Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 3/1 bl. 22-27
  • Wanneer ’n huweliksmaat ontrou is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer ’n huweliksmaat ontrou is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se eie voorbeeld
  • Waarom barmhartig wees?
  • Seëninge vir die barmhartiges
  • ’n Gebedsvolle besluit
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Ná die troudag
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Hosea se profesie help ons om met God te wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Kan ’n huwelik ná ontrouheid gered word?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 3/1 bl. 22-27

Wanneer ’n huweliksmaat ontrou is

DIE skok was oorweldigend. Die egpaar het een baba gehad, en die jong vrou was swanger met haar tweede kind. Nou het sy uitgevind dat haar man haar verraai het. Hy het owerspel gepleeg! Sy was diep seergemaak en verward en het gewonder wat haar te doen staan.

Ongelukkig is dit nie ’n seldsame probleem nie. Verslae uit baie lande toon dat talle getroude persone vandag aan hulle huweliksmaat ontrou is, iets wat ernstige krisisse in hulle huwelik tot gevolg het. Hoe moet ’n Christen reageer wanneer hy vind dat sy huweliksmaat ontrou was?

In so ’n geval moet Jesus se woorde oor die onderwerp in aanmerking geneem word: “Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk” (Mattheüs 19:9). Wat beteken dit? Dat hoerery (wat in die Bybelse sin owerspel en growwe onsedelikheid soos homoseksualiteit insluit) ’n huwelik kan beëindig. Die onskuldige party het Skriftuurlik die reg om van die skuldige te skei en weer te trou sonder dat God dit as sonde beskou.a

Maar moet die onskuldige party hierdie weg inslaan?

God se eie voorbeeld

’n Voorbeeld uit die dae van eertydse Israel help ons om hierdie vraag te beantwoord. ’n Profeet van God met die naam Hosea het ’n vrou met die naam Gomer getrou en ’n seun by haar gehad. Later was Gomer ontrou en het sy twee kinders by ander mans gehad. Sy het Hosea blykbaar verlaat en agter haar minnaars aangeloop. Hosea het nietemin groot deernis getoon. Hy het Gomer later teruggeneem, al moes hy geld vir haar betaal. (Sy is blykbaar deur haar minnaars verstoot en het in armoede en slawerny verval.) In plaas daarvan om sy vrou met kille geregtigheid te behandel, het Hosea barmhartigheid getoon.

Hierdie barmhartigheid van Hosea is in die Bybel gebruik om ’n selfs groter daad van barmhartigheid teenoor ’n owerspelige vrou toe te lig. Jehovah God het sy eie verhouding met Israel met dié tussen man en vrou vergelyk. “Ek [het] hulle as eggenoot in eiendom gehad”, het hy by een geleentheid gesê (Jeremia 31:32, NW). Maar soos Hosea se vrou was die israeliete ontrou. Hulle het dikwels valse gode aanbid en aldus geestelike owerspel gepleeg (Hosea 6:10; 7:4). Kragtens sy eie wet kon God van hulle “geskei” het, hulle verstoot het. Wat het hy gedoen?

Soos Hosea was hy bereid om sy owerspelige “vrou” terug te neem as sy haar onsedelikheid wou laat vaar. Hy het uitgesien na die tyd wanneer “die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae”.—Hosea 3:5.

Kan ’n Christen eweneens liefdevolle vergifnis aan ’n owerspelige huweliksmaat skenk?

Waarom barmhartig wees?

Ja, en baie het dit trouens al gedoen. Getroude persone wat owerspel pleeg, plaas hulle toekoms in die hande van hulle onskuldige huweliksmaat. Maar hierdie slagoffers kry dit dikwels oor hulle hart om te vergewe. Waarom?

Hulle onthou byvoorbeeld dat die huwelik ’n gawe van God is en nie ligtelik ontbind moet word nie. Hulle dink ook aan die groot barmhartigheid wat God aan ons almal betoon het en weet dat dit hom behaag wanneer ons barmhartig is teenoor mekaar. Jesus het gesê: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”—Mattheüs 5:7.

Barmhartigheid is moontlik, veral wanneer die oortreder ’n diep skuldgevoel het en opreg spyt is oor die verkeerde daad. In so ’n geval meen die onskuldige maat miskien dat dit die moeite werd is om teen die verbittering en pyn te stry en die sondaar liefdevol te help om te verander. Sulke vergifnis van ’n liefdevolle huweliksmaat kan die berouvolle sondaar meer as ooit tevore laat besef hoe kosbaar sy huwelik is en hom vasbeslote maak om dit nooit weer in die gevaar te stel nie.

Onthou ook dat owerspel soms—maar beslis nie altyd nie—die gevolg van ongelukkige huislike omstandighede is. Is dit ’n verskoning vir owerspel? Glad nie! En tog kan die wete dat so ’n situasie bestaan het die onskuldige maat help om te besef wat gedoen kan word om te verseker dat die owerspelige maat nie weer afdwaal nie.

’n Man kan byvoorbeeld lang ure by die werk deurbring of aan ’n ander verdienstelike strewe wy. Hy is miskien self doodgelukkig en -tevrede, maar wat van sy vrou wat alleen by die huis agterbly?

Of beskou die geval van die man wat altyd moeg van die werk af gekom het en dan by ’n leë huis ingestap het waar geen ete voorberei is nie, terwyl daar ’n hoop vuil wasgoed op die vloer gelê het. Die vrou was besig met projekte buite die huis wat ongetwyfeld edel en belangrik was, maar die gevolg was dat die man verwaarloos en onwelkom gevoel het. Hy het toe sy aandag na ’n ander vrou gewend. Toe die verhouding aan die lig kom, het hy om vergifnis gesmeek en belowe om nooit weer so iets te doen nie. Maar die vrou was vasbeslote om van hom te skei, en sy het natuurlik die reg gehad om dit te doen, want haar man het ’n growwe sonde begaan. Maar kon die vrou sê dat sy glad geen skuld gehad het aan die ongelukkige huweliksituasie wat tot die onsedelikheid aanleiding gegee het nie?

’n Christen kan derhalwe om die een of ander rede besluit om God se voorbeeld te volg en ’n owerspelige huweliksmaat te vergewe. Dit kan groot seëninge tot gevolg hê. Watter seëninge?

Seëninge vir die barmhartiges

In die eerste plek het baie persone wat hulle ontroue, berouvolle huweliksmaat vergewe het, daarin geslaag om hulle huwelik weer kerngesond te kry. Man, vrou en kinders kon weer ’n gelukkige huislike lewe geniet. Dit is gewis ’n doelwit wat al ons inspanning werd is.

Die persoon wat vergifnis ontvang, waardeer sy onskuldige en barmhartige huweliksmaat dikwels baie meer. Hy sien moontlik eienskappe soos nederigheid en liefde waarvan hy nooit eers bewus was nie, veral wanneer hy besef watter ontsettende leed hy sy maat aangedoen het.

Dit is wat gebeur het met die gesin wat aan die begin van hierdie artikel gemeld is. Die jong vrou was natuurlik diep seergemaak toe sy uitvind dat haar man ontrou was. Sy het Skriftuurlik die reg gehad om hom weg te stuur en die huwelik te beëindig. Maar dit sou ’n vaderlose gesin en die eensaamheid van ’n geskeide vrou tot gevolg gehad het.

Sy het eerder besorgdheid getoon oor haar kindjie en oor die baba wat op pad was. Sy het ook haar man se diepe berou in ag geneem en gedink aan die liefde wat hulle eens vir mekaar gehad het. Daarom het sy besluit om Jehovah God na te volg en haar berouvolle man te vergewe. Die man was diep beïndruk. Met die liefdevolle hulp van sy vrou het hy sy ewewig en die agting van sy gesin en metgeselle herwin. Die probleem behoort nou tot die verlede. Hierdie gelukkige gesin is verenig en bou saam vir die toekoms.

’n Gebedsvolle besluit

Oortredings teen God se wet kan hoegenaamd nie ligtelik afgemaak word nie. Diegene wat aan hulle huweliksmaat ontrou is, staan skuldig voor Jehovah God, die Insteller van die huwelik. As hulle hulle gesin verloor, moet hulle besef dat dit die regstreekse gevolg van hulle eie sonde is. As hulle weer hulle verhouding met God wil opbou en met vertroue wil uitsien na die beloftes wat hy voorhou, moet hulle berou toon en hulle denke en onsedelike lewenswyse heeltemal verander—hetsy hulle huweliksmaat hulle vergewe of nie.

’n Egskeiding moet egter nie as vanselfsprekend beskou word nie. Net soos Hosea Gomer vergewe het, en Jehovah keer op keer die geestelik owerspelige Israeliete vergewe het, moet onskuldige huweliksmaats ten minste oorweging skenk, en biddend oorweging skenk, aan die moontlikheid om die huweliksband te bewaar. Dit kan ’n manier wees om eerbied te betoon vir die Insteller van die huwelik, en dit kan miskien die weg vir die egpaar baan om weer geluk in hulle huwelik te smaak.

[Voetnoot]

a Kyk Die Wagtoring van 1 Junie 1983, bladsy 27.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel