Die huidige plaag van Ongelykheid
“Ons neem hierdie waarhede as vanselfsprekend aan: Alle mense is as gelykes geskep en deur hulle Skepper sekere onvervreembare Regte gegee, wat Lewe, Vryheid en die strewe na Geluk insluit.”—Onafhanklikheidsverklaring, wat in 1776 deur die Verenigde State aangeneem is.
“Alle mense word vry en met gelyke regte gebore.”—Verklaring van die Regte van die Mens en van die Burger, wat in 1789 deur Frankryk se Nasionale Vergadering aangeneem is.
“Alle mense word vry gebore, met gelyke waardigheid en regte.”—Universele Verklaring van Menseregte, wat in 1948 deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aangeneem is.
DIT ly geen twyfel nie. Die begeerte na gelykheid is ’n universele begeerte van die mens. Maar die blote feit dat die aandag so dikwels op die kwessie van gelykheid onder mense gevestig moes word, bewys ongelukkig dat gelykheid die mensdom tot nou toe ontwyk het.
Kan enigiemand werklik sê dat die situasie nou aan die einde van die 20ste eeu verbeter het? Geniet al die burgers van die Verenigde State en Frankryk, of dié van enige van die 185 lidlande van die Verenigde Nasies, werklik die gelyke regte waarmee hulle skynbaar gebore is?
Hoewel die idee van gelykheid onder alle mense dalk “vanselfsprekend” is, het alle mense beslis nie gelyke regte op “Lewe, Vryheid en die strewe na Geluk” nie. Kan ons byvoorbeeld van gelykheid in die reg op lewe praat as ’n kind in Afrika een dokter met 2 569 ander mense moet deel, terwyl ’n kind in Europa dit met net 289 doen? Of watter gelykheid is daar wat die regte op vryheid en die strewe na geluk betref as ongeveer een derde van die seuns en twee derdes van die meisies in Indië ongeletterd sal grootword, terwyl feitlik elke kind in lande soos Japan, Duitsland en Groot-Brittanje van ’n skoolopleiding verseker is?
Geniet die mense in Sentraal-Amerikaanse lande met ’n per capita-inkomste van R8 530 dieselfde “waardigheid en regte” in die lewe as diegene in Frankryk, waar die per capita-inkomste R154 440 is? Watter gelykheid geniet die pasgebore dogtertjie in Afrika met ’n lewensverwagting van 56 jaar in vergelyking met ’n babadogtertjie in Noord-Amerika wat ’n lewensverwagting van 79 jaar het?
Ongelykheid kom in baie vorme voor en die een is so erg soos die ander. Ongelykheid in lewenstandaarde en in geleenthede vir gesondheidsorg en skoolopleiding is net ’n paar van hulle. Soms is dit hoofsaaklik te wyte aan politieke, rasse- of godsdiensverskille dat mense van hulle waardigheid en vryheid beroof word. Ten spyte van al die praatjies oor gelykheid lewe ons in ’n wêreld van ongelykheid. Soos ’n plaag—“’n oorsaak van wydverspreide of groot ellende”, soos die woord gedefinieer word—kom ongelykheid op elke vlak van die samelewing voor. Dit veroorsaak groot ongelukkigheid weens die armoede, siekte, onkunde, werkloosheid en diskriminasie wat dit tot gevolg het.
“Alle mense word as gelykes geskep.” Wat ’n wonderlike gedagte! Hoe tragies is dit tog dat die werklikheid net die teenoorgestelde is!
[Foto-erkenning op bladsy 3]
UN PHOTO 152113/SHELLEY ROTNER