My geluk in die diens van die God wat onthou
DIT was die aand van 24 Mei 1971. ’n Toegewyde Christen het saam met ander by ’n restaurant gaan eet. Toe hulle vertrek, het hy met die trap begin afloop. Sy regterhand het tevergeefs gegryp na ’n reling wat nie bestaan het nie—en in ’n oomblik het hy teen die trap neergestort. Sy kop het ’n dekoratiewe metaalvoorwerp met ’n harde slag getref.
Alex Henderson is ernstig beseer. Sy kanse op herstel was inderdaad so skraal dat die dokter sy meegevoel met sy vrou betuig het. En tog het haar man gelewe. Die gevolg van sy val? Ernstige skedelbreuk, drie bloedgewasse en verlamming van die linkerkant. Na maande van bewusteloosheid was daar slegs gedeeltelike verbetering.
Vandag verhoed ernstige gebreke Alex Henderson om soveel te doen as wat hy eens in Jehovah God se diens gedoen het. Hy is nietemin gelukkig, want hy besef “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam” (Hebr. 6:10). Hoe vertroostend tog om te weet dat werke van geloof en liefde vir God se naam deur ons hemelse Vader onthou word!
Maar hoe kan Christene die nadraai van so ’n tragiese ongeluk die hoof bied? Wat kan hulle onderskraag? Kom ons kyk ’n oomblik terug voordat ons daardie vrae beantwoord. Alex verstrek die besonderhede.
GODSDIENS IN ONS GESIN
“Ek is in 1921 in Glasgow gebore. Ons gesin het aan die Kerk van Skotland behoort. Moeder was ’n godsdienstige vrou, maar ongelukkig het die vyand dood haar geëis toe ek net ’n knaap van 12 was (1 Kor. 15:26). Die versorging van ’n pragtige tuin was skynbaar my vader se vernaamste manier om nader aan die Skepper te kom. Trouens, 11 Junie 1943, die dag waarop ek en Janet getroud is, was een van die min kere dat hy ’n kerk besoek het.
“Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was ek vyf jaar lank in die weermag. ’n Geestelike het aangebied om my ontslag te reël mits ek daarna by ’n kweekskool inskryf en ’n predikant word. Maar ek het verkies om in die lugmag te bly.
“Na die oorlog is ek en my vrou meegesleur in die sosiale stroom. Janet was ’n Sondagskoolonderwyseres, en by kerkgeborgde verskeidenheidskonserte het ons saam op die sangerige wysies van ons geliefde Skotland gesing. Terloops, alhoewel daar ’n Skotse gesang is met die titel “Lei my, o grote Jehovah’, kan ek nie onthou dat ek die goddelike naam in daardie dae gehoor het nie.”—Ps. 83:18, NW.
EK LEER VAN DIE GOD WAT ONTHOU
“In November 1947 het ons en ons driejarige seun na die stad New York verhuis. Janet se godsdiensbelangstelling het eerlank na vore gekom. Sy het al van Jehovah se Getuies in Skotland gehoor, maar nou het sy die Bybel saam met hulle begin bestudeer. En in 1950 het sy haar toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer.
“Aangesien my vrou deurmekaar was met ‘daardie Jehovahsgetuies’, het ek dit gepas geag om een van hulle vergaderinge by te woon. Hoe kan ek daardie eerste een vergeet—die herdenking van Jesus se dood in 1951? (Luk. 22:19, 20). Alles was aanvanklik rustig. Maar toe het ’n bejaarde vrou uitgeroep: ‘Kom ons sing ’n lied vir Jesus!’ Toe was dit klaarpraat! Hulle kon in die vervolg op my afwesigheid reken. Die vrou was natuurlik ’n besoekster, nie een van Jehovah se Getuies nie, en hulle vergaderinge is so ordelik dat ’n ongelowige wat dit bywoon, kan sê: ‘God is werklik onder julle’ (1 Kor. 14:23-25). Maar jy sou my destyds nie daarvan kon oortuig nie.
“Na die vergaderinge op Sondae het Janet dikwels ’n paar Getuies na ons woonstel oorgenooi. Om hulle te vermy, het ek egter dikwels twee agtereenvolgende vertonings by ’n plaaslike bioskoop bygewoon of doelloos rondgeloop totdat die besoekers vertrek het en dit ‘veilig’ was om terug te keer huis toe, moeg en met seer voete. Hoe verset party van ons ons tog nie daarteen om met Skriftuurlike waarheid in aanraking te kom nie!
“Bietjie vir bietjie het my ‘weerstand’ egter afgebreek. Haar voorbeeldige gedrag as eggenote, goed gekose woorde —en tydskrifte soos hierdie een wat op strategiese plekke neergesit is—het my daarvan oortuig dat die Getuies ‘tog nie so sleg is nie’ (1 Pet. 3:1-6). ’n Teringaanval en ’n paar maande in die hospitaal het my tyd gegee om te dink. Janet het my talle Bybelvrae per brief beantwoord, en eerlank het ek die ware geloof van harte aangeneem. So ook ons seun Adam, wat vandag ’n Christenopsiener is. Ons is albei op dieselfde dag gedoop—9 September 1957.
