Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 3/1 bl. 25-29
  • Wanneer die ploegman hom in God se Woord verlustig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer die ploegman hom in God se Woord verlustig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë lewe
  • Die eerste Griekse teks
  • Erasmus en Luther
  • Desiderius Erasmus
    Ontwaak!—2016
  • Die Bybel—Hooggeag en onderdruk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Studie nommer 6—Die Christelike Griekse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 3/1 bl. 25-29

Wanneer die ploegman hom in God se Woord verlustig

“EK WIL hê dat hierdie woorde in alle tale vertaal moet word, sodat nie alleen Skotte en Iere nie, maar ook Turke en Sarasene dit kan lees . . . Ek begeer dat die ploegman dit moet sing terwyl hy agter die ploeg loop, die wewer dit moet neurie op die wysie van sy skietspoel, die reisiger die eentonigheid van sy reis daarmee moet verdryf.”

So het die Nederlandse geleerde Desiderius Erasmus in die vroeë deel van die sestiende eeu geskryf. Dit was sy vurige hoop en begeerte dat die “woorde”, dit wil sê, die Skrif, alom vertaal moet word sodat selfs die “ploegman” God se Woord kon lees en geniet.

Sedert daardie tyd is die Bybel dan ook alom vertaal, en vandag kan dit in die tale van 97 persent van die wêreldbevolking gelees word. Dit is nie sonder goeie rede dat die Bybel die wêreld se grootste suksesboek geword het nie. Dit het mense van alle stande aangevuur om hulle vir vryheid en waarheid te beywer. Veral gedurende die sestiende-eeuse Hervorming in Europa was dit die geval. Sommige van die prominente figure van daardie tyd het openlik hulle stem laat hoor, soos Martin Luther, terwyl ander, soos Erasmus, op subtieler wyse hervormings probeer inbring het. Daar word dus gesê dat Luther die deur tot die Hervorming oopgemaak het nadat Erasmus die slot oopgesteek het.

Erasmus het erkenning geniet as ’n groot geleerde. Wat sy karakter betref, sê die Catholic Encyclopedia: “Hy het . . . oor uitmuntende uitdrukkingsvermoë beskik; wat betref sterk en aandoenlike redevoering, skerp ironie en verskuilde sarkasme kon niemand vir hom kers vashou nie.” Toe Erasmus besoek afgelê het by sir Thomas More, grootkanselier van Engeland, was More so bekoor deur sy geselskap dat hy, nog voordat Erasmus homself geïdentifiseer het, skielik gesê het: “Jy is óf Erasmus óf die Duiwel.”

Tipies van Erasmus se karakter was die antwoord wat hy aan Frederik, keurvors van Sakse, gegee het toe dié hom gevra het wat hy van Martin Luther dink. Erasmus het gesê: “Luther het twee flaters begaan; hy het dit gewaag om aan die kroon van die pous en die mae van die monnike te vat.”

Maar watter invloed het die Bybel op Erasmus gehad, en wat het hy op sy beurt gedoen om die studie daarvan te bevorder en dit aan die gewone mense, soos die “ploegman”, beskikbaar te stel? Kom ons kyk eers na Erasmus se vroeë lewe.

Vroeë lewe

Erasmus is in 1466 in Rotterdam, Nederland, gebore. Hy was die onegte seun van ’n Hollandse priester en was in sy vroeë jare bitter ongelukkig. Sy moeder is oorlede toe hy ongeveer sewentien was, en kort daarna is sy vader ook dood. Hoewel hy graag universiteit toe wou gaan, het hy uiteindelik voor die druk van sy voogde geswig en die Augustynse klooster van Steyn betree. Daar het hy ’n studie gemaak van Latyn, die klassieke tale en die kerkvaders. Maar hy het gou ’n afkeer van hierdie lewenswyse gekry. Op die ouderdom van ses-en-twintig het hy dus die geleentheid aangegryp om die klooster te verlaat en sekretaris te word van die biskop van Kameryk, Hendrik van Bergen, in Frankryk. Kort daarna het hy sy studies aan die universiteit van Parys voortgesit. Maar hy was dikwels siek en het sy hele lewe lank met swak gesondheid geworstel.

In 1499 het hy ’n uitnodiging aanvaar om Engeland te besoek. Daar het hy Thomas More, John Colet en ander teoloë in Londen ontmoet, wat hom gesterk het in sy besluit om hom op Bybelse studies toe te lê. Om die Bybel se boodskap beter te verstaan, het hy hom intensief toegelê op die studie van Grieks, totdat hy in staat was om dit aan ander te leer.

Gedurende hierdie tyd het hy ’n verhandeling geskryf met die titel Enchiridion militis Christiani (Handboek van die Christensoldaat), waarin hy die jong Christen vermaan om die Bybel te studeer. Hy het gesê: “Daar is niks wat jy met groter sekerheid kan glo as dit wat jy in hierdie geskrifte lees nie.”

Weens ’n tekort aan geld en in ’n poging om aan die pes te ontkom, het Erasmus in 1504 na Leuven, België, gegaan. Tydens ’n besoek aan die klooster van Park het hy in die biblioteek ’n manuskrip van die Italiaanse geleerde Lorenzo Valla se Annotationes oor die Nuwe Testament ontdek. Hierdie versameling aantekeninge oor die Latynse Vulgaatteks van die Christelike Griekse Skrifte het sy belangstelling in tekskritiek gaande gemaak. Dit behels naamlik ’n vergelykende studie van vroeë weergawes en manuskripte van die Bybel ten einde die oorspronklike lesing te bepaal. Erasmus het besluit om hom vir die herstelling van die oorspronklike teks van die Bybel te beywer.

Erasmus het toe Italië besoek en daarna weer na Engeland vertrek. Terwyl hy die Alpe oorgesteek het, het hy weer aan sy ontmoeting met Thomas More gedink en gepeins oor die betekenis van sy naam (moros, Grieks vir “’n dwaas”). Dit het hom beweeg om ’n satire te skryf wat hy Encomium Moriae (Lof vir die dwaasheid) genoem het. Daarin word dwaasheid verpersoonlik en dring dit elke lewensfeer binne, maar nêrens is dwaasheid duideliker te sien as onder die teoloë en geestelikes nie. So ontbloot hy die korruptheid van die geestelikes, een van die grondoorsake van die Hervorming wat nou aan die broei was. “Wat die pouse betref, het hy geskryf”, as hulle daarop aanspraak maak dat hulle opvolgers van die Apostels is, dan moet hulle onthou dat dieselfde dinge van hulle vereis word as wat deur hulle voorgangers beoefen is.” Maar in plaas daarvan, het hy opgemerk, beskou hulle dit as ‘te tydrowend om die mense te leer; as ’n skending van die prerogatief van die geleerdes om die skriftuur te vertolk; as te beuselagtig om te bid’. Geen wonder dat daar van Erasmus gesê is dat hy oor “uitmuntende uitdrukkingsvermoë” beskik het nie!

Die eerste Griekse teks

Terwyl hy ’n tyd lank Grieks gedoseer het aan die Universiteit van Cambridge in Engeland, het Erasmus voortgegaan met sy werk aan die teks van die Christelike Griekse Skrifte. ’n Vriend, Martin Dorpius, het hom probeer oortuig dat die Latynse vertaling geen verbetering uit die Grieks nodig gehad het nie. Was dit werklik moontlik, het Dorpius aangevoer, “dat die hele Katolieke Kerk soveel eeue lank sou dwaal, aangesien [die kerk] nog altyd hierdie vertaling gebruik en goedgekeur het?” Thomas More het hom by Erasmus aangesluit en op hierdie kritiek geantwoord deur klem te lê op die behoefte aan ’n juiste Bybelteks in die oorspronklike tale.

In Basel, Switserland, het ’n drukker, Johannes Froben, Erasmus aangespoor om sy werk gouer af te handel. Hy het gehoor dat kardinaal Ximenes van Toledo, Spanje, in 1514 aan ’n Griekse en Latynse Testament gewerk het, maar dat hy die publikasie teruggehou het totdat die hele Bybel voltooi was. Dit is uiteindelik in 1522 uitgegee. Erasmus se weergawe is in 1516 gepubliseer en was die heel eerste teks van die “Nuwe Testament” in die oorspronklike Grieks.

Omdat dit so inderhaas voltooi is, het die werk baie foute bevat.a Erasmus was meer as enigiemand anders hiervan bewus, en in latere uitgawes het hy soveel moontlik van die foute verbeter. Sowel Luther as William Tyndale het hierdie teks vir hulle vertalings van die Bybel in Duits en Engels gebruik. Dit was die hoop en verlange van Erasmus, en dit was in die voorwoord tot hierdie Griekse teks dat hy geskryf het: “Ek wil hê dat hierdie woorde in alle tale vertaal moet word. . . . Ek begeer dat die ploegman dit moet sing terwyl hy agter die ploeg loop.” Hoe onvolmaak Erasmus se teks ook al was, dit was die begin van die belangrike werk van tekskritiek, wat tot akkurate Bybelvertalings in ons tyd gelei het.

Maar nie almal het hierdie publikasie verwelkom nie. Sommige van Erasmus se aantekeninge het die geestelikes skerp gekritiseer. Beskou byvoorbeeld die teks van Mattheüs 16:18, wat lui: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou.” Erasmus spreek sy verbasing uit oor die feit dat hierdie woorde uitsluitlik op die pous toegepas is, en hy verwerp die primaatskap van Petrus geheel en al. Dit was ’n gewaagde stelling in ’n werk wat aan die pous opgedra is. Dit verklaar dan ook waarom baie van die geskrifte van Erasmus verbied is, selfs in die universiteite.

Dat Erasmus besorg was oor die begrip van God se Woord, blyk uit ’n werk wat hy in 1519 geskryf het met die titel Ratio seu compendium verae theologiae (Beginsels van ware teologie). Hierin word sy metode van Bybelstudie uiteengesit, met ’n stel reëls vir die uitlegging daarvan. Hy sê onder meer dat ’n aanhaling nooit uit verband of buite die skrywer se gedagtelyn gebruik moet word nie. Hy het die eenheid van die Skrif as ’n geheel gesien. Uitlegging kom derhalwe van binne, het hy aangevoer, en word nie van buite afgedwing nie.—Vergelyk Genesis 40:8.

Erasmus en Luther

In 1518 het Erasmus ’n verhandeling geskryf wat hy Colloquia familiaria genoem het en waarin hy weer die verdorwenheid van die Kerk en die kloosters aangeval het. Net die vorige jaar het Martin Luther sy vyf-en-negentig stellinge aan die deur van die Slotkerk in Wittenberg vasgespyker om protes aan te teken teen aflate, wat in baie lande ’n skandaal geword het. ’n Tyd lank het dit gelyk asof Erasmus en Luther hulle kragte sou saamsnoer om die nodige hervormings teweeg te bring, maar hulle idees oor hoe om dit te bereik, het radikaal verskil. Dit was nie lank nie of Luther het Erasmus begin veroordeel omdat laasgenoemde ’n gematigde was en langs vreedsame weë van binne die Kerk wou werk. Daar kan gesê word dat Erasmus gedink en geskryf het, terwyl Luther gehandel het.

Die finale skeuring het in 1524 gekom toe Erasmus ’n essay met die titel De libero arbitrio (Oor die wilsvryheid) geskryf het. Luther het die gedagte verwerp dat die mens ’n vrye wil het, maar Erasmus het geredeneer dat dit God onregverdig sou maak, aangesien dit sou beteken dat die mens nie op so ’n wyse sou kon handel dat dit sy redding bewerk nie.

Namate die Hervorming hom in Europa gevestig het, is baie van die leiers deur omstandighede genoodsaak om die Katolieke Kerk te verlaat. Ofskoon hulle nie die uiteinde van die saak voorsien het nie, het hulle op hulle gekose weg voortgegaan, dikwels tot hulle dood. Maar Erasmus het hom aan die twis onttrek en selfs die kardinaalsamp van die hand gewys. By een geleentheid het hy bely dat hy dalk, soos Petrus, voor beproewing sou swig (Mattheüs 26:69-75). Hy het die middeweg gekies. Hoewel Rome dus sy geskrifte as ketteragtig beskou en hulle op die Register van verbode boeke geplaas het, het baie hervormers hom veroordeel en gesê dat hy bereid was om toe te gee om homself te red. Erasmus was oorgevoelig vir kritiek en tog gretig om lof te ontvang. Gevolglik was hy dikwels te versigtig, omdat hy die gevolge van ’n breuk met Rome gevrees het.

Die posisie van Erasmus ten opsigte van die Hervorming is al soos volg opgesom: “Hy was ’n hervormer totdat die Hervorming ’n skrikwekkende werklikheid geword het; ’n bespotter van die bolwerk van die pousdom totdat dit begin verkrummel het; ’n bevorderaar van die Skrif totdat mense hulle tot die studie en toepassing daarvan begeef het; afkeurend van die bloot uiterlike vorme van die godsdiens totdat hulle na hulle behoorlike waarde geskat is; kortom, ’n geleerde, vindingryke, welwillende, innemende, hangerige, besluitelose man wat, hoewel hy die verantwoordelikheid gedra het, aan ander die glorie oorgelaat het om die menslike gees te bevry van die slawerny van ’n duisend jaar. Die gaping tussen sy loopbaan en die van Luther het dus voortdurend vergroot, totdat hulle op die ou end in teenoorgestelde rigtings beweeg en mekaar met wedersydse vyandigheid beskou het.”—Edinburgh Review, Ixviii, 302.

Die hervormers kon nie onderlinge eenstemmigheid bereik oor dogma en praktyk nie, met die gevolg dat die veranderinge van die sestiende eeu nie ontslae geraak het van sekere van die basiese tradisies wat die waarheid van God se Woord deur die eeue heen versluier het nie. Maar die vordering wat daarin gemaak is om die Bybel aan die gewone mense beskikbaar te stel, het tot vandag toe voortgeduur. Uit hierdie stryd, waarin Erasmus ’n rol gespeel het, het betroubare en akkurate Bybelvertalings voortgekom.

Ja, vandag kan die “ploegman” die Bybel, of ten minste ’n deel daarvan, in feitlik enige taal optel en hom daarin verlustig om van God se voorneme met die mensdom te leer. En die Skrif spoor ons aan om juis dit te doen. Soos dit in Psalm 1:2, 3 aangaande die regverdige sê: “Sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Mag ons nooit ’n dag laat verbygaan sonder dat ons ons in God se Woord verlustig nie.

[Voetnoot]

a Trouens, omdat sy kopie van Openbaring onvolledig was, het Erasmus bloot die ontbrekende verse uit die Latynse Vulgaat in Grieks terugvertaal.

[Prent op bladsy 27]

Erasmus, ’n hervormer tot die Hervorming ’n skrikwekkende werklikheid geword het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel