Rougebruike—Hoe beskou jy dit?
DIE dood was deur die geskiedenis heen die gemeenskaplike ondervinding van alle mense. Maar hierdie lang bekendheid het nie die vernietigende uitwerking wat die dood op die oorlewendes het, versag nie. Die wete dat iemand wat ’n deel van jou lewe was nie meer daar is nie, veroorsaak gewoonlik diep en blywende verdriet, en ’n pynlike gevoel van verlies.
Godsdiens behoort die pyn van die dood te verlig, maar dit doen dikwels die teenoorgestelde. In sommige lande word die pyn wat die dood bedroefdes aandoen in vrees omgesit wanneer hulle vertel word dat hulle gestorwe ouers en familielede nou wraaksugtige geeste is wat met behoorlike rouplegtighede gepaai moet word. Anders sal hulle die lewendes lastig val. As ’n Christengesin iemand aan die dood afgee, is daar moontlik ook besluite wat geneem moet word met betrekking tot plaaslike gebruike, soos die dra van spesiale klere en deelname aan rituele wat ander van hulle verwag.
Jehovah God het belowe dat hy die mensdom eendag van hierdie pynlike ondervinding, die dood, gaan bevry (Openbaring 21:4). En intussen het hy ons sy Woord, die Bybel, as ’n ,lig vir ons pad’ gegee (Psalm 119:105). Elke keer wanneer ons onseker is oor wat die regte optrede sou wees, wys die Bybel vir ons hoe God wil hê ons moet optree (Jesaja 30:21). Laat ons ondersoek watter riglyne dit verskaf vir daardie droewigste tyd—wanneer ’n dierbare sterf.
Dit is reg om te treur
Dit is, soos reeds genoem, natuurlik om diep bedroef te wees wanneer ’n geliefde sterf. Maar Christene weet dat daar ’n opstanding gaan wees. Hulle droefheid is derhalwe nie soos die wanhopige, rasende droefheid van diegene wat geen hoop het nie (1 Thessalonicense 4:13). Die dood is nie noodwendig ’n ewige afskeid nie, hoewel dit ’n tydelike afskeid is.
Abraham het oor Sara ,gerouklaag en haar beween’ toe sy gesterf het (Genesis 23:2). Isak, sy seun, moes ,getroos word na die dood van sy moeder’ (Genesis 24:67). Die verdriet van die ontslape Lasarus se vriende en familie was so groot dat Jesus self ,geween het’ (Johannes 11:35). Dit is ’n blyk van liefde wanneer vriende van die bedroefde gesin hulle besoek en in hierdie spanningsvolle tyd vertroos.—Johannes 11:31.
Maar jy sal opmerk dat die Bybelse verslae oor roubedryf, en oor die vertroosting van bedroefdes, nooit daarvan melding maak dat die dode gepaai word nie. God se dienaars het geweet dat die dode slaap, onbewus is (Johannes 11:11-14; Prediker 9:5, 10). Die dooies ly nie in ’n hiernamaals nie, en hulle verander ook nie in wraaklustige, gevaarlike geeste nie (Psalm 146:3, 4). Gevolglik moes Jehovah se volk nie die nasies om hulle navolg deur dinge te doen wat ’n verkeerde beskouing van die dode sou weerspieël nie.—Deuteronomium 14:1; 18:10-12.
Ons moet vandag ook die huidige betekenis vasstel van gebruike wat algemeen uit ,eerbied vir die dode’ gevolg word. Hou dit nou met ’n verkeerde lering of ’n bygeloof verband? Moet ’n Christen dit dan volg?—Romeine 13:12-14.
Watter rougebruike?
Onder sommige volke van die wêreld word daar van weduwees en wewenaars verwag om spesiale klere te dra en ’n jaar lank in die rou te wees, terwyl hulle vryheid erg beperk word. Is hierdie gebruik verenigbaar met die Christelike geloof?
Dit is te begrype dat ’n Christen wat ’n geliefde verloor het moontlik ’n tyd lank stemmiger sal aantrek en optree. (Vergelyk 2 Samuel 13:19; 2 Konings 6:30.) Maar dit is heeltemal anders as wanneer iemand vir ’n lang tydperk klere dra wat deur die gemeenskap aan nie-Bybelse opvattings omtrent die dode gekoppel word. Christenweduwees wat geweier het om sulke gebruike te volg, is soms gedreig deur familie en bure wat beweer dat „die ongeluk” hulle sal tref, of dat die „gees” van die ontslape man ontsteld sal wees en onheil oor hulle sal bring. Hierdie bygelowige mense is moontlik ook bang dat dit nie sal reën nie, of dat hulle ’n misoes sal hê.
Een weduwee het nie die gebruike gevolg nie, en haar seun het gesê: „My vader se gees sal nie in vrede rus nie.” Op ’n ander plek het die hoofman van die stam gedreig om alle knegte van Jehovah uit daardie gebied weg te stuur. Van die plaaslike inwoners was so kwaad dat hulle die plaaslike Christenvergaderplek met koevoete en byle beskadig het. In ’n ander gebied het die stampolisie ’n Christenweduwee kaal uitgetrek en haar wreed met ’n sambok geslaan.
Waarom het hierdie Christenweduwees geweier om te doen wat hulle bure van hulle verwag het? Moontlik meen jy persoonlik dat dit geen kwaad kan doen om plaaslike gebruike ter wille van „die fatsoen” te volg nie. En dit geld moontlik vir sommige gebruike. Maar hoe sou ’n Christen beskou word as hy of sy aan rituele deelneem wat bedoel is om die „voorvadergeeste” te paai? Onthou, diegene wat in vervloë tye aan sulke gebruike deelgeneem het, is nie toegelaat om ’n deel van die Israelitiese gemeenskap of die vroeë Christengemeente te bly nie.—Deuteronomium 13:12-15; 18:9-13; 2 Korinthiërs 6:14-18; 2 Johannes 9, 10.
Beskou ’n paar redes hiervoor. Ten eerste sou iemand wat aan sulke rituele deelneem ’n nie-Christelike godsdiens ondersteun en dit in werklikheid bevorder. Hy sou toon dat hy in sy hart nog steeds ’n deel van valse godsdiens is.—Openbaring 18:4.
Jehovah se Getuies is wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle die Bybel verkondig. Een Bybelwaarheid wat hulle beklemtoon, is dat die dode onbewus is, dat hulle nie in die hel ly of op aarde ronddwaal en in staat is om hulle nakomelinge kwaad aan te doen nie. Die Bybel sê: „Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Hierdie leerstelling het derduisende mense vertroos. Mense in die meeste gemeenskappe verwag dus gewoonlik nie dat hierdie Christene moet deelneem aan rituele om die dooies te paai nie.
Wat sou dan gebeur as ware Christene weens druk van hulle familie of bure instem om nie-Christelike rougebruike te volg? Sou die bure nie die gevolgtrekking maak dat die Christene miskien nie werklik glo wat hulle verkondig nie? Dat hulle moontlik oorreed kan word om op ander gebiede hulle beginsels prys te gee? Ongetwyfeld. Baie goeie werk sal sodoende vernietig en mense sal moontlik gestruikel word.—Mattheüs 18:6; 2 Korinthiërs 6:3.
Die ouere manne en ander in die gemeentes van Jehovah se Getuies verleen derhalwe soveel bystand moontlik aan diegene wat iemand aan die dood afgegee het. Hulle verleen die nodige bystand sodat sulke bedroefdes in die waarheid standvastig sal bly ten spyte van druk om onchristelike gebruike te volg.—Vergelyk 2 Korinthiërs 1:3, 4.
Maar sê nou ’n Christen begin, in weerwil van sulke hulp, nie-Christelike rougebruike volg? Ouere manne sal liefdevol optree. Die apostel Paulus het vermaan: „Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid” (Galasiërs 6:1). Die dissipel Jakobus voeg by: „As een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek.”—Jakobus 5:19, 20.
Dit is goed om te onthou dat God self „nie [wil] hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Die ouere manne sal eers hard probeer om die een wat dwaal, reg te help. In die meeste gevalle sal daar ongetwyfeld gevind word dat diep verdriet tesame met mensevrees druk op die treurende persoon uitgeoefen het om verkeerd op te tree. Met liefdevolle, simpatieke hulp sal hy hopelik voortaan ,reguit paaie vir sy voete maak, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word’—Hebreërs 12:13.
Maar as ’n Christen nie-Christelike rougebruike volg, die hulp van mede-Christene van die hand wys en in die nie-Christelike handelwyse volhard, sal die ouere manne uiteindelik moet optree om te verseker dat toeskouers nie deur sulke gebruike verwar en dat verkeerde gebruike nie in die Christengemeente ingebring word nie. Enigiemand wat sy voorvaders aanbid, is nie meer ’n ware Christen nie, en stappe moet gedoen word om te verseker dat almal hierdie feit besef.—1 Korinthiërs 5:13.
Seëninge vir getrouheid
Baie Christene het gevind dat getrouheid in hierdie belangrike saak goeie resultate meebring. Edwina Apason, ’n Christin in Suriname, vertel haar ondervinding: „Terwyl ek eenmaal ’n Bybelstudie gehou het, het ek ’n skokkende boodskap ontvang. My oudste seun, wat nie ’n Getuie was nie, is doodgeskiet terwyl hy aan ’n betoging deelgeneem het. Hierdie pynlike verlies het tot meer spanning gelei, want my familie het gesê: ,As jy nie die rougebruike volg nie, het jy geen moederlike gevoel vir jou seun nie.’ Volgens die gebruik moes ek my hare sny, ’n wit serp om my kop bind, maande lank rouklere dra, opsetlik stadig loop, en saggies met ’n gedempte stem praat—dit alles om vir die mense en die sogenaamde ,gees van die dooie’ te wys dat ek werklik hartseer is. Maar as ek hierdie dinge gedoen het, sou my prediking sekerlik tevergeefs wees, en ek sou my skoon gewete voor God prysgee.” Edwina het derhalwe nie toegegee nie.
’n Ander man het beweer dat sy oorlede tante hom saans gereeld besoek. Wat het hy gedink wou sy hê? Hy het geantwoord: „Dat ’n offerande langs die rivier aan haar geoffer word.” En as dit nie geoffer word nie? Hy is met die dood gedreig. Toe hierdie tante gelewe het, was sy ’n baie liefdevolle persoon. Maar na haar dood het sy oënskynlik soos ’n dreigende tiran opgetree. Kon dit werklik dieselfde persoon wees? Deur redenasie en deur middel van die Skrif is hierdie man en ander soos hy van vrees vir die dode bevry. Hierdie mense het geleer dat die gesigte, stemme en verskynsels die werk van gevalle engele, demone, is.—Vergelyk 2 Korinthiërs 11:3, 14; Efesiërs 6:12.
Jehovah se dienaars weet dat as hulle op die weg bly wat hy vir hulle aandui, hulle uiteindelik die seën van die ewige lewe sal ontvang (Jesaja 30:21). Satan gebruik voortdurend listige en slinkse maniere om hulle te laat struikel en daardie weg byster te raak (1 Petrus 5:8, 9). Hy besef dat hulle veral kwesbaar sal wees wanneer hulle die dood van ’n geliefde betreur. Christene is nietemin vasberade om ondanks enige druk in alle dinge aan Jehovah getrou te wees. In hierdie saak, soos in ander dinge, moet hulle „aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Op hierdie manier bewys hulle die diepte van hulle toewyding aan Jehovah God en kan hulle daarna uitsien dat hy hulle met lewe in sy nuwe stelsel sal beloon, waar die dood en droefheid ,nie meer sal wees nie’.—Openbaring 21:4.