“Omdat ek baie bewus is van my huidige beperkings, is ek dankbaar vir geleenthede in die verlede om die God wat onthou te dien. Ek het eerlank die voorreg gekry om as presiderende opsiener te dien. Benewens deelname aan die evangelisasiewerk en ander gemeentelike bedrywighede, was dit ’n genot om deel te neem aan die bou van ’n Koninkryksaal waar Christene steeds vergader.
“In daardie dae het party mense my goedig ‘Talk-a-lot Henderson’ genoem. Dit was onder meer roerend om huwelike te voltrek en die geluk te sien op die gesigte van diegene wat in die eg verbind word. Daar was ook treurige geleenthede—tye wanneer begrafnisredes gehou moes word. Ek onthou een van hulle nog baie goed weens ’n taalprobleem. Stel jou voor—’n gehoor met ’n Spaanse agtergrond wat na ’n Engelse toespraak luister wat met my Skotse aksent gehou word. Maar daar was ’n tolk, en ek weet dat hulle verstaan het, want geleidelik het daardie hartseer gesigte effens verhelder toe hulle van die wonderlike opstandingshoop hoor. My wonderlikste voorreg as spreker was egter die toespraak wat ek tydens die gemeente se viering van die Here se Aandmaal in 1959 gehou het, want dit het my die geleentheid gebied om my uit die hart uit te spreek oor die wonderlike redding wat Jehovah God deur sy dierbare Seun Jesus Christus moontlik gemaak het.—Matt. 26:26-29; Joh. 3:16; 5:28, 29.
“In 1963 het ons met ’n ander gemeente begin assosieer, en ons was waarlik gelukkig as ’n gesin wat aan Jehovah toegewy is. Maar toe vind die ongeluk wat my so gestrem het in 1971 plaas. Ek is sedertdien fisies gebreklik, maar ek put veel vreugde uit volgehoue diens aan die God wat onthou.”
MEDEGELOWIGES VERLEEN HULP
Alex Henderson kan nie veel van die ongeluk en die onmiddellike nadraai daarvan onthou nie. Dit lyk dus gepas om ander ’n paar ontbrekende besonderhede te laat verstrek . . . en aldus te help om antwoorde te voorsien op vrae soos: Hoe kan Christene teenspoed die hoof bied? Wat onderskraag hulle? Hoe kan ander help? En kan ’n kranklike Christen medegelowiges help?
In die geval van ’n ernstige ongeluk kan dit groot vasbeslotenheid van ’n Christen verg om hom ‘van bloed te onthou’ (Hand. 15:28, 29). Dit was die geval met die Hendersons, en hulle vasbeslotenheid het ander beïnvloed, want ’n intieme metgesel sê: “Dit is geloofversterkend om te sien hoe mede-Christene hulle lewens waag deur onversetlik hulle standpunt teen bloedoortapping in te neem.” Ja, selfs tydens ’n tragedie kan ons ander geestelik opbou deur die onwrikbare posisie in te neem dat ‘of ons nou lewe en of ons sterwe, ons aan Jehovah behoort’.—Rom. 14:7, 8.
Medegelowiges self kan hulp verleen. Gedurende die maande dat Alex in ’n koma was, het hy dag en nag baie duur verpleging nodig gehad. “Die gemeente (indiwiduele geestelike broers en susters) het daardie las help dra”, sê een ouere man. Hier was een blyk van die liefde wat Jesus se ware volgelinge kenmerk wat baie hoog op prys gestel is.—Joh. 13:35.
Christelike liefde kan natuurlik op baie maniere bewys word. ’n Ander opsiener sê: “Die operasie was geslaagd. Alex is na die waakeenheid geneem waar hy etlike dae gebly het. Ek het hom daagliks besoek . . . Gedurende daardie besoeke het ek Alex se hand vasgehou en ’n gebed gedoen. Of hy dit gehoor het, sou ek nie kon sê nie. Maar wat my verbaas het, was dat die verpleegsters stilgebly het en nie geraas gemaak het nie.”
’n Ander ouere man voeg by: “Alex het stadig begin om te reageer en sy bewussyn te herwin. Die proses was pynlik stadig. Maar na ’n ruk kon hy kommunikeer. Met verloop van tyd het sy fisiese beperkings duidelik geword—die linkerkant van sy liggaam was verlam en sy gesig belemmer. . . Sy geheue was ook kwaai aangetas, veral waar dit gekom het by gebeure tydens sy verblyf in die hospitaal en die onmiddellike verlede. Maar dit het gelyk of daar amper niks geskort het met sy kennis van geestelike dinge en met sy vermoë om dit terug te roep nie. Sy vordering was verbasend.”
Hoe maklik is dit tog vir ’n gebreklike persoon om moed op te gee, om wanhopig te raak! Maar hoe onverstandig is dit tog om dit te doen, veral as die indiwidu Jehovah, “die God van die hoop”, dien! (Rom. 15:13). “Alex het moed gehou en was so geduldig moontlik”, sê ’n medegelowige. “Hy was stadig besig om sy sintuie terug te kry. Hy kon lees, praat en taamlik goed regkom, maar sy linkerkant het verlam gebly. Omdat hy stadig besig was om te herstel, het hy begin om vergaderinge by te woon en later aan hulle deel te neem, van die verhoog af sowel as deur kommentaar te lewer.”
Alex Henderson moes aanvanklik met ’n rolstoel na Christenvergaderinge geneem word. Later kon hy loop met die beenstut en kierie wat hy nog steeds moet gebruik. Wanneer daar vir hom gevra word wat hom onderskraag het, is “vergaderingbywoning” een faktor wat hy dadelik meld. Hoe belangrik is dit tog vir Christene om gereeld te vergader en ‘mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor’!—Hebr. 10:24, 25.
Sang was altyd ’n groot deel van die lewe in die Henderson-gesin. “Ek het altyd baie daarvan gehou om te hoor hoe Alex en Janet by die Koninkryksaal sing”, sê een van hulle geestelike susters. Maar weens swak gesig kon broer Henderson nie die druk in die gemeente se liedereboek sien nie. Hierdie suster het dus gedink aan ’n manier om hulp te verleen. “Ek het die hele liedereboek in groot druk oorgeskryf”, sê sy, “en dit was aangrypend om hom weer lofliedere tot Jehovah te hoor sing.”—Ef. 5:18-20.
VERDERE GELEENTHEDE OM TE DIEN
“Dit is onwaarskynlik dat ons gesin ’n bepaalde vergadering teen die einde van 1975 ooit sal vergeet”, vertel Alex. “Hoe bly was ons tog toe een van die opsieners ’n brief gelees het wat gesê het dat ek as ’n ouere man aangestel is! Dit was ’n groot verrassing, want die broers het nie die saak met my bespreek nie, alhoewel hulle baie goed geweet het dat ek sulke diens aan my broers as ’n groot voorreg sou aanvaar. My eerste reaksie? ‘Ek! Wat kan ek doen?’ Ek moet nederig erken dat dit slegs met Jehovah se hulp moontlik is om sulke verantwoordelikheid na te kom, want hoe kan ek in my eie krag roem?”—Vergelyk 1 Korinthiërs 1:28-31; Filippense 4:13, NW.
Is dit werklik moontlik vir iemand met ’n groot gebrek om ander te help? Ja, en daardie feit kan ’n aansporing wees vir ’n indiwidu wat teëspoed verduur weens ’n liggaamsgebrek. Een jong persoon sê: “Ek waardeer die talle boeiende besonderhede oor die waarheid waarmee broer Henderson sy kommentare en toesprake interessant maak.” ’n Ander sê: “Dit is duidelik dat hy ’n skat van kennis besit wat hy graag met ons almal wil deel. . . . Dit is verbasend hoe ywerig en bemoedigend hy ondanks hierdie fisiese probleme kan wees!”
Laat geen gebreklike Christen dus dink dat sy of haar pogings om Jehovah te loof en medegelowiges nederig op te bou niks beteken nie. Een ouere man sê: “Dit is maar eers onlangs dat broer Henderson begin het om op die verhoog te staan, want tevore het hy gesit terwyl hy die gemeente toegespreek het. . . . Hierdie eenvoudige feit het my geloof versterk en my bemoedig, want ek kan sien dat ’n man wat getrou in Jehovah se diens is en wat ’n ernstige ongeluk gehad het wat sy diens onderbreek het, hierdie dinge met die hulp van Jehovah se gees te bowe gekom het.”
GEHELP DEUR DIE GOD WAT ONTHOU
Dit is voorwaar slegs met Jehovah se hulp dat Christene teëspoed met welslae kan verduur, ongeag die aard daarvan. “Waar sal my hulp vandaan kom?” het die psalmis gevra. “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” (Ps. 121:1, 2). “Jehovah het my gehelp om geduldig te wees—om te volhard”, sê Alex. “Hy het liefdevolle hulp verleen en my die krag gegee om my onkreukbaarheid tydens moeilike tye te handhaaf.” Janet voeg by: “Wanneer probleme ontstaan het, het ek dit in gebed met Jehovah bespreek. Maar ek het nie vir wonderwerke gebid nie, net dat Hy my moet wys hoe om dit die hoof te bied en tevrede te wees met die uitslag, ongeag wat dit sou wees.”—1 Pet. 5:6, 7.
Christene dien nie ’n vergeetagtige God nie. Jehovah verlaat nooit diegene wat hom waarlik liefhet nie, en hy het die verblydende hoop op ewige lewe aan hulle uitgehou (Ps. 94:14; Joh. 3:16; 2 Pet. 3:13). Ondanks sy gebreke spoor Alex ons dus optimisties aan:
“Hou goeie moed, ‘volhard in die gebed’ en gaan voort in die geloof. Binnekort sal die blinde sien, die dowe hoor, die stomme vreugdevol uitroep—en, ja,—die lamme spring soos die ratse takbok. Ek hunker natuurlik na daardie wonderlike tyd. Intussen is dit vir my ’n bron van ware geluk om Jehovah, die God wat onthou, te dien.”—Ps. 100:2; Jes. 35:5, 6; Rom. 12:12.