Vlug na veiligheid voor die “groot verdrukking” begin
“Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, . . . laat dié wat in Judea is . . . na die berge begin vlug.”—LUKAS 21:20, 21.
1. Waarom is dit dringend dat diegene wat nog steeds deel van die wêreld is, moet vlug?
VIR almal wat deel van Satan se wêreld is, is dit dringend om te vlug. Om gered te word wanneer die huidige stelsel van dinge vernietig word, moet hulle oortuigende bewys lewer dat hulle hulle standpunt ferm aan Jehovah se kant ingeneem het en geen deel is van die wêreld waarvan Satan die heerser is nie.—Jakobus 4:4; 1 Johannes 2:17.
2, 3. Watter vrae in verband met Jesus se woorde in Matteus 24:15-22 gaan ons bespreek?
2 In sy groot profesie aangaande die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus beklemtoon hoe belangrik dit is om te vlug. Ons bespreek dikwels wat in Matteus 24:4-14 opgeteken staan; maar wat daarop volg, is geensins van minder belang nie. Slaan gerus nou jou Bybel oop en lees verse 15 tot 22.
3 Wat beteken daardie profesie? Wat was “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak” in die eerste eeu? Wat het sy teenwoordigheid in “’n heilige plek” beteken? Van watter belang is dit vir ons?
“Laat die leser onderskeidingsvermoë gebruik”
4. (a) Wat sou volgens Daniël 9:27 op die Jode se verwerping van die Messias volg? (b) Toe Jesus hierna verwys het, wat was blykbaar die rede dat hy gesê het: “Laat die leser onderskeidingsvermoë gebruik”?
4 Let daarop dat Jesus in Matteus 24:15 terugverwys het na wat in die boek Daniël geskryf staan. In hoofstuk 9 van daardie boek is ’n profesie wat die koms van die Messias voorspel het, asook die oordeel wat oor die Joodse nasie voltrek sou word omdat hulle hom verwerp het. Die laaste deel van vers 27 sê: “En op die vleuel van walglikhede sal iemand wees wat verwoesting veroorsaak” (NW). Vroeë Joodse tradisie het hierdie deel van Daniël se profesie toegepas op die verontreiniging van Jehovah se tempel in Jerusalem in die tweede eeu v.G.J. deur Antiogos IV. Maar Jesus het gewaarsku: “Laat die leser onderskeidingsvermoë gebruik.” Hoewel die ontheiliging van die tempel deur Antiogos IV beslis iets walgliks was, het dit nie tot verwoesting gelei nie—nie van Jerusalem, van die tempel of van die Joodse nasie nie. Jesus het sy hoorders dus blykbaar gewaarsku dat die vervulling hiervan nie in die verlede was nie, maar in die toekoms sou wees.
5. (a) Hoe help ’n vergelyking van Evangelieverslae ons om die eerste-eeuse “walglike ding” te identifiseer? (b) Waarom het Cestius Gallus Romeinse troepe in 66 G.J. na Jerusalem gestuur?
5 Wat was “die walglike ding” waarna hulle op die uitkyk moes wees? Dit is opmerkenswaardig dat Matteus se verslag sê: “Wanneer julle dan die walglike ding wat verwoesting veroorsaak . . . in ’n heilige plek sien staan.” Maar die parallelle verslag in Lukas 21:20 sê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het.” In 66 G.J. het Christene wat in Jerusalem gewoon het, gesien wat Jesus voorspel het. ’n Reeks konfliksituasies tussen die Jode en Romeinse amptenare het daartoe gelei dat Jerusalem ’n broeines van opstand teen Rome geword het. Gevolglik het geweld in die hele Judea, Samaria, Galilea, die Dekapolis en Fenisië uitgebreek, sowel as noord tot in Sirië en suid tot in Egipte. Ten einde ’n mate van vrede in daardie deel van die Romeinse Ryk te herstel, het Cestius Gallus leërmagte van Sirië na Jerusalem gestuur, wat deur die Jode hulle “heilige stad” genoem is.—Nehemia 11:1; Jesaja 52:1.
6. Hoe was dit waar dat ’n “walglike ding” wat verwoesting kon veroorsaak ‘in ’n heilige plek gestaan het’?
6 Dit was gebruiklik vir die Romeinse legioene om vaandels te dra, wat hulle as heilig beskou het, maar wat deur die Jode as afgode beskou is. Dit is interessant dat die Hebreeuse woord wat in die boek Daniël met “walglike ding” vertaal word hoofsaaklik in verband met afgode en afgodery gebruik word (Deuteronomium 29:17, NW).a Ten spyte van die Jode se weerstand het die Romeinse magte met hulle afgodiese vaandels Jerusalem in November 66 G.J. binnegedring en toe die tempelmuur aan die noordekant begin ondermyn. Daar was geen twyfel daaraan nie—’n “walglike ding” wat algehele vernietiging vir Jerusalem kon veroorsaak, het ‘in ’n heilige plek gestaan’! Maar hoe kon enigiemand vlug?
Dit was dringend om te vlug!
7. Wat het die Romeinse leër onverwags gedoen?
7 Skielik—blykbaar sonder rede, uit ’n menslike oogpunt beskou—toe dit gelyk het of Jerusalem maklik ingeneem kon word, het die Romeinse leër teruggetrek. Die Joodse opstandelinge het die terugtrekkende Romeinse troepe agternagesit, maar net tot by Antipatris, ongeveer 50 kilometer van Jerusalem af. Hulle het toe omgedraai. Toe hulle in Jerusalem terugkom, het hulle in die tempel bymekaargekom om hulle oorlogstrategie uit te werk. Jongmense is gewerf om die vestings te versterk en om militêre diens te doen. Sou die Christene by hierdie bedrywighede betrokke raak? Sou hulle, selfs al het hulle dit vermy, nog in die gevaargebied wees wanneer die Romeinse leërs terugkeer?
8. Watter dringende stappe het die Christene gedoen in gehoorsaamheid aan Jesus se profetiese woorde?
8 Christene in Jerusalem en die hele Judea het kort daarna ag gegee op die profetiese waarskuwing wat deur Jesus Christus gegee is en uit die gevaargebied gevlug. Dit was dringend om te vlug! Hulle het mettertyd na die bergagtige gebiede gegaan, en party het moontlik in Pella, in die provinsie Perea, gaan woon. Diegene wat Jesus se waarskuwing ter harte geneem het, was nie so onverstandig dat hulle teruggedraai en hulle materiële besittings probeer red het nie. (Vergelyk Lukas 14:33.) Swanger vroue en sogende moeders wat die stad onder hierdie omstandighede verlaat het, het die reis te voet beslis baie moeilik gevind. Die beperkings van die Sabbatdag het hulle nie verhinder om te vlug nie, en hoewel die winter naby was, het dit nog nie begin nie. Diegene wat op Jesus se waarskuwing om vinnig te vlug ag gegee het, was spoedig veilig buite Jerusalem en Judea. Hulle lewe het daarvan afgehang.—Vergelyk Jakobus 3:17.
9. Hoe gou het die Romeinse magte teruggekeer, en met watter gevolg?
9 Net die volgende jaar, in 67 G.J., het die Romeine hulle oorlogsbedrywighede teen die Jode hervat. Galilea is eerste ingeneem. Die volgende jaar is Judea onderwerp. Teen 70 G.J. het die Romeinse magte Jerusalem self omsingel (Lukas 19:43). Die hongersnood het baie erg geword. Diegene wat in die stad vasgevang was, het teen mekaar gedraai. Enigiemand wat probeer ontsnap het, is doodgemaak. Wat hulle ondervind het, was “groot verdrukking”, soos Jesus gesê het.—Matteus 24:21.
10. Op wat anders sal ons let as ons met onderskeidingsvermoë lees?
10 Was dit die algehele vervulling van wat Jesus voorspel het? Nee, dit was nie al nie. As ons die Skrif met onderskeidingsvermoë lees, soos Jesus gemaan het, sal ons beslis let op wat nog voorlê. Ons sal ook ernstig nadink oor die uitwerking wat dit op ons lewe gaan hê.
Die hedendaagse “walglike ding”
11. In watter ander twee verse verwys Daniël na “die walglike ding”, en watter tydperk word daar bespreek?
11 Let op dat daar, benewens wat ons in Daniël 9:27 gesien het, in Daniël 11:31 en 12:11 verdere verwysings is na “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak” (NW). In nie een van hierdie laasgenoemde twee gevalle word die vernietiging van Jerusalem bespreek nie. Trouens, wat in Daniël 12:11 gesê word, verskyn net twee verse nadat daar van “die tyd van die einde” gepraat word (Daniël 12:9). Ons lewe sedert 1914 in daardie tydperk. Ons moet dus wakker wees sodat ons die hedendaagse “walglike ding wat verwoesting veroorsaak”, kan identifiseer en moet dan seker maak dat ons uit die gevaargebied kom.
12, 13. Waarom is dit gepas om die Volkebond as die hedendaagse “walglike ding” te beskryf?
12 Wat is die hedendaagse “walglike ding”? Volgens die getuienis is dit die Volkebond, wat in 1920 in werking getree het, kort nadat die wêreld sy tyd van die einde binnegegaan het. Maar hoe kon dit ’n ‘walglike ding wees wat vernietiging veroorsaak’?
13 Onthou, die Hebreeuse woord vir “walglike ding” word in die Bybel hoofsaaklik gebruik met verwysing na afgode en afgodiese gebruike. Is die Volkebond verafgood? Dit is beslis! Die geestelikes het dit in “’n heilige plek” geplaas en hulle volgelinge het geesdriftige toegewydheid daaraan gegee. Die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika het verklaar dat die Volkebond “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” sou wees. Die Amerikaanse Senaat is toegegooi onder briewe van godsdiensgroepe wat hulle aangespoor het om die Handves van die Volkebond te bekragtig. Die algemene liggaam van Baptiste, Kongregasionaliste en Presbiteriane in Brittanje het dit vereer as “die enigste beskikbare instrument om [vrede op aarde] te bewerkstellig”.—Sien Openbaring 13:14, 15.
14, 15. In watter opsig het die Volkebond en later die Verenigde Nasies hulle “in ’n heilige plek” bevind?
14 Die Messiaanse Koninkryk van God is in 1914 in die hemel opgerig, maar die nasies het voortgegaan om hulle eie soewereiniteit te bevorder (Psalm 2:1-6). Toe die Volkebond voorgestel is, het die nasies wat kort tevore in die Eerste Wêreldoorlog geveg het, asook die geestelikes wat hulle troepe geseën het, reeds getoon dat hulle die wet van God versaak het. Hulle het nie op Christus as Koning vertrou nie. Hulle het dus die rol van God se Koninkryk aan ’n menslike organisasie toegeken; hulle het die Volkebond “in ’n heilige plek” geplaas, ’n plek waar dit nie gehoort het nie.
15 As ’n opvolger van die Volkebond het die Verenigde Nasies op 24 Oktober 1945 tot stand gekom. Later het Roomse pouse die Verenigde Nasies geloof as “die laaste hoop op harmonie en vrede” en as “die hoogste forum vir vrede en geregtigheid”. Ja, die Volkebond, asook sy opvolger, die Verenigde Nasies, het inderdaad ’n afgod geword, ’n “walglike ding” in die oë van God en van sy volk.
Waarvan moet ons vlug?
16. Waaruit moet liefhebbers van regverdigheid vandag vlug?
16 Wanneer hulle dit “sien”, met ander woorde, wanneer hulle besef wat daardie internasionale organisasie is en hoe dit verafgood word, moet liefhebbers van regverdigheid na veiligheid vlug. Waaruit moet hulle vlug? Uit die hedendaagse antitipe van ontroue Jerusalem, naamlik die Christendom, en uit die hele Babilon die Grote, die wêreldwye stelsel van valse godsdiens.—Openbaring 18:4.
17, 18. Watter verwoesting sal die hedendaagse “walglike ding” veroorsaak?
17 Onthou ook, in die eerste eeu toe die Romeinse leër met hulle afgodiese vaandels die heilige stad van die Jode binnegeval het, was dit daar om Jerusalem en sy stelsel van aanbidding te verwoes. In ons tyd sal die verwoesting nie net oor een stad of net oor die Christendom kom nie, maar dit sal oor die wêreldwye stelsel van valse godsdiens kom.—Openbaring 18:5-8.
18 In Openbaring 17:16 word daar voorspel dat ’n figuurlike skarlakenkleurige wilde dier, die Verenigde Nasies, teen die hoeragtige Babilon die Grote sal draai en haar op gewelddadige wyse sal vernietig. Dit gebruik beskrywende taal en sê: “Die tien horings wat jy gesien het, en die wilde dier, hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand.” Die gedagte aan wat dit sal beteken, is ontsagwekkend. Dit sal die einde van elke vorm van valse godsdiens regoor die wêreld tot gevolg hê. Dit sal inderdaad toon dat die groot verdrukking begin het.
19. Watter groepe was sedert die ontstaan van die Verenigde Nasies nog altyd deel daarvan, en waarom is dit van belang?
19 Dit is opmerkenswaardig dat ateïstiese, antigodsdiensgroepe sedert die Verenigde Nasies se ontstaan in 1945 nog altyd ’n prominente deel van die lede daarvan uitgemaak het. Op verskillende tye het sulke radikale groepe regoor die wêreld daartoe bygedra dat die beoefening van godsdiens kwaai beperk of selfs heeltemal verbied is. Nogtans was daar die afgelope paar jaar in baie plekke ’n verslapping van regeringsdruk op godsdiensgroepe. Vir party mense lyk dit dalk of daar glad nie meer ’n gevaar vir godsdiens bestaan nie.
20. Watter soort reputasie het die wêreld se godsdienste opgebou?
20 Die godsdienste van Babilon die Grote is nog steeds ’n mag wat geweldige skeuringe in die wêreld veroorsaak. Nuusopskrifte identifiseer dikwels strydende partye en terroristegroepe deur die naam te noem van die godsdiens wat hulle aanhang. Oproerpolisie en soldate moes al in tempels ingaan om geweld tussen strydende godsdiensfaksies te beëindig. Godsdiensorganisasies het politieke revolusies gefinansier. Die Verenigde Nasies se pogings om bestendige verhoudinge tussen etniese groepe te handhaaf, is deur godsdienshaat in die wiele gery. In hulle strewe na vrede en veiligheid sou elemente in die Verenigde Nasies graag wou sien dat enige godsdiensinvloed wat in hulle weg staan, verwyder word.
21. (a) Wie sal bepaal wanneer Babilon die Grote vernietig moet word? (b) Wat moet dringend voor daardie tyd gedoen word?
21 Daar is ook ’n ander belangrike faktor om in ag te neem. Hoewel die gemilitariseerde horings in die geledere van die Verenigde Nasies gebruik sal word om Babilon die Grote te vernietig, sal daardie vernietiging in werklikheid ’n blyk van Goddelike oordeel wees. Die voltrekking van oordeel sal op God se bestemde tyd geskied (Openbaring 17:17). Wat moet ons intussen doen? “Gaan uit haar uit”—gaan uit Babilon die Grote uit—antwoord die Bybel.—Openbaring 18:4.
22, 23. Wat behels dit om te vlug?
22 Hierdie vlug na veiligheid is nie ’n geografiese verandering, soos dié van die Joodse Christene toe hulle Jerusalem verlaat het nie. Ons moet uit die godsdienste van die Christendom uitvlug, ja, uit enige deel van Babilon die Grote. Dit beteken dat ons ons nie net geheel en al van valse godsdiensorganisasies moet afskei nie, maar ook van hulle gebruike en die gees wat hulle openbaar. Ons moet vlug na die plek van veiligheid binne Jehovah se teokratiese organisasie.—Efesiërs 5:7-11.
23 Hoe het die Getuies gereageer toe Jehovah se gesalfde knegte die hedendaagse walglike ding, die Volkebond, ná die Eerste Wêreldoorlog die eerste keer geïdentifiseer het? Hulle het reeds hulle lidmaatskap van die kerke van die Christendom opgesê. Maar hulle het geleidelik besef dat hulle steeds aan party van die Christendom se gewoontes en gebruike vasgekleef het, soos die gebruik van die kruis en die viering van Kersfees en ander heidense feesdae. Toe hulle die waarheid hieromtrent geleer het, het hulle onmiddellik opgetree. Hulle het die raad in Jesaja 52:11 ter harte geneem: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!”
24. Wie het veral sedert 1935 ook begin vlug?
24 Veral sedert 1935 het ’n toenemende skare mense wat die vooruitsig gekoester het om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe op ’n soortgelyke wyse begin optree. Hulle het ook ‘die walglike ding in ’n heilige plek sien staan’, en hulle besef wat dit beteken. Nadat hulle besluit het om te vlug, het hulle hulle name laat skrap van die lys lidmate van organisasies wat deel van Babilon die Grote is.—2 Korintiërs 6:14-17.
25. Wat anders word van ’n persoon vereis behalwe dat hy alle bande wat hy dalk met valse godsdiens het, verbreek?
25 Maar om uit Babilon die Grote te vlug, behels baie meer as om net valse godsdiens te verlaat. Dit behels meer as om ’n paar vergaderinge by ’n Koninkryksaal by te woon of om een of twee keer per maand in die velddiens uit te gaan om die goeie nuus te verkondig. Iemand is dalk fisies buite Babilon die Grote, maar het hy dit werklik agtergelaat? Het hy hom van die wêreld afgeskei waarvan Babilon die Grote ’n vername deel is? Hou hy nog vas aan daardie dinge wat die gees daarvan weerspieël—’n gees wat God se regverdige standaarde ignoreer? Neem hy sedelikheid en getrouheid in die huwelik ligtelik op? Lê hy meer klem op persoonlike en materiële belange as op geestelike belange? Hy moenie toelaat dat hy na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie.—Matteus 6:24; 1 Petrus 4:3, 4.
Laat niks jou vlug belemmer nie!
26. Wat sal ons help om nie net die vlug te begin nie, maar dit met welslae te voltooi?
26 Terwyl ons na veiligheid vlug, is dit noodsaaklik dat ons nie met verlange terugkyk na die dinge wat agter is nie (Lukas 9:62). Ons moet ons verstand en hart onwrikbaar op God se Koninkryk en sy regverdigheid gevestig hou. Is ons vasbeslote om ons geloof te toon deur hierdie dinge eerste te soek, met die vertroue dat Jehovah so ’n getroue lewenswyse sal seën? (Matteus 6:31-33). Ons skriftuurlike oortuiging behoort ons aan te spoor om dit te doen, terwyl ons gretig wag dat betekenisvolle gebeure in die wêreld plaasvind.
27. Waarom is dit belangrik om ernstig na te dink oor die vrae wat hier gevra word?
27 Die voltrekking van Goddelike oordeel sal met die vernietiging van Babilon die Grote begin. Daardie hoeragtige ryk van valse godsdiens sal vir altyd vernietig word. Daardie tyd is baie naby! Wat sal ons posisie as individue wees wanneer daardie betekenisvolle tyd aanbreek? En aan watter kant sal ons ons bevind tydens die klimaks van die groot verdrukking wanneer die res van Satan se goddelose stelsel vernietig word? As ons nou die nodige stappe doen, kan ons van veiligheid verseker wees. Jehovah sê vir ons: “Die wat na my luister, sal veilig woon” (Spreuke 1:33). Deur voort te gaan om Jehovah gedurende hierdie stelsel se einde lojaal en met vreugde te dien, kan ons aan die vereistes voldoen om Jehovah vir ewig te dien.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., Deel 1, bladsye 634-5.
Onthou jy?
◻ Wat is die hedendaagse “walglike ding”?
◻ In watter opsig is “die walglike ding . . . in ’n heilige plek”?
◻ Wat behels dit om nou na veiligheid te vlug?
◻ Waarom is dit dringend om op hierdie wyse op te tree?
[Prent op bladsy 16]
Jesus se volgelinge moes sonder versuim vlug om te bly lewe