Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 1/15 bl. 4-7
  • Armageddon—Voorspel tot die Paradys!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Armageddon—Voorspel tot die Paradys!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die weg na Armageddon
  • ‘Na die plek wat genoem word Armageddon’
  • Daarna—’n vreedsame paradys!
  • ’n Skuilplek?
  • Armageddon—wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Armageddon—’n gelukkige begin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wat is die oorlog van Armageddon?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Sal Armageddon in Israel begin? – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 1/15 bl. 4-7

Armageddon—Voorspel tot die Paradys!

ISRAEL. Daardie naam word dikwels in godsdienskringe gemeld wanneer God se groot oorlog bespreek word. Dit is dus geen wonder dat baie mense se oë op die Midde-Ooste gevestig is nie! Die apostel Paulus, ’n Hebreër van geboorte, het egter geskryf: “Hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. . . . Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees [natuurlike Jode] is nie.” Die Joodse nasie het die voorreg verbeur om God se “Israel” te wees deur Jesus Christus as die Messias te verwerp (Romeine 9:6-8; Mattheüs 21:43). Wat dit betref, het die Hebreeuse profeet Moses gewaarsku dat daar droewige gevolge sou wees indien die natuurlike Israeliete volhard het op ’n weg van ongehoorsaamheid aan Jehovah God.—Deuteronomium 28:58-68.

Wie is dan die “Israel” waarna Paulus verwys het? Hy het self verduidelik: “Hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart” (Romeine 2:28, 29). Profesieë oor Armageddon is nie hoofsaaklik van toepassing op ’n streek in die Midde-Ooste nie, maar op ’n wêreldsituasie.

Die weg na Armageddon

Wêreldoorloë, aardbewings, hongersnode, ’n vermeerdering van die ongeregtigheid—Jesus het aangedui dat sulke toestande ’n “teken” sou uitmaak van sy onsigbare “teenwoordigheid” en van “die voleinding van die wêreld”. En soos hierdie tydskrif al dikwels Skriftuurlik bewys het, lewe ons sedert die kritieke jaar 1914 in die laaste dae van hierdie stelsel. Die hedendaagse vervulling van Jesus se volgende woorde is ’n bykomende bewys hiervan: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:3-14). Lede van die ware “Israel van God” het die voortou geneem met hierdie predikingswerk in 205 lande. “Die einde” moet gevolglik baie naby wees.

Maar hoe kom “die einde”? ’n Taamlik volledige beeld kan verkry word van die profesieë wat dwarsdeur die Bybel versprei is.

Ter toeligting: Net soos Daniël voorspel het, is die kommunistiese “koning van die Noorde” en die mededingende, nie-kommunistiese “koning van die Suide” op die oomblik gewikkel in ’n stryd om wêreldoorheersing. Wat volg daarop? Daniël het voorspel dat die kommunistiese “koning van die Noorde” met geweld beheer sou verkry van waardevolle materiële hulpbronne, afgebeeld deur “goud”, “silwer” en “al die kosbaarhede”.—Daniël 11:40-43.a

Wêreldleiers sal nietemin op die een of ander manier ’n ooreenkoms aangaan. Hulle sal uitroep: “Vrede en veiligheid” (1 Thessalonicense 5:1-3). Die gevolglike euforie sal egter gou verpletter word. Politieke leiers, wat sat sal wees vir inmenging deur wêreldse godsdiens, sal verenig om dit uit te wis—vinning, beslissend. Maar dit is Jehovah God self wat toesien dat hierdie besonder laakbare deel van Satan se organisasie, valse godsdiens, verwoes word.—Openbaring 17:1-18.

Die ware “Israel” sal egter oorlewe, hoewel hulle nie tydens ’n wegraping van die aarde af weggeneem sal word, soos hedendaagse predikers beweer nie. Die profeet Esegiël toon wat gaan gebeur deur eers aan te haal wat Satan (hier Gog genoem) sal sê: “Ek sal kom by rustige mense [Jehovah se volk] wat in veiligheid woon.” Aangespoor deur sy wrewelige haat vir God se “vrou”, sal Satan ware Christene aanval (Esegiël 38:2, 11, 12). Die beslissende stryd, wat eeue gelede voorspel is, sal dan sy hoogtepunt bereik.

In antwoord op Gog se aanval, sal Jehovah optree om Sy volk te verdedig. Hulle sal bewaar word, tot die regverdiging van God se heilige naam. En dit sal gebeur omdat Jehovah self vir Armageddon verantwoordelik is.—Esegiël 38:18-23.

‘Na die plek wat genoem word Armageddon’

In die Bybelboek Openbaring is daar voorspel dat “onreine geeste” sou “uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Aangespoor deur Satan-geïnspireerde propaganda sal die “konings” versamel word “op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon [“die berg Megiddo”]”.—Openbaring 16:13-16.

Daar bestaan nie werklik ’n berg met daardie naam nie. In Bybeltye het daar inderdaad baie veldslae naby ’n stad genaamd Megiddo plaasgevind. Maar daar was en is geen berg daar nie—slegs ’n heuwel. En dit sal ook nie vir al die leërs van die wêreld moontlik wees om op die Esdraelon-vlakte, onderkant Megiddo, in te pas, soos baie dink nie. Hoewel die woord “Armageddon” klaarblyklik van Megiddo af kom, lê die ware betekenis daarvan in die betekenis van die woord, dit wil sê, “berg van troepemagte”. Dit toon dat Armageddon nie ’n plek is nie, maar eerder ’n situasie: die versameling of opstelling van die wêreld teen Jehovah God en sy volk.

Op daardie tydstip tree Jehovah self in die stryd. Die politieke organisasies sal vernietig word terwyl hulle nog “lewend” of in werking is (Openbaring 19:20). Paniek sal uitbreek wanneer regeringsgesag verbrokkel! Die aarde se bewoners sal dan ’n onbeskryflike vrees ervaar wanneer Jehovah sy arsenaal vol bonatuurlike wapens begin gebruik (Esegiël 38:18-23: Sagaria 14:12, 13). “En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde.”—Jeremia 25:33.

Jesus Christus, die vernaamste “saad” van God se “vrou”, of hemelse organisasie, sal die regverdige engeleleërskare tot oorwinning aanvoer. Satan sal verslaan en vir ’n duisend jaar in ’n “afgrond” van bedwang gewerp word (Openbaring 20:1-3). En Jehovah se volk sou goddelike beskerming geniet het sodat hulle deur God se groot oorlog heen bewaar is.—Mattheüs 24:21, 22, 37-39.

Daarna—’n vreedsame paradys!

Die onmiddellike nadraai van Armageddon sal ongetwyfeld ’n verwoeste planeet wees. Dit sal ’n ontsaglike taak wees om die aarde in ’n paradys om te skep. Maar dit sal gedoen word onder die leiding van God se hemelse regering. Mettertyd sal die hele aarde net so mooi wees soos die mens se eerste tuiste, die tuin van Eden, en sal regverdige mense “hulle verlustig oor groot vrede” wat rondom ons aardbol sal heers.—Psalm 37:11.

Die aarde sal eindelik ’n paradys word waar die mensdom talle geestelike en materiële seëninge sal geniet. “Die tabernakel van God” sal immers “by die mense” wees! En namate mense gehoorsaam is aan die voorskrifte van die hemelse regering sal God ‘al die trane van hulle oë afvee en sal daar geen dood meer wees nie; ook nie droefheid en geween en moeite nie’ (Openbaring 21:1-4). Glorieryke volmaaktheid sal siekte, droefheid en selfs die dood vervang.

’n Skuilplek?

Dit moet dus vir jou van die allergrootste belang wees om Armageddon te oorlewe en in daardie vreedsame paradys in te gaan. Veiligheid sal egter nie onder die wêreld se talle godsdienssektes, dié van die valse Christendom inkluis, gevind word nie. Hulle skik hulle nie na Jesus se verklaring dat sy volgelinge “nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Hulle verkondig ook nie “die evangelie van die koninkryk” nie (Mattheüs 24:14). Die sogenaamde Christengelowe is in honderde sektes verdeel en openbaar nie die liefde wat Jesus gesê het ’n kenmerk van sy ware volgelinge sou wees nie.—Johannes 13:35.

Waar is die skuilplek dan? Dit is by die ware “Israel van God” (Galasiërs 6:16). Hierdie gesalfde Christene is nie onder die talle sektes van die Christendom verstrooi nie, maar is deel van een verenigde organisasie. En meer as 2 000 000 wat hoop om “die groot verdrukking” te oorlewe, is aan Jesus se gesalfde volgelinge verbonde (Openbaring 7:9, 14). Hierdie georganiseerde lowers van God ‘roep die naam van Jehovah aan’ en het die vooruitsig om ‘gered te word’ (Joël 2:32). Ja, die lede van die ware “Israel” roep nie alleen die goddelike naam aan nie, maar dra ook daardie naam as Jehovah se Getuies. Hulle sal jou met graagte help om meer te leer oor hoe jy tydens God se groot oorlog behoue kan bly met die hoop op ewige lewe in ’n vreedsame paradys.

[Voetnoot]

a Kyk Die Wagtoring van 1 Oktober 1981, bladsye 3-7.

[Prent op bladsy 6]

Die uitroep “Vrede en veiligheid” sal ’n volskaalse aanval op godsdiens voorafgaan!

[Prent op bladsy 7]

Armageddon is nie hierdie gebied by Megiddo nie, maar ’n simboliese wêreldsituasie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel