Is Maria onbevlek ontvang?
DIE tyd—8 Desember 1854. Die plek—Sint Pietersbasiliek in Rome. In ’n stem wat bewe van emosie lees pous Pius IX die Latynse teks van die volgende dekreet: “Ons kondig aan, verklaar en bepaal dat die leerstelling wat lui dat die allerheiligste Maagd Maria van die oomblik van haar ontvangenis af onbevlek bewaar is van elke smet van erfsonde, danksy die sonderlinge genade en bevoorregting deur die almagtige God aan haar toegestaan, deur die verdienste van Christus Jesus, Verlosser van die mensdom, ’n leerstelling is wat deur God geopenbaar is en derhalwe onwrikbaar en getrou deur al die gelowiges aangehang moet word.”
Sedertdien is hierdie dogma vir alle Katolieke bindend en word die Fees van die Onbevlekte Ontvangenis elke jaar op 8 Desember dwarsdeur die Katolieke wêreld gevier.
Hierdie leerstelling moet nie verwar word met die Maagdelike Geboorte nie. Die sogenaamde Onbevlekte Ontvangenis het betrekking op die ontvangenis en geboorte van Maria, terwyl die Maagdelike Geboorte verband hou met die wonderdadige geboorte van Jesus. Die Heilige Skrif stel dit duidelik dat Maria ’n maagd was toe sy bevrug geraak en Jesus gebaar het (Mattheüs 1:18-23; Lukas 1:34, 35). Maar toon die Skrif dat Maria self volmaak en sonder erfsonde gebore is?
Onbekend in vroeë Kerkgeskiedenis
Onder die opskrif “Onbevlekte Ontvangenis” erken The Catholic Encyclopedia: “Geen regstreekse of kategoriese en nadruklike bewys van die dogma kan uit die Skrif aangehaal word nie.” Hoe het dit dan gekom dat die Rooms-Katolieke Kerk hierdie idee by sy dogma gevoeg het? Waarom het ’n kerk wat na eie bewering al bykans 2 000 jaar bestaan tot 1854 gewag voordat hy die Onbevlekte Ontvangenis ’n voorgeskrewe leerstuk vir alle Katolieke gemaak het?
The Catholic Encyclopedia sê: “Die ouer Vaders was baie versigtig sover dit die sondeloosheid van Maria aangaan. . . . Die Griekse Vaders het nooit die kwessie van die Onbevlekte Ontvangenis formeel of uitdruklik bespreek nie.” Die feit is dat verskeie van die vroegste Griekse kerkvaders, soos Origenes (185-254 G.J.), Basilius die Grote (330-379 G.J.) en Chrysostomus (345-407 G.J.), menings gelug het wat strydig is met die opvatting dat Maria onbevlek ontvang is, dit wil sê, vry van die smet van erfsonde. En Augustinus (354-430 G.J.), wat na bewering die grootste van die ou Latynse “Vaders” was, het ’n soortgelyke siening uitgespreek.
In sy boek Christian Worship: Its Origin and Evolution skryf die Franse Katolieke geskiedkundige Louis Duchesne: “Die Kerk van Rome het skynbaar geen fees ter ere van die Maagd gevier voor die sewende eeu nie.” Die Griekssprekende kerk het weliswaar gedurende die vyfde eeu G.J. ’n Fees van die Ontvangenis van Johannes die Doper begin vier, en, ’n ruk later, ’n Fees van die Ontvangenis van Maria. Maar The Catholic Encyclopedia erken: “Deur die fees van Maria se Ontvangenis te vier, het die [“Christelike”] Grieke van die ou tyd . . . nie gedink dat dit ongehoord is om ’n ontvangenis te vier wat nie onbevlek was nie, soos ons sien uit die Fees van die Ontvangenis van St. Johannes . . . Vir die Ortodokse Grieke van ons dag beteken die fees egter bitter min; hulle noem dit steeds ‘die Ontvangenis van St. Anna’ [tradisioneel die moeder van Maria] wat, moontlik sonder opset, die aktiewe [seksuele] ontvangenis aandui wat beslis nie onbevlek was nie.”
Ons merk dus dat Maria-feeste in die Oosterse, of Griekse, Kerk ontstaan het en dat hulle eers in die sewende eeu G.J. deur die Romeinse, of Latynse, Kerk aanvaar is. En hoewel die Grieks-Ortodokse Kerk ’n fees van Maria se ontvangenis vier, glo hulle nie dat haar ontvangenis onbevlek was nie.
“Die groot twis”
The Catholic Encyclopedia gee toe dat die geboorte van die Onbevlekte Ontvangenis-leerstelling lank en pynlik was. Dit sê: “Aanvanklik het die Kerk bloot die Fees van die Ontvangenis van Maria gevier, net soos hy die Fees van St. Johannes se ontvangenis gevier het, sonder om die sondeloosheid te bespreek. Hierdie fees het in die loop van die eeue die Fees van die Onbevlekte Ontvangenis geword, namate dogmatiese bewysvoering presiese en korrekte idees na vore laat kom het, en namate die tesis van die teologiese skole oor die bewaring van Maria van elke smet van erfsonde groter aanhang verkry het.”
Ja, die leerstelling oor die Onbevlekte Ontvangenis van Maria is eers na eeue van “dogmatiese bewysvoering” geformuleer. Dit het honderde jare geduur voor die “tesis van die teologiese skole” ‘aanhang verkry het’ en uiteindelik aanvaar is. Artikels oor “Onbevlekte Ontvangenis” in goedgekeurde Katolieke naslaanwerke bevat kolomme materiaal onder opskrifte soos “Die twis” of “Die groot twis”. Hulle praat van die “beskeie begin” van die “nuwe fees” in Engeland in die 11de eeu G.J. Die Normandiërs het dit afgeskaf nadat hulle Engeland in 1066 verower het, omdat hulle dit as “’n produk van bekrompe eenvoud en onkunde” bestempel het. In Frankryk het die Katolieke “heilige” Bernard van Clairvaux (1091-1153) in die openbaar standpunt ingeneem daarteen. In die 13de eeu het “Sint” Thomas Aquinas, wat beskou is as die “voorste filosoof en teoloog” van die Katolieke Kerk, die leerstelling van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria verwerp op grond van die feit dat Maria deur Jesus losgekoop is, net soos die res van die sondige mensdom.
’n Ander Katolieke teoloog en filosoof (Johannes Duns Scotus, 1265-1308) het egter die dogma verdedig. Scotus was ’n Franciskaner, terwyl Aquinas ’n Dominikaner was. Die leerstelling van die Onbevlekte Ontvangenis was dus deur die eeue heen ’n twisappel tussen hierdie twee ordes van die Rooms-Katolieke Kerk.
The Catholic Encyclopedia som hierdie twis soos volg op: “Die pogings om dit [die fees van die Onbevlekte Ontvangenis] amptelik ingevoer te kry, het teëspraak en teoretiese diskussie uitgelok oor die wettigheid en betekenis daarvan, wat eeue lank voortgeduur het en eers in 1854 finaal besleg is.” In daardie jaar het pous Pius IX plegtig verklaar dat die Onbevlekte Ontvangenis van Maria “’n leerstelling is wat deur God geopenbaar is en derhalwe onwrikbaar en getrou deur al die gelowiges aangehang moet word”.
Volgens die gesaghebbende Dictionnaire de Théologie Catholique was meer as 50 Katolieke biskoppe, waaronder die aartsbiskop van Parys, daarteen gekant dat die dogma ’n voorgeskrewe leerstuk vir alle Katolieke gemaak word. Johann Dӧllinger, Duitsland se voorste 19de-eeuse Katolieke teoloog, het prontuit gesê: “Ons verwerp die nuwe Roomse leerstelling van die Onbevlekte Ontvangenis van die heilige Maagd Maria omdat dit strydig is met die tradisie van die eerste dertien eeue, wat verklaar dat Christus alleen sonder sonde ontvang is.” Dӧllinger is later geekskommuniseer.
Uitvloeisel van die Drie-eenheidsleer
Waarom het die Katolieke hiërargie hierdie omstrede leerstelling op alle Katolieke afgedwing? Die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis is ’n tipiese voorbeeld van die dilemmas wat ’n kerk vir homself skep wanneer hy van die duidelike waarhede van die Bybel afwyk. Een onbybelse leerstelling lei tot ’n ander.
Navorsing toon dat Mariaaanbidding uit die Drie-eenheidsdogma spruit. Hoe so? Dit het alles in die vierde eeu G.J. gebeur. In 325 G.J. het keiser Konstantyn, wat op daardie tydstip nie eens ’n gedoopte “Christen” was nie, die Niceense Konsilie gereël om die teologiese debat oor die Drie-eenheid te beëindig. Meer om politieke as om godsdienstige redes het Konstantyn hom aan die kant van die Trinitariërs geskaar. Die Geloofsbelydenis van Nicea het bepaal dat Jesus God is. Dit het teoloë aan die dink gesit oor die posisie van Maria. As Jesus God is, moet Maria die moeder van God wees. Hierdie idee was vir party skokkend, en die teologiese debat het ’n eeu lank voortgeduur. Uiteindelik, in 431 G.J., het die Konsilie van Efese Maria tot “Theotokos”, letterlik, “Draer van God”, of “Moeder van God”, verklaar.
Dit is interessant dat hierdie titel aan Maria gegee is in Efese, Klein-Asië, ’n gebied wat die sentrum van heidense Moeder-Godinaanbidding was. Aangesien Konstantyn die afvallige Christelike godsdiens ’n universele, of katolieke, godsdiens gemaak het wat vir die heidense volksmassa aanvaarbaar sou wees, het Maria-aanbidding die plek ingeneem van die aanbidding van verskillende heidense moeder-godinne. Namate Maria-verering as onafskeidelike deel van die Drie-eenheidsleer versprei het, het dit vir baie logies gelyk om Maria geheel en al sondeloos te verklaar.
Ander redes vir die leerstelling
Die Onbevlekte Ontvangenisleer is ook ’n gevolg van die rol wat Katolieke teologie aan Maria toeskryf waar dit by verlossing kom. In Katolieke taal word Maria byvoorbeeld “Middelares”, “Mede verlosseres” en selfs “Maagdepriester” genoem. Waarom?
Katolieke teoloë noem Maria al van die vroegste tye af die “Tweede Eva”. Hulle haal 1 Korinthiërs 15:22, 45 aan en maak dan nie net ’n vergelyking tussen “die eerste mens, Adam”, en “die laaste Adam [Christus]” nie, maar ook tussen Eva en Maria. Die Encyclopaedia Britannica (1976) sê dat hierdie vergelyking “aan Maria en aan haar gehoorsaamheid ’n aktiewe rol in die verlossing van die mensdom” toeskryf.—Ons kursiveer.
Die Katolieke Kerk erken weliswaar dat Christus die vernaamste rol in die verlossing speel. Trouens, die Kerk leer dat Maria, danksy die “sonderlinge genade en bevoorregting deur die almagtige God aan haar toegestaan”, die eerste was om voordeel te trek uit “die verdienste” van Christus se offer, en dat dit op haar toegepas is “van die oomblik van haar ontvangenis af sodat sy “van elke smet van erfsonde” bewaar kon word.
Hoe verduidelik Katolieke teoloë dan Maria se sogenaamde “aktiewe rol in die verlossing van die mensdom”? Hulle sê dat sy “die Mede verlosseres” is omdat, soos The Catholic Encyclopedia dit stel, “die verlof van Maria onontbeerlik was vir die verlossing”. Hulle noem haar ook “Middelares” omdat sy dan glo die sondige mensdom se voorspraak by God is. Hulle sê ook dat Maria in hierdie hoedanigheid “tereg Virgo sacerdos of Maagdepriester genoem kan word”, omdat sy met Christus saamwerk in sy offerande en sy nou saam met hom alle genadegawes uitdeel.
Na aanleiding van die foutiewe Latynse weergawe van Genesis 3:15 is Maria volgens tradisionele Katolieke teologie boonop die “vrou” wat volgens Katolieke die “slang”, Satan, se kop sal vermorsel (Genesis 3:14, 15). (Kyk die voetnote by Genesis 3:15 in die Douay- en Jerusalem-Bybel.) Die bewering is dat Maria volkome sondeloos moet wees om Satan te kan oorwin. Maar wat sê die Bybel?
Die Bybel se standpunt
Net drie jaar nadat pous Pius IX hierdie dogma op die Katolieke wêreld afgedwing het, het monsignor Malou, die biskop van Brugge, België, in ’n geskrif erken: “Dit moet duidelik gestel word dat, van al die argumente wat deur die verdedigers van die [Onbevlekte Ontvangenis] aangevoer word, die wat uit die Heilige Skrif kom die onnoukeurigste en onjuisste is. Alte dikwels word ’n magdom ontoepaslike tekste op onoordeelkundige en byna lukrake wyse aangehaal.”
Maar Katolieke teoloë beweer dat sowel die Bybel as tradisie God se openbaring aan die mensdom verteenwoordig. En tog sê die beste Katolieke gesaghebbendes dat ’n tradisie nie die Skrif moet weerspreek nie en dat dit, hetsy eksplisiet of implisiet, as “Apostolies” bewys moet word. Voldoen die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis aan hierdie vereistes?
Soos ons gesien het, word die leerstelling nie deur die oudste tradisies van die Rooms-Katolieke Kerk gesteun nie. Daarbenewens weerspreek dit die Skrif. Die bewering dat Maria van die oomblik van haar ontvangenis af van erfsonde bewaar is, verloën die universaliteit van erfsonde. Die apostel Paulus sê duidelik: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12, NTP). Die Skrif sê ook dat verlossing vir “almal” slegs deur Christus se dood moontlik is (Hebreërs 2:9, NTP). As die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria waar was, sou Maria verlos gewees het voor Christus gesterf het, trouens, selfs jare voordat hy na die aarde gekom het.
Gemeet aan die Katolieke Kerk se eie maatstaf is hierdie dogma nὸg “Apostolies” nὸg Skriftuurlik, en daarom is dit nie ’n aanvaarbare “tradisie” nie. Behoort dit opregte Katolieke nie te beweeg om ander voorgeskrewe “geloofsartikels” in die lig van die Bybel te ondersoek nie?
[Venster op bladsy 24]
“Die Griekse Vaders het nooit die kwessie van die Onbevlekte Ontvangenis formeel of uitdruklik bespreek nie.”—“The Catholic Encyclopedia”.