Vrede en veiligheid—die behoefte daaraan
“Oorlog in die twintigste eeu het in alle aspekte al hoe wreder, vernietigender, dierliker geword. . . . Die bomme wat op Hirosjima en Nagasaki gewerp is, het ’n oorlog beëindig. Hulle het dit ook baie duidelik gemaak dat ons nooit weer ’n oorlog moet hê nie. Dit is die les wat die mens en leiers oral moet leer, en wanneer hulle dit leer, sal hulle myns insiens ’n weg tot duursame vrede vind. Daar is geen ander keuse nie.”—Henry L. Stimson, “Die besluit om die atoombom te gebruik”, die tydskrif Harper’s, Februarie 1947.
DIT was slegs ’n jaar na die stigting van die Verenigde Volke dat mnr. Stimson, Amerikaanse minister van oorlog van 1940-45, die bogenoemde woorde geuiter het. Wel, het die mens nagenoeg 40 jaar later “die les” geleer? Het die Verenigde Volke dit vir jou moontlik gemaak om “duursame vrede” te geniet? Beskou die hoë prys wat die mensdom maar net sedert die Tweede Wêreldoorlog vir oorlog en oorlogsvoorbereiding betaal het.
DIE MENSLIKE KOSTE: Wat was die menslike koste van oorloë sedert die Tweede Wêreldoorlog ondanks die Verenigde Volke se pogings om vrede te bring? “Sedert die Tweede Wêreldoorlog is daar 105 groot oorloë ([gereken volgens] 1 000 of meer sterftes per jaar) in 66 lande en gebiede gevoer. . . . Die oorloë sedert 1945 het 16 miljoen sterftes veroorsaak, baie meer onder burgerlikes as onder die betrokke troepe. (Die getal, veral vir burgerlikes, is onvolledig; geen amptelike verslae word vir die meeste oorloë gehou nie.)”—World Military and Social Expenditures 1983 deur Ruth Sivard.
Vrede en veiligheid glip in werklikheid al hoe verder weg—die frekwensie van oorloë neem toe. Sivard verduidelik: “In die vyftigerjare was daar gemiddeld 9 [oorloë] per jaar; in die sestigerjare, 11 per jaar; en in die sewentigerjare, 14 per jaar.”
DIE SIELKUNDIGE KOSTE: Die mens lewe sedert Hirosjima in vrees vir kernoorlog. Die paar kernwapens van 1945 het teen 1983 toegeneem tot 50 000 wêreldwyd. En nog meer word vervaardig! Dit is duidelik dat die gevaar van kernoorlog toeneem namate die kernwapens en die nasies wat dit besit, toeneem. Maar wat is die sielkundige uitwerking wanneer mense in vrees vir kernoorlog lewe?
Die boek Preparing for Nuclear War—The Psychological Effects antwoord: “Die uitwerking wat die bedreiging van kernwapens op die strewe en gedrag van kinders en volwassenes het, moet dringend verder ondersoek word . . . Hier is ’n potensieel ontsaglike, voortdurende koste vir ons gemeenskappe wat toeneem namate geslagte tot rypheid groei. Wat beteken die drome van ’n kind nou?”
Ja, veral kinders word geraak wanneer hulle geen veilige toekoms het nie. ’n Onlangse opname onder Australiese skoolkinders tussen die ouderdom van 10 en 12 jaar het kommentare uitgelok soos: “Wanneer ek groot is, dink ek daar gaan ’n oorlog wees en almal in Australië gaan sterf.” “Die wêreld gaan ’n wrak wees —daar sal oral dooie wesens wees, en die V.S.A. sal van die oppervlak van die aarde afgevee word.” Meer as 70 persent van die kinders “het gesê dat kernoorlog ’n moontlikheid is”. Maatskaplike navorsers vrees dat die afwesigheid van ’n veilige toekoms deels verantwoordelik kan wees vir talle jeugdiges se gesindheid van “lewe vir vandag”, met die gevolglike soeke na opwinding.
DIE EKONOMIESE KOSTE: Voor die middle-dertigerjare het die wêreld se militêre besteding sowat R9-miljard per jaar beloop. Maar in 1982 het die syfer tot R1,32-biljoen gestyg. En soos jy weet, het dit bly styg. Om sulke koste in perspektief te probeer stel, het World Military and Social Expenditures 1983 verduidelik: “Elke minuut sterf 30 kinders weens ’n gebrek aan voedsel en goedkoop entstowwe en elke minuut absorbeer die wêreld se militêre begroting [R2,6-miljoen] van die openbare skat.” (Ons kursiveer.) En nou, net twee jaar later, het dit R4-miljoen per minuut bereik.
Wanneer jy dink aan die hoë prys wat die mens vir oorlog en oorlogsvoorbereiding betaal het, is een ding seker: Die mens het nie op sy eie die “weg tot duursame vrede” gevind nie. Maar vra jou af: Is daar in ons dag ’n weg tot wêreldwye vrede en veiligheid? Uit watter bron kan dit kom? Moet jy op die Verenigde Volke vertrou? Hoe sal vrede en veiligheid andersins bewerkstellig word?