Koninkryksverkondigers berig
Hulle vertrou ook op Jehovah
IN ’N LAND waar die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies in die ban gedoen is, het sommige jongmense hulleself afgevra: “Wat is die doel van die lewe? Waar kan ’n mens die waarheid vind? Waarom is daar soveel goddeloosheid?” Hulle het nie bevredigende antwoorde van die kerk of van hulle ouers gekry nie. Alkohol en dwelmmisbruik het nie vir hulle gemoedsrus gebring nie. Toe een van hierdie jong mans hoor dat ’n kollega die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer, het hy besluit om die Bybelstudie by te woon en sy kollega te “red” deur die swak plekke van hierdie organisasie te vind. Hy het die teenoorgestelde gevind—antwoorde op vrae wat hom gekwel het. Hy het begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Mettertyd het Bybelwaarheid die jong man verander en hy het opgehou rook, nie meer dronk geword nie en begin om meer in sy eie gesin belang te stel.
Sy ouers het hom gedwing om uit hulle woonstel te trek omdat hulle gekant was teen wat hy geleer het. Toe het iets gebeur wat hulle gedink het onmoontlik sou wees. Hy het ’n nuwe woonstel gekry, iets wat gewoonlik jare duur. Die jong man sê hieroor: “Die feit dat ek God se voorneme leer ken en die raad van die Bybel in my lewe toegepas het, het dit vir my moontlik gemaak om my geestesewewig te herwin en my gesin se geluk te stabiliseer. My vrou stem met my saam en ons kan vol vertroue na die toekoms uitsien.”
Hierdie jong man begryp nou terdeë die betekenis van Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
ln ’n ander land waar die werk van Jehovah se Getuies in die ban gedoen is, is ’n bejaarde vrou deur ’n Getuie genader. Sy het vir die Getuie vertel dat sy ontnugter is deur die lewe. Haar man het haar ontval, haar kinders was onbeskof teenoor haar en sy het oor haar situasie gehuil. Maar sy het na die vertroostende goeie nuus van die Koninkryk geluister en baie belangstelling getoon. Sy wou hê dat die Getuie met haar dogter moes praat, wat volgens haar hardkoppig was en dikwels dronk geword, gerook en vuil taal gebruik het.
Die suster het die dogter besoek, en sy het na die Koninkryksboodskap geluister en die groot waarde van die waarheid besef. Sy het ingestem tot ’n Bybelstudie, en die krag van die Skrif het haar lewenswyse verander sodat sy haar aan Jehovah toegewy het en gedoop is. Sy het dit selfs voor haar moeder gedoen, wat besig was om haar vir daardie belangrike stap voor te berei. Kort daarna het die dogter reeds met drie ander individue gestudeer.
Kan jy jou voorstel hoe gelukkig die moeder en dogter nou is? Hulle het beslis rede om bly te wees omdat hulle op Jehovah en sy liefdevolle voorsiening vir die ewige lewe vertrou.—Psalm 56:12.