Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 5/15 bl. 16-20
  • Wees lankmoedig teenoor almal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees lankmoedig teenoor almal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees lankmoedig teenoor jou broers
  • In die gesinskring
  • Teenoor diegene buite die gemeente
  • Geloof en hoop help ons om lankmoedig te wees
  • Gebed, nederigheid en liefde sal help
  • Wees lankmoedig met blydskap?
  • ‘Beklee julle met lankmoedigheid’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Let op voorbeelde van lankmoedigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Jehovah is ’n lankmoedige God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Wandel waardig . . . met lankmoedigheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 5/15 bl. 16-20

Wees lankmoedig teenoor almal

“Ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 THESSALONICENSE 5:14.

1. Waar en in watter omstandighede het Jehovah se Getuies lankmoedigheid geopenbaar?

WAT ’n voorbeeld van lankmoedigheid het Jehovah se hedendaagse Getuies tog nie al gestel nie! Hulle het baie beproewinge en vervolging verduur in voormalige Nazi- en Fascislande en tot op hede in lande soos Malawi. Diegene wat in huise woon wat godsdienstig verdeeld is, is ook lankmoedig.

2. Aan watter twee faktore kan die geestelike paradys wat Jehovah se volk geniet, toegeskryf word?

2 Ondanks die vervolging en beproewinge wat hulle deurmaak, geniet Jehovah se toegewyde volk die seëninge van ’n geestelike paradys. Trouens, die feite toon dat gesalfde Christene dit in 1919 begin geniet het. Waaraan kan hierdie geestelike paradys toegeskryf word? Ten eerste, hierdie paradystoestande heers onder Jehovah se volk omdat God sy gesalfde knegte tot hulle “land”, of toestand, van rein aanbidding herstel het (Jesaja 66:7, 8). Die geestelike paradys floreer ook omdat almal daarin die vrugte van God se gees openbaar. Lankmoedigheid is een van hierdie vrugte (Galasiërs 5:22). Die belangrikheid van hierdie eienskap ten opsigte van ons geestelike paradys kan gesien word uit hierdie woorde van geleerde William Barclay: “Daar kan nie iets soos ’n Christenbroederskap wees sonder makrothumia [lankmoedigheid] nie. . . . En die rede daarvoor is eenvoudig dit—dat makrothumia dié voortreflike karaktertrek van God is (Rom. 2.4; 9.22)” (A New Testament Wordbook, bladsy 84). Ja, lankmoedigheid is só belangrik!

Wees lankmoedig teenoor jou broers

3. Watter les oor lankmoedigheid het Jesus vir Petrus geleer?

3 Die apostel Petrus het dit blykbaar moeilik gevind om lankmoedigheid te openbaar, want hy het eenkeer vir Jesus gevra: “Heer, hoeveel maal kan my broeder teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?” Jesus se raad aan hom was: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewe-en-sewentig maal toe” (Mattheüs 18:21, 22, NW). Met ander woorde, daar is geen beperking op die aantal kere wat ons mekaar moet verdra en iemand wat teen ons gesondig het, moet vergewe nie. Ons kan ons per slot van rekening nie voorstel dat iemand tot 77 keer telling sal hou nie! Maar om só vergewensgesind te wees, vereis beslis lankmoedigheid.

4. Waarom moet veral ouere manne lankmoedig wees?

4 Wat die betoning van lankmoedigheid deur geestelike broers betref, moet gemeentelike ouere manne beslis voorbeeldig wees. Hulle geduld word dalk op die proef gestel omdat sekere medegelowiges onbedagsaam of onverskillig is. Ander talm dalk om slegte gewoontes reg te stel. Ouere manne moet versigtig wees dat hulle nie maklik ergerlik raak oor of aanstoot neem aan die swakhede van hulle Christenbroers en -susters nie. Hierdie geestelike herders moet eerder die volgende raad onthou: “En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”—Romeine 15:1.

5. Watter dinge kan ons verdra as ons lankmoedig is?

5 Persoonlikheidsgeskille kan ook opduik weens menslike swakhede en tekortkominge. As gevolg van tekortkominge of eienaardighede irriteer ons miskien ons broers, om dit so uit te druk, en hulle kan ons irriteer. Daarom is dié raad gepas: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). ‘Om mekaar te verdra’ beteken om lankmoedig te wees, al het ons grondige redes vir ’n klag teen iemand. Ons moenie wraak neem of ons broer straf nie, selfs nie eers teen hom sug nie.—Jakobus 5:9.

6. Waarom is lankmoedigheid die verstandige weg?

6 Die raad in Romeine 12:19 het dieselfde strekking: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” “Gee plek vir die toorn” beteken om nie gou toornig te word nie, of om lankmoedig te wees. Dit is die verstandige weg om hierdie eienskap aan die dag te lê, want dit strek ons sowel as ander tot voordeel. As ’n probleem opduik, voel ons beter omdat ons, deur lankmoedig te wees, sake nie vererger nie. En die persoon teenoor wie ons lankmoedigheid beoefen, voel ook beter omdat ons hom nie straf of op die een of ander manier wraak neem nie. Dit is geen wonder nie dat Paulus mede-Christene aangespoor het om ‘die kleinmoediges te bemoedig, die swakkes te ondersteun, lankmoedig teenoor almal te wees’!—1 Thessalonicense 5:14.

In die gesinskring

7. Waarom moet getroudes lankmoedig wees?

7 Daar is al tereg gesê dat ’n gelukkige huwelik die verbintenis tussen twee goeie vergewers is. Wat beteken dit? Dat gelukkig getroudes lankmoedigheid openbaar in hulle optrede teenoor mekaar. Individue voel dikwels aangetrokke tot mekaar as gevolg van hulle teenoorgestelde temperamente. Hierdie verskille kan interessant wees, maar hulle kan ook ’n bron van wrywing wees waardeur druk en bekommernisse wat reeds vir getroude Christene ‘verdrukking vir die vlees’ veroorsaak, vererger word (1 Korinthiërs 7:28). Sê nou ’n man let byvoorbeeld nie op klein dingetjies nie of is geneig om ’n bietjie nalatig of slordig te wees. Dit kan sy vrou se geduld nogal op die proef stel. Maar as vriendelike versoeke geen vrug afwerp nie, moet sy maar sy swakhede verdra deur lankmoedig te wees.

8. Waarom moet mans soms lankmoedig wees?

8 Daarenteen is ’n vrou miskien te gesteld op klein dingetjies en is sy geneig om aan haar man te karring. Dit kan ’n mens wel laat dink aan die teks: “Liewer bo-op ’n dak woon as saam met ’n twisgierige vrou onder een dak” (Spreuke 25:24, NAV). In so ’n geval is lankmoedigheid nodig om gehoor te gee aan Paulus se raad: “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie” (Kolossense 3:19). Om op die apostel Petrus se raad ag te slaan, moet mans ook lankmoedigheid aan die dag lê: “Net so moet julle, manne, verstandig met [julle vroue] saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Petrus 3:7). Die swakhede van sy vrou kan ’n man se geduld soms op die proef stel, maar lankmoedigheid sal hom help om dit te verdra.

9. Waarom is dit nodig dat ouers lankmoedigheid openbaar?

9 Ouers moet lankmoedig wees as hulle sukses wil behaal met die grootmaak van hulle kinders. Kinders maak dieselfde foute oor en oor. Dit lyk miskien of hulle hardkoppig is of traag is om te leer, en dit kan hulle ouers se geduld voortdurend op die proef stel. In sulke omstandighede moet Christenouers nie gou toornig word nie en nie hulle humeur of selfbeheersing verloor nie, maar kalm bly terwyl hulle vasstaan by regverdige beginsels. Vaders moet onthou dat hulle ook eenkeer jonk was en ook foute begaan het. Hulle moet Paulus se raad toepas: “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.”—Kolossense 3:21.

Teenoor diegene buite die gemeente

10. Hoe moet ons by ons werk optree, en watter ondervinding lig dit toe?

10 As gevolg van menslike onvolmaakthede en selfsug kan onaangename situasies by ’n Christen se werk opduik. Dit is verstandig om taktvol te wees en om ter wille van die vrede onregte te verduur. Hoe verstandig dit kan wees, blyk uit die ondervinding van ’n Christen wat die slagoffer was van baie onaangenaamhede wat ’n jaloerse medewerker vir hom veroorsaak het. Omdat die broer nie ’n geskil hiervan gemaak het nie, maar lankmoedig was, kon hy mettertyd ’n Bybelstudie begin met die werknemer wat soveel probleme vir hom veroorsaak het.

11. Wanneer moet ons veral lankmoedig wees, en waarom?

11 Jehovah se volk moet veral lankmoedig wees wanneer hulle vir diegene buite die Christengemeente getuig. Christene kry gedurig te doen met onbeleefde of kwaai reaksies. Sal dit gepas of verstandig wees om in gelyke munt terug te betaal? Nee, want dit sal nie lankmoedigheid openbaar nie. Dit is verstandig om die wyse spreuk te onthou en toe te pas: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”—Spreuke 15:1.

Geloof en hoop help ons om lankmoedig te wees

12, 13. Watter eienskappe sal ons help om lankmoedig te wees?

12 Wat kan ons help om lankmoedig te wees, om moeilike toestande te verdra? Geloof in God se beloftes is een ding. Ons moet God op sy woord glo. Die Skrif sê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Met ander woorde, soos een veteraanbroer gesê het: “As God dit toelaat, dan kan ek dit verduur.” Ja, ons kan dit verduur deur lankmoedig te wees.

13 Hoop op God se Koninkryk staan in noue verband met geloof. Wanneer God se Koninkryk oor die aarde heers, sal al die bose toestande wat vir ons ellende veroorsaak, verwyder word. Die psalmis Dawid het hieroor gesê: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit” (Psalm 37:8, 9). Die vaste hoop dat God binnekort ’n einde gaan maak aan al hierdie moeilike omstandighede help ons om lankmoedig te wees.

14. Watter ondervinding toon waarom ons lankmoedig teenoor ’n ongelowige maat moet wees?

14 Hoe moet ons reageer as ’n ongelowige maat dit vir ons moeilik maak? Wend jou altyd tot God om hulp, en hou aan hoop dat die teenstander ’n aanbidder van Jehovah sal word. Die vrou van een Christen het partykeer geweier om sy etes voor te berei en om sy klere te was. Sy het vuil taal gebruik, het soms dae lank nie met hom gepraat nie en het selfs probeer om hom onder die invloed van towery te bring. “Maar”, het hy gesê, “ek het my elke keer in gebed tot Jehovah gewend, en ek het op Hom vertrou om my te help om die goeie eienskap van lankmoedigheid aan te kweek sodat ek nie my Christelike balans verloor nie. Ek het ook gehoop dat haar hartgesindheid eendag sal verander.” Na 20 jaar van sulke behandeling het sy vrou begin verander, en hy het gesê: “Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah dat hy my gehelp het om die vrug van die gees, naamlik lankmoedigheid aan te kweek, want nou kan ek die resultaat sien: My vrou het op die pad van die lewe begin wandel!”

Gebed, nederigheid en liefde sal help

15. Waarom kan gebed ons help om lankmoedig te wees?

15 Gebed is nog ’n groot hulp om lankmoedigheid aan die dag te lê. Paulus het gemaan: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6, 7). Onthou ook om ag te slaan op dié vermaning: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.

16. Hoe kan nederigheid ons help om lankmoedig te wees?

16 Nederigheid is ’n ander groot hulp om die vrug van die gees, naamlik lankmoedigheid aan te kweek. ’n Hoogmoedige mens is ongeduldig. Hy neem maklik aanstoot, word gou kwaad en sal nie enige onaangename behandeling duld nie. Al hierdie dinge is die teenoorgestelde van lankmoedigheid. Maar ’n nederige mens sal homself nie te ernstig neem nie. Hy sal op Jehovah wag, soos Dawid gewag het toe hy deur koning Saul vervolg is en deur die Benjaminiet Simeï beledig is (1 Samuel 24:5-7; 2 Samuel 16:5-13). Dit moet dus ons begeerte wees om ‘met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid te wandel, terwyl ons mekaar in liefde verdra’ (Efesiërs 4:2). Daarbenewens moet ons ‘ons voor Jehovah verneder’.—Jakobus 4:10.

17. Waarom sal liefde ons help om lankmoedig te wees?

17 Veral onselfsugtige liefde help ons om lankmoedig te wees. Waarlik, “die liefde is lankmoedig”, want dit maak dat ons ander se belange op die hart dra (1 Korinthiërs 13:4). Liefde stel ons in staat om empatie te hê, om ons as ’t ware in ander se skoene te stel. Boonop help liefde ons om lankmoedig te wees omdat ‘dit alles bedek, alles glo, alles hoop, alles verdra. Die liefde vergaan nimmermeer’ (1 Korinthiërs 13:7, 8). Ja, soos Koninkrykslied nommer 200 in die boek Sing lofliedere voor Jehovah dit stel:

“Liefde sien die goeie raak,

Poog om almal sterk te maak.

Liefde is ook vriendelik,

Dit verflou nie onder druk.”

Wees lankmoedig met blydskap?

18. Hoe is dit moontlik om met blydskap lankmoedig te wees?

18 Paulus het gebid dat sy medegelowiges in Kolosse met die juiste kennis van God gevul word sodat hulle waardiglik voor Jehovah kan wandel, hom kan behaag en in elke goeie werk vrug kan dra. Hulle sal dan “met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap” (Kolossense 1:9-11). Maar hoe kan iemand ‘met blydskap lankmoedig’ wees? Dit is nie teenstrydig nie, want om die blydskap te hê wat in die Skrif gemeld word, is nie bloot ’n kwessie van lighartigheid of vrolikheid nie. Die gees se vrug van blydskap is onder andere ’n gevoel van diep tevredenheid omdat ons die regte ding voor God doen. Dit is ook ’n weerspieëling van die hoop om ’n beloofde beloning te ontvang omdat ons lankmoedigheid beoefen het. Dit is waarom Jesus gesê het: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”—Mattheüs 5:11, 12.

19. Watter voorbeelde toon dat dit moontlik is om lankmoedig en ook vreugdevol te wees?

19 Jesus het sulke blydskap ervaar. Trouens, “ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis [“folterpaal”, NW] verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins” (Hebreërs 12:2, NAV). Daardie blydskap het Jesus in staat gestel om lankmoedig te wees. Beskou eweneens wat gebeur het toe die apostels geslaan is en beveel is om “nie in die Naam van Jesus te spreek nie”. Hulle “het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Handelinge 5:40-42). Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog om te bewys dat Christus se volgelinge met blydskap lankmoedig kan wees!

20. Hoe kan dit ons verhouding met ander raak as ons lankmoedigheid openbaar?

20 God se Woord gee beslis wyse raad wanneer dit ons maan om nie wraak te neem nie, om nie gou toornig te word nie terwyl ons op die beste hoop—ja, om lankmoedig te wees! Ons het gereelde gebed en hierdie vrug van God se gees nodig om oor die weg te kom met ons broers en susters in die gemeente, met diegene in ons gesinskring, met mense by ons werk en met individue wat ons in die Christelike bediening teëkom. En wat kan ons help om lankmoedigheid aan die dag te lê? Geloof, hoop, nederigheid, blydskap en liefde. Voorwaar, met sulke eienskappe kan ons teenoor almal lankmoedig wees.

Onthou jy?

◻ Waarom is lankmoedigheid noodsaaklik as ons in ’n geestelike paradys wil wees?

◻ Waarom moet veral ouere manne lankmoedig wees?

◻ Waarom moet mans en vrouens lankmoedigheid aankweek?

◻ Watter ander eienskappe sal ons help om lankmoedig te wees?

[Prent op bladsy 17]

Watter raad van Jesus het Petrus gehelp om lankmoedig te wees?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel