Weerstaan goddelose tradisies!
“DIE waarheid sal julle vrymaak”, het Jesus Christus gesê (Johannes 8:32). Ja, die Christelike godsdiens maak mense vry—vry van slawerny aan bygelowe, vry van geloof in valse leerstellinge en verwagtinge, vry van gebondenheid aan vernederende gebruike.
Maar net soos in die ou dae ondervind hedendaagse Christene dikwels druk om tot tradisies van vroeër terug te keer (Galasiërs 4:9, 10). Dit is nie dat alle gewilde gebruike skadelik is nie. Trouens, ’n Christen kan besluit om plaaslike gebruike te volg wat heilsaam en nuttig is. Maar wanneer gebruike teen God se Woord indruis, sal Christene nie onder druk swig nie. Jehovah se Getuies is dus welbekend as mense wat weier om aan Kersfeesvieringe, verjaarsdae en ander gebruike wat in stryd met God se Woord is deel te neem.
Hierdie moedige standpunt het dikwels baie bespotting en teenstand deur kennisse, bure en ongelowige familielede tot gevolg gehad. Dit is veral in sommige Afrikalande die geval, waar ’n geweldige verskeidenheid tradisies gewoonlik by begrafnisse, troues en geboortes nagekom word. Die druk om dit na te kom, kan baie groot wees—en sluit dikwels dreigemente en geweldpleging in. Hoe kan Christene in daardie lande vasstaan? Is dit moontlik om konfrontasies te vermy sonder om toe te gee? Om hierdie vraag te beantwoord, kom ons kyk hoe getroue Christene party onskriftuurlike tradisies hanteer het.
Bygelowige begrafnisgebruike
In Suider-Afrika is daar baie tradisies wat met begrafnisse verband hou. Bedroefdes bring gewoonlik die hele nag—of etlike nagte—by die huis van rou deur, waar hulle ’n vuur aanhoudend laat brand. Die bedroefdes word verbied om te kook, hulle hare te laat sny of selfs te bad totdat die begrafnis plaasgevind het. Daarna moet hulle hulleself in ’n spesiale kruiemengsel was. Is sulke gebruike vir Christene aanvaarbaar? Nee. Hulle weerspieël almal geloof in die onsterflikheid van die siel en ’n morbiede vrees vir die dooies.
Prediker 9:5 sê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.” Kennis van hierdie waarheid bevry ’n mens van ’n vrees vir die ‘geeste van die dooies’. Maar wat moet ’n Christen doen wanneer welmenende familielede daarop aandring dat hy of sy aan sulke rituele deelneem?
Beskou die voorbeeld van ’n Getuie uit Afrika genaamd Jane, wie se vader gesterf het. Toe sy by die huis aankom waar die begrafnis gehou sou word, is sy dadelik gesê dat sy en die res van die familie die hele nag lank om die lyk moet dans sodat die gees van die oorledene gepaai kan word. “Ek het vir hulle gesê dat ek as een van Jehovah se Getuies nie aan sulke gebruike kan deelneem nie”, vertel Jane. “Maar die volgende dag, ná die begrafnis, het bejaarde familielede gesê dat hulle die bedroefde familielede gaan bad as verdere beskerming teen die gees van die oorledene. Ek het weer geweier om deel te neem. Terselfdertyd is my ma in ’n huis in afsondering gehou. Enigeen wat haar wou sien, moes eers ’n alkoholiese drank gebruik wat spesiaal vir hierdie doel voorberei is.
“Ek het geweier om enigsins hierby betrokke te raak. Ek het eerder huis toe gegaan om kos voor te berei, wat ek na die huis geneem het waar my ma gebly het. Dit het my familie werklik teleurgestel. My familielede het gedink dat ek nie normaal is nie.” Hulle het verder met haar gespot en haar vervloek deur te sê: “Aangesien jy ons tradisie weens jou godsdiens verwerp het, sal jou pa se gees jou teister. Trouens, jy sal moontlik nie eers meer kinders kan hê nie.” Jane het steeds geweier om geïntimideer te word. Die uitslag? Sy sê: “Op daardie stadium het ek twee kinders gehad. Nou het ek ses! Dit het diegene beskaam wat beweer het dat ek nooit weer kinders sou hê nie.”
Seksuele “reiniging”
Nog ’n gebruik behels seremoniële reiniging ná die dood van ’n mens se huweliksmaat. As ’n vrou sterf, sal haar familielede ’n skoonsuster of ’n ander vrou wat ’n naverwant van die wewenaar se oorlede vrou is na hom bring. Hy is verplig om geslagsomgang met haar te hê. Eers dan kan hy trou met wie hy wil. Dieselfde gebeur wanneer ’n vrou se man sterf. Die gebruik reinig glo die oorlewende huweliksmaat van die “gees” van die afgestorwe maat.
Enigeen wat weier om sulke “reiniging” te ondergaan, loop die gevaar om hom die toorn van die familie op die hals te haal. Hy of sy kan verstoot word en moet dalk spot en dreigende voorspellings verduur. Christene weier nietemin om hierdie gebruik na te kom. Hulle weet dat geslagsomgang buite die huwelik beslis nie ’n soort “reiniging” is nie, maar dat dit ’n mens in God se oë verontreinig (1 Korintiërs 6:18-20). Christene moet daarbenewens “net in die Here” trou.—1 Korintiërs 7:39.
Violet, ’n Christenvrou in Zambië, se man het gesterf. Familielede het later ’n man na haar gebring en aangedring dat sy geslagsomgang met hom moes hê. Violet het geweier en as straf is sy belet om water by die openbare put te skep. Sy is ook gewaarsku om nie op die hoofpad te loop nie, sodat sy nie dalk iets oorkom nie. Maar sy het geweier om geïntimideer te word, hetsy deur familielede of deur haar mededorpsbewoners.
Violet is later voor ’n plaaslike hof gedaag. Daar het sy met beslistheid die skriftuurlike redes verduidelik waarom sy weier om haar aan ongeoorloofde geslagsomgang skuldig te maak. Die hof het in haar guns beslis en gesê dat dit haar nie kon dwing om by plaaslike gebruike en tradisies te bly wat teen haar oortuiging is nie. Dit is interessant dat haar getroue weiering om voor druk te swig, gehelp het om die druk op ander Getuies te verlig wat later voor dieselfde geskil te staan gekom het.
’n Getuie uit Afrika genaamd Monika het soortgelyke druk weerstaan ná haar man gesterf het. Die man se familie het daarop aangedring om haar ’n ander man te gee. Monika sê: “Ek het geweier omdat ek vasbeslote was om die bevel in 1 Korintiërs 7:39 te gehoorsaam.” Maar die druk het nie verminder nie. “Hulle het my gedreig”, vertel Monika. “Hulle het gesê: ‘As jy weier, sal jy nooit weer trou nie.’ Hulle het selfs beweer dat party van my mede-Christene in die geheim op hierdie manier gereinig is.” Monika het nietemin vasgestaan. “Ek het twee jaar lank ongetroud gebly, waarna ek op die Christelike manier weer getrou het”, sê sy. Monika dien nou as ’n gewone pionier.
Miskrame en doodgebore babas
Christene in Suider-Afrika kry ook te doen met gebruike wat verband hou met miskrame en doodgebore babas. Sulke tragiese gebeurtenisse is die gevolg van menslike onvolmaaktheid—nie van goddelike straf nie (Romeine 3:23). Maar as ’n vrou ’n miskraam het, vereis sommige Afrikatradisies dat sy ’n tyd lank soos ’n uitgeworpene behandel moet word.
’n Vrou wat kort tevore ’n miskraam gehad het, was verbaas om te sien dat ’n Getuie na haar huis aangestap kom. Terwyl hy nader gekom het, het sy na hom uitgeroep: “Moenie hierheen kom nie! Volgens ons gewoonte moet ’n vrou wat onlangs ’n miskraam gehad het nie besoek word nie.” Maar die Getuie het gesê dat Jehovah se Getuies die Bybelse boodskap na alle soorte mense neem en dat hulle nie die plaaslike gebruike in verband met miskrame nakom nie. Toe het hy Jesaja 65:20, 23 vir haar gelees en verduidelik dat daar geen miskrame en doodgebore babas onder God se Koninkryk sal voorkom nie. Die gevolg was dat die vrou ’n tuisbybelstudie aanvaar het.
Bygelowige gebruike kan ook met die begrafnis van doodgebore babas gepaard gaan. Toe ’n Getuie met die naam Joseph so ’n begrafnis bygewoon het, het hulle vir hom gesê dat almal teenwoordig hulle hande in kruie moes was en die toorgoed aan hulle bors moes smeer. Dit sou glo verhoed dat die “gees” van die suigeling terugkom en hulle skade berokken. Joseph het beleef geweier, aangesien hy die Bybelse leer ken dat die dooies nie die lewendes leed kan aandoen nie. Ander het hom steeds probeer dwing om die toorgoed aan te smeer. Joseph het weer geweier. Toe ander wat teenwoordig was hierdie Christen se vreeslose optrede sien, het hulle ook die kruie van die hand gewys.
Vermy konfrontasies, maar bly standvastig
Vrees vir die lewendes en ’n vrees om ’n uitgeworpene te word, kan sterk beweegredes wees om onder druk te swig. Spreuke 29:25 sê: “Die vrees vir die mens span ’n strik.” Die voorafgaande ondervindinge bewys hoe waar die tweede deel van daardie vers is: “Maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.”
Maar ’n konfrontasie kan dikwels vermy word. As ’n Christen byvoorbeeld na ’n familielid se begrafnis genooi word, moet hy nie wag totdat hy hom in ’n moeilike situasie bevind nie. “As ’n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf.”—Spreuke 27:12.
Dit sou raadsaam wees om taktvol te vra presies watter gebruike gevolg gaan word. Indien dit onaanvaarbaar is, kan die Christen die geleentheid gebruik om mooi te verduidelik waarom hy nie daaraan kan deelneem nie en dit “met saggeaardheid en diep respek” doen (1 Petrus 3:15). Wanneer ’n Christen vooraf sy Bybelse standpunt beleef verduidelik, is sy familielede gewoonlik meer geneig om sy oortuiging te eerbiedig en is hulle minder geneig tot die gebruik van dreigemente en intimidasie.
Hoe die familielede ook al reageer, ’n Christen kan nooit ontrou wees deur godonterende tradisies na te volg nie—ongeag die dreigemente of beledigings waarmee hy te kampe het. Ons is van bygelowige vrees bevry. Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak. Staan dus vas, en moet julle nie weer onder ’n juk van slawerny laat inperk nie.”—Galasiërs 5:1.
[Prent op bladsy 29]
Baie mense glo dat iemand wat pas gesterf het as ’n tussenpersoon kan optree en boodskappe kan gee aan familielede wat al lank dood is