Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 10/1 bl. 21-28
  • ‘Jehovah het aan my goed gedoen’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Jehovah het aan my goed gedoen’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons begin om in die waarheid te wandel
  • ’n Toets van broederliefde
  • “In Bethel Land I’ll Take My Stand!”
  • “Pas op, Karl!”
  • Terug in Brooklyn
  • ’n Nuwe toewysing
  • Broer Knorr—’n Ouer broer
  • Nie altyd so maklik nie
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die voltydse bediening​—⁠Die seëninge wat dit vir my meegebring het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • ’n Ryk lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 10/1 bl. 21-28

‘Jehovah het aan my goed gedoen’

Soos vertel deur Karl F. Klein

WATTER seëninge bring dit tog mee om Jehovah te ken en te dien! Wanneer ek terugkyk, voel ek soos Dawid, wat gesê het: “Ek wil sing tot eer van [Jehovah], omdat Hy aan my goed gedoen het” (Psalm 13:6). Hy het voorwaar! Ek geniet byvoorbeeld die voorreg om ’n lid van die hoofkwartierpersoneel van Jehovah se Getuies te wees, en ek het gesien hoe daardie gesin van sowat 150 tot meer as 3 000 aangroei. Wat ’n seën was dit tog nie!

Maar selfs voor ek die waarheid geleer het, het God aan my goed gedoen. My moeder was nie net baie onderdanig en selfopofferend nie, maar het ook gedurig tekste aangehaal wanneer sy ons vermaan of getugtig het. Laat my toe om jou iets van daardie vroeë dae te vertel.

Ons begin om in die waarheid te wandel

Ek het in 1917 vir die eerste maal met Bybelwaarheid in aanraking gekom toe ek ’n strooibiljet gekry het wat ’n toespraak oor die hel aangekondig het. Dit het my belangstelling geprikkel, want ek het alewig die verkeerde ding gedoen en was baie bekommerd dat ek in ’n brandende hel sou beland as ek eendag doodgaan. Toe ek die strooibiljet vir my moeder gewys het, het sy my aangemoedig om te gaan en gesê: “Dit kan nie kwaad doen nie en sal jou dalk goed doen.”

Ted, een van my jonger broers, het saam met my gaan luister na die toespraak wat deur die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, gereël is. Aan die hand van die Skrif en logika het die spreker baie duidelik getoon dat die Bybel nie leer dat daar ’n brandende hel is nie. Dit het alles vir my so geloofwaardig geklink dat ek by die huis uitgeroep het: “Ma, daar is nie ’n hel nie en ek weet dit!” Sy het saamgestem en bygevoeg dat die enigste “hel” hier op aarde is, aangesien sy self baie swaar gekry het. Daar sou die volgende Sondagmiddag nog ’n toespraak gehou word, maar niemand het met ons, seuntjies van 11 en 10 jaar, gepraat nie. Nadat ons daardie oggend by die Sondagskool en die kerk was, het ons saam met ander seuntjies in die buurt gespeel. Maar alles het daardie middag skeef geloop. Ek het teruggedink aan die lonende ondervinding van die vorige week en vir myself gesê: “Karl, God probeer vir jou sê dat jy nie pret moet najaag nie maar eerder na nog een van daardie mooi Bybeltoesprake moet gaan luister.” Ek en Ted het weer gegaan, en hierdie keer het die Bybelstudente met ons gepraat en ons aangespoor om die volgende Sondag weer te kom. Ons het ingestem, en van daardie tyd af woon ons nog altyd Christelike vergaderinge by. Wanneer ek nou terugkyk, kan ek maklik sien hoe Jehovah my van tyd tot tyd as ’t ware oor die vingers getik het wanneer ek iets gedoen het wat ek nie moes doen nie. Ek moes leer dat die lewe nooit dit EN dat is nie, maar dit OF dat.

