Armageddon, die Midde-Ooste, en die Bybel
„DIE middelpunt van die hele profetiese voorspelling”, beweer skrywer Hal Lindsey, „is die staat Israel” (The 1980’s: Countdown to Armageddon). Die fundamentaliste se ,Armageddon-scenario’ berus derhalwe op hulle oortuiging dat God ’n spesiale verhouding met Israel het. Hulle glo dat God sal ingryp wanneer die nasie se vyande hom wil vernietig.
Die Bybel toon egter dat die Joodse nasie God se guns en beskerming verloor het toe hulle sy Seun, Jesus Christus, verwerp het (Handelinge 3:13, 14, 19). Jesus het reguit vir hulle gesê: „Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.”—Mattheüs 21:43.
Geheel en al verwerp?
Teoloë John F. en John E. Walvoord (voorheen aangehaal) opper nietemin ’n teenargument: „Die apostel Paulus het duidelik getoon dat die Ou-Testamentiese beloftes aangaande Israel nog vervul sou word. Paulus het geskryf: ,Ek vra dan: Het God sy volk verwerp? Hoegenaamd nie!’ (Romeine 11:1; NIV.)” Hulle haal egter nie die res van daardie vers aan nie: „Want ek is ook ’n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.” Wat het Paulus hiermee bedoel?
Paulus kon nie geglo het dat die Israeliete as ’n nasie steeds ’n spesiale verhouding met God gehad het nie, want die feit dat hulle nie op God se goedheid gereageer het nie, was vir die apostel „’n groot droefheid” en „’n onophoudelike smart vir [sy] hart” (Romeine 9:2-5). In Romeine 9:6 voeg Paulus by: „Maar ek sê dit nie asof die woord van God [aan Abraham] verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit [natuurlike] Israel is nie.” Let op wat Paulus sê: Omdat die Jode Christus verwerp het, het God hulle nie langer as Israel beskou nie! Die gesalfde gemeente van Jesus Christus se volgelinge was nou die ware „Israel”, die instrument waardeur God die ganse mensdom sou seën.—1 Petrus 2:9; Galasiërs 3:29; 6:16; Genesis 22:18.
Maar God het nie die Jode as individue verwerp nie, want Paulus het gesê: „Ek is ook ’n Israeliet.” Ja, individue in die Joodse nasie, soos Paulus, kon ’n deel van geestelike Israel word as hulle Christus aanvaar het. Net „’n oorblyfsel”, ’n minderheid, het dit gedoen.—Romeine 11:1, 5.
’n Toekomstige bekering?
Sommige verwag egter ’n dramatiese verandering van gesindheid aan die kant van alle natuurlike Jode. „Die groot verdrukking, wat op die wegraping van die Kerk sal volg”, beweer een fundamentalistiese skrywer, „sal die middel tot Israel se bekering [tot die Christelike geloof] wees.” Dit is interessant dat Paulus wel in Romeine 11:25, 26 sê: „Die verharding [het] ten dele oor Israel gekom . . . totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word.”
Het Paulus hier die toekomstige massabekering van die Jode voorspel? Hoe kan dit wees, aangesien hy self gesê het dat net ’n oorblyfsel van die Jode Christus sou aanvaar? (Romeine 11:5). Paulus het weliswaar gesê dat die Jode ’n geestelike „verharding” sou ervaar totdat „die volheid”, of volle getal, van die nie-Jode in die Christelike gemeente ingegaan het.a Grieksgeleerde Richard Lenski toon egter dat die woord „totdat” in hierdie geval nie noodwendig aandui dat daar ’n latere bekering sal wees nie. (Vergelyk die gebruik van „totdat” in Handelinge 7:17, 18 en Openbaring 2:25.) Paulus sê in werklikheid dat die natuurlike Jode tot die einde toe ,verhard’ sal bly. In sy wysheid voltooi God egter „die volheid” van geestelike Israel (144 000) deur gelowige nie-Jode in die Christengemeente in te bring. „En so [nie deur ’n verandering van gesindheid aan die kant van die Joodse nasie nie] sal die hele [geestelike] Israel gered word.”
Sal die Jode die Beloofde Land „tot in ewigheid” besit?
Maar wat van die land waarop die staat Israel geleë is? Het God ’n besondere belang daarby? Baie, soos Protestantse teoloog William Hurst, dink so. Hurst het gesê: „Geen land op aarde was deur die eeue heen meer gesog of meer in die aandag van die nasies as die land van die Jood nie.” Hy haal Genesis 13:14, 15 aan en herinner ons daaraan dat God belowe het om hierdie land „tot in ewigheid” aan Abraham se nageslag te gee.
Staan Jehovah God dus onder verpligting om die land Israel teen ’n inval te beskerm? Indien wel, kan ’n Midde-Oosterse „Armageddon” voor die deur wees. Die feit is egter dat God bloot vir Abraham gesê het dat sy nageslag hierdie land, nie tot in ewigheid nie, maar vir ’n ,onbepaalde’ tydperk sou bewoonb (Genesis 13:14, 15, NW). Deur Jesus Christus te verwerp het hulle alle aanspraak op hierdie land—en op God se beskerming—verloor.
Armageddon—Waar?
In Openbaring 16:14, 16 toon die Bybel dat die wêreld se leiers deur demongeïnspireerde propaganda versamel sal word „vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Dit voeg by: „En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon.” Toon dit nie dat daar ’n finale oorlog in die Midde-Ooste sal wees nie? Nee, want daar bestaan nie werklik ’n plek met die naam „Armageddon” (letterlik, „berg van Megiddo”) nie. In Bybeltye was daar ’n Midde-Oosterse stad met die naam Megiddo. Dit was geleë in die laagte waarvan ’n foto op die voorblad van hierdie nommer verskyn. Talle belangrike veldslae het naby Megiddo plaasgevind. Maar daar was, en is, geen berg daar nie. „Armageddon” moet dus ’n simboliese plek wees. Simbolies waarvan?
Esegiël se profesie toon dat Armageddon ontketen word deur die aanval van ’n veelvolkige leër op „Israel”. Die aanvallers word gelei deur ,Gog van Magog’, wie se leërs „uit die agterhoeke van die Noorde” opruk. Wie is hierdie „Gog”? Fundamentalistiese teoloog Hal Lindsey sê met oortuiging (soos ook ander): „Daar is net een nasie aan die ,verre noorde’ van Israel—die U.S.S.R.” Hy bespiegel ook dat die lede van Gog se „leër” (in die Bybel genoem Mesek, Tubal, Persië, Kus, Put, Gomer en Bet-Togarma) Sowjet-bondgenote sal wees, veral Arabiese nasies.—Esegiël 38:1-9, 15, vgl. NAV.
Die nasies wat as Gog se bondgenote aangegee word, was egter nie in Esegiël se dag besonder prominent op die wêreldtoneel nie. Die profesie sou eers „aan die einde van die jare” vervul word, wanneer eertydse Israel se tradisionele vyande van die aardse toneel verdwyn het (Esegiël 38:8). Gog se obskure en afgeleë „land Magog” beeld dus nie die prominente en allesbehalwe afgeleë Sowjet-Unie af nie.
Wie is dit dan wat in ’n ,afgeleë’ land woon en wat groot vyandigheid teenoor God se volk koester? Die Bybel antwoord in Openbaring 12:7-9, 17: „Daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak . . . En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan.” Hoe het Satan gereageer toe hy uit die hemel gewerp is na die verlaagde geesteryk? Die Bybel sê: „En die draak was vertoornd op die vrou [God se hemelse organisasie], en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
Satan is „Gog”. Dekades lank voer Satan en sy demonhordes al oorlog teen die oorblyfsel van geestelike Israel—die gesalfde Christengemeente (Galasiërs 6:16). Hierdie Christene is oor die hele aarde versprei; hulle is nie op ’n sentrale plek wat deur ’n Midde-Oosterse bondgenootskap van troepe binnegeval kan word nie. Maar soos Esegiël voorspel het, woon hulle „in veiligheid” onder God se beskerming (Esegiël 38:11). Die hedendaagse natuurlike Israel, wat omring is deur vyandelike buurstate en binnelands te kampe het met politieke en maatskaplike moeilikhede, woon nouliks „in veiligheid”.
Die Bybel toon egter dat die wêreldtoneel ’n drastiese verandering sal ondergaan. „Die groot Babilon”, die wêreldryk van valse godsdiens, sal skielik vernietig word (Openbaring, hoofstuk 18). Met hierdie debakel van valse godsdiens sal die oorblywende, ware Christene weerloos lyk, en Satan, of „Gog”, sal nie die versoeking kan weerstaan om hulle te probeer uitwis nie. Hy sal daarvoor sorg dat „die konings van die aarde” onder demoninvloed versamel word „vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon.—Esegiël 38:12-16; Openbaring 16: 14, 16.
„Armageddon” is dus nie ’n kolletjie in die Midde-Ooste nie. Dit is eerder ’n wêreldsituasie. Die hele wêreld sal saamstaan teen Jehovah God en sy getuies (Jesaja 43: 10-12). Dit is Satan se venynige aanval op ware Christene—nie ’n slag tussen nasies iewers in die Midde-Ooste nie—wat God beweeg om oorlog te voer om Sy volk te beskerm!—Esegiël 38:18-23; Sagaria 2:8.
Ware Christene doen derhalwe vandag meer as om passief die Midde-Ooste dop te hou. Hulle hooftaak is om vir mense te vertel wat God se Woord werklik oor hierdie komende oorlog sê. Jehovah se Getuies het ’n wêreldwye reputasie opgebou vir die wyse waarop hulle hierdie boodskap onbevrees aan mense verkondig. Maar jy wonder dalk nog waarom ’n God van liefde so ’n oorlog sal bring. Is dit moontlik om dit te oorleef? Die volgende twee nommers van Die Wagtoring sal hierdie vrae behandel.
[Voetnote]
a Die Christendom se godsdienste begryp nie dat geestelike Israel uit ’n bepaalde getal, volgens die Bybel 144 000, bestaan nie (Openbaring 7:4). Gevolglik maak sommige die foutiewe gevolgtrekking dat Paulus ’n massabekering van die Jode sowel as „die hele heidense wêreld” voorspel het (The Jerusalem Bible). Paulus se gelykenis van die olyfboom in Romeine hoofstuk 11 het egter weinig sin tensy ’n bepaalde getal by die saak betrokke is.
b Hoewel die Hebreeuse woord ,oh·lam deur party vertalings met „vir ewig” vertaal word, beteken die woord, volgens Hebreeuskenner William Gesenius, „verborge tyd, d.w.s., obskuur en lank, waarvan die begin of einde onseker of onbepaald is”. Nelson’s Expository Dictionary of the Old Testament voeg by: „Met die voorsetsel ,ad kan die woord ,tot in die onbepaalde toekoms’ beteken.”—Vergelyk Deuteronomium 23:3, NW; 1 Samuel 1:22, NW.
[Prent op bladsy 5]
Is huidige gebeure in die Midde-Ooste voorlopers van Armageddon?
[Prent op bladsy 6]
Is Jerusalem die sleutel tot die gebeure wat Armageddon voorafgaan?