Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 1/1 bl. 8-13
  • Pas op vir musiek wat verderf!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir musiek wat verderf!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom versigtig wees?
  • Moenie gemeenskap met die demone hou nie!
  • Vermy die wêreld se gees
  • Onderskei tussen reg en verkeerd
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Ontwaak!—1993
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Musiek—Jehovah se genotvolle gawe aan ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Maak dit saak watter musiek ek kies?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 1/1 bl. 8-13

Pas op vir musiek wat verderf!

“Onderrig my, o Jehovah, in u weg, en lei my in die pad van opregtheid.”—PSALM 27:11, NW.

1. Hoe is Jehovah se gawe van musiek uniek?

JEHOVAH GOD het goedgunstiglik die gawe van musiek aan die mensdom gegee. Dit was ’n unieke blyk van sy onverdiende goedheid, want hoewel mense dit nie nodig het om aan die lewe te bly nie, stel dit hulle in staat om uiting te gee aan hulle emosies—hulle droefheid, hulle vreugde (Genesis 4:21). Dit kan troos in tye van smart. Dit kan groter geluk verskaf in tye van vreugde. Jakobus het dus gepas aan medeChristene geskryf: “Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.”—Jakobus 5:13.

2. Watter verband bestaan daar tussen musiek en sang en Jehovah se aanbidding?

2 Sang en musiek is al lank deel van die aanbidding van Jehovah. Sy eertydse volk het hom vreugdevol met sang geloof wanneer hy hulle gered het (Exodus 15:1-21; Rigters 5:1-31). God het beveel dat sangers en musikante vir diens by sy tempel aangestel moet word (Psalm 68:25-27). Jesus Christus en sy apostels het lofliedere gesing ná die Here se Aandmaal (Markus 14:26). Die apostel Paulus het mede-Christene aangespoor om uiting te gee aan hulle gevoelens in ‘geestelike liedere, terwyl hulle hulself met musiek in hulle hart tot Jehovah begelei’ (Efesiërs 5:19, NW). En tot vandag toe is sang ’n integrerende deel van aanbidding onder getuies van Jehovah.

3. Watter bewys is daar dat musiek krag het?

3 Musiek het onteenseglik krag. Dit kan harte bereik en emosies wek. Daarom word wêreldlike volksliedere en marsmusiek gebruik om patriotiese ywer te wek. Wêreldlike skole het “strydliedere” om atlete te besiel. Adverteerders gebruik dikwels melodieuse deuntjies om hulle produkte te adverteer. Sulke bewyse van musiek se krag moet Christene op hulle hoede stel.

Waarom versigtig wees?

4. Waarvoor moet aanbidders van Jehovah veral versigtig wees wat musiek betref?

4 Satan die Duiwel is ook bewus van musiek se groot krag, en hy gebruik dit soms om die hart te beïnvloed en mense van die reine aanbidding van Jehovah af te keer. In hierdie opsig moet lojale Christene dus ‘die hart bewaak, want daaruit is die oorspronge van die lewe’ (Spreuke 4:23). Ons moet veral versigtig wees dat die musiek waarna ons luister ons nie van “die pad van opregtheid” afkeer en na verdorwe, Godonterende gedrag lei nie.—Psalm 27:11, NW.

5. Waarom moet ons baie selektief wees wanneer ons musiek kies?

5 Jehovah was baie vrygewig toe hy mense die gawe van musiek gegee het. Maar hoe dikwels word dit tog nie misbruik nie! Wanneer ons musiek kies, moet ons dus baie selektief en oordeelkundig te werk gaan. Sonder om eens die woorde te hoor, kan ons dikwels sê watter soort gees sekere liedere probeer skep. Moses het van ver af gehoor dat die musiek wat uit die Israelitiese laer kom nie ‘’n oorwinningslied of ’n klaaglied’ was nie. Toe hy eindelik by die kamp kom en sien hoe die mense optree, het hy geweet dat die musiek die soort was wat tot bandelose afgodediens gelei het (Exodus 32:15-19, 25). Ons moet dus vandag ondersoek instel na die soort luim of gees wat geskep word deur die musiek waarna ons luister. Hef dit ons op, of is dit musiek wat verderf?

6. Hoe gebruik die Duiwel sekere musiek, en watter woorde van Paulus is dus besonder opmerklik?

6 Die apostel Paulus het besef dat dit Satan se begeerte is om Jehovah se volk te verlaag of te verderf. Paulus het medegelowiges gevolglik aangespoor om hulle van die onregverdiges af te skei en het gevra: “Watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial?” (2 Korinthiërs 6:14-17). Die Duiwel gebruik vandag listig verskeie vorme van ongeregtigheid in musiek en probeer om mense sodoende tot verdorwenheid te verlei en hulle aldus van God af te keer. Toegewyde getuies van Jehovah moet op hulle hoede wees vir hierdie gevare.

