Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 3/1 bl. 25-30
  • Hoe ek ,in gunstige tyd en in moeilike tyd’ gepreek het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ek ,in gunstige tyd en in moeilike tyd’ gepreek het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek preek in die agterveld
  • By Australië se hoofkwartier
  • Na Nieu-Seeland
  • Die Verre Ooste
  • Eilande van die Stille Oseaan
  • Terug na Fidji
  • Amerikaans-Samoa
  • Wes-Samoa
  • Terug Nieu-Seeland toe
  • Terugkeer na Engeland
  • My lewe volgens Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Deel 3—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Vertroue in Jehovah bring geluk mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 3/1 bl. 25-30

Hoe ek ,in gunstige tyd en in moeilike tyd’ gepreek het

Soos vertel deur Harold E. Gill

AUSTRALIË se agterveld het my geroep toe ek ’n jongman van 19 was. Na die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n ekonomiese depressie in Engeland. Miljoene, ek inkluis, kon nie werk kry nie. My vader het my een oggend ’n koerantberig gewys oor ’n regeringsplan om jeugdiges te help om na Queensland, Australië te emigreer. In 1922 het 25 van ons dus per skip van Londen af vertrek.

My eerste werk was in ’n wingerd. Maar na ’n paar maande het ek verskuif na ’n groot eiendom wat vir die kweek van koring voorberei is. Daar het ek baie dinge geleer: hoe om koeie te melk, om ’n byl en ’n treksaag te gebruik, om die tyd volgens die son te lees tot binne tien minute, om ’n giftige slang veilig dood te maak, om met ’n span perde te ploeg, om heinings te bou, om ’n boom te laat val waar jy wil hê hy moet val, en om talle ander werkies te doen wat ’n deel van die lewe in in die agterveld van Australië is.

Ek het daar ook ’n plaag grassprinkane gesien. Daar was so baie dat vragmotorbestuurders kettings om die wiele moes sit sodat hulle teen die heuwels kon uitkom. By ’n ander geleentheid het duisende muise ontsaglike skade in die skuur aangerig. Maar ’n week later het hulle net so vinnig weggetrek as wat hulle gekom het. En ek het die hartverskeurende afgryse van ’n droogte deurgemaak toe skape by die duisende oral dood gelê het.

In 1927 het ek onbewerkte grond naby Gympie, suidelike Queensland, gehuur, dit skoongemaak en piesangs geplant. My bure, Tom en Alec Dobson, was Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Ek het eendag gemeld dat ek vir ’n kort besoek na Brisbane, die staat se hoofstad, gaan. Hulle het my genooi om vir hulle ouers te gaan kuier. Ek het dit gedoen, en het die hele dag die Bybel met hulle vader bespreek. Wat my opgeval het, was die eenvoud van die Bybel se groot, deurlopende tema​—die Koninkryk van God. Ek het ook van die naam „Internasionale Bybelstudente” gehou. Dit het my laat dink aan ’n internasionale familie, almal studente van die Bybel, wat God eensgesind aanbid. Ek het met J. F. Rutherford se boek Creation na die piesangs teruggekeer. Toe ek dit gelees het, het ek uiteindelik antwoorde op baie van my vrae gekry en derhalwe meer lektuur bestel.

Hoe meer ek gelees het, hoe meer wou ek ander van die Koninkryk vertel. As sekretaris van die omgewing se sosiale en krieketklub het ek baie vriende gehad, en ek was seker dat hulle ook geesdriftig sou wees oor die waarhede wat ek geleer het. Ek het dus ’n ou motorfiets gekoop om mee rond te ry. Maar tot my groot verbasing het ek gevind dat wat my met geesdrif gevul het hulle koud gelaat het. Hulle het gedink dat ek mal is. Dalk was ek ’n bietjie te opdringerig, maar ek was so vol van wat ek geleer het!

Dit was duidelik dat ek onderrig en opleiding van die Bybelstudente moes kry. Ek het derhalwe die piesangplantasie verkoop en met ’n gemeente in Brisbane begin assosieer. Ek is ses maande later, op 2 April 1928, gedoop. Toe het ek werk op ’n ander plaas aanvaar. Maar soos die maande verbygegaan het, het ek al hoe rusteloser geword. Die lewe in die agterveld wat ek so geniet het, het my nie meer bevredig nie. Ek het ’n al hoe sterker begeerte verkry om my tyd en energie aan ’n ander soort oes te bestee. Die apostel Paulus se raad aan Timotheüs het my beïndruk: „Preek die woord, hou jou daarmee besig soos met ’n dringende saak, in gunstige tyd, in moeilike tyd . . . doen die werk van ’n evangelieprediker.”​—2 Timotheüs 4:2, 5, NW.

Ek was gretig om aan die werk te spring, en het aan die Wagtoringgenootskap in Sydney geskryf en aansoek gedoen om ’n aanstelling in die geestelike oes as ’n voltydse bedienaar, ’n pionier. Hulle het my aansoek aanvaar en my in 1929 na Toowoomba, suidelike Queensland, gestuur.

Ek preek in die agterveld

’n Paar maande later het ek ’n brief van die Genootskap ontvang waarin hulle my vertel het van ’n kampeerwa wat te koop was en voorgestel het dat as ek dit koop George Schuett my kon vergesel. En dit is wat gebeur het. George was in sy sestigerjare en was sy lewe lank al ’n student van die Bybel. Ek was nog in my twintigerjare en baie onervare. Sy hulp, raad en Bybelkennis was vir my van onskatbare waarde, hoewel ek seker is dat ek sy geduld dikwels swaar beproef het.

Ons gebied het oor 260 000 vierkante kilometer in afgeleë westelike Queensland gestrek. Ons het dit drie keer gedek. Die dorpies was klein en ver uit mekaar. Selfs die skaap- en beesplase was 95 tot 115 kilometer van mekaar af. Hierdie afgesonderde mense het die stel van tien hardebandboeke wat ons teen ’n bydrae van slegs 10 sjielings (omtrent R2,00) aangebied het gretig geneem. Aangesien hulle baie gasvry was, het ons nooit ’n gebrek aan kos of slaapplek gehad nie.

In die agterveld was die paaie net spore. Ons het die hele jaar lank wielkettings byderhand gehad vir die modder, sifdraad vir die sand, en ’n windas om ons uit die moeilikheid te trek. By een geleentheid het ’n vloed ons ’n week lank afgesny. Ons kos en water was amper op, maar ons het dit oorleef. Op ’n ander keer het ons in die nabyheid van ’n veldbrand met ’n hobbelrige veldpaadjie langs gery. Skielik het ons besef dat die wind gedraai het en dat die vuur na ons kant toe kom. Die paadjie was so smal dat ons nie kon omdraai nie. AI wat ons kon doen, was om te bid en vet te gee. Dit was so hittete. Ek sidder nog as ek dink hoe na ons aan die dood gekom het.

By Australië se hoofkwartier

In 1931 het Alex MacGillivray, die takopsiener, my genooi om by die Bethelgesin in Sydney aan te sluit. Ek was verheug maar ’n bietjie bang. Die Genootskap se Australiese takkantoor was toe verantwoordelik vir die verkondiging van die goeie nuus in China, die meeste lande in die Verre Ooste en die eilande van die Stille Suidsee​—’n gebied wat oor meer as ’n kwart van die aardbol strek. Broer J. F. Rutherford, destyds die Genootskap se president, was gretig dat die „goeie nuus” na daardie gebiede geneem word (Mattheüs 24:14, NW). Broer Mac, soos ons almal die takopsiener genoem het, was net so gretig dat dit gedoen word. Toe ek Bethel toe is, het ek nooit gedroom dat ek weldra party van daardie einste plekke sou besoek nie.

Die sendingwerk bring altyd ontberinge mee. Maar in daardie dae voor die Tweede Wêreldoorlog was daar ook geen Gileadskool om sendelinge op te lei nie, en daar was geen sendinghuise nie. Verbindingsmiddele was stadig, en dit het die afsondering vererger. Daar was geen geldelike hulp benewens die karige bydraes vir die lektuur wat die Genootskap, danksy die vrygewigheid van die broers, ver onder kosprys voorsien het nie. Diegene wat gehoor gegee het aan die oproep vir evangeliebedienaars moes in die volste sin van die woord baanbrekers, pioniers, wees. Die werk het behels dat ons, gewoonlik in pare, na die wemelende stede van die Ooste of na die afgesonderde eilande van die Stille Oseaan gaan om daar saadjies van Bybelwaarheid in nuwe grond te plant. Ons het te kampe gehad met heeltemal vreemde opvattinge, tale en lewenswyses, en dit het algehele vertroue in en lojaliteit aan Jehovah geverg.

Na Nieu-Seeland

My eerste oorsese toewysing was in 1932 na Nieu-Seeland. Ek moes besondere aandag skenk aan die organisering van die predikingswerk, veral die pionierdiens. Ek het dus benewens besoeke aan gemeentes saam met die pioniers in die veld gewerk. Party van hulle het reisende groepe gevorm en hulle met kampeertoerusting en voertuie, die betroubare fiets inkluis, toegerus. Ek het ’n ruk lank saam met so ’n groep in die Suideiland gedien.

By een geleentheid het ons die Stadskouburg in Christchurch gehuur om ’n lesing deur broer Rutherford op grammofoonplate aan te bied. ’n Jongman, Jim Tait, het gekom en groot belangstelling getoon. Ek het hom weer die volgende aand teëgekom en sy geesdrif het my so beïndruk dat ek voorgestel het dat hy dit oorweeg om by ons pioniergroep aan te sluit. Hoe voorbarig sou so ’n uitnodiging vandag tog wees, want hy was nog nie gedoop nie! Maar hy het huis toe gegaan, sy paar besittings op sy fiets gepak, sy ouers gegroet en by ons gelukkige spannetjie aangesluit. Hy is vandag nog ’n getroue Getuie. Dit was inderdaad ,gunstige tye’.

Die Verre Ooste

In 1936 het ek na Australië teruggekeer om instruksies te ontvang oor ’n reis na Batavia (nou Djakarta) en Singapoer. Ek moes aanbeveel watter stad die geskikste vir ’n kantoor sou wees sodat ons in nouer voeling met ons sendelinge in die Verre Ooste kon wees. Ek het besluit dat Singapoer ’n beter middelpunt sou wees en daar aangebly om die kantoor te bestuur en in die stad te preek. Jehovah het die werk geseën en binne 18 maande is die Singapoer-gemeente gestig.

Later het Singapoer die basis geword vir die Genootskap se 16-meter-kits Lightbearer. Die bemanning, ’n groep bedienaars, het in talle hawens van Indonesië en Maleisië, soos dit vandag heet, besoek afgelê en gepreek. Een van my take was om hulle van lektuur te voorsien. Ek onthou dat hulle in 1936 alleen 10 500 publikasies in tien tale versprei het.

Eilande van die Stille Oseaan

In Julie 1937 is ek teruggeroep Sydney toe en na Fidji gestuur. Aangesien ons lektuur daar verbied was, het ons ons daarop toegelê om met ’n klankmotor te preek, en ons het ’n Fidjiaanse vertaling van broer Rutherford se lesings gebruik wat deur Ted Heatley, ’n Fidjiaan, vertaal is. Hy het my vergesel om die praatwerk oor die luidspreker te doen. Ons het na elke dorpie op Viti Levu (Groot Fidji), die hoofeiland, gegaan en is vriendelik ontvang. Ons het ook gehelp om die gemeente in Suva te vestig en die huis-tot-huispredikingswerk uit te brei.

In 1938 het broer Rutherford se besoek aan Australië en Nieu-Seeland groot publisiteit geniet. Ofskoon baie daarvan vyandig was, het dit mense se nuuskierigheid geprikkel. Ek is Nieu-Seeland toe om reëlings vir sy besoek aldaar te tref. Toe ek hom vir die vergadering na Auckland se Stadsaal neem, het ek sy aandag gevestig op ’n koerantplakkaat met ’n verdraaiing van die titel van ’n lesing wat hy jare vantevore gehou het. Die plakkaat het gelui: „Miljoene wat nou lewe, sal liewer sterf as om na regter Rutherford te luister.” Hy het lekker gelag. Dit was alles goeie publisiteit. Die Stadsaal was stampvol.

Terug na Fidji

Op ’n dag in 1940, terwyl ek besig was in die Sydney-kantoor, het broer Mac my gevra: „Is jou paspoort in orde?” Ek het bevestigend geantwoord. „Daar’s ’n boot wat oor drie dae na Fidji vertrek. Ek wil hê jy moet soontoe gaan en die regering hof toe vat oor ons lektuur wat verbied is.” Ek het toe ’n doos vol van die gewraakte lektuur gepak en na Fidji teruggekeer. Omdat die aanbevole prokureur bang was, het ek hom gelos en ’n ander een gevind wat nie heeltemal so bang was nie. Hy het gesê dat hy die saak sou voorberei maar dit nie in die hof sou voorlê nie. Gevolglik het ek die saak behartig, met die prokureur-generaal as my Opponent. Soos sake verloop het, het ons op ’n tegniese punt in verband met tyd verloor omdat die eerste prokureur geweifel het.

Na daardie terugslag het ek aansoek gedoen om ’n afspraak met die goewerneur, sir Harry Charles Luke, en hy het dit toegestaan. Die eerste minister en die polisiehoof was by die goewerneur. Ek het Jehovah om bystand gebid. Toe ek ons saak voorlê, het ek bewys gelewer dat die Rooms-Katolieke Kerk hoofsaaklik vir die verbod verantwoordelik was. Na die bespreking het die goewerneur na my toe gekom, die verbode boeke wat ek as bewys voorgelê het aan my teruggegee en saggies gesê: „Jy weet, mnr. Gill, ek is nie heeltemal so onbewus van die konkelary van die Rooms-Katolieke hiërargie soos jy dink nie. Ek stel voor dat julle voortgaan met julle evangelisasiewerk.” Ek het hom bedank en ’n kabelgram na Sydney gestuur om ’n besending lektuur te bestel.

Amerikaans-Samoa

Ek is daarna na Amerikaans-Samoa gestuur. Gedurende my drie maande aldaar het ek by opperhoof Taliu Taffa, hooftolk vir die regering en ’n man van groot aansien, gebly. Sy niggie, ’n Getuie in Fidji, het hom laat weet dat ek kom. Sy glimlaggende gesig het my ingewag toe die boot vasgemeer het. Hy was dwarsdeur my verblyf baie gasvry. Sy gesin het natuurlik van die boorlingkos gelewe, meestal rou vis en jam. Die Samoane floreer daarop, maar na ’n ruk het dit vir my te veel geword. Ek het in bloedvinte uitgeslaan en uitgehonger geraak vir Europese kos, maar ek het net nie die geld gehad om dit te koop nie. Wel, teen daardie tyd was ek gewoond om ,moeilike tye’ te oorleef.

Ek moes 3 500 eksemplare van die pasvertaalde boekie Where Are the Dead? in AmerikaansSamoa versprei. By my aankoms het ek ’n beleefdheidsbesoek by die goewerneur afgelê om hom van die boekie te vertel en hom ’n eksemplaar te gee. Hy het gemeen dat daar reeds genoeg godsdiensverteenwoordiging op die eiland was​—die vloot se kapelaan, die Londense Sendinggenootskap, die Sewendedagadventiste en die Rooms-Katolieke. Maar hy het aan die hand gedoen dat ek vir hulle elkeen ’n boekie gee en hulle vra om die prokureur-generaal in kennis te stel of hulle meen dit geskik is vir verspreiding. Die kapelaan was sarkasties dog nie vyandig nie. Die Adventiste het nie omgegee wat ek doen nie solank ek nie een van hulle kudde wegneem nie. Die Sendinggenootskap se predikant was inskiklik toe ons eers gemeenskaplike terrein​—die pousdom—​betree het. Ek het nooit so ver gekom om die Katolieke priester te spreek nie, want iets eienaardigs het gebeur.

Ek het ’n eksemplaar van die boekie vir die Samoaanse polisieman gegee wat my na die goewerneur begelei het. Toe ek die polisieman ’n paar dae later teëkom, het ek hom gevra of hy dit geniet het. Hy het gesê: „My baas [die prokureur-generaal] het vir my gesê: ,Gaan vra jou priester of dit goeie boek is.’ Ek kom onder boom en lees boek. Ek sê: ,Hierdie is baie goeie boek, maar as ek dit vir priester wys, sal hy sê: „Dis slegte boek.”’ Ek sê vir my baas: ,Meneer, my priester sê: „Baie goeie boek.”’”

Terwyl ek later by die dokke getuig het, het die prokureur-generaal my genader en na sy kantoor genooi. Daar het ek die boekie se boodskap uiteengesit terwyl hy daarna gekyk het. Toe het hy die telefoon opgetel en beveel dat dit vrygestel kan word. Die tyd het inderdaad uiters ,gunstig’ geword! Ek het ’n fiets gekoop en begin om die boekies te versprei. Ek het binne drie maande alles behalwe een houer met 350 boekies versprei.

Wes-Samoa

Hierdie oorblywende boekies het ek na Wes-Samoa, ’n paar uur daarvandaan per boot, geneem. Die nuus moes vooruit getrek het, want by my aankoms het ’n polisieman vir my gesê dat ek nie aan wal mag gaan nie. Ek het my paspoort uitgehaal en vir hom die ietwat hoogdrawende aanhef gelees wat diegene wat dit mag aangaan, versoek om Sy Britse Majesteit se onderdaan „sonder hindernis deur te laat en hom sover moontlik bystand en beskerming te verleen”. Dit het my ’n onderhoud met die goewerneur besorg, wat my toegelaat het om aan te bly tot die volgende boot vyf dae later vertrek het. Ek het ’n fiets gehuur en die eiland bereis en die boekies wyd en syd versprei.

Toe is ek terug na Amerikaans-Samoa. Die oorlog het in die Stille Oseaan gewoed en patriotiese gevoelens het hoog geloop. Omdat die owerhede nie ons streng neutrale standpunt kon verstaan nie, het hulle ons werk in baie plekke verbied (Johannes 15: 19). Maar hulle het my beleef gevra om Samoa te verlaat en ek het teruggekeer na Australië.

Terug Nieu-Seeland toe

Teen daardie tyd het ’n „moeilike tyd” vir my broers in Nieu-Seeland aangebreek. Dit was my volgende toewysing. Maar in Oktober 1940, kort na my aankoms, is ons werk ook daar verbied. Talle briewe en telegramme aan die regering het geen reaksie uitgelok nie. Ons het onder meer hierdie telegram aan die prokureur-generaal gestuur: „WIL U REGERING ONS DIE REG ONTNEEM OM AS CHRISTENE BYMEKAAR TE KOM EN GOD MET SANG, GEBED, BYBELSTUDIE TE AANBID? ANTWOORD ASSEBLIEF JA OF NEE.”

Die volgende dag het die eerste minister se sekretaris gebel en ons vir ’n onderhoud genooi, wat ek en broer Robert Lazenby aanvaar het. By die eerste minister, Peter Fraser, was die prokureur-generaal en ’n hoogaangeskrewe polisiebeampte. Hulle was vriendelik en hoflik, maar het ons die indruk gegee dat hulle hande afgekap is. Op 8 Mei 1941 het die regering egter die verbod gewysig sodat ons vergaderinge kon hou, ofskoon ons dit al die tyd in klein groepies in huise gehou het. Ons kon ook ongehinderd preek solank ons nie ons lektuur versprei het nie. Die verbod is later, in Maart 1945, terwyl die oorlog in die Stille Oseaan nog gewoed het heeltemal opgehef.

Terugkeer na Engeland

In 1941 is ek terug Sydney toe. Teen daardie tyd was ons werk ook in Australië verbied. Na beraadslaging het broer Mac ingestem dat ek Londen toe gaan om te kyk of ek daar enigiets omtrent die verbooie kon doen. Ek het op 2 Oktober 1941 per boot vertrek. Maar weens die oorlogsgevare het ek eers op 22 Desember, feitlik drie maande later, in Liverpool aangekom.

In Londen het ek probeer om ’n onderhoud te verkry met lord Alexander, minister van marine en ’n vriend van my vader. Maar in die hitte van die oorlog was dit nie moontlik nie. Trouens, Londen het ons probleme as die sake van slegs die betrokke regerings beskou.

Na ’n besoek aan die Genootskap se hoofkwartier in New York het ek teruggekeer Engeland toe en vir my ’n kaartjie na Australië gekoop. My bagasie is in Londen deurgesoek en verseël en ek is na die skip toe. Die broers by wie ek gebly het, het vir my ’n paar geskenke vir die reis gegee en ek het dit in my nagtas gesit. Toe ek aan boord gaan, het ’n doeane-beampte gevra: „Waarom is dié goed nie verseel nie?” My eenvoudige verduideliking het hulle nie bevredig nie; hulle het my dus in hegtenis geneem, laat ontklee en, hoewel hulle niks inkriminerends gevind het nie, my daarvan beskuldig dat ek visentering probeer ontduik het. Ek het ’n maand in die Walton-gevangenis deurgebring. Tot vandag toe is ek daarvan oortuig dat ek vals beskuldig is om te voorkom dat ek na Australië terugkeer.

Daarna was dit onmoontlik om passasie te kry. Ek het my toe maar in Engeland gevestig. Ek het eers ’n vrugbare bediening in Alfreton, Derbyshire, geniet. Later het ek gemeentes as ’n kringopsiener besoek. Toe is ek Malta toe om te dien waar daar baie hulp nodig was. Nou is ek terug in Sheffield, die stad wat ek 62 jaar gelede as ’n jong seun verlaat het. Dit is my voorreg om as sekretaris van die Ecclesall-gemeente, een van 15 in die stad, te dien. En gedurende die afgelope jare het ek die goeie ondersteuning geniet van my vrou, Joan, ’n lid van ’n gesin met wie ek 35 jaar gelede gestudeer het.

Ek kan nou terugkyk oor ’n halwe eeu van diens as ’n evangeliedienaar, ,in gunstige tyd sowel as in moeilike tyd’. Hoe kosbaar is die twee eienskappe vertroue en lojaliteit tog vir my! Ja, vertroue op Jehovah, ongeag die omstandighede. Vertroue dat hy en sy groot leërskare engele met ons is. Ons is nooit alleen nie.

En bly lojaal. Moenie net aan Jehovah en Jesus Christus lojaal bly nie, maar ook aan God se aardse organisasie wat ons voed en koester. Ons lojaliteit word weliswaar op die proef gestel deur aanpassings in die organisasie, deur moeilikheid wat oor ons gebring word of wat uit ons eie dwaasheid spruit. Maar die kosbare eienskappe lojaliteit en vertroue sal ons deurhelp​—deur ,gunstige tye sowel as moeilike tye’.

[Prent op bladsy 26]

Pionierswerk in die agterveld, Queensland, Australië

[Prent op bladsy 28]

Saam met die bemanning van Lightbearer​—Singapoer

[Prent op bladsy 29]

My Samoaanse gasheer, opperhoof Taliu Taffa

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel