Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 3/1 bl. 29-30
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek het dit waarvoor ek lief was, leer haat
    Ontwaak!—1994
  • Voor en ná—donker verlede, helder toekoms
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Juan Pablo Zermeño: Jehovah het my ’n betekenisvolle lewe gegee
    Die Bybel verander lewens
  • Sport in die ou tyd en die belangrikheid van oorwinning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 3/1 bl. 29-30

Vrae van lesers

♦ Kan ’n toegewyde en gedoopte Christen ’n professionele bokser word en nog goed by sy gemeente aangeskrewe staan?

As ’n Christen ’n professionele bokser sou word, sou hy optree in stryd met God se raad. Kom ons kyk na daardie Bybelse raad.

Die Skrif toon duidelik dat toegewyde Christene die vrug van God se heilige gees moet voortbring, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Professionele boks druis in teen al sulke vrugte. Die Bybel vermaan ons om ‘met alle mense in vrede te leef’ en om nie te veg nie, maar om ‘vriendelik te wees teenoor almal’ (Romeine 12:18; 2 Timotheüs 2:24). Ons lees eweneens in Jakobus 3:18: “Die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.” Ons word ook aangesê om ‘ons naaste lief te hê soos onsself’ en dat die liefde die naaste geen “kwaad” doen, met ander woorde, geen skade berokken of beserings toebring nie.—Romeine 13:9, 10.

Professionele boks kan nie bloot as ’n onskuldige sport beskou word nie. Dit is ’n bekende feit dat boksers in die kryt klim met die sterk begeerte om hulle teenstanders seer te maak. Hulle kan selfs ’n ruk lank ’n moorddadige gevoel teenoor die teenstander koester. Hierdie gees kan selfs deur die toeskouers waargeneem word, soos dikwels blyk uit die reaksie van toeskouers by ‘n boksgeveg. Daar word keer op keer gehoor hoedat hulle skreeu: “Moor hom! Moor hom!”

Dit is dus geen wonder nie dat die pers van tyd tot tyd berig dat ’n bokser dodelike beserings in die kryt opgedoen het. ln boks bestaan daar altyd die risiko dat een van die boksers ’n moordenaar kan word, en die apostel Johannes het gesê: “Julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:15). Een veteraanboksbeampte is byvoorbeeld die mening toegedaan dat boks “gewettigde moord” is en deur die wet verbied behoort te word. Dit is ook al beskryf as “aanranding met die opset om ernstig te beseer”. Een nog ’n veragtelike aspek van professionele boks is die soort mense wat sake bestuur. Dit is dikwels in die beheer van ’n misdadige element wat tot die onderwêreld behoort.

Wat moet die gesindheid van die gemeentelike ouere manne in die lig van hierdie feite wees teenoor ’n toegewyde en gedoopte Christen wat ’n professionele bokser word? Hulle sal eerstens vir so ’n broer wil raad gee wat strook met die Skriftuurlike beginsels wat hierbo gemeld is (Galasiërs 6:1). Hulle moet vriendelik dog ferm redes aanvoer waarom professionele boks nie versoen kan word met die lewe van ’n toegewyde volgeling van Jesus Christus, die “Vredevors” nie (Jesaja 9:5). Hulle kan vir hom wys dat ’n Christen moet “arbei deur met sy hande te werk wat goed is”. Wanneer ’n persoon sy bestaan as ’n professionele bokser maak deur ’n teenstander in ’n bokskryt te lyf te gaan, kan daar beslis nie gesê word dat hy “werk wat goed is” nie.—Efesiërs 4:28.

Die individu behoort ook daaraan herinner te word dat hoewel professionele boks hom ’n goeie inkomste kan besorg, Christene hulle nie hoef te verlaag om van sulke metodes gebruik te maak nie, want God se Woord verseker ons in Hebreërs 13:5, 6: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?”

So ’n persoon moet dus ’n redelike tydperk gegun word om sy onchristelike professie of beroep te staak. As hy in gebreke bly om dit te doen, sal die ouere manne geen alternatief hê as om hom uit die gemeente te sit nie.—1 Korinthiërs 5:11-13.

♦ Het Hebreërs 8:13 op die einde van die Joodse stelsel in 70 G.J. betrekking waar dit sê dat die Wetsverbond “verouder. . . [en] naby die verdwyning” is?

Nee. Sommige het Hebreërs 8:13 so verklaar. Maar die verband toon dat dit betrekking het op die situasie van die Wetsverbond sedert die tyd toe Jeremia die nuwe verbond voorspel het.

ln Hebreërs hoofstuk agt stel die apostel Paulus twee verbonde teenoor mekaar. Die ‘eerste verbond’ was die wetsverbond met Moses as middelaar. Die “tweede” of nuwe verbond is ’n “beter verbond” wat Jesus as Middelaar het en wat “op beter beloftes wettelik gegrond is”.—Hebreërs 8:6, 7.

Paulus haal Jeremia 31:31-34 aan, waar Jehovah belowe het dat hy “met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond tot stand sal bring”. Toe het die apostel geskryf: “As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.”—Hebreërs 8:13.

Die boek Hebreërs is gedurende “die voleinding” van die Joodse stelsel geskryf, waarskynlik sowat nege jaar voordat die Romeine Jerusalem in 70 G.J. vernietig het (Hebreërs 9:26, NTP). Sommige het hierdie vers derhalwe soos volg verduidelik: God se goedkeuring van die Wet het met Jesus se dood geëindig, maar tempelaanbidding het tot in 70 G.J. voortgeduur. Toe Paulus Hebreërs 8:13 geskryf het, was die Wetsverbond aan die ‘verouder en naby die verdwyning’, wat in 70 G.J. gekom het.

’n Ander verklaring strook egter beter met die redenasie in Hebreërs hoofstuk 8.

Paulus het klem gelê op God se verklaring by monde van Jeremia dat ’n nuwe verbond in die plek sou kom van die Wetsverbond, wat nie foutloos was nie, aangesien dit nie ’n regverdige volk kon voortbring nie (Romeine 3:20). ln Jeremia se dag moes dit die Jode verbaas het om te hoor dat die Wetsverbond vervang sou word deur ’n nuwe verbond waar kragtens daar volle vergifnis vir sondes sou wees.

Nadat God uitdruklik die nuwe verbond voorspel het, was die ou verbond in ’n sekere sin verouderd. Al het God dit laat voortbestaan totdat die Messias gekom en as Middelaar van die nuwe verbond opgetree het, kon daar gesê word dat die dae van die Wetsverbond getel was vanaf die tyd dat Jeremia sy profesie geskryf het. Dit is waarom die vers begin met die woorde: “As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak.” Of, soos J. B. Phillips dit stel: “Die blote feit dat God van ’n nuwe verbond praat . . . maak die oue uitgediende.”

Die verouderde toestand wat bestaan het van die tyd dat Jeremia 31:31-34 geskryf is, sou ’n volle werklikheid word wanneer Jesus se dood ’n einde aan die Wet gemaak het. Sowat 28 jaar later kon Paulus dus in die volgende vers byvoeg: “So het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy aardse heiligdom gehad.”—Hebreërs 9:1.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel