My strewe om Koninkryksbelange eerste te stel
Soos vertel deur Gertrud Poetzinger
Op watter beginsel sal ons ons besluite in die lewe baseer? Die allerbeste onderrigter, Jesus Christus, het vir sy dissipels gesê om ‘eers God se koninkryk te soek’. Dan sal daar in al hulle ander behoeftes voorsien word (Mattheüs 6:33). Van jongs af het ek gevind dat dit ons in ’n geestelike opsig werklik ‘ryp maak’ wanneer ons ons sorge op Jehovah werp, sy werke verkondig en Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel (Spreuke 10:22; Psalm 55:23; 71:5; 73:28). Die volgende ondervindinge uit ’n opwindende hoofstuk in my lewe lig hierdie beginsel toe.
DIT was vroeg in 1945. Die Tweede Wêreldoorlog het in Europa sy einde genader. Die Duitse oorlogspoging het begin wankel, en die gesindheid van die mense en selfs dié van die regering het verander. In plaas daarvan om na oorwinning uit te sien, het hulle op ’n nederlaag gewag. Die druk wat Nazi-vervolgers op Jehovah se Getuies uitgeoefen het, het gevolglik ook afgeneem.
Ek was een van ’n aantal Getuie-vroue wat van die Ravensbrück-konsentrasiekamp geneem is om as goewernante in die huise van Nazi-amptenare te werk. Een middag, ’n paar maande voor die einde van die oorlog, het die SS-offisier wie se twee kinders ek opgepas het my in sy huis genader. Sy naam was Kiener.
“Het jy gehoor dat die Russe op die oostelike front aanruk?” het hy kil gevra. Toe ek bevestigend geantwoord het, het hy gevra: “Wat sal jy doen as hulle hier inkom?” Ek het hom vierkant in die oë gekyk en geantwoord: “Wel, hulle is ons vyande en julle is ons vyande. Watter verskil maak dit dus?” Ja, Jehovah het ons in daardie moeilike dae gehelp om met sulke moed standvastig te bly as neutrale Christene en voorstanders van die Koninkryk.—Johannes 15:19.
’n Geslaagde ontsnapping
Berigte van die Duitsers se terugtrekking was nie net gerugte nie. Teen die einde van April het Kiener gereël dat sy vrou en kinders na die suide vlug. Op my versoek het hy my saam met hulle gestuur. Mevrou Kiener het vir my gewone klere gegee sodat daar geen aanduiding sou wees dat sy enigiets met die Nazi-organisasie te doen gehad het nie. Ons is per vragmotor na die noordelike Beierse platteland wat nader aan die Amerikaanse as die Russiese front was.
Dit was die eerste keer in sewe en ’n half jaar dat ek werklik van die konsentrasiekampe af weg was. Maar die oorlog was nog nie verby nie en spanning het hoog geloop. Gedurende ons rit in die vragmotor het ’n eskader Geallieerde vegvliegtuie oor ons gevlieg. Ek het voor saam met die twee kinders en die bestuurder gesit. Hy was oortuig daarvan dat die vliegtuie sou terugkeer en met hulle masjiengewere op die vragmotor sou skiet. In my hart het ek vurig gebid: “Jehovah, moet my asseblief nie nou so laat sterf na alles waardeur u my beskerm het nie!”
Soos ons verwag het, het die vegvliegtuie ’n wye draai gemaak sodat hulle weer oor ons kon vlieg. Die bestuurder het die versneller diep ingetrap, maar daar was natuurlik geen kans dat ons vir die vliegtuie sou kon wegry nie. Skielik was daar ’n afdraaipaadjie wat in ’n bos ingeloop het. Die bestuurder het vinnig daarop afgedraai en die beboste gebied binnegejaag. Aangesien die lower dig was, kon die vragmotor nie van bo af gesien word nie, en het die vliegtuie verbygevlieg.
Daar was ander soortgelyke noue ontkomings gedurende die oorlog. Maar die einde van die oorlog, wat slegs tien dae na hierdie voorval aangebreek het, het ander uitdagings meegebring.
Groter verantwoordelikhede
Ek, mev. Kiener en haar kinders het saam met ’n aantal ander vlugtelinge in die dorpie Mönchsdeggingen, naby Nördlingen, verblyfplek gekry. Toe die vegtery meer as ’n week lank amptelik opgehou het, het ek vir mev. Kiener gesê dat ek moes gaan. Sy was om begryplike redes ontsteld hieroor. Wie anders kon sy vertrou? Die hele land was nou teen die Nazi’s en hulle gesinne. Maar ek het groter verantwoordelikhede gehad. Met die einde van die oorlog was dit nodig dat Jehovah se Getuies die Koninkrykspredikingswerk herorganiseer. Ek moes ook my man, Martin, probeer vind.
Ons was net drie en ’n half maande getroud toe Martin weggeneem is en later na die Dachau-konsentrasiekamp gestuur is. Later is ek ook in hegtenis geneem en in die Ravensbrück-kamp geplaas. Dit was twee jaar sedert ek laas van my man gehoor het, en nege jaar het verstryk sedert ons van mekaar geskei is. Het Martin nog gelewe? Indien wel, was hy gesond?
’n Onvergeetlike dag
Die tyd vir my vertrek het aangebreek. Dit was 4:30 in die oggend. My ontbyt het uit ’n stuk swaar, donker brood bestaan. Ek het begin voetslaan en het geen geld, voedselrantsoenkoepons of besittings gehad nie, behalwe ’n klein skooltassie waarin ek van die oggend se brood en ’n paar persoonlike artikels gehou het. Ek het heeldag lank na München gestap. Dit was my man se tuisdorp en die waarskynlikste plek waar ek hom sou vind as hy nog gelewe het.
Toe dit begin aand word, het ek myself aan die buitewyke van ’n dorpie bevind. Daar was ’n aandklokreëling en ek kon dit nie waag om buite te slaap sonder om die gevaar te loop om in hegtenis geneem te word nie. Ek het die pad verlaat en begin bid: “Jehovah, help my asseblief. In al die jare wat ek u gedien het, het ek nog altyd ’n plek gehad waar ek snags kon slaap.” Toe ek klaar gebid het, het ek teruggeklim op die pad en begin rondkyk, maar alles het dieselfde gelyk.
Die eerste huis wat ek in die dorpie gesien het, het ’n tuinmuur gehad. Ek kon ’n vrou deur die hek in die tuin sien werk en ek het haar gevra: “Kan u asseblief vir my sê of daar êrens is waar ek kan oornag?” Sy het my op en af bekyk en versigtig geantwoord dat ek agterom die huis moes gaan en haar man moes vra, aangesien daar reeds heelparty mense daar gewoon het.
Ek het agterom die huis gestap en toe ek ingaan, het ek ’n groot maaltyd van Duitse lekkernye uitgestal gesien. Daar was nege mense om die tafel, gereed om te begin eet. Ek het enkele oomblikke verbysterd daar gestaan, aangesien ek sedert baie vroeg daardie oggend niks geëet het nie. Die eienaar het na my gekyk en gesê: “Wel, moenie net daar staan nie! Daar kan net sowel tien eet as nege!”
Maar voordat ek geëet het, het ek die man eers gevra of ek die aand daar kon oornag. Hy het ingestem en sy vrou het vir my ’n bed aan die bokant van die trap in die voorportaal gewys. Ek het gedink aan al die mans wat in die huis rondloop, maar haar daarvan verseker dat dit piekfyn sou wees. Sy is toe kerk toe om ’n aanddiens by te woon.
Gedurende die ete het ’n jong vrou wat ook in dieselfde huis gewoon het aandagtig na die gesprek geluister, wat gou tot ’n getuienis oor God se Koninkryk gelei het. Dit was moeilik om te bepaal presies wat sy dink, en na ’n ruk is sy na haar kamer toe.
Die vrou van die huis het later teruggekom en my na die sitkamer genooi. Sy het vir my ’n Duitse Elberfelder-uitgawe van die Bybel gewys waarin God se naam, Jehovah, op talle plekke voorkom. “Ek het dit jare gelede van ’n Bybelstudent gekry”, het sy gesê. “Kan jy vir my sê of dit werklik ’n Bybel is? Ek het dit al dikwels gelees, maar ek kon dit nie op my eie verstaan nie. Kan jy asseblief vir my iets daaruit verduidelik?”
Dit was al laat, maar ons gesprek het tot diep in die nag geduur. Dit was byna middernag toe die jonger vrou, wat tydens aandete na die gesprek oor die Koninkryk geluister het, by ons aangesluit het en gesê het dat sy nie kon slaap nie omdat sy aan die dinge gedink het wat ons bespreek het. Sy het bygevoeg dat sy vir my iets wou gee om my op my reis te help. Sy het toe vir my 20 mark gegee—dit was destyds baie geld.
Ek het vir die vroue vertel dat ek op pad was na München en dat ek die volgende oggend so vroeg moontlik moes vertrek. Die vrou van die huis het gevra hoe laat ek wou opstaan, en hoewel dit reeds na middernag was, het ek vir haar gesê vyfuur. Toe ek na die bed in die voorportaal wou gaan, het sy my gekeer en gesê: “Jy gaan nie daar slaap nie. Kom.” In die gang het sy die deur oopgesluit van ’n pragtig gemeubileerde gastekamer met kantgordyne en mooi beddegoed op ’n gemaklike bed. “Jy gaan hier slaap”, het sy gesê.
’n Ander soort uitdaging
Toe ek die volgende oggend om vyfuur opstaan, het die vrou en haar man reeds in die kombuis vir my met ontbyt sit en wag. Nadat ons geëet het, het sy my skooltassie vol toebroodjies gepak. Sy en haar man het my later voor die huis kom groet, en gewaai totdat ek hulle nie meer in die verte kon sien nie.
Ek het nagedink oor die feit dat ek maar 24 uur tevore mev. Kiener, die SS-offisier se vrou, met byna geen materiële voorsienings verlaat het. Al wat ek toe gehad het, was die vaste voorneme dat ek Jehovah se Koninkryk eerste sou stel en dat ek my nuwe vryheid daarvoor sou gebruik. Maar voordat ek München bereik het, is Jesus se raad om nie net God se Koninkryk nie, maar ook “sy geregtigheid” te soek op die proef gestel.—Mattheüs 6:33.
Teen die middel van die middag was ek moeg en seervoet en het ek ’n geleentheid probeer kry op een van die Amerikaanse vragmotors wat ander vlugtelinge in die rigting van München geneem het. Ek het daarin geslaag om een voor te keer en in my uiters beperkte Engels het ek my versoek aan die bestuurder gerig. Hy het gesê dat dit agter vol was, maar dat ek voor saam met hom kon ry, en ek het sy aanbod aanvaar.
Namate ons München genader het, het hy dikwels stilgehou om passasiers af te laai. Toe ons amper in die stad was, het hy afgedraai op ’n paadjie wat na die voetheuwels lei. Toe ek dit opmerk, het ek vir hom probeer verduidelik dat ek na die stad wou gaan. “Nee!” het hy gesê. “Ons gaan na die berge toe.”
Ek het toe besef dat al die ander passasiers afgeklim het. Ek het die deur probeer oopmaak, maar kon nie uitpluis hoe dit oopsluit nie. Die pad het in die heuwels ingekronkel en ek het heelpad in my gebroke Engels vir die man probeer vertel dat ek geen aandeel wou hê in wat hy beplan nie. Maar hy het aanhou ry totdat ons by ’n klein vallei in die woud gekom het. Hy het stilgehou en uitgeklim, na my kant van die vragmotor omgeloop en die deur oopgemaak. Ek het uitgeklim en my na hom gedraai. Hy het begin praat oor watter pragtige dag en plek dit was, en gesê dat niemand ons sou sien nie.
“Ja,”, het ek gesê, “dit is ’n pragtige dag en plek, en daar is miskien niemand hier nie, maar Jehovah God sien ons, en Jehovah sal my en jou . . . .” Maar ek kon nie aan die Engelse woord vir “straf” dink nie. Ek het dus my hande wild voor sy gesig geswaai en hard op hom geskreeu! Dit het skynbaar ’n uitwerking gehad, want sy gesindheid het klaarblyklik verander. Hy het ’n oomblik gehuiwer, nagedink, en my toe aangesê om terug te klim in die vragmotor. Ons het in stilswye tot in die middel van München gery, waar hy stilgehou het en gevra het of dit naby genoeg was. Ek het hom verseker dit was. Hy het weer die deur van buite oopgemaak en ek het weer voor hom gestaan. Maar hierdie keer het hy my hande geneem en gesê: “Jy is ’n regverdige vrou. Bid vir my sodat my vrou so getrou soos jy kan wees.”
Ek het dadelik in München die pionierdiens betree, dit wil sê, aan die voltydse predikingswerk deelgeneem. Ek het met soveel moontlik mede-Getuies in aanraking probeer kom om te help om ons vergaderinge en ander bedrywighede weer aan die gang te kry, aangesien feitlik al ons Koninkryksverkondigingsbedrywighede deur die oorlog en die vervolging omvergewerp is.
My man lewe!
Kort nadat ek in München aangekom het, het ek uitgevind dat Martin wel lewe en gesond is. Hy is na die uitwissingskamp by Mauthausen, Oostenryk, oorgeplaas, maar het dit oorleef. Hy moes saam met sowat honderd ander Getuies daar wag totdat hulle dokumente in orde was. Dit sou hulle identifiseer as persone wat deur Hitler se bewind vervolg is. Sonder sulke dokumente sou hulle nie kon reis of voldoende lewensmiddele bekom nie.
Nadat ek gehoor het wat die situasie was, het ek self na die Amerikaanse militêre bevelvoerder gegaan en gesê: “My man is in ’n konsentrasiekamp in Oostenryk, en ek wil hê dat julle ’n motor soontoe moet stuur en hom terugbring!” Op die ou end het die bevelvoerder twee busse soontoe gestuur en al die Getuies teruggebring.
’n Nuwe uitdaging
Ek het nou voor ’n ander uitdaging te staan gekom. My man kom terug! Waar sou ons bly? Ek het tot dusver in ’n tuinskuurtjie agter ’n huis gewoon en in ’n stoel geslaap, omring deur al die tuingereedskap. Ons moes ’n plek hê om te woon, maar ek het geweet dat Jesus se knegte die Koninkryk eerste moet stel.
Ek het my toe in gebed voorgeneem om een hele dag van my pionierdiens daaraan af te staan om na ’n geskikte plek te soek waar ons kon woon. Ek het na die Amerikaanse behuisingsraad gegaan en ’n lys van kamers gekry. Op die gekose dag het ek vroeg in die oggend begin en elke plek op die lys besoek. Teen sononder het ek voor die laaste huis op die lys gestaan nadat ek pas tevore ingelig is dat dit ook, soos die ander, nie meer beskikbaar was nie. Wat het my te doen gestaan?
Ek het tot Jehovah om hulp gebid. Hy ken tog ons behoeftes en sal na diegene omsien wat die Koninkryk eerste stel. Ek het die een dag van my pionierdiens geneem en met niks vorendag gekom nie. Toe ek klaar gebid het, het dit weer eens gelyk asof niks verander het nie. Maar ek het op Jehovah, die “hoorder van die gebed”, vertrou (Psalm 65:2). Ek kon dus net voortgaan en na ’n antwoord soek. Ek het dit ook letterlik gedoen, en ’n entjie voor my het ek drie vroue op die sypaadjie sien staan en gesels. Ek het hulle genader en gevra of hulle vir my kon sê waar daar ’n kamer beskikbaar was.
Een van die vroue in die groep het omgedraai en botweg gesê: “Gaan soek maar self een!” Haar onbeleefdheid het my verbaas, maar ek het gedink: ‘Dalk is dit my antwoord! Ek sal op hierdie einste hoek begin en net van huis tot huis gaan.’ Ek het die eerste huis genader, die klokkie gelui en ’n vrou het my met die woorde begroet: “Jy kom seker van die behuisingsraad af!” Maar haar nommer was nie op my lys nie. Sy het my na ’n mooi kamer op die tweede verdieping met ’n kombuisie oorkant die gang geneem—en daar was ’n pragtige uitsig van die Beierse Alpe!
Ryk seëninge vir getrouheid
Ek en Martin het in daardie kamer ingetrek. Ons albei het natuurlik van die begin af besig gebly met die Koninkrykswerk. Ek het aangehou met my pionierdiens en Martin het reëlings begin tref om groepe Getuies ’n ent van München af te besoek om hulle geestelik te versterk. Hy het hierdie besoeke van een of twee dae alleen afgelê, aangesien dit nog baie moeilik was om te reis.
Martin het eenkeer teruggekom van ’n reis net toe ek om 9 vm. op pad was om velddiens te gaan doen. Hy het my gevra om asseblief vir hom skoon klere en al die ander dinge wat hy sou nodig hê gereed te hê, aangesien hy daardie middag weer op ’n besoek moes vertrek. Ek het gesê dat ek herbesoeke gaan doen en ’n paar Bybelstudies gaan hou en dat ek twaalfuur sou terug wees om sy middagete voor te berei en hom te help pak. Twaalfuur het gekom en gegaan, maar ek was nie daar nie; sy skoon sokkies en ander dinge was ook nie reg om gepak te word nie. Vieruur het gekom en gegaan, toe agtuur, en eindelik het ek daardie aand elfuur by die huis aangekom, bly oor al die aangename ondervindinge wat ek daardie dag geniet het. Toe het dit my skielik bygeval! In my ywer vir die diens en my opwindende Bybelstudies gedurende die dag het ek skoon van Martin en sy reis vergeet. Ek was destyds net nie daaraan gewoond om ’n man by die huis te hê nie!
Hierdie vergeetagtigheid het natuurlik nie lank geduur nie. Martin moes die meeste van die tyd weg wees, en ek was eerlank baie bewus van sy afwesigheid. Omdat ek hom gemis het, het ek dikwels gehuil. Maar omdat ek nie wou hê dat die eienares trane in plaas van my gewone glimlaggende gesig moes sien nie, het ek na ’n nabygeleë begraafplaas gegaan en daar op ’n stomp gesit en huil. Ek het geredeneer: ‘Baie ander mense kom hier en huil. Niemand sal dus dink dis vreemd as ek ook huil nie!’ Maar die huilery het sake nie werklik verbeter nie.
Ek het soveel goeie ondervindinge gehad met die 22 gesinsbybelstudies wat ek ten minste een keer per week gehou het! Maar ek wou hierdie goeie dinge met my man deel. Martin was terug en gesond en tog kon ons nie saam wees nie. Ek het toe tot Jehovah oor die saak gebid. Ek het ook vir broer Erich Frost, destyds die opsiener van die predikingswerk in Duitsland, in my vertroue geneem en van my hartseer vertel. Ek het vir hom gesê dat die feit dat ek my man terug gehad het net beteken het dat ek sy sokkies en onderklere gehad het om te was. Broer Frost het moontlik gedink dat hy my bemoedig deur te sê dat ek bly behoort te wees dat ek dit ten minste kan doen. Maar ek was nie baie tevrede met daardie antwoord nie! Ek het nietemin volhard.
’n Rukkie later is Martin na Magdeburg genooi om opgelei te word as ’n kneg tot die broers, soos kringopsieners destyds genoem is. Aan die einde van hierdie opleiding het broer Frost aangekondig dat hy iets spesiaals vir Gertrud het. Die hoofkwartier van Jehovah se Getuies by Brooklyn het laat weet dat al die vrouens wat voorheen in die pionierdiens was saam met hulle mans kon gaan wanneer dié die verskeie gemeentes besoek het. My gebede is weer eens verhoor!
Agterna geskou
Wanneer ek terugdink aan die talle ondervindinge wat ek en my man gehad het, is ek daarvan oortuig dat ons hemelse Vader ons behoeftes ken en dat daar op die regte tyd daarin voorsien sal word as ons werklik die Koninkryk eerste in ons lewe stel. Ek kan ook sien dat ek nie die dinge ontvang het wat ek nie werklik nodig gehad het nie.—Mattheüs 6:32.
Ek het byna 31 jaar lank na die oorlog deur die hele Duitsland heen saam met my man gereis, terwyl hy Christengemeentes aldaar gesoek en geestelik bygestaan het. Sedert 1978 werk ek egter by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, waar Martin as lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dien. Hoewel ek nou 72 jaar oud is, is ek Jehovah baie dankbaar dat ek nog baie krag het—genoeg om volle dae in Koninkryksdiens deur te bring!
[Prent op bladsy 26]
Ek het die tronkuniform gedra terwyl ek na die SS-offisier se kinders omgesien het
[Prent op bladsy 28]
’n Onaangename vooruitsig: die vliegtuie keer dalk terug om op die vragmotor te skiet
[Prent op bladsy 30]
Ek geniet dit om nou saam met my man, Martin, in Brooklyn, New York, in die openbaar en van huis tot huis te getuig