Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 9/1 bl. 10-14
  • Vertroue in Jehovah bring geluk mee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertroue in Jehovah bring geluk mee
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek vind in Indië ’n doel in die lewe
  • Terug in Engeland
  • Uitgebreide bediening in Kanada
  • Jare onder verbod
  • Lewe as ’n reisende opsiener
  • Bykomende diensvoorregte
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • My lewe volgens Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 9/1 bl. 10-14

Vertroue in Jehovah bring geluk mee

SOOS VERTEL DEUR JACK HALLIDAY NATHAN

Jy ken moontlik die uitdrukking: “Met ’n silwer lepel in sy mond gebore.” Wel, toe ek in 1897 gebore is, was dit amper letterlik met my die geval.

DIT was die 60ste jaar van koningin Victoria se heerskappy, haar diamantjubileum. Kinders wat daardie jaar in Engeland gebore is, is ’n silwer lepel gegee. Die Britse Ryk was in sy volle glorie weens die voordele van die Industriële Omwenteling in die land self sowel as die voorspoedige handel uit die florerende kolonies in die buiteland.

My oupa was ’n Jood en my pa het ’n Hebraïkus geword wat ’n goeie kennis van die Hebreeuse Skrifte gehad het. Maar my ouma was die dogter van ’n Anglikaanse biskop, en weens haar invloed het my pa Jesus Christus as die Messias aanvaar. Die geskrifte van Charles Taze Russell het albei my ouers beïnvloed, en daarom het ons nooit aan die Drie-eenheid of die leerstelling oor die helse vuur geglo nie.

Gedurende my kinderjare was perde nog die vernaamste vervoermiddel in Engeland, en daar was min outomobiele, of motors. In 1913 het ek weens my liefde vir perde by ’n perde-eenheid van die landweer (milisie) aangesluit. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, is ek na die gewone leër oorgeplaas en na die Griekse front gestuur, waar ek malaria opgedoen het. Ek is later as ’n masjiengeweerskutter na die wesfront in Frankryk gestuur en uiteindelik in 1917 deur die Duitsers gevange geneem.

Ek vind in Indië ’n doel in die lewe

Nadat die oorlog in 1918 geëindig het, was daar geen werk in Engeland beskikbaar nie, en ek het gevolglik weer by die leër aangesluit en as deel van die vredesgarnisoen na Indië gegaan. In Mei 1920 het die malaria weer opgevlam, en ek is na die heuwels gestuur om te herstel. Daar het ek al die boeke gelees wat ek in die hande kon kry, onder andere die Bybel. Skriflesing het my belangstelling in die Heer se wederkoms vergroot.

Maande later, in Kanpur, het ek ’n Bybelstudiegroep gestig in die hoop om meer oor die Heer se wederkoms te leer. Daar het ek Fredrick James, ’n voormalige Britse soldaat wat toe ’n ywerige Bybelstudent was, ontmoet. Hy het aan my verduidelik dat Jesus al van 1914 af teenwoordig is, hoewel dit vir die mens onsigbaar is. Dit was die opwindendste nuus wat ek nog gehoor het. My eerste gedagte was om die leër te verlaat. Die bloedvergieting en dood tydens die oorlog in Europa het my gewalg. Ek wou ’n vreedsame sendeling wees en hierdie goeie nuus oor Christus se teenwoordigheid verkondig.

Maar die leër wou my nie ontslaan nie. Pleks daarvan het hulle my na Wes-Indië, nou Pakistan, gestuur. Terwyl ek daar was, het ek Studies in the Scriptures, deur Charles Taze Russell, gelees en is ek meer as ooit daarvan oortuig dat ek gehoor moet gee aan die oproep om te preek. Ek het nagmerries begin kry wat my terneergedruk gelaat het. Ek het uit radeloosheid aan broer James geskryf, en hy het my na sy huis in Kanpur genooi. Die dag toe ek daar aankom, was dit die herdenking van die Heer se dood. Daardie dag het ’n groot indruk op my lewe gemaak—ek het my voorgeneem om ongetroud te bly en om die voltydse bediening my doel in die lewe te maak.

Terug in Engeland

Laat in 1921 is ek teruggestuur Engeland toe en in die lente van 1922 is ek uit die leër ontslaan. Daardie somer het J. F. Rutherford, die tweede president van die Wagtoringgenootskap, na Engeland gekom, en ek het saam met my ouers na sy toespraak in die Royal Albert Hall, Londen, gaan luister. Daarna het ek aangebied om by Bethel, soos die takkantore van die Wagtoringgenootskap genoem word, te gaan werk, maar ek is vriendelik aangespoor om eers kolporteurwerk (voltydse predikingswerk) te doen. Daarom het ek uit my werk bedank en ’n gebiedstoewysing in die suide van Engeland aanvaar. Ek het my loopbaan as voltydse bedienaar begin sonder enige ondervinding, met ’n kroon (R1,30) in my sak en vertroue in Jehovah. Ek is omstreeks Maart 1924 na Bethel genooi.

Ek is egter die volgende jaar gevra om Bethel te verlaat, en ek was verpletter, want ek het gevoel ek word gedissiplineer vir iets waarvoor ek nie verantwoordelik was nie. In daardie kort tydjie het Bethel my lewe geword. Maar omdat ek die probleem voor Jehovah in gebed gebring het en vertrou het dat sy wil gedoen sou word, kon ek met vreugde werk in die pioniertoewysing wat ek ontvang het. In Mei 1926 is ek teruggenooi na Bethel, waar ek die volgende 11 jaar gedien het.

Broer Rutherford het Engeland weer in 1936 besoek en my genooi om na Kanada te gaan om daar aan die Koninkrykswerk deel te neem. Maar weens ’n misverstand het ek my broer Rutherford se misnoeë op die hals gehaal omdat ek vertroulike inligting bekend gemaak het. Ek onthou nog presies wat hy gesê het: “Jack, ek kan jou nie vertrou nie. Skeur op jou kaartjies!” Wat ’n ontstellende ondervinding! Maar ek het daardie dissipline baie nodig gehad, en ek het die volgende agt maande saam met ’n ander broer as ’n pionier gedien. Hierdie diensvoorreg het my uit my terneergedruktheid gelig, en ek het uit die dissipline geleer.

Uitgebreide bediening in Kanada

Ongeveer ’n jaar later, gedurende broer Rutherford se volgende besoek aan Engeland, het hy weer van Kanada gepraat. Ek het die geleentheid aangegryp en ’n toewysing gretig aanvaar. Nadat ek ’n paar maande in die Kanadese Bethel gedien het, is ek as ’n reisende verteenwoordiger van die Genootskap in suidwestelike Ontario aangestel. Die meeste van die gemeentes daar was klein en het baie aanmoediging nodig gehad. Maar wat ’n vreugde was daardie vroeë jare tog, ondanks liggaamlike ontberinge weens ongunstige weerstoestande en onsekere vervoer!

Ek sal nooit die hartlikheid en die waardering vir geestelike dinge vergeet wat een klein Indiane-gemeente naby Brantford getoon het nie. Dit was winter, en die sneeu was diep, wat dit vir my Model T-Ford moeilik gemaak het om deur te kom. Niemand het my verwag nie, en toe ek daar aankom, het ek gesien dat die broers in die woud ingegaan het om vuurhout te gaan haal. Ek het hulle toe maar gaan soek, in sneeu wat tot by my middel gekom het. Toe ek uiteindelik op hulle afkom, was hulle verras maar bly om my te sien. Hulle het alles net daar gelos, huis toe gekom, en ’n vergadering vir daardie selfde aand gereël.

In Beamsville daar naby het ek en getroue broers baie maande lank moeilikheid gehad met verkose ouderlinge en afvalliges. Wat ’n voorreg was dit tog vir my om te sien hoe Jehovah se gees gewerk het om die situasie op te klaar! Vertroue in Jehovah en lojaliteit teenoor sy organisasie het in daardie vroeë jare baie seëninge vir die gemeentes tot gevolg gehad. Baie kinders uit daardie gemeentes het grootgeword en by die pioniergeledere aangesluit, Bethel toe gegaan, sendingtoewysings aanvaar en reisende opsieners geword. Ek het nooit vergeet hoe aangenaam dit is om by lojale Christengesinne te bly wat sulke puik jongmense voortgebring het nie. Hierdie gesinne het my gesin geword, en hulle kinders my kinders.

Jare onder verbod

Gedurende die oorlogshisterie van 1940 is die werk van Jehovah se Getuies verbied. Wat ’n skok! Die regering het radio-aankondigings gesteun waardeur ons aangesê is om ons lektuur, ons gemeenteverslae en ons Koninkryksaalsleutels aan die polisie te oorhandig. Ek het die erns van die situasie besef en gemeentes besoek en hulle aangespoor om hulle lektuur en gemeenteverslae weg te steek. Die broers is aangemoedig om in privaat huise te vergader, elke week in ’n ander huis. Die gemeentes het mettertyd die huis-tot-huisbediening heringestel, waartydens hulle net die Bybel gebruik het. Dit was ’n seëning, want dit het ons gehelp om ons Bybel beter te leer gebruik.

Later daardie jaar het ons ’n groot voorraad van die boekie End of Nazism uit die Verenigde State gekry. Groot vindingrykheid was nodig om hierdie verbode lektuur in Kanada in te kry. Party broers het soldate opgelaai wat geryloop het, en hulle het op die kartonne gesit en die verbode boekie onwetend beskerm. Tussen drie- en sesuur een oggend in November het Getuies die hele land gedek en ’n eksemplaar van hierdie boekie by die deur van die meeste huise in Kanada gelaat.

Gedurende daardie jare van die verbod was ek in Brits-Columbië, ’n westelike provinsie van Kanada, in die pionierdiens. Voor die verbod het die broers ’n boot gebruik om mense in dorpies in afgeleë baaitjies van Vancouver af tot by Alaska te besoek. Toe die verbod van krag geword het, was daar heelwat lektuur aan boord, en die Getuies het dit dus op pad na die hawe waar daar op die boot beslag gelê sou word by vriendelike mense afgelaai. Later het ek ’n vissersboot geneem om hierdie lektuur op te spoor, en toe, gedurende die salmseisoen, gereël dat broers dit by hierdie belangstellendes gaan haal. Die lektuur is mettertyd, versteek in die ruim van vissersbote, na Vancouver gebring sodat dit oor ’n groter gebied versprei kon word.

Laat in 1943 het ons gehoor dat die verbod op Jehovah se Getuies opgehef is. Maar die Wagtoringgenootskap was steeds verbied. Ons het dus soos vroeër aangehou om net ons Bybel in die huis-tot-huisbediening te gebruik. Maar ons kon onsself nou as Jehovah se Getuies identifiseer. Toe die verbod ingestel is, was daar ongeveer 6 700 Getuies; toe dit opgehef is, was daar 11 000 van ons!

Lewe as ’n reisende opsiener

As ’n reisende verteenwoordiger van die Genootskap het ek tallose kilometers gedurende die daaropvolgende paar jare gereis terwyl ek saam met die gemeentes gewerk en hulle aangemoedig het. In die winter het ek saam met die broers in ’n unieke voertuig, wat ’n kaboes genoem is, gery. Dit was ’n toe slee met ’n lugdigte houtstoof en skoorsteen, wat deur ’n perd getrek is. Ons het dikwels voor dagbreek begin en met tot ses mense daarin meer as 35 kilometer gereis en plase langs die pad besoek. Die een wat die leisels gehou het, moes versigtig wees, want sneeubanke kon die kaboes omkeer en al die insittendes, saam met die warm kole in die houtstoof, laat uitval.

In 1947 is ek aangestel om toesig te hou oor die land se eerste streek, wat die hele land ingesluit het. Ek moes byna elke week ’n kringbyeenkoms bedien. Byeenkomste is in ysskaatsbane, op voetbalvelde, renbane en in vakbond- en gemeenskapsale gehou. Reëlings vir hierdie byeenkomste het baie aandag geverg voor die program kon begin. In 1950 is Frank Franske as die tweede streekopsiener in Kanada aangestel, en later is daar nog vyf van hierdie reisende opsieners toegevoeg.

Deur die jare heen het ek met ligte vliegtuie, met vissersbote, met groot sneeumobiele met spore en ski’s wat bombardiers genoem is, met sneeuskeertuie (voertuie met ’n skroef agter en ski’s voor om mee te stuur) en met meer konvensionele vervoermiddele—trein, bus en motor—gereis. Soms het ons in ’n vliegtuig oor die pieke van die majestueuse Rotsgebergte gevlieg en dan in die diep, versteekte valleie ingeduik om afgesonderde groepe broers te bereik.

Ek het Kanada baie kere deurgereis. Ek het in houthutte gebly wat so koud was dat ons soggens ons asem kon sien en in plaashuise wat geen moderne geriewe gehad het nie. Maar ek het al die tyd ’n gevoel van tevredenheid gehad, want ek het geweet dat ek Jehovah se werk doen en Jehovah se volk aanmoedig.

Bykomende diensvoorregte

Ek was die afgelope 33 jaar bevoorreg om ’n lid van die Kanadese Bethelgesin te wees, sowel as om ’n spreker by byeenkomste in Engeland, Europa, Afrika, Australië, Nieu-Seeland en die Verre Ooste te wees. In Australië het ek die dogter van broer James, wat my in Indië soveel aangemoedig het, ontmoet. Broer James was nooit ’n sendeling nie, maar hy het ’n puik geestelike erfenis aan sy gesin oorgedra.

Ek is vandag omring deur honderde jong mans en vroue in die Kanadese Bethel. Die manier waarop hulle hul jeugdige krag in Jehovah se diens gebruik, is vir my aanmoedigend en stimulerend. Ek sien nie goed nie, maar hierdie jongeres lees vir my. My bene is swak, maar hulle neem my saam met hulle in die veldbediening. Party vra hoe ek gesondheidsprobleme wat met bejaardheid gepaard gaan die hoof bied. Wel, vir eers studeer ek God se Woord elke dag. Dit bepaal my verstand en hart by geestelike dinge.

Dit was waarlik vir my ’n groot voorreg om, gedurende 69 jaar van toegewyde lewe, waarvan ek 67 in die voltydse diens deurgebring het, met my hemelse Vader te wandel en met hom te praat. Ek het altyd gevind dat Jehovah ’n liefdevolle, barmhartige God is wat menslike gebreke vergewe en diegene wat op hom vertrou krag gee en versterk. Ek hoop om my onkreukbaarheid en lojaliteit aan Jehovah en sy organisasie tot die einde toe te handhaaf, met vertroue in die belofte dat ek binnekort met my dierbare Heer, Jesus Christus, en met baie van my getroue broers en susters, in hemelse heerlikheid verenig sal word.—Psalm 84:13.

[Prent op bladsy 12]

Sneeuskeertuie het teen snelhede van tot 80 kilo-meter per uur oor land beweeg

[Prent op bladsy 13]

In die winter is ’n kaboes wat deur perde getrek is, gebruik om predikingswerk op die prêries in Kanada te doen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel