Alle mense is gelyk—In watter opsig?
IS DIT moontlik dat manne en vroue van alle nasies mekaar as gelykes kan beskou—en behandel? Nie as die huidige wêreldorde die maatstaf is nie. Maar skep moed, want dit is moontlik. Waarom? Omdat daar miljoene Christene is wat bewys het dat dit moontlik is.
Dit is welbekend dat die ware Christelike godsdiens met gelykheid verbind is. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Ons is nie meer Jode of Grieke of slawe of vrymense of selfs net mans of vrouens nie, maar ons is almal dieselfde—ons is Christene” (Galasiërs 3:28, The Living Bible). Maar was dit bloot wensdenkery? Hoe het dit in die praktyk gegaan met die vroeë Christene wat in ’n wêreld vol ongelykhede gelewe het?
Baie is al geskryf oor die geweldige invloed wat die vroeë Christene op die wêreld van hulle tyd gehad het namate hulle die broederskap opgebou het wat deur Jesus Christus verkondig is. Eberhard Arnold sê in sy boek The Early Christians After the Death of the Apostles:
“Die gelyke agting wat die Christene vir alle ander mense as broers gehad het, die feit dat hulle dieselfde oordeel en dieselfde roeping gehad het, het tot gelykheid en gemeenskap in alle dinge gelei. Hierdie gelyke agting het gelei tot gelyke regte vir almal, die gelyke plig om te werk en gelyke geleentheid in die lewe vir almal. . . . Die onderlinge agting wat die Christene van daardie tyd vir mekaar gehad het, het gelei tot ’n sosiale solidariteit, gebaseer op liefde, op die grondslag van volkome gelykheid van geboorte.”
Watter uitmuntende getuienis van eenheid wat van God kom!
Gelykes in ’n verenigde liggaam
Individue in die vroeë Christengemeente het verskillende talente en bekwaamhede gehad. Party het moontlik uitgeblink in musiek, terwyl ander beter geheues of sterker spiere gehad het. Afgesien van hierdie verskeidenheid het die heilige gees aan hulle verskillende gawes en vermoëns verleen, hoewel hierdie gawes mekaar aangevul het. Paulus kon derhalwe skryf: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne” (1 Korinthiërs 12:11-13). Almal was predikers, ofskoon daar ryk verskeidenheid was onder die “gawes in mense”, soos die herders van die gemeente profeties beskryf is.—Efesiërs 4:8, NW; Psalm 68:18, NW.
Die opsieners was geestelik ryp en is in Grieks e·piʹsko·poi genoem. W. E. Vine het die volgende geskryf oor die verwante werkwoord e·pi·sko·peʹo (om toesig te hou): “Die woord dui nie op die toetreding tot sulke verantwoordelikheid nie, maar op die volbrenging daarvan. Dit is nie die aanvaarding van ’n amp nie, maar die nakoming van die pligte.” Hierdie aangestelde opsieners is bygestaan deur di·aʹko·noi, ’n Griekse woord wat met “bedienaars”, “bedieningsknegte” of “diakens” vertaal word. W. E. Vine sê dat hierdie woord “hoofsaaklik ’n kneg aandui, hetsy iemand wat knegsdiens verrig of ’n bediende wat sonder vergoeding werk, sonder bepaalde vermelding van die aard daarvan”. In die geval van beide ampte was die diensvoorregte die hoofsaak. Die posisie is nie beklemtoon nie, want as aanbidders van God was hulle gelyk en was almal sy dienaars.
Hoewel Jesus 12 manne gekies het om sy apostels te wees, het vroue ook sy vriendskap geniet. Hulle was baie aktief, en daar word spesifiek melding gemaak van Maria Magdalena, Johanna en Susanna wat Jesus gedien het. Vroue het ook op Pinkster in 33 G.J. die gawes van die heilige gees ontvang. Dit het hulle in staat gestel om in die openbaar in vreemde tale te spreek en van die waarhede van hulle Christelike geloof te getuig. Christensusters het egter nie in die gemeentes onderrig nie, maar hulle het saam met die broers God se Woord in die openbaar verkondig.—Lukas 8:1-3; Handelinge 1:14; 2:17, 18; 18:26.
Op ’n persoonliker vlak het die Christene ook ’n voorbeeld gestel in onderlinge hulpverlening. Toe besoekers in Jerusalem byvoorbeeld gedurende Pinkster van 33 G.J. met die wonderdadige werk van die apostels kennis gemaak het, het hulle langer gebly as wat hulle beoog het en het hulle voedsel sowel as hulle geld opgeraak. Tog lees ons in die Skrif: “Niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring” sodat dit onder toesig van die apostels uitgedeel kon word. Hierdie mooi gees het getoon dat die liefde en gelykheid van daardie eerste Christene ’n praktiese werklikheid was! Daar kon gesê word dat hulle “alles in gemeenskap gehad” het.—Handelinge 4:32, 34, 35.
Praktiese gelykheid vandag
Dit is nie maklik om vandag, te midde van die verdeeldheid en maatskaplike strukture van hierdie wêreld, daardie vroeë Christene na te volg nie. Maar dit was nog altyd ’n doelwit van Jehovah se Getuies. En die feite toon dat hulle aansienlike welslae daarmee behaal het. Die Encyclopedia Canadiana merk op:
“Die werk van Jehovah se Getuies is die herlewing en herinstelling van die vroeë Christelike godsdiens soos beoefen deur Jesus en sy dissipels gedurende die eerste en tweede eeu van ons era. . . . Almal is broers.”
Net soos dit 1 900 jaar gelede die geval was, verleen hierdie Christelike broederskap vandag praktiese hulp in tye van moeilikheid. Toe dele van Italië in November 1980 deur ’n hewige aardbewing getref is, het die eerste vragmotor met voorrade wat deur die Getuies versamel is die rampgebied dieselfde aand bereik. ’n Amptelike berig lui:
“Die broers was verstom oor hoe gou die nodige hulp opgedaag het. Ons het dadelik ons eie kombuis opgerig van waar voedsel wat deur susters voorberei is daagliks aan die broers uitgedeel is. Die ander inwoners van die dorp het toe nog nie bystand ontvang nie en het maar op hulle eie probeer klaarkom so goed as hulle kon. Die broers was natuurlik nie selfsugtig nie, en voedsel is met baie nie-Getuies gedeel.”
Na die dood van Swaziland se koning Sobhuza II in Augustus 1982 het Jehovah se Getuies vervolging verduur omdat hulle nie aan tradisionele, godsdienstige rougebruike wou deelneem nie. In Brittanje het twee Getuies, die een Blank en die ander Swart, saam die plaaslike Hoë Kommissaris van Swaziland gaan spreek in ’n poging om die situasie te verlig. Nadat hy ’n rukkie geluister het, het die Swazi-amptenaar hom na die Swart Getuie, ’n geleerde sakeman, gewend en gevra: “Maar waarom is jy hier?” Die Getuie het geantwoord: “Omdat ek besorg is oor die welsyn van my Christenbroers in u land.” Die amptenaar het dit moeilik gevind om te verstaan hoe so ’n welvarende man hom op gelyke voet kon stel met Afrikane wat in ’n land woon wat hy nog nooit eens besoek het nie.
Woon gerus ’n vergadering by die naaste Koninkryksaal of ’n groter byeenkoms by en oordeel self. Jy sal ’n gemeenskap aantref waarin jy welkom is, hetsy jy jonk of oud, arm of ryk is, hetsy jy universiteitsopleiding of geen skoolonderrig gehad het nie. Elkeen word broer of suster genoem, en mense word nie volgens ras, agtergrond of sekulêre status beoordeel nie. Elkeen word waardeer weens sy Christelike persoonlikheid en eienskappe.
Die onderrig wat ouere manne en bedieningsknegte gee, is gegrond op die struktuur van die vroeë Christengemeente. En die vergaderinge weerspieël gelykheid, of harmonie, oor die hele wêreld. Een geestelike van die Anglikaanse Kerk het opgemerk:
“Elke vergadering, hetsy formeel of informeel, is ’n vergadering vir intensiewe onderrig. Daar word van lidmate verwag om vir hulle Sondagvergaderinge voor te berei deur die Wagtoring-artikel deur te lees, Bybelverwysings na te slaan en antwoorde uit te werk op die vrae waarvan hulle vooraf kennis dra. By die vergaderinge self is daar goeie gemeentelike deelname. Hulle word ondersteun deur die wete dat dieselfde lering terselfdertyd oor die hele wêreld gepromulgeer word.”
As jy hierdie nommer van Die Wagtoring met jou saamneem na die naaste gemeente op die datums wat op bladsy 2 aangegee word, sal jy so ’n bespreking kan volg.
Hierdie besprekings handel dikwels oor die hoop van die gemeentelede: die lewe op ’n paradysaarde waar oorloë sal ophou en waar mense hulle talente konstruktief sal gebruik en waarlik “die werk van hulle hande” sal kan geniet. Alle gehoorsame mense sal onder die heerskappy van die Koninkryk van God lewe. Niemand sal meer honger ly nie, want die produktiewe aarde sal aan almal voedsel in oorvloed lewer. Siekte sal ook tot die verlede behoort, en al die bewoners van die aarde sal volmaakte gesondheid geniet.—Jesaja 2:4; 33:24; 65:22, 23; Sagaria 8:11, 12.
Ja, hierdie Christelike hoop is iets werkliks, en so ook die wete dat die huidige struktuur van die Christengemeente tot in die aardse Paradys sal voortduur. Die stewige grondslag wat reeds gelê is vir die algehele verwydering van alle Masse- en nasionale skeidsmure sal uitgebrei word. Hoe kan ons daarvan seker wees? Omdat die Bybel voorspel dat Christene “uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal voortgaan met hulle ware aanbidding van Jehovah God. Hulle sal almal as gelykes voor Hom staan. Jy en jou gesin kan onder hulle wees.—Openbaring 7:9, 10.
[Prent op bladsy 7]
By vergaderinge van Jehovah se Getuies sal jy gelykheid sien