Moenie gemeenskap met die demone hou nie!

7. Hoe kan ’n Christen bepaal of sekere musiek demoniese invloed het?

7 Op die gebied van musiek bestaan daar wel geestelike gevare. Talle gewilde musikante beoefen byvoorbeeld okkulte kunste. Party erken openlik dat hulle Satan aanbid, en sataniese invloed kan dikwels in hulle musiek en liedere waargeneem word. Maar hoe kan ’n Christen bepaal of sekere musiek onder demoniese invloed staan? In sommige gevalle hoef ’n mens maar net na die omslag van die plaat te kyk. Jy sien karakters wat aangetrek is om soos hekse, demone of duiwels te lyk. Of daar is prente op die omslag wat tot die mistieke of die okkulte neig. Die naam van die groep of die titel van die plaat kan ’n verband met die demone toon, en so ook die titels en woorde van die liedjies. Wat lei jy byvoorbeeld af uit titels soos “Sympathy for the Devil” en “Children of the Grave”? Die New York Post het berig dat een sodanige lied “’n onbeskaamde erkenning” is dat die musikante “kop in een mus met Satan is”.

8. Watter soort boodskappe is al met behulp van “backward masking” in sekere musiekopnames gesit?

8 Onskriftuurlike en selfs demonistiese boodskappe is ook al opgeneem met ’n tegniek genaamd “backward masking” wat deur ’n aantal musiekgroepe gebruik word. Wanneer die opname van een baie gewilde liedjie agteruit gespeel word, sê dit herhaaldelik: “Decide to smoke marijuana.” Wanneer ’n ander gewilde opname agteruitgespeel word, bevat dit hierdie boodskap: “I will sing because I live with Satan. . . . There’s no escaping it, my sweet Satan.”

9. Watter soort gedagtes kan ingeneem word wanneer ’n mens na sekere soorte musiek luister, en hoe kan dit gevaarlik wees?

9 Mense speel natuurlik nie in die reël opnames agteruit nie. Maar wanneer mense na sekere plate luister, kan onskriftuurlike of demoniese gedagtes ingeneem word deur ’n verstand wat vatbaar is vir onbehoorlike voorstelle. High Fidelity Magazine het ’n afdelingshoof van een platemaatskappy soos volg aangehaal: “Die nuwe ‘rock’- en die nuwe klassieke musiek het presies dieselfde vatbaarheid nodig. . . . Jy moet jouself daaraan oorgee en dit jou verstand laat oorneem.” Maar is dit verstandig? ’n Verstand wat geestelik onbewaak is, kan deur die demone binnegedring word!—Vergelyk Mattheüs 12:43-45.

10. Hoe moet getroue Christene enigiets wat demonisties is, beskou?

10 Die apostel Paulus het aan sy geliefde medegelowiges geskryf dat “die heidene wat . . . offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie” (1 Korinthiërs 10:20, 21). Onsedelikheid en betrokkenheid by spiritisme, die okkulte ofenigiets demonisties het geen plek in die lewe van ’n getroue Christen nie.—Deuteronomium 18:10-12; Galasiërs 5:19-21.

11. Wat moet ’n Christen doen as hy ontdek dat hy demonistiese opnames besit?

11 Wat moet ’n Christen, in die lig van goddelik geïnspireerde raad, doen as hy uitvind dat hy musiekopnames het wat van demoniese invloed getuig? Hy moet dit beslis vernietig, want Jehovah se volk moet nie ‘met die duiwels gemeenskap hou nie’. Vroeë Christene in Efese het onder soortgelyke omstandighede sonder aarseling opgetree, want ons lees: “Verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was” (Handelinge 19:19). Daardie “liefhebbers van die HERE” het die kwaad gehaat en is nie gekeer deur gedagtes van materiële verlies nie. Hulle het eerder, tot hulle groot geestelike voordeel, besittings van ’n demonistiese aard vernietig.—Psalm 97:10.

Vermy die wêreld se gees

12, 13. (a) Watter wêreldse gees gaan dikwels met hedendaagse musiek en musikante gepaard, en hoe word dit geopenbaar? (b) Hoe moet Jehovah se Getuies Galasiërs 6:7 toepas?

12 Ons moet ook nie vergeet van die wêreldse gees van wilde onverskilligheid wat dikwels met vandag se musiek en musikante gepaard gaan nie. (Vergelyk Efesiërs 2:1-7.) Toe een konsert byvoorbeeld gekanselleer is, het duisende bewonderaars oproerig geword. The Toronto Star berig: “Hulle het 268 polisiemanne met bottels, kettings en ander goed bestook terwyl hulle 30 minute lank woes te kere gegaan het . . . Hulle het 200 sitplekke uitgeruk wat vasgesweis was aan staalpote wat aan beton vasgeskroef was. Hulle het ’n groot klomp metaalstoele op die verhoog gegooi . . . Hulle het staaldraaihekke uitgeruk, lokette en die Grandstand-restaurant se ruite gebreek en verskeie motors buitekant die stadion beskadig.” Moet ’n Christen ooit in sulke geselskap wees?

13 By sulke uitvoerings word alkohol en dwelms gewoonlik vrylik gebruik. Daarbenewens skep die musiek en optrede van die musikante ’n gees van wilde onverskilligheid. Dit is duidelik dat die soort musiek wat by sulke geleenthede gespeel word, tesame met dinge soos demonisme, dwelms en geweld, slegs verderflik kan wees. Kan ’n Christen dan in sy eie huis na dieselfde musiek luister sonder om nadelig daardeur beïnvloed te word? Nouliks! En geen getroue getuie van Jehovah sal die volgende Bybelbeginsel ignoreer nie: “God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

14. Waarom is dit nie gepas om na ’n lied wat onsedelike gedrag voorstaan te luister en op die maat daarvan te dans nie?

14 Maar sommige sê: ‘Ek luister nie na die musiek ter wille van die woorde nie; ek hou net van die ritme. Dis lekker dansmusiek.’ Maar dit kan ook gevare inhou. Volgens The Times-Herald van Newport News, Virginië, kan “’n ywerige diskodanser die hele nag lank dans op maat van ’n trefferlied sonder om enigiets meer omtrent die musiek op te merk as die polsende ritme en die trefreël, ’n musikant se naam vir ’n uitdrukking wat gemaklik op die oor val en dikwels herhaal word”. Die musiek het miskien ’n goeie dansritme, maar wat leer die woorde ons? Wat gaan die hoorder se verstand binne? Hoe kan ’n lojale getuie van Jehovah byvoorbeeld dans op maat van die musiek van ’n lied wat hom herhaaldelik aanspoor om hom aan hoerery skuldig te maak?—1 Korinthiërs 6:9, 10.

15. Watter verderflike tendense is daar in hedendaagse musiek?

15 Moreel verdorwe woorde kom natuurlik nie net in ‘rock’- en diskomusiek voor nie. In baie lande of gebiede is daar soorte musiek wat plaaslik baie gewild is ondanks die feit dat dit ’n ritme of woorde het wat vir ware Christene aanstootlik is. Aangaande ‘country’-musiek het ’n artikel in The News & Observer van Raleigh, Noord-Carolina, gesê: “Kroegsnolle en vrouekullers was nog altyd deel van ‘country’-liedjie, maar hulle ongeoorloofde verhoudings was nog nooit in die geskieden is van musiek so duidelik uitgebeeld as wat vandag die geval is nie.” Met verwysing na nog ’n tendens in gewilde maar onsedelike musiek het The Spokesman-Review gese: “Vroue sing oor seks in die nag en seks op die dansvloer en seks op die straathoek.” Kan sulke liedere enigiets anders as verderflik wees?

16. Watter hulp is daar vir ’n persoon wie se hart hom beweeg om na seksueel verdorwe musiek te luister of op die maat daarvan te dans?

16 Moet nooit vergeet dat die onvolmaakte mensehart bedrieglik en verdorwe is nie (Jeremia 17:9). Oorreed jou hart jou om te luister na of te dans op die maat van musiek wat jy weet in Jehovah se oë verkeerd is? Pas dan op! Soek God se hulp biddend sodat jy kan ‘beproef wat die Here welbehaaglik is en kan ophou om gemeenskap met die werke van die duisternis te hou’ (Efesiërs 5:10-12; Psalm 5:2, 3). Jou onversetlike weiering om na seksueel verdorwe musiek te luister of op die maat daarvan te dans, kan selfs dien as bestraffing vir ander wat deur hulle hart mislei word.

17. Hoe kan ons die raad in (a) Efesiërs 5:3 en (b) Titus 2:11-14 ten opsigte van musiek toepas?

17 Diegene wat vervul is met die gees van hierdie goddelose stelsel, skep behae in seksueel verdorwe musiek. Maar hoe kan dit ooit die geval met getroue Christene wees? Hulle word vermaan: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam” (Efesiërs 5:3). Het ons gepas ‘die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede verloën’? Laat ons dan let nie alleen op wat ons sê nie, maar ook op waarna ons luister, sodat dit nie liedere oor onsedelikheid insluit nie. Laat ons “ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld . . . lewe”.—Titus 2:11-14.

18. Watter vrae kan gestel word oor ons gesindheid teenoor sekere musikante?

18 Maar hoe voel jy persoonlik oor wêreldse musikante? Vra jouself af: Boots ek sommige van hulle na in hulle kleredrag, voorkoms en spraak? Hoeveel van my gesprekke gaan om hulle en hulle musiek? Verafgod ek hulle deur T-hempies of baadjies te dra wat sulke verhoogkunstenaars adverteer, of selfs deur hulle foto’s of plakkate in my kamer op te hang? Behaag dit Jehovah, die Een wat my eer toekom? Pas ek die Bybel se duidelike raad toe deur te “vlug vir die afgodediens”?—1 Korinthiërs 10:14; Romeine 1:24, 25.

Onderskei tussen reg en verkeerd

19. Hoe moet behoorlik geoefende geestesvermoëns ten opsigte van musiek gebruik word?

19 Die apostel Paulus het geskryf: “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Christenouers en jongmense moet behoorlik geoefende geestesvermoëns gebruik om tussen reg en verkeerd te onderskei. Hulle moet die bedrieglike verlokking van verderflike musiek herken en volkome verwerp. Namate die morele kode dat “alles aanneemlik is” al hoe meer deel van hierdie Duiwel-beheerde wêreld en sy musiek word, moet jong sowel as ou getuies van Jehovah hulle lewens met al hoe meer beslistheid na die hoë standaarde van hulle hemelse Vader skik.—Psalm 119:9-16; 1 Johannes 5:19.

20. Wat word aanbeveel in die geval van ’n jong persoon wat meegesleep word deur die gees van ongewenste liedere?

20 Moet nooit vergeet dat musiek krag het nie. Dit kan die hart beïnvloed. Sien jy dat jy meegesleep word deur die gees van onwenslike, wêreldse liedere? Tree dan dadelik op om jou hart te bewaak. Indien jy ’n jong persoon is, kan jy die situasie met jou Christenouers bespreek. En bid vurig tot Jehovah vir hulp deur middel van sy heilge gees.—Spreuke 4:23; Lukas 11:13; Galasiërs 5:22-24.

21. Hoe kan Christenouers hulle kinders help om verderflike musiek te vermy?

21 Ouers, wat doen julle om julle kinders te help om tussen aanneemlike en verderflike musiek te onderskei? Kan julle, as Christene, hulle werklik toelaat om te luister na liedere wat vertel van demonisme, geslagsonsedelikheid, dwelmmisbruik en geweld? Voordat julle dus ’n plaat koop of julle kinders toelaat om na sekere musiek te luister, moet julle die plaat omslag bestudeer om te kyk of dit van verdorwe invloed getuig. Kyk na die titels en woorde van die liedjies. Indien die liedjies verderflik is, moet julle dit vriendelik met julle kinders bespreek. Julle kan daarop wys dat alle Christene ‘kinders in die boosheid en volwassenes in die verstand moet wees’ en nie kennis moet probeer verkry van bose dinge of hulle verstande met verderflike gedagtes vul nie (1 Korinthiërs 14:20). Na so ’n bespreking sal julle en julle kinders ongetwyfeld ontslae raak van enige Skriftuurlik laakbare plate in julle besit en julleself voorneem om nooit weer na verderflike musiek te luister nie.

22. (a) Waarom mis ons niks wat die moeite werd is wanneer ons verderflike musiek verwerp nie? (b) Wat moet ons gesindheid en beskouing wees wanneer ons musiek kies?

22 Daar is ’n groot verskeidenheid Skriftuurlik aanneemlike en opbouende musiek, onder meer pragtige Koninkryksliedere wat Jehovah se Getuies wereldwyd geniet. Ons mis dus niks wat die moeite werd is wanneer ons verderflike musiek verwerp nie. Laat ons ons geestesvermoëns oefen om tussen reg en verkeerd te onderskei deur gereeld die Bybel en verwante Christenpublikasies te bestudeer. Laat ons dan aanhang wat reg is. Verwerp enige musiek wat bots met God se regverdige standaarde. Laat jou deur sy onderrig lei en bly standvastig op “die pad van opregtheid” (Psalm 27:11, NW). Pas tog op vir musiek wat verderf! Mag jou keuse van musiek terselfdertyd ons God, wat “ons alles ryklik verleen om te geniet”, tot eer strek.—1 Timotheüs 6:17.

Hoe sou jy die volgende vrae beantwoord?

◻ Watter bewys het ons dat musiek krag het?

◻ Hoe kan jy bepaal of sekere musiek onder demoniese invloed staan?

◻ Wat moet jy doen as jy opnames het wat van demoniese invloed getuig?

◻ Watter hulp is daar vir ’n persoon wie se hart hom beweeg om na verderflike musiek te luister of op die maat daarvan te dans?

◻ Hoe kan Christenouers hulle kinders help om verderflike musiek te vermy?

[Prent op bladsy 10]

Verderflike musiek is nie vir Jehovah se volk nie

[Prent op bladsy 12]

Moet ware Christene die kleredrag, voorkoms en lewenswyse van wêreldlike musikante navolg?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel