle van jong bokkies en trek stukke daarvan oor Jakob se gladde hande en gladde nek sodat dit vir Isak se hande soos Esau sal voel. Jakob verskyn voor Isak met die smaaklike ete wat sy moeder berei het. Rebekka se plan slaag. Jakob ontvang die seën van sy vader en word die regmatige erfgenaam van Isak en Abraham gemaak.—Gen. 27:15-29.
Later, wanneer Rebekka hoor van Esau se plan om Jakob dood te maak, tree sy weer ferm in belang van Jakob op. As gevolg van haar aansporing stuur Isak Jakob na haar tuisland om ’n vrou te vind. Rebekka besef hoe belangrik dit is dat Jakob ’n goeie vrou moet kry. Dit het haar sowel as Isak bitter ongelukkig gemaak omdat Esau vir hom twee vroue uit die haatlike Kanaäniete geneem het.—Gen. 26:34, 35; 27:41-46; 28:1-5.
Rebekka het Jakob seker baie gemis na sy vertrek. Sy het moontlik gehoop dat hy gou sou terugkeer. Maar Jakob het 20 jaar weggebly. Daar is geen verslag in die Bybel dat Rebekka ooit weer haar geliefde seun gesien het nie. Dink dan net aan die vreugde wat Rebekka en Jakob sal smaak wanneer hulle mekaar weer ontmoet nadat hulle uit die dode opgewek is. Hoe aangrypend sal dit tog vir Rebekka wees om te hoor van die groot voorreg wat sy gehad het om ’n skakel te wees in die geslag van die beloofde Messias of Christus!
Die aantreklike, wakker en vasberade Rebekka, wat Jehovah se guns geniet het, is inderdaad ’n goeie voorbeeld vir maagde, vroue en moeders van vandag. Haar geloof was voorwaar prysenswaardig.