’n “Gruwel” wat nie vrede kan bring nie
“Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan”—LUKAS 21:20, 21
1, 2. (a) Waarom sal die mens nooit deur organisasies soos die Verenigde Volke vrede bewerkstellig nie? (b) Hoe sal God vrede na die aarde bring?
HOE hard mense ook al probeer om vrede en veiligheid deur instansies soos die Verenigde Volke teweeg te bring, hulle sal nooit daarin slaag nie. Waarom nie? Omdat die mensdom vandag nie vrede met God geniet nie, en blywende veiligheid kan slegs bewerkstellig word as die mens vrede met sy Skepper geniet (Psalm 46:2-10; 127:1; Jesaja 11:9; 57:21). Hoe kan hierdie probleem opgelos word? Gelukkig het Jehovah reeds die saak onder beheer. Vrede en veiligheid sal eindelik na hierdie aarde gebring word deur God se Koninkryk onder sy Seun, Jesus, by wie se geboorte engele gesing het: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”—Lukas 2:14, NAV; Psalm 72:7.
2 In die eerste eeu het Jesus God se Koninkryk verkondig en vredeliewendes die geleentheid gebied om kinders van God en medeheersers saam met hom in daardie Koninkryk te word (Mattheüs 4:23; 5:9; Lukas 12:32). Die gebeure wat gevolg het, was baie dieselfde as gebeure in ons eeu. As ons hulle ondersoek, sal dit ons baie leer omtrent die toekoms van die mense-organisasie vir “vrede en veiligheid”, die Verenigde Volke.
Die Jode doen ’n keuse
3. Wie het in Jesus se dag internasionale vrede en veiligheid probeer handhaaf, en waarom kon dit nooit volkome geslaag wees nie?
3 In Jesus se dag het die Romeinse Ryk oor ’n groot deel van die aarde geheers en sy eie idees omtrent vrede en veiligheid gehad. Hy het, deur middel van sy legioene, die Pax Romana (Romeinse vrede) oor ’n groot deel van die bekende wêreld toegepas. Maar die Pax Romana kon nooit blywende vrede wees nie, want heidense Rome en sy legioene kon nooit ’n versoening tussen die mens en God bewerkstellig nie. Die Koninkryk wat Jesus verkondig het, was derhalwe veel beter.
4. Hoe het die meeste Jode op Jesus se predikingswerk gereageer? Wat het nietemin geleidelik in die eerste eeu ontstaan?
4 Die meeste van Jesus se landgenote het nietemin God se Koninkryk verwerp (Johannes 1:11; 7:47, 48; 9:22). Hulle owerstes, wat Jesus as ’n bedreiging vir die landsveiligheid beskou het, het hom oorgegee om tereggestel te word en het volgehou: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie” (Johannes 11:48; 19:14, 15). Maar sommige Jode, en later talle nie-Jode, het Jesus met blydskap as God se gekose Koning erken (Kolossense 1:13-20). Hulle het in talle lande oor hom gepreek, en Jerusalem het die middelpunt van ’n internasionale broederskap van Christene geword.—Handelinge 15:2; 1 Petrus 5:9.
5, 6. (a) Hoe het die verhouding tussen die Jode en Rome ontwikkel? (b) Watter waarskuwing het Jesus gerig, en hoe het dit die Christene se lewens in 70 G.J. gered?
5 Ondanks die feit dat die Jode die keiser bo Christus verkies het, het verhoudinge tussen Jerusalem en Rome weldra agteruit gegaan. Joodse Selote het guerrillaveldtogte teen die ryk onderneem totdat daar uiteindelik in 66 G.J. openlike oorlog uitgebreek het. Romeinse leërs het Pax Romana probeer herstel, en Jerusalem is kort daarna beleer. Vir Christene was dit belangrik. Jesus het jare tevore gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan” (Lukas 21:20, 21). Jerusalem was toe omsingeld, en die Christene het gewag op ’n geleentheid om te vlug.
6 Dit het gou aangebreek. Die Romeine was besig om die tempelmuur te ondermyn en baie Jode was gereed om oor te gee toe die Romeinse aanvoerder, Cestius Gallus, onverwags sy troepe teruggetrek en padgegee het. Die Selote het die geleentheid aangegryp om hulle verdediging te herorganiseer, maar die Christene het die gedoemde stad verlaat. In 70 G.J. het die Romeinse legioene weer die mure van Jerusalem beleër, en hierdie keer is die stad vernietig. Hoe raak hierdie tragedie van die geskiedenis ons? So: Jesus se waarskuwing wat sy volgelinge se lewens gered het, is ook vandag vir ons belangrik.
Meer as een vervulling
7-9. (a) Hoe weet ons dat Jesus sê profesie oor die omsingeling van Jerusalem deur leers meer as een vervulling sou hê? (b) Hoe word dit bevestig wanneer die boek Daniël met insig gelees word?
7 Hierdie waarskuwing is ’n deel van ’n lang profesie wat Jesus geuiter het in antwoord op ’n belangrike vraag: “Vertel ons, wanneer sal [die vernietiging van die Joodse tempel] wees, en wat is die teken van u [teenwoordigheid] en van die voleinding van die wêreld?” In antwoord het Jesus ’n teken gegee wat uit baie dele bestaan, onder meer die beleëring van Jerusalem (Mattheüs 24, Markus 13; Lukas 21). In die jare na Jesus se dood is baie dele van hierdie profesie vervul, en dit het in 70 G.J. ’n hoogtepunt bereik met die vernietiging van Jerusalem en die Joodse stelsel.—Mattheüs 24:7, 14; Handelinge 11:28; Kolossense 1:23.
8 Die dissipels het egter ook uitgevra oor Jesus se “teenwoordigheid”, wat die Bybel met die einde van ’n hele wêreldstelsel assosieer (Daniël 2:44; Mattheüs 24:3, 21; vgl NW). Aangesien Jesus se geestelike teenwoordigheid en die einde van die wêreldwye stelsel nie in die eerste eeu aangebreek het nie, kan ’n toekomstige, groter vervulling van Jesus se profesie verwag word, met daardie eerste-eeuse gebeure as ’n patroon vir die groter vervulling. Dit sou ’n groter vervulling van Jesus se waarskuwing oor die vernietiging van Jerusalem insluit.
9 Dit word duideliker wanneer ons kyk hoe hierdie waarskuwing neergeskryf is in die ander twee Bybelboeke waar dit verskyn. In Mattheüs word die beleërende troepe beskryf as “die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, [wat] staan in die heiligdom” (Mattheüs 24:15). In Markus se verslag staan “die gruwel van die verwoesting . . . waar dit nie behoort nie” (Markus 13: 14). Mattheüs se verslag sê dat die “gruwel” ook in die boek Daniël vermeld is. Trouens, die uitdrukking “gruwel” verskyn drie keer in daardie boek: een keer (in die meervoud) in Daniël 9:27 waar dit deel uitmaak van ’n profesie wat vervul is toe Jerusalem in 70 G.J. vernietig is, en dan in Daniël 11:31 en Daniël 12:11. Volgens laasgenoemde twee tekste sou ’n “gruwel” gedurende “die vasgestelde tyd” of “die tyd van die einde” opgestel word (Daniël 11:29; 12:9). Ons lewe sedert 1914 in die “tyd van die einde”; daarom is Jesus se waarskuwing vandag ook van toepassing.—Mattheüs 24: 15.
Die Christendom se keuse
10, 11. Hoe het gebeure in ons eeu met die in die eerste eeu ooreengestem?
10 In ons eeu het gebeure ’n patroon gevolg soortgelyk aan dié van die eerste eeu. Daar is vandag, net soos destyds, ’n wêreldryk wat die wêreldtoneel oorheers. Vandag is dit die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid, wat hard probeer om sy idees omtrent vrede en veiligheid aan die mensdom op te dwing. In die eerste eeu het natuurlike Israel Jesus as God se gesalfde koning verwerp. In 1914 het Jesus se “teenwoordigheid” as Jehovah se gekroonde koning begin (Psalm 2:6; Openbaring 11:15-18). Maar die nasies, dié van die Christendom inkluis, het geweier om hom te erken. (Psalm 2:2, 3, 10, 11). Trouens, hulle het verwikkel geraak in ’n wrede wêreldoorlog om internasionale soewereiniteit. Die godsdiensleiers van die Christendom het—soos die Joodse leiers—die voortou geneem en Jesus verwerp. Hulle boer sedert 1914 in die politieke arena en staan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk teë.—Markus 13:9.
11 Soos in Jesus se dag het talle individue vandag nietemin Jehovah se Koning met vreugde erken en die goeie nuus van sy Koninkryk rondom die wêreld verkondig (Mattheüs 24:14). Meer as twee-en-’n-halfmiljoen van Jehovah se Getuies sweer nou trou aan God se Koninkryk (Openbaring 7: 9,10). Hulle staan neutraal teenoor hierdie wêreld se politiek en het volle vertroue in Jehovah se reëlings om vrede en veiligheid te bring.—Johannes 17:15, 16; Efesiërs 1:10.
Die hedendaagse “gruwel”
12. Wat is die hedendaagse “gruwel”?
12 Wat is dan die hedendaagse “gruwel van die verwoesting”? In die eerste eeu was dit die Romeinse troepe wat gestuur is om Pax Romana in Jerusalem te herstel. In die nuwere tyd is die nasies wat in die Eerste Wêreldoorlog geveg het egter ontnugter deur die sinloosheid van ’n volskaalse oorlog om vrede te bring en het hulle iets nuuts op die proef gestel, ’n internasionale organisasie om wêreldvrede te bewaar. Dit is in 1919 opgerig as die Volkebond en bestaan steeds as die Verenigde Volke. Dit is die hedendaagse “gruwel van die verwoesting”.
13, 14. (a) Watter vleiende verklarings het die Christendom oor “die gruwel” gedoen? (b) Waarom was dit afgodediens, en waar het dit “die gruwel” geplaas?
13 Die Hebreeuse woord wat in Daniël met “gruwel” vertaal is, is shiq·qutsʹ. In die Bybel word hierdie woord hoofsaaklik vir afgode en afgodediens gebruik (1 Konings 11:5, 7, vgl. NW). Lees, in die lig hiervan, enkele kommentare deur godsdiensleiers omtrent die Volkebond:
“Wat is hierdie visioen van ’n wêreldfederasie van die mensdom . . . as dit nie die Koninkryk van God is nie?” “Die Volkebond het sy grondslag in die Evangelie” (Die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika). “Daar kan gesê word dat elke oogmerk en daad van [die Volkebond] die wil van God vervul soos geopenbaar in die leer van Jesus Christus” (Biskoppe van die Anglikaanse Kerk). “Die vergadering beveel derhalwe aan dat alle Christene die Volkebond as die enigste beskikbare instrument om [vrede op aarde] te bewerkstellig, ondersteun en daarvoor bid” (Algemene Liggaam van Baptiste, Kongregasionaliste en Presbiteriane in Brittanje). “[Die Volkebond] is die enigste georganiseerde poging wat aangewend is om die herhaalde wense van die Heilige Stoel uit te voer.”—Kardinaal Bourne, aartsbiskop van Westminster.
14 Toe die nasies nie net God se Koninkryk verwerp het nie, maar ook hulle eie organisasie vir vrede opgerig het, was dit opstand. Toe godsdiensleiers van die Christendom daardie organisasie met God se Koninkryk en die Evangelie vereenselwig het en dit bestempel het as “die enigste beskikbare instrument” om vrede te bring, was dit afgodediens. Hulle het dit in die plek van God se Koninkryk, “in die heiligdom”, geplaas. Dit het beslis ‘gestaan waar dit nie behoort nie’ (Mattheüs 24:15; Markus 13:14). En godsdiensleiers ondersteun steeds die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke, eerder as om mense tot God se opgerigte Koninkryk te rig.
Die gevaar vir die Christendom
15, 16. Hoe ontwikkel verhoudinge tussen die Christendom en die nasies wat “die gruwel” ondersteun?
15 Hoewel die Christendom se godsdienste die Volkebond en sy opvolger bo God se Koninkryk gekies het, het hulle verhoudinge met die ledenasies van hierdie organisasies agteruitgegaan. Dit kom ooreen met wat tussen die Jode en Rome plaasgevind het. Sedert 1945 sluit die Verenigde Volke al hoe meer lande in wat onchristelik of antichristelik is, en dit hou niks goeds vir die Christendom in nie.
16 In talle lande is daar boonop wrywing tussen die Christendom se godsdienste en die Staat. In Pole word die Katolieke Kerk as ’n teenstander van die regering beskou. In Noord-Ierland en Libanon het godsdienste van die Christendom die probleme ten opsigte van vrede en veiligheid vererger. Daarbenewens het die Christendom se godsdienste sommige voortgebring wat, soos die Joodse Selote, geweld aanblaas. Die Protestantse Wêreldraad van Kerke skenk gevolglik geld aan terroriste-organisasies, terwyl Katolieke priesters as guerrillas in die oerwoude veg en in revolusionêre regerings dien.
17. (a) Wat is die hedendaagse Jerusalem? (b) Wat gaan uiteindelik daarvan word?
17 Slegs die tyd sal leer hoe sleg verhoudinge tussen die Christendom se godsdienste en die nasies sal word, maar gebeure in die eerste eeu het reeds afgeskadu hoe dit alles sal eindig. Soos Jesus voorspel het, het Rome se leërs in die eerste eeu Jerusalem uiteindelik na swaar verdrukking vernietig. Ooreenkomstig die profetiese patroon sal die nasies saam met die Verenigde Volke “Jerusalem”, dit wil sê, die Christendom se godsdiensstruktuur, aanval en vernietig.—Lukas 21:20, 23.
Vlug na die berge
18. Wat moet sagmoediges doen wanneer hulle onderskei dat “die gruwel” sy posisie ingeneem het?
18 In die eerste eeu het die Christene die geleentheid gehad om te vlug nadat “die gruwel” sy verskyning gemaak het. Jesus het hulle gemaan om dit onmiddellik te doen omdat hulle nie geweet het hoe lank die geleentheid daar sou wees nie (Markus 13:15, 16). Net so moet sagmoedige persone vandag, wanneer hulle tot die besef kom dat “die gruwel” bestaan, onmiddellik uit die Christendom se godsdiensdomein vlug. Hulle geestelike lewe verkeer elke oomblik wat hulle daarin bly in gevaar, en wie weet hoe lank hulle die geleentheid sal hê om te vlug?
19, 20. (a) Wat het eerste-eeuse Christene gedoen toe hulle Jerusalem deur Romeinse leërs omsingeld gesien het? (b) Wat beeld “die berge” vandag af, en wat moet sagmoediges vandag aanspoor om daarheen te vlug?
19 Lukas se evangelie het Christene in sy dag gewaarsku om te vlug wanneer hulle “Jerusalem deur leërs omsingeld sien”. Soos reeds gemeld, het daardie leers in 66 G.J. gekom, en die geleentheid om te vlug het hom daardie selfde jaar voorgedoen toe Cestius Gallus sy troepe teruggetrek het. Nadat die Christene gevlug het, het oorlog tussen die Jode en die Romeine voortgeduur—hoewel nie om Jerusalem nie. Vespasianus is deur keiser Nero na Palestina gestuur, en hy het in 67 en 68 geslaagde veldtogte aldaar onderneem. Toe het Nero gesterf en Vespasianus het betrokke geraak by die Keiserlike troonopvolging. Maar nadat hy in 69 G.J. keiser gemaak is, het hy sy seun Titus gestuur om die Judese oorlog af te handel. Jerusalem is in 70 G.J. vernietig.
20 Christene het egter nie in Jerusalem gewag om dit alles te aanskou nie. Toe hulle die omsingelende leër gesien het, het hulle dadelik geweet dat die stad in dodelike gevaar verkeer. Net so het die instrument vir die Christendom se vernietiging reeds sy verskyning gemaak. Sodra ons die gevaar sien waarin die Christendom verkeer, moet ons derhalwe ‘na die berge vlug’, na Jehovah se plek van beskerming by sy teokratiese organisasie. Volgens ander profesieë bestaan daar geen grond om te glo dat daar ’n blaaskans sal wees tussen die aanval op die Christendom en haar finale vernietiging nie. Daar sal in der waarheid geen nodigheid wees vir sodanige verposing in vyandelikhede nie. Sagmoediges is verstandig as hulle nou uit die Christendom vlug.
Jerusalem en die Christendom
21. Waarom het “die gruwel” aan die einde van Jerusalem se tyd van die einde verskyn terwyl dit hierdie eeu aan die begin van hierdie stelsel se tyd van die einde verskyn het?
21 Moet dit ons verbaas dat “die gruwel” in die eerste eeu kort voor die vernietiging van Jerusalem verskyn het, terwyl dit vandag reg aan die begin van hierdie wêreld se tyd van die einde verskyn het? Nee. In beide gevalle het “die gruwel” verskyn toe Jehovah wou hê dat sy volk moes vlug. In die eerste eeu moes Christene ’n ruk lank in Jerusalem bly om daar te preek (Handelinge 1:8). ’n “Gruwel” het eers in 66 G.J., toe vernietiging ophande was, verskyn, en dit het hulle gewaarsku om te vlug. Maar om “in” hedendaagse Jerusalem te wees, beteken om ’n deel van die Christendom se godsdiensdomein te wees.a Dit is onmoontlik om Jehovah in so ’n verdorwe en afvallige milieu op aanneemlike wyse te dien. “Die gruwel” het gevolglik vroeg in die wêreld se tyd van die einde verskyn, en dit het Christene gewaarsku om te vlug. Die vlug uit die Christendom duur voort, en elke persoon ontvang ’n waarskuwing om te vlug sodra hy onderskei dat “die gruwel” sy posisie ingeneem het.
22. Watter vrae moet nog beantwoord word?
22 Ons kan egter vra: Wat lei tot hierdie uiters onverwagse daad, die vernietiging van die Christendom deur militaristiese elemente binne-in die Verenigde Volke? Wanneer sal dit gebeur? En hoe kan dit vrede en veiligheid op ons aarde bevorder? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.
[Voetnote]
a ’n Soortgelyke vergelyking kan gemaak word tussen die stad Babilon, waaruit die Jode in 537 v.G. J. gevlug het, en die hedendaagse Babilon die Grote, waaruit Christene vandag vlug.—Jesaja 52:11; Jeremia 51:45; Openbaring 18:4.
Onthou jy?
◻ Waarom moet Jesus se profesie oor “die gruwel” ’n hedendaagse vervulling hê?
◻ Wat is “die gruwel” vandag, en sedert wanneer is dit in posisie?
◻ Wat is die hedendaagse Jerusalem van Jesus se profesie?
◻ Hoe help Lukas 21:20, 21 ons om te sien hoe dringend dit is om te vlug?
◻ Wat is die “berge” waarheen sagmoediges moet vlug?
[Lokteks op bladsy 11]
Toe die godsdiensleiers van die Christendom die Verenigde Volke met God se Koninkryk en die Evangelie vereenselwig het, was dit afgodediens