“Wandel waardig . . . met lankmoedigheid”
SY IS herhaaldelik in hegtenis geneem en aan intense ondervraging onderwerp. Sy moes selfs eenkeer saam met nege manlike gevangenes, wie se misdade gewissel het van moord tot verkragting en diefstal voor ’n jouende skare deur die strate loop. Sy was altesaam meer as 20 jaar lank in die tronk en van haar gesin geskei.
Hierdie Christin se ondervinding is miskien nie uniek nie, want talle het eweneens lang tronkvonnisse uitgedien. Maar haar “misdaad” was beslis ongewoon: Sy was een van Jehovah se Getuies. Dit sou onmiddellike verligting meegebring het as sy haar geloof sou verloën. Wat het hierdie vrou derhalwe in staat gestel om nie net sulke behandeling te verduur nie, maar om ook ’n mate van vreugde te behou?
Om hierdie vraag te beantwoord, wil ons kyk na ’n ander getroue Christen wat ook in hegtenis geneem is weens die godsdiensstandpunt wat hy ingeneem het. Dit was die apostel Paulus. Hy het aan die gemeente in Efese geskryf: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid [lydsaamheid], terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”—Efesiërs 4:1-3.
Christene in Efese het ’n wonderlike “roeping” tot hemelse lewe saam met Christus Jesus gehad (1 Petrus 1:3, 4). Maar om dit te verkry, moes hulle op ’n wyse “wandel” of handel wat bewys het dat hulle dit waardig is. Paulus het te kenne gegee dat “lankmoedigheid” noodsaaklik hiervoor was. “Lankmoedigheid” of lydsaamheid beteken egter meer as om bloot pyn of ongerief ’n lang tyd te verduur. ’n Man met ’n gebreekte been ‘ly’ lank, maar het hy ’n keuse? Die lydsame of lankmoedige persoon verduur egter mishandeling sonder vergelding of irritasie met ’n doel. Sy traagheid om woede te openbaar, is die beoefening van doelbewuste selfbeheersing.
Paulus het sulke selfbeheersing getoon toe hy onder huisarres was. Hy het geweet dat dit ter “bevordering van die evangelie” was (Filippense 1:12). Dit het Paulus ook die geleentheid gebied om sy lojaliteit en toewyding aan Jehovah God te toon, en te bewys dat hy so wandel dat hy sy roeping tot hemelse lewe waardig was. Paulus was dus bly om gevangenskap te verduur. En talle Christene het sedertdien insgelyks lankmoedigheid geopenbaar. Nie almal het die hemelse “roeping” gehad nie. Maar hulle is beweeg om so te wandel dat hulle die prys van die ewige lewe waardig is, hetsy dit in die hemele of in die aardse ryk van die Koninkryk is.
Maar betreklik min moes die ontberinge van tronklewe verduur. Is lankmoedigheid nuttig onder ander omstandighede? Ja, inderdaad, want Paulus het die hele gemeente in Efese aangespoor om ‘waardig te wandel met lankmoedigheid’. Efese was die belangrikste stad in die Romeinse provinsie Asië. Sy rykdom was ’n potensiële strik vir Christene. Die stad was ook berug vir losbandigheid, demonisme en towery, ’n stad vol aanbidders van die godin Diana. Eertydse geskiedskrywer Lucius Seneca het van sulke persone gesê: “Manne soek oral plesier. Geen ondeug bly binne sy perke nie . . . Ons het heeltemal vergeet wat eerbaar is.” Dit was derhalwe vir Christene aldaar moeilik om ‘waardig te wandel’.
Geen wonder dan dat Paulus verder aan die Efesiërs geskryf het nie: “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God” (Efesiërs 4:17, 18). Hoe moeilik moes dit tog gewees het om tussen sulke verdorwe mense te woon! Maar deur lankmoedig te wees, kan ’n Christen ten minste ’n skaflike lewe lei.
Vandag nodig
Ons is vandag eweneens omring deur goddeloosheid, materialisme en demoniese invloed. Trouens, daar is vandag selfs groter druk op Christene, want Satan is neergewerp in die omgewing van die aarde en is daarop uit om ons geloof te vernietig (Openbaring 12:12, 17). Ons moet gevolglik des te meer ag gee op hoe ons wandel as ons waardig wil wees. En ons moet lankmoedig wees soos die eertydse Christene. Dit is weliswaar buitengewoon vir ’n persoon om sulke selfbeheersing aan die dag te lê. Lankmoedigheid is nietemin ’n bewys daarvan dat God se gees op ’n Christen is. “Die vrug van die Gees is . . . lankmoedigheid”, sê Galasiërs 5:22. Maar hoe vind ons daarby baat?
Lankmoedigheid help ons om ekonomiese moeilikhede, gesondheidsprobleme en ander druk van die 20ste-eeuse lewenswyse te verdra. Ons weet waarom daar sulke probleme is en ons weet ook dat verligting ophande is! (2 Timotheüs 3:1-5; Lukas 21:28). Selfs wanneer ons sterk teenkanting teen die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk ondervind, dien lankmoedigheid as ’n muur wat ons nie net help om te volhard nie, maar ook ons hoop lewend hou.
Wanneer Paulus se raad om ‘lankmoedig te wees met blydskap’ toegepas word, help dit ook om sensitiewe huislike situasies te verbeter (Kolossense 1:11). Christene is soms met ongelowiges getroud. Een man het gesê: “Ons gesinslewe was nie net baie onstuimig nie, maar ek moes ook allerhande ontberinge verduur . . . Geen etes is voorberei nie . . . Geen klere was skoon en reg nie . . . Soms het sy my gevloek.” Maar hierdie Christenman was lankmoedig. “Ek het my elke keer in gebed tot Jehovah gewend”, het hy gesê, “en ek het op Hom vertrou om my te help om lankmoedigheid aan te kweek sodat ek nie my Christenbalans verloor nie . . . Dit het my gehelp om te volhard.” Die uiteinde? Na 20 jaar van teenstand het sy vrou ook ’n Christen geword! “Hoe dankbaar is ek Jehovah tog”, sê hierdie man, “dat hy my gehelp het om die vrug van die gees, lankmoedigheid, aan te kweek.”
Lankmoedig teenoor mekaar
Aangesien lankmoedigheid ’n vrug van God se heilige gees is, is dit onverenigbaar met “die werke van die vlees”, soos vyandskap, twis, jaloesie, woedevlae, rusies en afguns (Galasiërs 5:19-21). Wat gebeur wanneer ons toelaat dat hierdie “werke” te voorskyn kom en ons handelinge met mekaar oorheers?
’n Situasie waarby Moses betrokke was, lig toe wat kan gebeur. Daar is gesê dat hy “verreweg die sagmoedigste van al die mense op die aarde” was (Numeri 12:3, NW). By een geleentheid het hy egter nie lankmoedigheid aan die dag gelê nie. Toe die nasie se water opgeraak het, het die ontroue volk uitgeroep: “Waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe?” (Numeri 20:4). Hierdie situasie het vereis dat Moses selfbeheersing openbaar asook nugter nadink oor die feit dat hulle opstandige praatjies in werklikheid teen Jehovah gerig was! Moses het egter toegelaat dat vleeslike impulse oorneem. Die psalmis het gesê: “Die volk het die Here se toorn by die Mariba-waters laat ontvlam, en Moses het die wrange vrugte van hulle optrede gepluk: hulle het hom so verbitterd laat raak dat hy onbesonne dinge gesê het.”—Psalm 106: 32, 33, NAV.
Asof hy die wonderdadige voorsiener van water was, het Moses bitter gesê: “Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?” (Numeri 20:10). Ja, Moses het toegelaat dat die twisgierigheid en murmurering van ander hom onderkry. En as gevolg van sy verlies aan selfbeheersing en ook sy versuim om Jehovah te verheerlik, is hy nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie.
Christene moet vandag oppas dat hulle nie in hierdie strik trap nie. Soms kan ons Christenbroers ’n bron van ergernis wees soos die Israeliete vir Moses was. “’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra” (2 Timotheüs 2:24). Die vermaning in 1 Thessalonicense 5:14 is dus gepas: “Wees lankmoedig teenoor almal.”
Waardige voorbeelde
Christus het ’n volmaakte voorbeeld van lankmoedigheid gestel. Hy moes nie net “teëspraak van die sondaars” verdra nie, maar ook probleme wat onder sy eie dissipels ontstaan het (Hebreërs 12:3). Soms het hulle sy leer nie dadelik verstaan of toegepas nie. Maar hy het hulle nooit kras behandel nie. Toe sy dissipels die nag waarop hy verraai is aan die slaap geraak het, het Christus hulle vriendelik vermaan deur te sê: “Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.”—Lukas 22:46.
Sedert sy opstanding het Jesus voortgegaan om geduld en lankmoedigheid te openbaar. Saulus was byvoorbeeld ’n vervolger van Christene, ’n lasteraar en ’n onbeskaamde man. En tog het Christus hom genade betoon sodat Saulus ’n belangrike volgeling van Christus geword het. Paulus (voorheen Saulus) verduidelik: “Daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.”—1 Timotheüs 1:15, 16.
Die Skrif sê ons moet “sy [Christus se] voetstappe . . . navolg” (1 Petrus 2:21). Is jy net so geduldig met medegelowiges wanneer hulle lank vat om ’n Bybelbeginsel toe te pas? Betoon jy dieselfde lankmoedigheid teenoor wêreldse mense wat die waarheid nie ken nie? Word jy beweeg om sulke persone te help om die waarheid te vind?
Jehovah is egter die onvergelyklike voorbeeld van lankmoedigheid. “[Jehovah], barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Psalm 103:8; Exodus 34:5-7). Hoewel manne soos Moses gefrustreerd geraak het met die hardnekkige Israeliete, het Jehovah gesê: “Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ’n ongehoorsame en teësprekende volk” (Romeine 10:21). Maar daar was ’n doel agter sulke lankmoedigheid. Soos ’n vader met ’n weerspannige seun het Jehovah geweier om hoop op te gee dat sy gespanne verhouding met Israel sou verbeter. En sy geduld het vrugte afgewerp—’n oorblyfsel van daardie nasie is gered!
Perke aan lankmoedigheid
God se geduld is egter nie onbeperk nie. Israel se volgehoue verset teen Jehovah se waarskuwings het daartoe gelei dat hulle as ’n nasie van God vervreem is. Jesaja het gesê: “Maar hulle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ’n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry” (Jesaja 63:10). Ja, mettertyd het “die grimmigheid van [Jehovah] teen sy volk opgekom” (2 Kronieke 36:15, 16). Sy lankmoedigheid het opgeraak.
Dit het vandag ernstige implikasies vir ons. Dit sou onredelik wees om tot die slotsom te kom dat God sonde vir ewig sal duld. Paulus het weliswaar gesê: “God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, [het] tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra.” En tog is daar ’n doel met sulke verdraagsaamheid: “Om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid” (Romeine 9:22, 23). Ja, as gevolg van God se geduld is sy naam dwarsoor die aarde verkondig. God het ook sy ‘dag van wraak’ deur middel van sy volk aangekondig (Jesaja 61:2). Talle dryf weliswaar die spot met hierdie waarskuwingsboodskap, soos die Epikureërs en Stoïsyne in Paulus se dag wat gesê het: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” (Handelinge 17:18). Maar onthou, God sal “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie”.—2 Thessalonicense 1:8.
Intussen moet ons egter voortgaan om God se strafgerigte te verkondig totdat God openbaar dat dit tyd is om op te hou. Ons moet ‘geduld beoefen tot die teenwoordigheid van die Here’ (Jakobus 5:7, NW). Maar as ons geduldig die verskillende euwels verdra wat die lewe in hierdie stelsel oor ons bring, sal dit tasbare resultate lewer. Ons vertroue op Jehovah sal toeneem. Dit sal ons verhoudinge met ander verbeter en voorkom dat onnodige probleme ontstaan. Lankmoedigheid kan ontberinge meebring, maar ongeag wie ons is of waar ons woon, of ons vry of gevange is, teenstand by die huis of in die Christenbediening ondervind, die vrede en eenheid wat deur lankmoedigheid bevorder word, sal vir ons groter vreugde en vergenoegdheid verskaf (Efesiërs 4:2). Wandel dus gerus waardig met lankmoedigheid.