Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 5/15 bl. 10-15
  • Let op voorbeelde van lankmoedigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Let op voorbeelde van lankmoedigheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lankmoedig ter wille van Sy Naam
  • Lankmoedigheid ter wille van mense
  • Jesus se voorbeeld van lankmoedigheid
  • Ander voorbeelde van lankmoedigheid
  • Let op Paulus se voorbeeld
  • Jehovah is ’n lankmoedige God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ‘Beklee julle met lankmoedigheid’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wees lankmoedig teenoor almal
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Wandel waardig . . . met lankmoedigheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 5/15 bl. 10-15

Let op voorbeelde van lankmoedigheid

“God . . . [het] met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra.”—ROMEINE 9:22.

1. (a) Hoe strek God se geïnspireerde Woord ons tot voordeel? (b) Waarom word lankmoedigheid hier bespreek?

JEHOVAH God, ons Skepper, het sy geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, vir ons gegee. Dit moet as ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’ dien (Psalm 119:105). God se Woord help ons ook om “vir elke goeie werk volkome toegerus” te word (2 Timotheüs 3:16, 17). Een manier waarop dit ons só toerus, is deur ons goeie voorbeelde van lankmoedigheid te gee. Hierdie eienskap is een van die vrugte van God se gees en is onontbeerlik as ons sy goedkeuring wil verkry en goed met ander mense oor die weg wil kom.—Galasiërs 5:22.

2. Wat beteken die Griekse woord wat met “lankmoedigheid” vertaal word, en wie is die voortreflikste voorbeeld van iemand wat hierdie eienskap aan die dag lê?

2 Die Griekse woord wat met “lankmoedigheid” vertaal word, beteken letterlik “lankheid van gees”. Lankmoedigheid is al gedefinieer as “daardie eienskap van selfbedwang wat ondanks provokasie nie haastig wraak neem of onmiddellik straf nie” (Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words, deur W. E. Vine, Deel 3, bladsy 12). Om lankmoedig te wees, beteken om selfbeheersing te beoefen en om nie gou toornig te word nie. En wie is die voortreflikste voorbeeld van iemand wat nie gou toornig word nie en wat lankmoedigheid aan die dag lê? Niemand anders as Jehovah God nie. Ons lees derhalwe in Exodus 34:6 dat Jehovah ’n ‘barmhartige en goedgunstige God is, stadig om toornig te word en oorvloedig in liefderyke goedheid en waarheid’ (NW). Trouens, daar word nog agt keer in die New World Translation van Jehovah gepraat as iemand wat ‘stadig is om toornig te word’.—Numeri 14:18; Nehemia 9:17; Psalm 86:15; 103:8; 145:8; Joël 2:13; Jona 4:2; Nahum 1:3.

3. Aan watter eienskappe kan Jehovah se lankmoedigheid toegeskryf word?

3 Om lankmoedig te wees, dit wil sê, nie gou toornig te word nie, is presies wat ons van Jehovah God sal verwag, want hy het oneindige mag en wysheid, is volmaak in geregtigheid en is die verpersoonliking van liefde (Deuteronomium 32:4, NW; Job 12:13; Jesaja 40:26; 1 Johannes 4:8). Hy het beheer oor sy eienskappe en hou hulle te alle tye in volmaakte balans. Waarom en hoe het hy volgens sy Woord lankmoedigheid teenoor onvolmaakte mense geopenbaar?

Lankmoedig ter wille van Sy Naam

4. Om watter goeie redes het God lankmoedigheid teenoor sondaars geopenbaar?

4 Waarom is Jehovah lankmoedig? Waarom straf hy sondaars nie onmiddellik nie? Nie omdat hy ’n gebrek aan belangstelling of ywer vir geregtigheid het nie. Nee, daar is goeie redes waarom Jehovah stadig is om toornig te word en mense nie dadelik straf nie. Een rede is sodat sy naam bekend gemaak kan word. ’n Ander rede is dat tyd nodig is om die geskille te besleg oor God se soewereiniteit en die mensdom se onkreukbaarheid, wat deur die opstand in Eden geopper is. Nog ’n ander rede vir God se lankmoedigheid is dat dit aan oortreders die geleentheid bied om hulle weë te verander.

5, 6. Waarom het Jehovah lankmoedigheid geopenbaar ten opsigte van die mens se opstand?

5 Jehovah was lankmoedig in sy optrede teenoor die eerste mensepaar in die tuin van Eden. Toe hulle sy gebod teen die eet van die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad gebreek het, kon hy hulle en die gevalle engel wat Eva bedrieg het onmiddellik tereggestel het. Dit ly geen twyfel nie dat Jehovah se sin vir regverdigheid en geregtigheid diep gekrenk was en dat hy toornig teenoor die drie opstandelinge was. Hy het die volste reg gehad om hulle onmiddellik tereg te stel. God het die eerste mens, Adam, gewaarsku: “Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Op dieselfde dag wat Adam gesondig het, het God die oortreders tot verantwoording geroep en die doodvonnis oor hulle uitgespreek. Geregtelik het Adam en Eva op daardie dag gesterf. Nogtans het ons lankmoedige Skepper Adam 930 jaar lank laat leef.—Genesis 5:5.

6 God het goeie rede gehad om in hierdie geval lankmoedig te wees, of nie gou toornig te word nie. As hy daardie opstandelinge daar en dan tereggestel het, sou dit nie ’n antwoord wees op die Duiwel se duidelike skimp dat Jehovah God dit nie verdien om aanbid te word nie en dat hy nie menseknegte kan hê wat in alle omstandighede hulle onkreukbaarheid teenoor hom sal handhaaf nie. Daarbenewens sou vrae soos die volgende onbeantwoord gebly het: Wie se fout was dit dat Adam en Eva gesondig het? Het Jehovah hulle oorspronklik moreel so swak geskep dat hulle nie versoeking kon weerstaan nie en hulle toe gestraf omdat hulle dit nie weerstaan het nie? Die antwoord op al hierdie vrae blyk duidelik uit die boek Job, hoofstukke 1 en 2. Deur die menseras toe te laat om te vermeerder, het Jehovah mense geleenthede gegee om te bewys dat Satan se aantygings onwaar is.

7. Waarom het Jehovah Farao nie summier tereggestel nie?

7 Toe Jehovah gereed was om sy volk, die Israeliete, uit Egiptiese slawerny te bevry, het hy weer eens bewys dat hy lankmoedig is. Jehovah kon Farao en sy krygsmagte summier vernietig het. Pleks van dit te doen, het God hulle egter ’n ruk lank geduld. Om watter goeie redes? Wel, met verloop van tyd het Farao al hoe onversetliker geraak in sy weiering dat die Israeliete Egipte as Jehovah se vry volk verlaat. Hy het dus getoon dat hy ’n ‘voorwerp van toorn’ was wat vernietiging verdien het omdat hy Jehovah uitgetart het (Romeine 9:14-24). Maar daar was in hierdie geval ’n belangriker rede waarom God lankmoedig was. Hy het by monde van Moses vir Farao gesê: “Anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het; maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.”—Exodus 9:15, 16.

8. Waarom het God wederstrewige Israeliete in die woestyn nie tereggestel nie?

8 Daar is ook goeie redes waarom Jehovah lankmoedigheid aan die dag gelê het toe die Israeliete in die woestyn was. Hoe het hulle tog nie God se geduld op die proef gestel nie deur die goue kalf te aanbid en deur ’n gebrek aan geloof te openbaar toe tien verkenners met slegte nuus teruggekeer het! God het hulle nie as sy volk uitgewis nie, aangesien sy naam en reputasie daarby betrokke was. Ja, Jehovah het lankmoedigheid geopenbaar ter wille van sy naam.—Exodus 32:10-14; Numeri 14:11-20.

Lankmoedigheid ter wille van mense

9. Waarom het Jehovah in die dae van Noag lankmoedigheid getoon?

9 Ter wille van die mensdom was Jehovah lankmoedig toe Adam al sy potensiële nakomelinge ’n groot onreg aangedoen het deur te sondig. God se lankmoedigheid het dit moontlik gemaak dat daardie onreg reggestel kon word deur tyd toe te laat sodat berouvolle mense hulle met hom kan versoen (Romeine 5:8-10). Jehovah God het ook lankmoedigheid teenoor mense in Noag se dag geopenbaar. In daardie tyd ‘het Jehovah gesien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was’ (Genesis 6:5). Hoewel God die menseras dadelik kon uitroei toe hy hierdie toestand gesien het, het hy besluit dat hy binne 120 jaar ’n einde aan hierdie situasie sou bring (Genesis 6:3). Hierdie betoning van lankmoedigheid het tyd gegee vir Noag om drie seuns te verwek, vir hulle om groot te word en te trou, en vir daardie gesin om die ark te bou vir die redding van hulle siele en die behoud van diere. Sodoende kon God se oorspronklike voorneme met die aarde verwesenlik word.

10, 11. Waarom was Jehovah so lankmoedig teenoor die nasie Israel?

10 Nog ’n definisie van lankmoedigheid het veral betrekking op die manier waarop God teenoor sy volk optree. Dit is “die geduldige verduring van onreg of provokasie, gepaard met ’n weiering om hoop te laat vaar dat daar ’n verbetering in die vertroebelde verhouding sal intree” (Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 262; uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.). Dit dui op nog ’n rede waarom God lankmoedig teenoor die Israeliete was. Hulle het herhaaldelik van Jehovah afgedwaal en slawe van heidense nasies geword. Nogtans het hy lankmoedigheid geopenbaar deur die Israeliete te verlos en hulle die geleentheid te bied om hulle te bekeer.—Rigters 2:16-20.

11 Die meeste Israelitiese konings het hulle onderdane in valse aanbidding ingelei. Het God die nasie dadelik verwerp? Nee, hy het nie gou hoop laat vaar dat die vertroebelde verhouding sal verbeter nie. Jehovah was eerder stadig om toornig te word. God het lankmoedigheid aan die dag gelê en hulle herhaaldelik die geleentheid gebied om hulle te bekeer. Ons lees in 2 Kronieke 36:15, 16: “Die HERE, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.”

12. Watter bewys lewer die Christelike Griekse Geskrifte omtrent die redes waarom Jehovah lankmoedig is?

12 Die Christelike Griekse Geskrifte lewer ook bewys dat Jehovah lankmoedigheid aan die dag lê om sy volk te help wanneer hulle foute begaan. Die apostel Paulus vra byvoorbeeld aan Christene wat oortree het: “Verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4). Petrus se woorde het ook dieselfde strekking: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9, NAV). Daar word heel gepas vir ons gesê om “die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word” te beskou (2 Petrus 3:15, NAV). Ons sien dus dat Jehovah lankmoedig is, nie vanweë sentimentaliteit of laksheid nie, maar omdat sy naam en voornemens daarby betrokke is en omdat hy barmhartig en liefdevol is.

Jesus se voorbeeld van lankmoedigheid

13. Watter skriftuurlike bewys is daar dat Jesus Christus lankmoedig was?

13 Naas die voorbeeld van lankmoedigheid wat God stel, is daar dié van sy Seun, die Messias, Jesus Christus. Hy is ’n uitstekende voorbeeld van selfbedwang sonder haastige wraakneming ondanks provokasie.a Die profeet Jesaja het voorspel dat die Messias lankmoedig sou wees: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie” (Jesaja 53:7). Petrus se woorde getuig ook van hierdie waarheid: “Wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). Hoe moes Jesus se dissipels hom tog nie beproef het met hulle gedurige getwis oor wie die grootste was nie! Maar hoe lankmoedig en geduldig was hy tog met hulle!—Markus 9:34; Lukas 9:46; 22:24.

14. Jesus se voorbeeld van lankmoedigheid behoort ons te beweeg om wat te doen?

14 Ons moet Jesus se voorbeeld van lankmoedigheid volg. Paulus het geskryf: “Laat ons . . . met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis [“folterpaal”, NW] verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.”—Hebreërs 12:1-3.

15. Hoe weet ons dat Jesus lankmoedig was en beproewinge gewillig verduur het?

15 Dat Jesus lankmoedig was en beproewinge gewillig verduur het, blyk duidelik uit die gesindheid wat hy ten tyde van sy inhegtenisneming geopenbaar het. Nadat hy Petrus tereggewys het omdat hy die swaard opgeneem het om sy Meester te beskerm, het Jesus gesê: “Dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?”—Mattheüs 26:51-54; Johannes 18:10, 11.

Ander voorbeelde van lankmoedigheid

16. Hoe toon die Skrif dat Jakob se seun Josef lankmoedig was?

16 Selfs onvolmaakte, sondige mense kan lankmoedigheid aan die dag lê. Die Hebreeuse Geskrifte bevat voorbeelde van hoe onvolmaakte mense onregte wat teen hulle gepleeg is geduldig verduur het. Daar is byvoorbeeld Josef, die seun van die Hebreeuse aartsvader Jakob. Hoe geduldig het hy tog nie onregte verduur wat sy halfbroers en Potifar se vrou hom aangedoen het nie! (Genesis 37:18-28; 39:1-20). Josef het nie toegelaat dat hierdie beproewinge hom verbitterd maak nie. Dit was duidelik toe hy vir sy broers gesê het: “Wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur” (Genesis 45:4, 5). Wat ’n goeie voorbeeld van lankmoedigheid het Josef tog gestel!

17, 18. Watter bewys van lankmoedigheid het ons in die geval van Dawid?

17 Dawid is nog ’n voorbeeld van ’n getroue kneg van Jehovah wat onregte geduldig verduur het deur lankmoedigheid aan die dag te lê. Dawid is soos ’n hond deur jaloerse koning Saul vervolg, en by twee geleenthede kon Dawid wraak geneem het deur Saul dood te maak (1 Samuel 24:2-23; 26:1-25). Maar Dawid het op God gewag, soos gesien kan word uit sy woorde aan Abisai: “Sekerlik sal die HERE [Saul] slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan!” (1 Samuel 26:10, 11). Ja, Dawid kon ’n einde maak aan Saul se agtervolging van hom. Dawid het eerder verkies om lankmoedig te wees.

18 Kyk ook wat gebeur het toe koning Dawid van sy verraderlike seun Absalom gevlug het. Simeï, ’n Benjaminiet van die huis van Saul, het Dawid met klippe gegooi en ’n vloek oor hom uitgeroep: “Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet!” Abisai wou Simeï doodmaak, maar Dawid het geweier om wraak te neem. Pleks van dit te doen, het hy weer eens lankmoedigheid geopenbaar.—2 Samuel 16:5-13.

Let op Paulus se voorbeeld

19, 20. Hoe het die apostel Paulus getoon dat hy lankmoedig is?

19 In die Christelike Griekse Geskrifte het ons ’n ander goeie voorbeeld van ’n onvolmaakte mens wat lankmoedig was—die apostel Paulus. Hy het geduldige volharding, lankmoedigheid, aan die dag gelê teenoor sy godsdiensvyande sowel as individue wat beweer het dat hulle Christene is. Ja, Paulus het lankmoedigheid geopenbaar, al het sommige in die Korinthiese gemeente gesê: “Die briewe . . . is wel gewigtig en kragtig, maar die persoonlike teenwoordigheid is swak en die woord niks werd nie.”—2 Korinthiërs 10:10; 11:5, 6, 22-33.

20 Paulus het dus tereg vir die Korinthiërs gesê: “In alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly; in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde” (2 Korinthiërs 6:4-6). Die apostel kon op soortgelyke trant aan sy medewerker Timotheüs skryf: “Jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolginge, lyding, . . . En die Here het my uit almal verlos” (2 Timotheüs 3:10, 11). Watter goeie voorbeeld het die apostel Paulus tog vir ons gestel wat lankmoedigheid betref!

21. Hoe kan die volgende artikel ons help?

21 Daar is ongetwyfeld volop goeie voorbeelde van lankmoedigheid in die Skrif. Jehovah en sy geliefde Seun is die vernaamste voorbeelde. Maar hoe bemoedigend is dit om te sien dat hierdie eienskap deur onvolmaakte mense, soos Josef, Dawid en die apostel Paulus, aan die dag gelê is! Die volgende artikel is daarop gemik om ons te help om sulke goeie voorbeelde na te volg.

[Voetnoot]

a Om lankmoedig te wees, beteken nie bloot om lank te ly nie. As iemand wat lank ly, gefrustreerd of verbitterd is omdat hy nie wraak kan neem nie, is hy nie lankmoedig nie.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat beteken dit om lankmoedig te wees?

◻ Om watter vername redes was Jehovah lankmoedig?

◻ Hoe het Jesus getoon dat hy lankmoedig is?

◻ Watter skriftuurlike bewys is daar dat onvolmaakte mense lankmoedigheid aan die dag kan lê?

[Prent op bladsy 10]

Josef, Jesus, Dawid, Paulus en Job was voorbeelde van lankmoedigheid

[Prent op bladsy 13]

Jesus het lankmoedigheid teenoor sy dissipels geopenbaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel