Die strewe na gelykheid
NIEMAND wil graag minderwaardig voel nie. “Ek is so goed as wie ook al” word dikwels gehoor. Vind ons nie ’n meerderwaardige houding onsmaaklik nie? Basies is dit gerusstellend om te voel dat jy gelyk is aan ander. Maar dit is makliker om aan gelykheid te dink en daarvan te praat as om dit te bereik, soos baie ondervind het. Beskou hierdie voorbeeld:
In 1776 het die Engelse kolonies in Noord-Amerika die leisels oorgeneem en ’n eie regering ingestel. Hulle befaamde Onafhanklikheidsverklaring het verskeie “vanselfsprekende waarhede” gestel, onder meer dat “alle mense gelyk geskape is”. Hulle het voorts verklaar dat alle burgers die reg het op “lewe, vryheid en die strewe na geluk”.
Toe die 13 kolonies van Brittanje weggebreek het, was hulle bevolking ongeveer driemiljoen. Meer as ’n halfmiljoen van daardie getal was slawe. Dit het byna honderd jaar geduur voor slawerny in die Verenigde State van Amerika afgeskaf is. Thomas Jefferson, een van die groot geeste agter die Verklaring, het sy hele lewe lank ’n slawe-eienaar gebly. Die oogmerke van daardie Verklaring was edel, maar dit het tyd gekos voordat selfs ’n mate van daardie fundamentele gelykheid verwesenlik is.
Rondom die aarde is daar vandag nog baie wat min vryheid het of wat die slagoffers van diskriminasie is. Talle besef dit en wy hulle lewe aan pogings om alle soorte onreg en ongelykheid uit die weg te ruim. Een onlangse publikasie oor vryheid wat deur die Verenigde Volke uitgegee is, maak meer as ’n tiental keer melding van gelykheid en die behoefte aan gelykheid. Dit is klaarblyklik nog steeds ’n ontwykende doelwit. Waarom?
Die probleem is dat gelykheid baie fasette het en nie maklik omskryf kan word nie. Mense soek op verskillende maniere na gelykheid, na gelang van hulle omstandighede. In watter mate kan daar dan gesê word dat mense gelyk is? Wat kan ons redelikerwys nou en in die toekoms verwag wat gelykheid met ons medemens betref?
Hoe wesenlik is gelykheid vandag?
’n Prins en ’n pouper word dalk op dieselfde dag in dieselfde stad gebore, maar die een sal waarskynlik ’n weelderige en bevoorregte bestaan voer terwyl die ander onder armoede gebuk sal gaan. Dit is net een aspek wat toon waarom dit onjuis is om te sê dat alle mense vandag gelyk gebore word.
Baie hang af van die gemeenskap waarin ons lewe en die mate van gelykheid wat dit deur die jare heen behaal het. Die Encyclopædia Britannica som dit goed op:
“Alle gemeenskappe tref noodsaaklikerwys reëlings vir die deling van rykdom, mag en ander waardes. Onder individue en groepe weerspieël hierdie reëlings alle grade van gelykheid en ongelykheid.”
In enige gemeenskap het elke individu iets by te dra wat eie is aan homself. Sommige probeer gevolglik om almal se besondere talente en vermoëns saam te voeg en dan rykdom en produksiemiddele regverdig te verdeel. Vandaar die kommunistiese leuse: “Van elkeen volgens sy vermoë, aan elkeen volgens sy behoefte.” Ook: “Van elkeen volgens sy vermoë, aan elkeen volgens sy werk.” Ondanks die oënskynlike verdienste van sulke filosofieë duur ongelykhede egter hardnekkig onder alle menslike regeringstelsels voort.
Die feit is dat sommige politieke stelsels, pleks van gelykheid te bevorder, juis probeer het om munt te slaan uit sogenaamde ongelykhede tussen rasse. Dink maar aan die Nazi’s se “heersersras”. Tog is die bestaan van enige heersersras lankal gediskrediteer. Afgesien van duidelike verskille in uiterlike kenmerke “is die moontlike bestaan van ware rasseverskille in gedrag en intelligensie moeilik om te bewys”, sê die Encyclopædia Britannica. Sulke rassegelykheid is grondliggend.
Opvoeding en vermoë
Opvoeding kan ’n groot gelykmaker wees wanneer dit geredelik beskikbaar is, maar dit is nie altyd die geval nie. In baie lande moet swaar verdiende geld steeds vir selfs die mees elementêre onderwys betaal word.
In een land van die suidelike halfrond kan net 20 persent van die bevolking byvoorbeeld lees en skryf. Dit is nie ongewoon om daar ’n gesin aan te tref waarvan die twee oudste kinders ’n taamlik goeie opvoeding gehad het terwyl die res heeltemal ongeletterd is nie, bloot omdat die gesin te arm is. Ander ontwikkelingslande het met soortgelyke probleme te kampe.
Hierdie toedrag van sake laat ongelykheid voortduur, want in ons moderne samelewing het opgevoede mense ’n beter kans op ekonomiese vooruitgang. Nietemin is grade van sommige universiteite meer gesog as die van ander omdat daar meer prestige aan verbonde is. Opvoeding is dus nog lank nie die finale oplossing vir vandag se ongelykheidsprobleem nie.
Fundamentele regte
Genetiese faktore bepaal dat mense nooit in elke opsig identies sal wees nie. Maar stem jy nie saam dat daar gelykheid behoort te wees ten opsigte van sekere fundamentele dinge nie? Sou die mensdom nie baie beter daaraan toe wees indien daar vordering gemaak kon word op die volgende gebiede nie?—
RASSEGELYKHEID: Hoe kan ons ooit die stigma te bowe kom wat so dikwels deur een ras of klas aan ’n ander geheg word? Griewe lê diep en veroorsaak baie probleme. Hoe kan daar verseker word dat mense as gelykes behandel word, dat hulle met die nodige waardigheid bejeën word?
VOEDSEL: Hoe reageer jy wanneer jy foto’s van verhongerde kinders sien en lees van die miljoene wat elke jaar weens ondervoeding of verwante siektes sterf? Dit is ’n bewese feit dat daar genoeg voedsel vir die wêreldbevolking kan wees. Waarom kan dit dan nie regverdiger verdeel word om sulke lyding te verlig nie?
WERK: Werkloosheid kan hartseer en frustrasie—selfs selfmoord—tot gevolg hê. Is dit nie moontlik dat almal in besoldigde diens kan staan nie? Kan daar nie gelyke werkgeleenthede vir almal wees nie?
ONDERWYS: Behoort alle mense nie ten minste basiese onderwysgeleenthede te hê nie, sodat analfabetisme uitgeskakel kan word? Kan die onderwys nie help om almal se toestand te verbeter nie, in plaas dat dit die verskille tussen klasse vergroot (‘die rykes word ryker en die armes armer’) nie? Dit sal veral die geval wees indien mense nie net tegniese dinge geleer word nie maar ook verhewe sedes en die beginsels van goeie menseverhoudinge.
Jy sal sekerlik saamstem dat die strewe na gelykheid nog ’n lang paadjie het om te loop!