Dit het alles in Blue Island, ’n voorstad van Chicago, Illinois, gebeur. (Ek is as ’n baie sieklike kind in suidwestelike Duitsland gebore en was vyf jaar oud toe ons gesin na die Verenigde State geëmigreer en ons uiteindelik in daardie stad gevestig het.) Die Bybelstudente het daar ook midweekstudies gehad wat op die boek Tabernacle Shadows gebaseer was. Ek het dadelik begin om hierdie studies by te woon en hulle baie interessant gevind, veral omdat die studiehouer ’n model van die Tabernakel gebruik het om alles te verduidelik. Dit het egter ’n ruk geduur voor ek die nodigheid daarvan ingesien het om te kies tussen hierdie vergaderinge en die Metodistekerk, waarin ek pas tevore aangeneem is.

Omdat ek nog maar ’n seuntjie was en my ouers dit nie breed gehad het nie, het die Bybelstudente my ruimhartig van al die nodige studiehulpe voorsien. Hoe verheug was ek om die waarheid aangaande die siel, die Drie-eenheid, die duisendjarige heerskappy van Christus, ensovoorts, te leer! Eerlank het ek blymoedig gehelp met die verspreiding van die Bible Students Monthly en Kingdom News. Vroeg in 1918 het ek die voorreg ingesien om my toe te wy en te laat doop. By die huis het dit geen probleem geskep nie, want my moeder het belangstelling getoon in die dinge wat ek geleer het, en my vader, wat reeds 20 jaar ’n Metodisteprediker was, het baie rondgereis. Hy het net drie of vier keer per jaar vir ’n paar dae huis toe gekom.

’n Toets van broederliefde

In daardie dae is daar aan ons gesê: ‘As jy in die waarheid wil bly, moet jy die sewe Studies in the Scriptures elke jaar deurlees.’ Ek wou natuurlik in die waarheid bly, en daarom het ek hierdie bundels elke jaar pligsgetrou deurgelees totdat ek Bethel toe gekom het. Dit het beteken dat ek tien bladsye per dag moes lees, iets wat vir my baie aangenaam was omdat ek ’n onversadigbare dors na kennis gehad het.

Kort na my doop in 1918 is my lojaliteit teenoor my mede-Bybelstudente op die proef gestel. Die Eerste Wêreldoorlog het gewoed, en hoewel die meeste prominente broers ten onregte in die tronk was weens die oorlogskwessie, het diegene wat destyds die leiding geneem het nie die nodigheid vir Christelike neutraliteit ten volle besef nie. ’n Paar wat die geskil duidelik gesien het, het aanstoot geneem en hulle van die Bybelstudente afgeskei. Hulle het hulleself die Standvastiges genoem. Hulle het my gewaarsku dat ek die voorreg sou verbeur om ’n lid van die “klein kuddetjie” van Jesus se gesalfde volgelinge te wees as ek by die Bybelstudente bly (Lukas 12:32). My moeder het my gehelp om die regte besluit te neem, al was sy nog nie toegewy nie. Ek kon dit nie oor my hart kry om my rug te draai vir diegene van wie ek so baie geleer het nie, en gevolglik het ek besluit om my lot met my Bybelstudente-broers in te werp. Dit was waarlik ’n toets van my lojaliteit. Sedertdien het ek talle soortgelyke toetse van lojaliteit gesien. Diegene wat nie volkome lojaal is nie, gebruik enige foute wat begaan word as ’n verskoning om die waarheid te verlaat.—Vergelyk Psalm 119:165.

Die Bybelstudente se byeenkoms in Cedar Point in 1922 was vir my ’n groot aansporing in my pogings om Jehovah te dien. Daar het ons gehoor hoe J. F. Rutherford (destyds president van die Wagtoringgenootskap) die wekroep doen: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.” Alhoewel ek van die begin af aan verskillende vorme van die getuieniswerk deelgeneem het, was dit by daardie byeenkoms dat ek vir die eerste keer van huis tot huis gegaan en Bybellektuur teen ’n bydrae aangebied het. Dit was vir my baie swaar!

Om daardie rede het ek tot met die byeenkoms in 1924 in Columbus, Ohio, nie weer aan sulke getuieniswerk van huis tot huis deelgeneem nie. Van toe af was daar minstens een persoon in ons plaaslike gemeente wat gereeld aan hierdie werk deelgeneem het. Ek het sedertdien geleer hoe noodsaaklik daardie bediening is, nie alleen om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie, maar ook om jou eie geloof te versterk en al die ander vrugte van die gees aan te kweek (Galasiërs 5:22, 23). Dit ly geen twyfel nie: gereelde deelname aan die veldbediening is in meer as een opsig lonend.

“In Bethel Land I’ll Take My Stand!”

Die reëlings in die gemeente was destyds ietwat anders as vandag. Terwyl ek nog ’n tienderjarige was, is ek tot ouderling verkies. Ek het die Gemeentelike Boekstudie waargeneem, gereël dat openbare sprekers van Chicago af kom en gesorg dat hierdie toesprake in die plaaslike koerant en met behulp van strooibiljette geadverteer word. Ná die 1924-byeenkoms in Columbus, Ohio, het ek aansoek gedoen om by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se volk te gaan werk. Dit was lank reeds my begeerte om in Bethel te dien, maar ’n skielike verandering in huislike omstandighede het dit laat lyk asof dit nie Jehovah se wil vir my is nie. Maar dit was net ’n tydelike struikelblok, want op 23 Maart 1925 het ek wel Bethel toe gegaan.

My vreugde was so groot dat ek, in ’n brief aan my ouers, die liedjie “Dixie” soos volg geparafraseer het: “In Bethel land I’ll take my stand, to live and die in Bethel land!” Na 59 jaar voel ek nog so oor Bethel. Dit is miskien gepas om vlugtig te meld hoe Jehovah keer op keer met my gehandel het. Eers nadat ek bereid was om af te sien van dinge wat ek baie graag wou hê as dit gelyk het asof dit nie God se wil is nie, het ek dit ontvang. Dit het my laat dink aan die toets waaraan God Abraham onderwerp het om te kyk of hy bereid sou wees om die seun ‘wat hy lief het’ op te offer.—Genesis 22:2.

My eerste werk in Bethel was in die setafdeling van die Genootskap se drukkery by Concordstraat 18, Brooklyn, New York. Ek is kort daarna oorgeplaas na die kelderverdieping om te help met die bediening van “Die Ou Slagskip”, soos die Genootskap se enkele rotasiepers destyds liefderyk genoem is. Ons het traktate by die miljoene daarop gedruk. En op daardie tydstip het ons 30 000 eksemplare van elk van ons twee tydskrifte gedruk. Vandag is die gemiddelde oplaag van Die Wagtoring 10 200 000 eksemplare per nommer, en 8 900 000 eksemplare vir Ontwaak!

As kind het ek twee jaar lank vioollesse geneem. Toe ek by Bethel aangekom het, het ek aangebied om in die orkes te speel wat twee aande per week geoefen en Sondagoggende oor die Genootskap se radiostasie WBBR gespeel het. Ek het gehoor dat die orkes ’n tjellospeler nodig het en het gevolglik ’n tjello gekoop en musieklesse begin neem.a Teen 1927 is tien lede van die gesin genooi om voltyds oor die Genootskap se stasie op State-eiland te speel. Dit was die begin van my musiekvoorregte wat deur die jare heen voortgeduur het.

“Pas op, Karl!”

Ek was baie lief vir musiek. Dit was inderdaad lonend om al my tyd daaraan te bestee. Terwyl ek op State-eiland gedien het, het ek ook die sonderlinge voorreg gehad om J. F. Rutherford, wat toe president van die Wagtoringgenootskap was beter te leer ken. Dit was omdat hy die helfte van elke week daar deurgebring het, aangesien die rustige omgewing baie bevorderlik was vir sy skryfwerk—en hy het sommer baie geskryf!

Broer Rutherford was soos ’n begrypende en liefdevolle vader vir my, hoewel hy my herhaaldelik moes teregwys omdat ek die een of ander reël oortree het. Ek onthou veral een keer toe hy my skerp berispe het. Toe hy my weer sien, het hy vrolik gesê: “Hallo, Karl!” Maar omdat ek nog gekrenk gevoel het, het ek net mompelend teruggegroet. Hy het dadelik gewaarsku: “Pas op, Karl! Die Duiwel is op jou spoor!” Ek het verleë geantwoord: “Ag, daar’s niks verkeerd nie, broer Rutherford.” Maar hy het beter geweet en sy waarskuwing herhaal: “Toe maar. Pas net op. Die Duiwel is op jou spoor.” Hoe reg was hy tog nie! Wanneer ons kwade gevoelens teen ’n broer omdra, veral omdat hy iets gesê het wat hy die reg en plig het om te sê, stel ons ons aan die Duiwel se strikke bloot.—Efesiërs 4:25-27.

Weens ’n misverstand is daar eenkeer verkeerdelik aan broer Rutherford berig dat ek ’n baie kritiese aanmerking oor hom gemaak het. Maar in plaas daarvan om kwaad te word, het hy gesê: “Wel, Karl praat baie, en hy sê dinge wat hy nie bedoel nie.” Wat ’n goeie voorbeeld vir ons wanneer ons hoor dat iemand onvleiende dinge van ons sê! Ja, broer Rutherford was groothartig en baie begrypend. Hy het dit enersyds getoon deur herhaaldelik vir my uitsonderings te maak wanneer buitengewone omstandighede dit geregverdig het en andersyds deur my by meer as een geleentheid om verskoning te vra wanneer hy my onbedoeld seergemaak het.b Ek kan net byvoeg dat broer Rutherford se gebede by die oggenddiens hom ook gelief gemaak het by my. Hy het ’n baie sterk stem gehad, maar wanneer hy met God gepraat het, het hy soos ’n klein seuntjie geklink wat met sy pappie praat. Wat ’n goeie verhouding met Jehovah het dit tog geopenbaar! Dit was vir my geloofversterkend dat ’n man van sulke geestelike statuur die leiding geneem het, en ek het gemeen dat dit is soos dit in Jehovah se organisasie hoort.

Terug in Brooklyn

Na twee en ’n half jaar op State-eiland is die orkes na Brooklyn oorgeplaas, waar ’n nuwe radio-ateljee gebou is. Nadat ek nog ongeveer tien jaar in die orkes gespeel het, is dit ontbind en het ek weer in die fabriek begin werk, eers in die boekbindery en later met die drukperse. Maar eerlank is ek na die Diensafdeling oor geplaas waar ek ’n aantal jare lank die voorreg gehad het om na sowat 1 250 spesiale pioniers om te sien—aan hulle gebiede toe te wys, hulle briewe te beantwoord, ensovoorts. Ek het ook elke maand die voorreg gehad om die velddiensrapport vir die Verenigde State en ander lande saam te stel. Watter seëninge! ’n Groot voorreg vir my was ook die goeie verhouding wat ek met broer T. J. Sullivan, die destydse opsiener van die Diensafdeling, geniet het. Gedurende die tyd dat ek in hierdie afdeling gewerk het, het die getal Koninkryks verkondigers wêreldwyd van 100 000 tot bykans 375 000 vermeerder. Watter vreugde om te sien dat Jehovah se Getuies sedertdien sewevoudig vermeerder het, tot meer as twee-en-’n-halfmiljoen!

Ek was bly om te sien dat daar vanaf die presidentskap van N. H. Knorr meer klem daarop gelê is om van elke Getuie ’n bekwame bedienaar te maak wat van huis tot huis kan preek. Van toe af is broers ook opgelei om openbare toesprake te hou. Die stigting van die Wagtoring- Bybelskool Gilead was vir my van besondere belang, aangesien my broer Ted (wat my na daardie eerste toespraak van die Bybelstudente vergesel het en sedert 1931 ’n pionier is) die eerste klas bygewoon het.c

’n Nuwe toewysing

Op ’n dag in die eerste helfte van 1950 het broer Knorr vir my en ’n ander broer na sy kantoor geroep en ons gevra of ons daarvan sou hou om in die Skryfafdeling te werk. Toe ek vir hom gesê het dat ek nie omgee waar ek werk nie, het hy my berispe en gesê dat wanneer ’n groter diensvoorreg vir ’n persoon aangebied word hy dit gretig behoort te aanvaar. Maar eintlik was my gesindheid te wyte aan my swak gesondheid, wat nog altyd vir my ’n probleem was en vereis het dat ek voeding en oefening ernstig opneem. In werklikheid kon niks my beter gepas het as om al my tyd daaraan te bestee om navorsing te doen en artikels te skryf nie, veral oor Skriftuurlike onderwerpe. Maar ek het geweet dat die werk nie maklik sou wees nie. Trouens, in verband met die Skryfafdeling het broer Knorr eenmaal vir my gesê: “Dis hier waar die belangrikste en moeilikste werk gedoen word.”

In 1951 het ’n paar van ons van die Brooklynse Bethel ’n groot geestelike fees by die “Reine Aanbidding”-byeenkoms in Londen geniet. Nadat ons ook die byeenkoms in Parys bygewoon het, het ’n paar van ons sommige van die Genootskap se ander takke besoek, waaronder die een in Wiesbaden. Daar het ek vir Gretel Naggert ontmoet, wat 12 jaar later my aanbod aanvaar het om suster Klein te word. Nadat ek 38 jaar as ’n ongetroude persoon in Bethel gedien het, het ek gemeen dat ek beter sou vaar met haar as my lewensmaat. Vandat ek getroud is, stem ek saam met Salomo wat gesê het: “Wie ’n vrou gevind het, het iets goed gevind en ’n welgevalle van die HERE verkry” (Spreuke 18:22). Ja, hier het Jehovah weer aan my goed gedoen, want Gretel is in so baie opsigte vir my ’n groot hulp.d

Broer Knorr—’n Ouer broer

My verhouding met broer Rutherford was soos dié van ’n liefdevolle vader en sy seun. Maar die verhouding tussen my en broer Knorr, wat net ’n paar maande ouer as ek was, was meer soos dié van broers—met die ouer broer wat geneig was om ongeduldig te raak oor sy jonger broer se tekortkominge. Gretel was baie filosofies oor sulke verskille. ‘’n Mens kan tog nie verwag’ het sy gesê, dat ’n flink bestuurder en ’n baie romantiese musikus altyd sal saamstem nie!’ Maar ingeval daardie opmerking verkeerd verstaan word, moet ek byvoeg dat broer Knorr my gunstelingspreker was. Hy het my eenmaal sy skaduwee genoem, want ek het baiemaal opgedaag waar hy toesprake gehou het.

Boonop was hy net so lief vir musiek as ek en het hy weer die sing van liedere by ons gemeentelike vergaderinge ingevoer. Hy het groot belangstelling getoon in die publikasie van liedereboeke.—Efesiërs 5:18-20.

Hier kon ek weer sien dat Jehovah die regte man gehad het om Sy werk op aarde te bestuur, want broer Knorr was ’n uitstekende organiseerder. Hy het veral die belangrikheid van die regte soort onderrig besef, soos blyk uit die feit dat hy die Teokratiese Bedieningskool, die Gilead-sendlingskool, die Koninkryksbedieningskool in die lewe geroep het.

Dit alles laat my dink aan ’n opmerking wat die takkoordineerder van Brittanje eenmaal teenoor my gemaak het. Hy het gesê dat broer Knorr die goeie eienskap gehad het dat hy hom nie deur persoonlikhede laat beinvloed het wanneer hy aanstellings in die organisasie maak nie. Dit was ’n feit, want anders sou ek nooit al die voorregte ontvang het wat hy toegelaat het dat ek geniet in verband met byeenkomste, musiek, skryfwerk, ensovoorts nie. In hierdie opsig was broer Knorr ’n goeie navolger van Jesus Christus. Hoe so? Wel, vir wie was Jesus besonder lief? Johannes. Maar aan wie het hy “die sleutels van die koninkryk” toevertrou? Aan Petrus, ten spyte van daardie apostel se voortvarendheid.—Mattheüs 16:18, 19; Johannes 21:20.

Ja, hoe goed het Jehovah aan my gedoen ten spyte van my swakhede en tekortkominge! En tog, hoewel ek byna 50 jaar lank hoogs bevoorreg was, het die grootste voorreg nog voorgelê. In November 1974 is ek genooi om ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies te word. Hierdie uitnodiging het my so oorweldig dat ek aanmoediging nodig gehad het om dit te aanvaar. Ek is byvoorbeeld daarop gewys dat ’n hele paar ander ook genooi is. Sewe nuwe lede is genooi, wat die ledetal van die Bestuursliggaam op daardie tydstip van 11 tot 18 laat styg het.

Die persoon wat my aangemoedig het om hierdie nuwe toewysing te aanvaar, was Frederick W. Franz, wat in 1977 vir broer Knorr as president van die Genootskap opgevolg het. Vandat ek Bethel toe gekom het, het ek tot hom aangetrokke gevoel weens sy Bybelkennis en sy vriendelike geaardheid. In die vroeë dae het ons die Duitse gebeds-, lof- en getuienisvergaderinge saam bygewoon. Heelparty van my teokratiese mylpale sedert daardie tyd hou met hom verband. Een daarvan was die voorreg om hom, saam met my broer en sy vrou, te vergesel op ’n besoek aan ons broers wat onder ’n verbod in die Dominikaanse Republiek gedien het. Nooit tevore of sedertdien het ek sulke hartlike betuigings van Christelike liefde ontvang nie. Dit het vir ons medegelowiges aldaar so baie beteken dat ons die gevaar van moeilikheid met Trujillo getrotseer het om hulle te besoek!

In latere jare het ek, my vrou en broer Franz, tesame met verskeie ander, onder hulle A. D. Schroeder, besoek gebring aan Bybellande en ’n aantal Suid-Amerikaanse lande, waaronder Bolivia, waar Gretel meer as nege jaar as sendeling gedien het. Daar was altyd bykomende diensvoorregte daaraan verbonde om saam met broer Franz te reis, want hy het daarop aangedring dat sy reisgenote die verhoog met hom deel. Meer onlangs het ons saam byeenkomsvoorregte in Europa en Sentraal-Amerika gehad. Wanneer ek terugkyk, wil dit voorkom of broer Franz altyd vir my ’n balanserende faktor was. Gedurende ons besoek aan Bybellande het een broer in ons groep byvoorbeeld in ernstige moeilikheid met die gereg beland omdat hy verbode foto’s geneem het, iets wat ons vertraag het. Ek was hoogs ontstoke, maar broer Franz het net geglimlag en gesê: “Ek dink hy leer sy les.” En hy het! Ja, my omgang met broer Franz was nog ’n manier waarop Jehovah aan my goed gedoen het.

Nie altyd so maklik nie

Ek kan ook nie vergeet hoe goed Jehovah aan my gedoen het in verband met my toegewese werk nie. Baiemaal het ’n projek besonder goed afgeloop as gevolg van faktore waaroor ek geen beheer gehad het nie. (Vergelyk Psalm 127:1; 1 Korinthiërs 3:7.) Ek het dit dikwels op organisatoriese vlak gesien. Ongeveer 40 jaar gelede het die Genootskap byvoorbeeld ’n gebou in Willowstraat gekoop vir ons gebruik as ’n garage. As ons nie daardie eiendom besit het nie, sou ons nie ’n tonnel kon bou om die Towers-gebou met die res van die Bethelkompleks te verbind nie. Toe ons meer woonruimte nodig gehad het, kon ons die Towers-hotel koop. Toe ons meer kantoorruimte nodig gehad het, kon ons die Squibb-kompleks koop. En hierdie geboue is binne loopafstand van Bethel. Talle soortgelyke dinge het gebeur tot voordeel van Jehovah se organisasie in ander lande.

Weens oorgeërfde swakhede en my impulsiewe geaardheid het ek deur die jare heen baie probleme en beproewinge ondervind, waaronder ’n senuwee-ineenstorting nadat ek nege jaar in Bethel was. Gedurende daardie tyd was Psalm 103 sowel as Paulus se woorde in Romeine 7:15-25 vir my baie vertroostend. Ek kan byvoeg dat ek ook deur die jare heelwat beserings opgedoen het, soos ’n gebreekte knieskyf, gebreekte rugwerwels, ensovoorts. Weens my eie gebreke sowel as dié van ander het dit nie altyd maklik gegaan nie. Maar met Jehovah se hulp het ek geleer dat ‘as hy dit toelaat, ek dit kan verdra’, soos 1 Korinthiërs 10:13 toon. Ook: ‘Hoe minder ek lewe, hoe meer kan ek gee.’ Van die lesse wat ek moes leer, is die nodigheid om te “wag op die God van my heil” en om bereid te wees om my as ’n “mindere” te gedra.—Miga 7:7; Lukas 9:48, NW.

Dan het ek ook herhaaldelik rede gehad om te voel soos Dawid gevoel het na die insident met Nabal (1 Samuel 25:2-34). Hy was dankbaar teenoor Jehovah en Abigail omdat hulle hom verhinder het om bloedskuldig te raak deur Nabal se hele huis uit te roei. Ja, Jehovah het my verhinder om baie ernstige foute te begaan. Hy het dit gedoen deur sy engele, sy bestiering en die hulp, nie alleen van ryp broers nie, maar ook van menige voortreflike, Christelike “Abigail”. Ek is Jehovah ook baie dankbaar dat, wanneer ek geestelik swak was, die geleentheid om voor versoeking te swig nie daar was nie, en dat wanneer dit wel daar was, ek geestelik sterk genoeg was om nie te swig nie. Met ander woorde, die neiging tot sonde en die geleentheid daarvoor het nooit saamgeval nie, want Jehovah het geweet dat ek diep in my hart eintlik wou doen wat reg is. Hoe dankbaar is ek tog dat Jehovah nie die ongeregtighede in gedagtenis hou nie!—Psalm 130:3.

Ek kan ook nie vergeet hoe goed Jehovah aan my en aan ander gedoen het deur voortdurend aan ons die allerbeste geestelike voedsel te verskaf nie (Mattheüs 24:45-47). Dit ly geen twyfel dat die lig van die waarheid vir die regverdige al hoe helderder skyn nie (Psalm 97:11). Hier is net ’n paar van die talle uitstekende geestelike waarhede wat Jehovah se volk geleer het van die tyd af dat ek ‘die melk van die woord’ begin drink het: die onderskeid tussen God se organisasie en Satan se organisasie; dat die regverdiging van Jehovah belangriker is as die redding van skepsele; dat die herstellingsprofesieë op geestelike Israel betrekking het; dat Christelike gedrag en prediking ewe belangrik is; en dat swak, onvolmaakte skepsele soos ons die hart van ons God kan verbly, die God wie se weergalose naam ons as Jehovah se Getuies bevoorreg is om te dra.—1 Petrus 2:2; Spreuke 27:11; Jesaja 43:10-12.

Het ek rede om tot eer van Jehovah te sing omdat hy so goed gedoen het aan my? Ek het inderdaad!

[Voetnote]

a Carey Barber het tweede viool gespeel in daardie orkes. Min het ons gedink dat ons 58 jaar later nog steeds in dieselfde “orkes” sou speel, maar om ’n ander soort musiek te maak! C. Barber se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 November 1982 verskyn.

b Aangaande sy onbesonne verklarings oor wat ons in 1925 te wagte kon wees, het hy eenmaal teenoor ons by Bethel erken: “Ek het ’n gek van myself gemaak.”

c Sy lewensverhaal het in The Watchtower van 1 Junie 1957, bladsye 329-331, verskyn.

d Kyk die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 130, 131.

[Prent op bladsy 23]

Die WBBR-orkes in 1926, waarin K. F. Klein en C. W. Barber gespeel het

[Prent op bladsy 24]

J. F. Rutherford was soos ’n vader vir my

[Prent op bladsy 25]

Saam met Gretel, my vrou—een manier waarop Jehovah aan my goed gedoen het

[Prent op bladsy 26]

N. H. Knorr was soos ’n ouer broer

[Prent op bladsy 27]

F. W. Franz—’n ware vriend en balanserende faktor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel