My lewe volgens Jehovah se weë
As told by Arthur Worsley
ONS het drie dae lank geen son gesien nie; die wind en die see het ons rondgeslinger. Ons was teenoor Noord-Carolina se berugte Kaap Hatteras op pad na ons predikingstoewysing in die Bahama-eilande. Dit was November 1948. Die vier van ons, ek en drie sendelinge van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, het begin wonder of ons ooit daar sal kom.
Ek was voor die stuur van die Wagtoringgenootskap se 18 meter lange skoener, die Sibia. Aan die regterkant was daar van tyd tot tyd ’n geluid soos stoom wat afblaas wanneer groot golwe op ons afgekom het, en soos hulle oor ons gerol het, het ons papnat geword. Toue is aan die gordel om my middel vasgemaak en aan ringboute in die dek vasgebind. Wanneer ons saam met die wind gerol het, het die takelwerk droewig gekreun, en wanneer ons teen die wind gerol het, het dit woes gekras.
Stanley Carter en Ron Parkin in die hoofkajuit onder die dek was baie seesiek. En vyftigjarige Gust Marki, wat ek pas tevore by die stuur afgelos het, was heeltemal uitgeput. Voor ek die stuur oorgeneem het, het ek ’n eiermelkdrankie met brandewyn gemaak en vir Gust gesê waar om dit te vind. Ek het hom eers bykans tien uur later weer gesien.
Ek sal nooit die eensaamheid van daardie nag vergeet terwyl ek na die huilende wind geluister, met die stuur gestoei en gehoop het dat die tou wat my vashou, nie sou breek nie. Hoe het ek my in hierdie situasie bevind?
My vroeëre lewe in Engeland en Kanada
My vader was in die Britse vloot, en ek was altyd tussen see- en ander militêre manne. Toe my moeder skielik gesterf het, is ek gestuur om ’n leertyd ter see deur te maak. In 1923, toe ek 16 was, het ek aan boord van ’n opleidingskip rondom die wêreld gereis.
Terwyl ek in Singapoer was, het ek by my broer gehoor dat Vader weer getroud is en dat die gesin toe in Alberta, Kanada, gewoon het. In 1924 het ek dus by my gesin op ’n plaas van 130 hektaar naby Lethbridge aangesluit. Die kamer van koophandel het dit tereg beskryf as “sonnige suidelike Alberta, die land van goue graan”.
’n Besoek wat my lewe verander het
Een ding wat die kamer van koophandel skynbaar vergeet het om te meld, was die prêriewinters. Die temperatuur het soms tot -34 grade Celsius, en miskien laer, gedaal. Op so ’n dag in die winter van 1926-1927 het ’n ou Model T-Ford by ons erf ingery en so naby moontlik aan die huis stilgehou. Die bestuurder is vir warm koffie en koekies ingenooi, en hy het verduidelik dat die pad weens jagsneeu versper is en dat hy nie seker was waar hy is nie. Wel, dit is gou opgeklaar en toe het hy met ons oor die Bybel begin praat. Ek het hom ’n dollar vir die boek Verlossing en sewe boekies gegee.
My ouers het dorp toe gegaan vir inkopies en dus het ek en my broer die lektuur ’n rukkie deurgeblaai. Toe is dit alles in die boekrak geplaas en vergeet, aangesien ons na die vee moes omsien. Ek het egter bly dink aan party van die dinge wat ek gelees het. Ek het selfs snags wakker geword en daaraan gedink. Uiteindelik het ek besluit om te kyk waaroor dit alles handel.
Ek het die eerste die beste een uitgehaal en dit was die boekie Our Lord’s Return. Ek het gewag totdat almal gaan lê het voordat ek die boekie gelees en elke teks in ons familiebybel nageslaan het. Ek was verbaas en verheug oor die uitleggings en het die volgende oggend by ontbyt vir my gesin begin “getuig”. Hulle was glad nie beïndruk nie, maar dit het nie my geesdrif gedemp nie.
Pogings om te preek
Ek het aan die Wagtoringgenootskap geskryf en die name en adresse van nabygeleë boere gestuur met die versoek dat eksemplare van Our Lord’s Return aan hulle gestuur word. Later, toe ek hulle gaan vra het hoe hulle van die boekie gehou het, was ek verbaas oor die vyandige reaksies soos: “’n Jongman soos jy moenie met daardie goed deurmekaar raak nie’ of ‘Dit is Russellisme. In die Verenigde State gooi hulle daardie mense in die tronk.’
Hoewel ek teleurgesteld was, het ek nie moed opgegee nie. Ek het al die lektuur bestel wat die Wagtoringgenootskap uitgegee het, sowel as ekstra eksemplare wat ek vir iemand kon leen. Ek het by elke geleentheid gelees en gedink aan hoe ek die dinge wat ek leer met ander kon deel. Die Genootskap het my ingelig dat die naaste gemeente of “ekklesia” sowat 160 kilometer ver in Calgary was, en dit was te ver vir my om by te woon.
In 1928 het ek die huis verlaat om vir myself te werk. Ek het ’n stuk grond van 65 hektaar gekry waarvoor ek ooreengekom het om die eienaars ’n kwart van die opbrengs elke jaar te gee. In Desember 1929 was dit tyd vir ’n vakansie, daarom het ek my vader en my stiefmoeder, wat na Vancouver, Brits-Colombië, verhuis het, gaan besoek. ’n Paar dae na my aankoms aldaar het ’n vrou by die deur aangeklop en lektuur van die Wagtoringgenootskap aangebied. Ek het by haar verneem waar die Bybelstudente (wat nou Jehovah se Getuies genoem word) bymekaargekom het, en die volgende Sondag het ek agt kilometer deur ’n swaar reënstorm geloop om daar te kom.
Dit was aangenaam om ’n vergadering by te woon saam met ander wat my belangstelling in die Bybel gedeel het. Die volgende week, sowel as elke week daarna, het ek saam met die groep aan die predikingswerk van huis tot huis deelgeneem. Toe het The Watchtower van 15 Januarie 1930 uitgekom met ’n uitnodiging om te kom help met die werk by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, wat Bethel genoem word. Ek het my dienste aangebied en, tot my verbasing, is ek genooi om te kom. Dit het my ’n rukkie geneem om my sake in orde te kry, en intussen is ek gedoop. Ek het eindelik op 13 Junie 1930 by Bethel aangekom.
Diens by Bethel
Ek is na die boekbindery aangewys en het die krammasjien bedien, wat draadkrammetjies in die rugkant van boekies indruk. Hoe opwindend was dit tog om aan Our Lord’s Return te werk, die einste boekie wat daartoe bygedra het dat ek my lewe verander het! Ek het weldra aan die nuwe boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld gewerk.
My eerste byeenkoms in Columbus, Ohio, in Julie 1931, was inderdaad onvergeetlik. Ek sal nooit die geweldige applous vergeet toe daar aangekondig is dat ons voortaan onder die naam Jehovah se Getuies bekend sou staan nie. Toe is die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld bekendgestel. Dit het verduidelik waarom hierdie naam aangeneem is. Daarna het ons dit vir alle militêre, politieke, sake- en godsdiensamptenare geneem, en ek is toegewys om dit naby Bethel in Brooklyn Heights en op Governor’s Island te doen.
New York se hawe is reg op die drumpel van Bethel, en aangesien ek vertroud was met skepe, het die waterkant my predikingsgebied geword. Eendag het die kaptein van ’n aak gesê: “Moet tog nie daardie boeke aan my probeer verkoop nie. Ek het die een boek wat werklik die waarheid omtrent die Bybel vertel.”
“Wys asseblief vir my wat u het”, het ek gesê.
Hy het ’n gehawende eksemplaar van die boek Government gebring en verduidelik: “Ek het dit uit die rivier gehaal en droog gemaak. Dis die beste boek wat ek nog gelees het.”
Nadat ek vir hom op die uitgewersbladsy gewys het dat die boeke wat ek aanbied van dieselfde uitgewers kom, het sake glad verloop. Ons het ’n wonderlike tyd saam deurgebring!
Daar was betreklik min wat destyds gepreek het, en daarom het ons geen steen onaangeroer gelaat om die goeie nuus voor Armageddon aan mense te verkondig nie. Die stad New York het slegs een gemeente gehad. Nou is daar meer as 300 gemeentes en nagenoeg 30 000 verkondigers in die stad, en talle gebiede word elke maand weer gedek!
Rutherford—’n onvermoeide werker
Ek het verstom gestaan oor die ontsaglike hoeveelheid werk wat Joseph F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap gedurende my eerste 11 jaar by Bethel, verrig het. Hy het nie net die meeste van ons Bybellektuur geskryf, talle lesings gehou en hofsake verdedig nie, maar hy het ook persoonlik belanggestel in die sake van die Bethelgesin, wat toe bykans 200 getel het.
In 1932 het hy byvoorbeeld besluit dat ons meer van ons eie voedsel moes voorsien, veral vleis. Hy het dus gereël dat hoenderhokke op die Genootskap se plaas van ses hektaar op Staten Island gebou word. Op die een of ander manier het hy te wete gekom dat ek iets van hoenders weet. Dit het daartoe gelei dat ek my naweke saam met hom deurgebring het terwyl ons hoenderhokke ontwerp het en grond afgemeet het om hulle te bou.
Op een van hierdie besoeke het broer Rutherford baie bekommerd oor iets gelyk. Na ’n ruk het ek die moed bymekaar geskraap om te vra of daar iets skort en of ek iets kon doen om te help. Hy het gesê dat ek nie kon help nie. Maar terwyl ons nog na die tuin toe loop, het hy gesê: “Ek het dit keer op keer gesien. Wanneer ek aan iets belangriks werk, duik die een of ander moeilikheid op, en ek werk nou aan een van die belangrikste artikels in jare.” Ek was werklik verbaas dat hy dit selfs gemeld het aan my, ’n betreklike nuweling by Bethel.
’n Paar weke later het Jehovah se volk The Watchtower se nommers van 15 Augustus en 1 September 1932 ontvang met ’n tweedelige artikel met die titel “Jehovah se Organisasie”. Hierdie artikels het getoon dat die stelsel van ouere manne deur verkiesing onskriftuurlik is. Dit het nogal ’n beroering veroorsaak, maar dit was nog ’n stap nader aan volkome teokratiese toesig.
In daardie dae het broer Rutherford groot teenstand verduur van diegene wat wou verhinder dat hy preke oor die radio hou. Maar hy was ’n vegter en hy het nooit voor sy godsdiensteenstanders geswig nie.
Die druk neem toe, broer Rutherford sterf
Die vervolging het gedurende die 1930’s toegeneem. In Nazi-Duitsland is talle na konsentrasiekampe gestuur en om die lewe gebring weens hulle geloof. Selfs in die Verenigde State is party broers geteer en geveer; ander is gedwing om kasterolie te drink. Eiendom is vernietig en kinders is uit die skool geskors.
In 1941 het broer Rutherford se gesondheid begin agteruitgaan, maar hy het steeds geweldige dryfkrag gehad en getrou die leiding gegee. Vir dié van ons wat hom goed geken het, was die agteruitgang van sy gesondheid ongelukkig alte duidelik. Hy het soveel gewig verloor dat sy klere los gehang het. Hoewel sy liggaam aan die sterf was, was sy verstand wakker en het sy geesdrif vir die waarheid en die bekendmaking van Jehovah se naam nooit afgeneem nie.
Na ontbyt een oggend in die naherfs van 1941 het hy die gesin meegedeel dat hy ’n ernstige operasie moes ondergaan. Hy het ’n ruk lank bemoedigend met die gesin gepraat en ten slotte gesê: “As dit dus God se wil is, sal ek julle weer sien. Indien nie, weet ek dat julle die stryd sal volhou.” Daar was nie ’n droë oog in die gesin nie, en ons het hom nooit weer gesien nie. Hy het daardie dag na Kalifornië vertrek waar hy op 8 Januarie 1942 gesterf het.
Deur die jare heen was daar talle venynige aanvalle op broer Rutherford, maar sulke beskuldigings het geen indruk gemaak op ons wat saam met hom gewerk en hom feitlik elke dag gedurende oggendaanbidding geestelike onderrig hoor gee het nie. Ons het hom geken vir wat hy werklik was—’n getuie van Jehovah. Wat meer kan gesê word?
Nuwe toewysings
Kort na Nathan H. Knorr president geword het, het hy ’n paar van ons na sy kantoor ontbied, planne uiteengesit om besoeke van die Genootskap se verteenwoordigers aan die gemeentes weer in die lewe te roep, en gevra of ons ’n deel daaraan wou hê. Ek het dit aanvaar en in 1942 as reisende opsiener begin. Ons is “knegte vir die broeders” genoem, wat later na “kringkneg” verander is.
In Mei 1948, by ’n streekbyeenkoms in Houston, Texas, het broer Knorr my na sy kantoor ontbied. Na ’n paar woorde oor die werk in die gebied en my gesondheid het hy gevra: “Dink jy daaraan om te trou?”
Wel, ek kon eerlik waar nie nee sê nie, en om dieselfde rede kon ek nie ja sê nie. Ek het dus geantwoord: “Broer, ek dink al daaraan sedert ek vyf jaar oud is.” Dit het my in ’n neutrale posisie gelaat. Broer Knorr het toe verduidelik dat die Genootskap ’n skoener aangeskaf het, en hy het gevra of ek die sendingdiens op die boot wou betree.
Dit is hoe ek my daardie uiters stormagtige nag in November 1948 by Kaap Hatteras voor die stuur van die Sibia bevind het.
Getuieniswerk op die eilande
Ons het die Bahama-eilande binne ’n paar dae bereik en die mense daar was baie gasvry en het gehonger na Bybelwaarheid. Ons het op al die groter eilande getuig, en ons het party van hulle verskeie kere besoek gedurende die sewe maande wat ons daar was. Toe het ons na die Maagde-eilande vertrek waar ons dwarsdeur die eilandgroep getuig het.
Een aand het die burgemeester, of kommisaris van die eiland, op St. Martin na my toe gekom en gesê: “Al wat ’n mens tot ’n paar weke gelede gehoor het wanneer jy in die dorp rondgestap het, was gesprekke oor hanegevegte en vroue. Oral waar ek nou gaan, hoor ek hulle oor Jehovah en die Bybel praat. Julle Jehovah-manne het goeie werk gedoen, en ek bedank julle daarvoor.”
Ek het die voorreg gehad om die eerste Gedenkmaaltoespraak te hou wat ooit op St. Vincent gehou is. Agterna het ’n vrou gesê: “Mnr. Brown sou so graag daardie toespraak wou gehoor het, maar hy bly ver hiervandaan.” Ek is die algemene rigting getoon en vroeg die volgende oggend het ek die dorpie gaan soek.
Daar was geen paaie nie, net voetpaadjies. Ek het ure lank gestap en van tyd tot tyd die rigting gevra. Omtrent twee-uur die middag was ek heeltemal uitgeput toe ek op ’n oop kol met ’n paar verspreide hutte afgekom het. Ek het besluit om na een van hulle te gaan en daar te rus. Toe ek nader kom, het ek die letters bo die deur gesien: “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies.” Ek het heeltemal van my moegheid vergeet.
’n Man het kort daarna verbygekom en gevra of hy my kon help. “Hoe kan ek in aanraking kom met die mense wat hierdie saaltjie gebou het?” het ek gevra.
“Ek is een van hulle”, het hy gesê.
Ek het vir hom gesê dat ek van die Sibia is, maar dit het skynbaar niks vir hom beteken nie. Ek het dus gesê: “Weet jy nie? Die Jehovah-boot.” Toe kon hy skaars stilstaan so bly was hy. Kort daarna het ek gehoor hoe die saal gebou is.
“Toe ek Trinidad toe is”, het hy verduidelik, “het hulle my van die waarheid vertel. En ek het teruggekom en die ander mense vertel.” Hy het gevra of ek ’n toespraak wou hou.
“Ek sal graag”, het ek gesê. Hy het toe in ’n trompetskulp geblaas en gou was die saaltjie vol en mense het by die vensteropenings gestaan. Ek het die toespraak gehou en toe is ’n puik Wagtoring-studie gehou! Hierna het die broer my vir ’n maaltyd na sy huis genooi. Die son was besig om te sak en ek het vir hulle gesê dat ek moes vertrek. Hulle het my langs ’n baie korter roete begelei. Toe hulle my verlaat het, was dit nog ’n paar kilometer na die boot toe, maar dit was ’n pragtige nag.
Terug by Bethel
Die eerste groot byeenkoms by Yankee-Stadion is in 1950 gehou. Die van ons op die Sibia is genooi om dit by te woon. Terwyl ek in New York was, is ek weer as ’n reisende opsiener in die Verenigde State aangestel. Na ’n paar jaar het ek siek geword en is in 1956 teruggeroep Bethel toe. My gesondheid het geleidelik verbeter, maar ek het by Bethel aangebly.
Toe broer Knorr eenkeer oor die behoefte aan meer sendelinge in Afrika gepraat het, het ek aan die hand gedoen dat hy my daarheen stuur. Hy het my egter herinner aan my ouderdom en aan die aantal kere wat ek in die hospitaal was en vir my gesê dat ek liewer moes bly waar ek behandeling kon ontvang indien ek dit nodig sou hê.
Op die ouderdom van 79, en met feitlik 56 jaar voltydse diens agter my, is dit nou verblydend om te weet dat ek sulke diens in my jeug betree het. Wanneer ek van die vergaderinge of van die werk af terugkom, sit ek dikwels in my gemaklike kamer in Bethel en dink ek terug aan die gebeure van die afgelope 60 jaar. Ek is waarlik geseën omdat ek volgens Jehovah se weë gewandel het.
[Prent op bladsy 23]
Toe ek in 1934 in Alabama gepreek het, het ek Bybellektuur vir hoenders verruil