‘Bewaar jou vlekkeloos van die wêreld’
“Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”—JAKOBUS 1:27.
1, 2. Wat is sommige vereistes vir reine aanbidding?
JEHOVAH vereis reine aanbidding (Johannes 4:23, 24). Onbesmette godsdiens wek onder meer daadwerklike, liefdevolle besorgdheid oor die armes (Galasiërs 2:10). Dit vereis ook dat ons ons vlekkeloos bewaar van die wêreld, dit wil sê, die onregverdige mensegemeenskap wat van God vervreem is en “in die mag van die Bose [Satan die Duiwel] lê”.—1 Johannes 5:19.
2 Die dissipel Jakobus het geskryf: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.” Die nuwe Afrikaanse vertaling lui: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”—Jakobus 1:27.
3. Watter vrae sal ons nou bespreek?
3 Maar hoe kan ons as Jehovah se knegte ons ‘Skoon hou van die besmetting van die wêreld’? Wat is die Skriftuurlike beskouing van dinge soos die wêreld se maatskaplike aangeleenthede, opvoedingsreëlings, handelsake en vermaak?
Vermy “die besmetting van die wêreld”
4. Wat toon Johannes 17:14 en Jesaja 2:2-4 aangaande ons verhouding met hierdie wêreld?
4 Aangesien getuies van Jehovah “geen deel van die wêreld” is nie, moet ons anders wees as die onregverdige mensegemeenskap (Johannes 17:14). Dit vereis byvoorbeeld dat ons neutraal bly ten opsigte van die wêreld se politieke aangeleenthede. Ons moet ons ook nie met sy geweld inlaat nie, maar moet vrede najaag as persone wat ‘van hulle swaarde pikke gesmee het’.—Jesaja 2:2-4.
5. Watter stappe moet ons doen om vry te bly van besmetting deur hierdie wêreld, soos aangedui in (a) 1 Korinthiërs 6:9-11? (b) Efesiërs 5:3-5?
5 As persone wat nie deur hierdie wêreld besmet wil word nie, moet ons die spraak, gedrag en gesindhede vermy wat so algemeen onder wêreldlinge voorkom, maar strydig met God se Woord is. Haat, gierigheid, skandelike gedrag en vuil grappe behoort byvoorbeeld geen plek in ons lewe te hê nie (1 Korinthiërs 6:9-11; Efesiërs 5:3-5). Dit is geen wonder dat ons dade en gesindhede anders is as dié van wêreldlinge nie, want hulle deel nie ons Christelike hoop nie.
Min tyd vir hierdie wêreldorde
6. Hoe moet Jehovah se Getuies die huwelik, besittings of ander aardse dinge beskou, in die lig van 1 Korinthiërs 7:29-31?
6 Die apostel Paulus het geskryf: “Die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie; en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld [die huidige wêreldorde, Modern Language Bible] gaan verby” (1 Korinthiërs 7:29-31). Dit toon dat, hoewel Christenmans hulle huwelikspligte moet nakom, hulle nie die huwelik hulle hele lewe moet maak nie. By hulle dood laat geesverwekte Christene alle aardse verhoudinge, vreugdes, smarte en besittings vir goed agter. Christene, hetsy hulle hemelse of aardse verwagtinge het, kan trouens nou reeds ‘n vrou of materiële besittings verloor! Boonop is dit die lewe, nie materiële besittings nie, wat gedurende die “groot verdrukking” bewaar sal word (Mattheüs 24:21; Prediker 9:11). Geen getuie van Jehovah moet dus vandag sy huwelik, besittings of ander aardse dinge eerste in die lewe stel nie. Alle Christene moet eerder ‘n goeie verhouding met Jehovah God as die allerbelangrikste saak beskou. Dit is veral die geval aangesien ons in “die laaste dae” lewe en ‘die huidige wêreldorde verbygaan’.—2 Timotheüs 3:1.
7. Wat het volgens een ekonoom saam met die groei in opvoeding, inkomste en dergelike dinge toegeneem?
7 Baie mense is besorg oor die toekoms van “die huidige wêreldorde”. Joernaliste Nancy Brown het byvoorbeeld die ekonoom Ezra Misham aangehaal waar hy gepraat het oor die groei in opvoeding en inkomste: “[Dit het] nie maatskaplike vooruitgang gebring nie. Saam met die groei in die wetenskap, opvoeding en stoflike goedere het die samelewing ‘n toename in geweld, oortredings, geringe misdade, vandalisme, manslag en selfmoord, vulgariteit en onwelvoeglikheid gesien.” Hierdie koerantartikel se openingsin was voorwaar betekenisvol: “Slegs Goddelike tussenkoms kan die wêreld van selfvernietiging red.”—Times-Colonist, Victoria, Brits-Columbië, 25 Maart 1982.
8. Waarom moet ons nie soveel moontlik uit hierdie wêreld probeer kry nie?
8 Jehovah het natuurlik nie die aarde geskape om deur ‘n onregverdige mensegemeenskap bewoon te word nie, maar wel deur regverdige, volmaakte mense (Jesaja 45:18; Psalm 37:29, 38). God sal dus nie toelaat dat die mensdom homself vernietig nie. Maar dit ly geen twyfel dat hierdie ou wêreldorde eersdaags heeltemal sal verbygaan nie. Daarom moet toegewyde knegte van Jehovah nie die wêreld “ten volle” gebruik nie. Of, soos een vertaling dit stel: “Terwyl jy die wêreld gebruik, moet jy nie soveel moontlik daaruit probeer kry nie, want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan.”—1 Korinthiërs 7:31, The New Testament in the Language of Today, deur William F. Beek.
Moet ons die wêreld hoegenaamd gebruik?
9. (a) In watter mate kan Jehovah se volk hierdie wêreld tereg gebruik? (b) Hoe moet ons materiële dinge beskou in die lig van Mattheüs 6:31-33 en 1 Timotheüs 6:7, 8
9 Het ons as Jehovah se toegewyde getuies dan die reg om enigiets uit hierdie wêreld te kry? Ja, Paulus het aangedui dat ons die wêreld kan gebruik, maar nie ten volle nie. Ons kan dus die wêreld se regmatige voorsienings gebruik om ons Skriftuurlike verpligtinge na te kom en die Koninkryksboodskap te verkondig (1 Timotheüs 5:8; 6:17-19). Maar aangesien ons ons ‘vlekkeloos van die wêreld’ wil bewaar, mag ons nie by sy geskille, protesoptogte, koue en hete oorloë of soortgelyke aangeleenthede betrokke raak nie. Ons moet nie eers heimlik die een kant bo die ander verkies nie. Ons moet ook nie onnodig besorg wees oor ons lewensonderhoud en materiële welvaart nie, want Jesus het gesê: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” En Jesus het die daad by die woord gevoeg, want hoewel jakkalse gate het en voëls neste, het hy geen plek gehad om sy hoof neer te lê nie. Mag ons dus vergenoeg wees met voedsel en klere terwyl ons ‘eers die koninkryk soek’.—Mattheüs 6:31-33; Lukas 9:58; 1 Timotheüs 6:7, 8.
10. Watter vrae in verband met opvoeding verdien biddende oorweging, en hoe sou jy daardie vrae beantwoord?
10 Wat dan van ‘n loopbaan in die wêreld? Wel, sou dit redelik wees om ons lewe aan sekulêre vooruitgang te wy terwyl ons weet dat hierdie wêreld in ons dag sal verbygaan? (Mattheüs 24:34). Nouliks! En hierdie beskouing sal beslis ons houding teenoor wêreldlike geleerdheid beïnvloed, nie waar nie? Ofskoon basiese onderrig nodig is, is dit byna onmoontlik om nie deur die heersende gety van wêreldlike denke by universiteite en kolleges meegesleur te word nie. Elkeen moet natuurlik sy eie besluit in verband met opvoeding neem (Galasiërs 6:5). Maar vrae soos die volgende verdien biddende oorweging: Slaag studente daarin om gedurende jare op universiteit ook ‘eers die Koninkryk en Jehovah se geregtigheid te soek’? Word hulle glad nie beïnvloed deur die teorieë en filosofieë wat ware geloof ondermyn nie? (Kolossense 2:8). Het wêreldse omgang ‘n goeie invloed op hulle, of skaad dit hulle geestelik? (1 Korinthiërs 15:33). En het talle hooggeleerde persone werklik nederig gebly?—Filippense 2:2, 3.
11. Hoe word ‘n persoon hier gehelp om sy beweegredes te ondersoek, ongeag die aard van sy opleiding?
11 Wat dit betref, kan sommige wat ambagskole bywoon so opgaan in ’n beroep dat hulle nie meer veel tyd het om aan die diens van Jehovah te bestee nie. Ja, wat ook al die aard van die opleiding, baie hang van die persoon se beweegredes af. Is ’n begeerte na onafhanklikheid en rykdom die vernaamste faktor? Sal die opleiding tot ’n drastiese vermindering van diens aan Jehovah lei of sal dit help om jou in heilige diens te onderhou? Probeer jy, ’n Christen wat jou vlekkeloos van die wêreld moet bewaar, eerder om vir jou ‘n plekkie in hierdie stelsel uit te grawe of stel jy werklik Koninkryksbelange eerste in die lewe?
12. Wat het sommige hooggeleerde persone beweeg om Koninkrykswaarheid te aanvaar?
12 Ons is bly dat sommige hooggeleerde persone die Koninkrykswaarheid aangeneem het. Maar hulle het dit nie weens hulle geleerdheid gedoen nie. Hulle het eerder tot die besef gekom dat, ten spyte van hulle hoër opvoeding, die lewe sinloos is omdat hulle sonder God en sonder ‘n vaste hoop is. Nou weet hulle dat ‘nie baie wyse, magtiges en edeles’ God se goedkeuring wegdra nie (1 Korinthiërs 1:26-31). En tog is hulle verheug omdat hulle uiteindelik ‘n ware doel in die lewe gevind het as getuies van Jehovah.
“Die kommersiële sake van die lewe”
13. Wat doen 2 Timotheüs 2:3, 4 aan die hand in verband met kommersiële strewes en die toegewyde Christen?
13 Wat moet ons gesindheid teenoor kommersiële strewes wees indien ons vry wil bly van besmetting deur hierdie wêreld? Wel, die apostel Paulus het vir Timotheüs gesê: “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat ‘n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud [die kommersiële sake van die lewe, NW] nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het” (2 Timotheüs 2:3, 4). Christene moet werk sodat hulle eerlik in hulle eie en hulle gesin se behoeftes kan voorsien. Maar sou dit nie vreemd wees indien daar van ‘n toegewyde Christen gepraat word as by uitstek ‘n sakeman in plaas van ‘n bedienaar nie? Moet hy nie in die eerste plek bekend staan as ‘n Koninkryksverkondiger en “‘n goeie krygsman van Jesus Christus” nie?
14. Hoe kan Hebreërs 13:18 op ons sakebedrywighede toegepas word?
14 In sakesituasies is selfondersoek dus in verskeie opsigte nodig. Die feit dat ons met selfsugtige, wêreldse mense te doen het, gee ons byvoorbeeld geen verskoning om hulle slinkse, oneerlike gebruike en hulle vuil taal ons eie te maak nie. Ons wil ons eerder ‘in alles eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18, NW). Ons ontvang miskien nie dieselfde behandeling van geharde sakemense van hierdie wêreld nie. Maar ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons sal seën vir ons eerlikheid, en dit is een manier waarop ons “die leer van God, ons Verlosser, . . . kan versier”.—Titus 2:9, 10.
15. Watter Skriftuurlike raad word in verband met persoonlike sakeondernemings gegee?
15 Omdat ons ons van die besmetting van hierdie wêreld wil skoon hou, moet ons “aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Galasiërs 6:10). Maar ons sal dit nie doen as ons selfsugtig probeer om ‘n persoonlike sakeonderneming te bevorder deur munt te slaan uit ons omgang met God se knegte nie. Christene moet natuurlik ‘soos verstandige mense lewe’ (Efesiërs 5:15, NAV). Die feit dat iemand wat as ‘n broer bekend staan ons met ‘n word-gou-ryk-plan nader, beteken nie dat ons ons maklik moet laat oorreed om van ons geld afstand te doen nie. Dit is met goeie rede dat God se organisasie ons van tyd tot tyd waarsku teen diegene wat hulle as ons geestelike broers voordoen maar probeer om onbehoorlike voordeel uit Jehovah se “skape” te verkry.
Onwêrelds in elke opsig
16. Wat is sommige van die maniere waarop ons kan toon dat ons ons ‘vlekkeloos van die wêreld’ bewaar?
16 Ons kan natuurlik nie al die maniere opnoem waarop Jehovah se Getuies toon dat hulle hulle ‘vlekkeloos van die wêreld’ bewaar nie. Maar dit spreek vanself dat ‘n mens nie die besmetting van hierdie wêreld kan vermy as jy te veel sterk drank gebruik, jou verlustig in hoogs mededingende of gewelddadige sport, ure lank na rolprente of televisieprogramme kyk waarin boewe, moordenaars en ander onsedelike karakters uitgebeeld word, seksdeurdrenkte boeke lees en gewelddadige videospeletjies speel nie (1 Korinthiërs 6:9, 10; 15:33; Galasiërs 5:19-26; 1 Petrus 4:3). Jehovah verwag dat sy getuies die onmatighede, onsedelikheid en gewelddadigheid van hierdie wêreld vermy. Ons moet dus nie kennis of ondervinding van wêreldse boosheid soek nie, maar moet onskuldige “kinders in die boosheid” wees—1 Korinthiërs 14:20; vergelyk 1 Johannes 3:2, 3.
17. Hoe moet die feit dat ons onbevlek is deur die wêreld ons verhoudinge met ander raak?
17 Die vereiste dat ons vlekkeloos van hierdie wêreld moet wees, raak elke aspek van ons lewe en beslis ook ons verhoudinge met ander. Hoewel dinge soos bittere afguns, selfsug, grootpratery en leuens so algemeen in hierdie wêreld is, het dit geen plek onder ons nie, want Jakobus het geskryf: “Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon. Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade” (Jakobus 3:13-16). Hoe belangrik is dit tog om “sagmoedige wysheid” te toon en om ‘vrede met almal na te jaag’! (Hebreërs 12:14). As lojale getuies van Jehovah kan ons tog sekerlik nie toelaat dat bloot persoonlike verskille ons verhouding met ons broers en susters in die geloof bederf nie. Ons moet eerder ‘mekaar verdra en mekaar vergewe, net soos Jehovah ons vergewe het’ (Kolossense 3:13, vgl. NW). Dit is nie die alledaagse, wêreldse manier om ander te behandel nie, maar dit is die goddelike manier.
18. Watter optrede aan ons kant maak dit veral duidelik dat ons afgeskeie van die wêreld is?
18 ‘n Belangrike manier waarop ons toon dat ons nie deur hierdie wêreld besmet is nie, is deur vrede met mense binne en buite die Christengemeente na te jaag. Maar ons afgeskeidenheid van die wêreld is veral duidelik wanneer ons standvastig bly as onverskrokke krygsmanne van Jesus Christus wat die volle geestelike wapenrusting van God aanhet, met “die bereidheid vir die evangelie van vrede” as skoene (Efesiërs 6:11-18). Menigtes honger en dors nog na die lewegewende Koninkryksboodskap. Mag ons derhalwe ons besittings, vermoëns en krag onselfsugtig gebruik in die groot werk om die “evangelie” of goeie nuus te verkondig gedurende die kort tydjie wat nog oorbly voor hierdie stelsel eindig.—Mattheüs 24:14.
19. Wat kan ons verwag dat Satan in hierdie kortstondige laaste dae sal doen, maar wat sal ons met hulp van Bo kan doen?
19 In hierdie kortstondige laaste dae sal Satan, die god van hierdie wêreld, verdere aanslae op ons as Jehovah se lojale getuies maak. Die Duiwel sal die wêreld se materiële rykdom, sy opsigtige verlokkinge, sy hoër opvoeding en veel meer gebruik in ‘n laaste, wanhopige poging om ons weg te keer van heilige diens aan ons God. Maar met onfeilbare hulp van Bo sal ons ons ‘vlekkeloos van die wêreld’ bewaar tot lof van ons heilige God, Jehovah.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is volgens Jakobus 1:27 sommige vereistes vir ware aanbidding?
◻ Wat is party maniere waarop ons die besmetting van hierdie wêreld kan vermy?
◻ Watter invloed behoort die feit dat hierdie wêreld verbygaan op ons beskouing van hoër opvoeding te hê?
◻ ln watter opsigte is selfondersoek nodig waar dit by sakebedrywighede kom?
◻ Hoe kan Jehovah se Getuies toon dat hulle hulle ‘vlekkeloos bewaar van die wêreld’ wat hulle gedrag en verhoudinge met ander betref?
[Prent op bladsy 15]
As neutrale Christene vermy Jehovah se Getuies wêreldlike geweld
[Prent op bladsy 16]
Heilige diens aan God, nie sekulêre vooruigang nie, is vir Jehovah se volk van allergrootste belang
[Prent op bladsy 18]
Jehovah verwag dat sy getuies hulle vlekkeloos bewaar van hierdie wêreld se onmatighede, onsedelikheid en geweld