Ek het dit waarvoor ek lief was, leer haat
My lewe het om boks gedraai. Dit was vir my lekker om my opponent met al my krag te slaan en te sien hoe hy voor my voete val. Dit het my genot verskaf om in die middel van die bokskryt te staan en te hoor hoe die aankondiger my naam as die wenner van die geveg uitroep. Ek was dol oor boks! Maar nou ontstel die blote gedagte aan geweld my. Ek het geleer om boks, wat ek nou die kriminele sport noem, te haat.
IN 1944, toe ek sewe was, het ek in my geboortedorp Lares, Puerto Rico, gewoon. Dit was toe dat ek die verskriklike skok van my ma se dood moes deurmaak. Sy is op die ouderdom van 32 aan kanker dood. Die pyn het ondraaglik geword toe ek ’n kort ruk daarna van die skool af gekom en ’n vrou op my pa se skoot gesien sit het. Sy het my stiefma geword.
My stiefma het my afkeur aangevoel en my liefdeloos behandel. Ek het dus van die huis af weggeloop. Ek het stilletjies op ’n vragmotor geklim, onder die vrag steenkool en lemoene weggekruip en aan die slaap geraak. Wat ’n verrassing was dit tog toe ek wakker word en agterkom dat ek in die stad San Juan, aan die ander kant van die eiland, was!
Die straatbakleier
Ek was agt maande lank haweloos in San Juan. Ander kinders het my gedurig lastig geval. Ek het tot die slotsom gekom dat my vuiste my enigste redding was. Ná agt maande het die polisie my opgespoor en huis toe gestuur. Ek het my nooit by die idee van ’n stiefma aangepas nie en het die meeste van my tyd op straat deurgebring. Ek het feitlik elke dag in ’n bakleiery betrokke geraak. Toe ek tien was, het ek weer weggeloop.
Ná ’n paar weke het die polisie my weer aangekeer. Hierdie keer het ek geweier om hulle my naam te gee en te sê waarvandaan ek gekom het. Toe hulle my gesin nie kon opspoor nie, het hulle my na ’n staatsbeheerde weeshuis in die stad Guaynabo gestuur. Hier het ek my eerste paar bokshandskoene aangetrek. Dit was ook hier dat ek die naam Jehovah vir die eerste keer in my lewe op ’n naambord gesien het. Ek het na die naam gevra en gehoor dat Jehovah die God van die Jode is. Ek het daardie naam nooit vergeet nie.
Nadat ek 15 geword het, het ek die weeshuis verlaat en nooit teruggekeer nie. Ek het koerante begin verkoop om myself te onderhou. Maar elke straat was op iemand anders se roete. Daar was net een manier om my eie roete te skep: ek moes baklei! En ek hét baklei.
Twee jaar later het ek my by die Amerikaanse leër aangesluit en my basiese opleiding in Arkansas, VSA, ontvang. Ek het spoedig ’n lid van ’n boksspan geword. Daarna is ek na die Spesiale Dienseenheid oorgeplaas. Ek het in die gimnasium gewerk, en my sersant was ’n boksafrigter.
’n Wrede sport
Ek is geleer hoe ek my vuiste moet gebruik om my opponente te beseer. Ek is opgelei om vriendskappe in die bokskryt te ignoreer. Wanneer die klok aan die begin van ’n geveg gelui het, het ’n vriend ’n vyand geword wat platgeslaan en verkieslik uitgeslaan moes word.
Ek wou in die leër aanbly, maar my sersant het vir my gesê: “Verlaat die leër so gou as wat jy kan. Word ’n beroepsbokser, en binne ’n paar jaar sal ek jou op televisie in Madison Square Garden in New York-stad sien veg.” Dít was moeilik om te glo! Ek—die arm, hawelose seun—’n beroemde bokser?
Ná twee jaar het ek die leër verlaat en teruggegaan Puerto Rico toe. Op ’n dag in 1956 het ek ’n advertensie vir ’n amateurbokstoernooi, die Golden Gloves, gesien. Ek het my vir die toernooi ingeskryf en het die Golden Gloves se weltergewigkampioen van Puerto Rico geword. Toe is ek na New York-stad gevlieg om in die Golden Gloves se nasionale toernooi mee te ding. Ek het my pad tot in die halfeindstryd oopgeveg, maar ek het nie die kampioenskap gewen nie. Nogtans was daar spoedig aanbiedinge van voornemende bestuurders en afrigters. Ek het dus ’n aanbod aanvaar om in New York-stad te bly en as ’n beroepsbokser afgerig te word.
In 1958 het ek ’n beroepsbokser geword. En my sersant was reg. In 1961, vyf jaar nadat ek die leër verlaat het, het ek op nasionale televisie verskyn terwyl ek in Madison Square Garden geboks het. Baie van my gevegte het in hierdie bekende sportarena plaasgevind.
My houe het die loopbane van verskeie boksers beëindig. Een bokser uit Mexiko het as gevolg van my wrede houe heeltemal blind geword. Nog ’n geveg wat my gewete baie gepla het, was die een teen die middelgewigkampioen van die Dominikaanse Republiek. Voor die geveg het hy ’n groot bohaai daarvan gemaak dat ek ’n halwe kilogram meer as hy geweeg het. Sy gesindheid het my woedend gemaak. Ek het nog nooit beswaar gemaak wanneer ’n opponent so ’n onbeduidende gewigsvoorsprong bo my gehad het nie. Ek het vir hom gesê: “Wel, maak jou maar klaar, want vanaand gaan ek jou doodslaan!” Toe ek in die bokskryt geklim het, het ek volgens een koerant “’n sataniese voorkoms” gehad. Binne twee minute het die man bewusteloos op die planke gelê. Sy binneoor was so erg beskadig dat hy nooit weer geveg het nie.
Hoe ek boks leer haat het
My gewildheid het die aandag en vriendskap van akteurs en musikante getrek. Ek het eenkeer selfs die voormalige swaargewigkampioen Joe Louis gehad om publisiteit aan een van my gevegte te gee. Ek het baie gereis, luukse motors gehad en ander materiële dinge geniet. Maar my sukses was, soos in die meeste boksers se geval, van korte duur. In 1963 is ek tydens verskeie gevegte ernstig beseer en kon ek nie weer veg nie.
Dit was omstreeks hierdie tyd dat ek in ’n koerantartikel gelees het dat ’n beroemde bokser een van Jehovah se Getuies geword het. Nadat ek die artikel gelees het, was ek om die een of ander rede onder die indruk dat die godsdiens van Jehovah se Getuies net vir ryk mense is.
Die daaropvolgende paar jaar het ek ’n aantal mediese probleme ondervind. Daar was ook tye dat ek aan ernstige depressie gely het. Eenkeer toe ek so depressief was, het ek ’n rewolwer op my hart gerig en myself geskiet. Die koeël is deur ’n ribbebeen weggekeer en my lewe is gespaar. Ek het gelewe, maar ek was ongelukkig en baie siek. Dit was die einde van rykdom, roem en my boksloopbaan!
Toe het my vrou, Doris, my op ’n dag vertel dat sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het en dat sy die vergaderinge by die Koninkryksaal wil bywoon. “Ek weet nie, Doris”, het ek gesê. “Ons is arm mense en Jehovah se Getuies is ryk en belangrike mense.” Sy het vir my gesê dat dit nie waar is nie en dat die Getuie wat met haar gestudeer het in ons eie buurt gewoon het. Ek het dus ingestem dat sy die vergaderinge bywoon. Terwyl ek eenkeer buite die Koninkryksaal vir haar gewag het, het ’n Getuie my genooi om in te kom. Ek het vuil werksklere aangehad, maar hy het daarop aangedring. Ek is ten spyte van my voorkoms verwelkom. Die vriendelike atmosfeer het ’n diep indruk op my gemaak.
Dit was nie lank voor ek die Bybel saam met die Getuies begin studeer het nie. Ek het geleer dat Jehovah nie bloot die God van die Jode is nie, maar dat hy die enigste ware God is, die Almagtige, die Skepper van alle dinge. Ek het ook geleer dat Jehovah God geweld haat. In Psalm 11:5 sê die Bybel: “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.” Daarom het ek weggebreek van alles wat met boks verband hou. Ek het eerstehandse kennis gehad van hoe gewelddadig die sport is. Nadat ek geleer het hoe God boks beskou, was daar geen twyfel in my gemoed dat dit ’n bose, kriminele sport is nie. Ja, ek het geleer om die sport wat ek liefgehad het, te haat.
Die grootste voorreg
In 1970 het ek besluit om my lewe aan Jehovah toe te wy. Ek en Doris is in Oktober van daardie jaar gedoop. Sedertdien geniet ek die voorreg om aan die predikingswerk deel te neem. As ’n voltydse evangeliedienaar het ek ’n aandeel daaraan gehad om sowat 40 mense te help om aanbidders van Jehovah te word.
Ongelukkig ly ek nou weens die beserings wat ek gedurende my gewelddadige jare opgedoen het. Ek het honderde houe teen my kop gekry, wat my brein permanent beskadig het. Ek ondervind probleme met my korttermyngeheue sowel as met my binneoor, wat my balans aantas. As ek my kop te vinnig beweeg, kan ek duiselig raak. Ek moet ook gereeld medikasie vir my probleem met depressie neem. Maar mede-Christene verstaan en help my om my probleme die hoof te bied. Ek is só dankbaar dat Jehovah my die krag gee om sy naam en voorneme gereeld aan ander bekend te maak.
Ek geniet die grootste van alle voorregte—en dit is om ’n persoonlike verhouding met die Almagtige God, Jehovah, te hê. Toe ek ’n bokser was, het ek Jehovah se hart met elke geveg seergemaak. Nou kan ek sy hart verbly. Dit is vir my asof hy met my persoonlik praat wanneer hy sê: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”—Spreuke 27:11.
Jehovah sal binnekort ’n einde aan Satan se werke maak, waaronder alle geweld en diegene wat dit bevorder. Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah dat hy my geleer het om nie net die goeie lief te hê nie, maar ook die kwaad te haat! Dit beteken dat ek hierdie kriminele sport, boks, haat (Psalm 97:10).—Soos vertel deur Obdulio Nuñez.
[Prent op bladsy 13]
Obdulio Nuñez