Vrede en veiligheid—die hoop
“Die Algemene Vergadering van die Verenigde Volke het 1986 eenparig tot Internasionale Vredesjaar verklaar. Die Jaar sal op 24 Oktober 1985, die veertigjarige herdenking van die Verenigde Volke, aangekondig word.”
HOE beskou jy hierdie amptelike verklaring van die Verenigde Volke-organisasie? Gee dit jou groter vertroue vir die toekoms? Baie sou sê dat dit die moeite werd is om enigiets te probeer wat selfs die geringste kans op vrede inhou. Waarom dan nie ’n “Internasionale Vredesjaar” nie?
So ’n “Vredesjaar” sou ongetwyfeld in ooreenstemming wees met die doelwitte van die stigters van die Verenigde Volke-organisasie. In 1944 het die president van die Verenigde State gesê: “Ons is vasbeslote . . . om die vredeliewende nasies so te organiseer dat hulle deur eenheid van begeerte, eenheid van wil en eenheid van krag in ’n posisie sal wees om te kan keer dat ’n voornemende aggressor of veroweraar ontstaan. Dit is waarom ons van die begin van die oorlog af, en in ooreenstemming met ons militêre planne, die grondslag begin lê het vir die algemene organisasie vir die handhawing van vrede en veiligheid.”
Talle het daardie ideale gedeel. “Die Verenigde Volke kon alleen tot stand kom indien ’n groot groep persone geglo het aan die mens se vermoë om goed te doen, en geglo het dat hulle verwagtinge verwesenlik kon word”, sê die boek Defeat of an Ideal deur Shirley Hazzard, wat ’n dekade in die Verenigde Volke se Sekretariaat gewerk het.
Die handves van die pasopgerigte organisasie het die verwagtinge van sy stigters uiteengesit: “Die Oogmerke van die Verenigde Volke is: 1. Om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf . . . 2. Om vriendelike betrekkinge onder nasies te bevorder, gegrond op die beginsel van gelyke regte en selfbeskikking van volkere . . . 3. Om internasionale samewerking in die oplossing van internasionale probleme te bereik. . . .” Kan enigiets met sulke doelwitte skort?
Die Verenigde Volke het weliswaar ’n indrukwekkende begin gehad. Gewigtige wêreldgeskille is bespreek. In 1948 is ’n uitsonderlike Universele Verklaring van Menseregte aangeneem. Daar is begin met waardevolle filantropiese werk om armoede, honger, siekte en die lot van vlugtelinge te verlig. Internasionale standaarde is vasgestel, soos veiligheidstandaarde vir skepe en vliegtuie, gesondheidsertifikate vir reisigers na sekere gebiede, eenvormige postariewe en die toewysing van tyd op omroepbande.
Die Verenigde Volke was diep verwikkel in die pogings om vrede te bewerkstellig in die botsing tussen Indië en Pakistan in 1947-49. Dit het selfs militêre mag gebruik toe soldate in 1950 onder sy vlag na Korea en in 1960 na die Kongo (nou Zaïre) gestuur is. Daar is steeds VV-vredesmagte in Ciprus en die Midde-Ooste. Ja, die afgelope 40 jaar het die Verenigde Volke sy stempel gelaat. Meer as 150 lande het getoon dat hulle dit erken deur afgevaardigdes na die organisasie se kenmerkende hoofkwartier aan die oewer van die East River in die stad New York te stuur.
Maar in watter mate het die Verenigde Volke sy basiese mandaat om “internasionale vrede en veiligheid te handhaaf” vervul? En watter uitwerking sal die “Internasionale Vredesjaar” hê?