Vasbeslote om ‘standvastig en onbeweeglik’ te wees
Soos vertel deur Paul Smit
IN DIE dertigerjare van die negentiende eeu was talle Wit boere in die Kaapprovinsie van Suid-Afrika baie rusteloos. Vanweë hulle Nederlandse afkoms was die Britse heerskappy vir hulle knellend. Duisende het noordwaarts, na die onbekende binneland, getrek. Nadat hulle baie struikelblokke oorkom het, het sommige noord van die Oranjerivier, in wat later die Oranje-Vrystaat geword het, gaan woon. Ander het die Vaalrivier oorgesteek en hulle gevestig in wat nou as die Transvaal bekend staan. Onder hulle was my Afrikaanssprekende voorsate wat hulle in die sestigerjare van die negentiende eeu in Noord-Transvaal gevestig het. Ek is in 1898 naby die dorpie Nylstroom gebore.
Die leefwyse van die paar inwoners van die gebied was destyds baie eenvoudig. Die hoofvoedselbron was die volop wild, en dit is aangevul deur plaasprodukte. Toe, in 1899, het oorlog—die Anglo-Boereoorlog—uitgebreek. Die Britte het besluit om hulle gesag oor die twee Afrikanerrepublieke, die Oranje-Vrystaat en die Transvaal, uit te brei. Brit en Boer was gevolglik drie jaar lank in ’n bitter stryd om heerskappy gewikkel. Ons gesin is gedurende hierdie tydperk in ’n konsentrasiekamp geïnterneer.
Toe vyandelikhede beëindig is, het ons teruggekeer om te vind dat ons plaas erg beskadig en geplunder is. Die lyding was verskriklik. Duisende manne het in die stryd gesneuwel, en duisende vroue en kinders het in konsentrasiekampe omgekom. Die land het tot armoede verval. Ons was ook armoedig. Maar ’n koringsubsidie van die regering het ons aan die lewe gehou, en my ouers het hard gewerk op die plaas om groente en ander gewasse te kweek.
Die waarheid veroorsaak ’n “sikloon”
Toe het die onvergeetlike jaar 1915 aangebreek. As ’n skoolseun van 16 het ek die boekie What Say the Scriptures About Hell?, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, deur die pos ontvang. Ek het dit saam met ’n skoolvriend, Abraham Stroh, gelees, en ons het saamgestem dat dit die waarheid is. Dit was opwindend om te leer dat God mense nie vir ewig pynig nie; die dooies is onbewus, hulle slaap in die dood en wag op die opstanding wat Jesus beloof het (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4; Johannes 5:28, 29). Dit het ons aangespoor om op te tree. Nylstroom het ’n byenes geword, asof ’n sikloon dit getref het, toe ons twee skoolseuns daadwerklik en onbevrees bekend gemaak het dat die leerstellings van die Nederduits Gereformeerde Kerk vals is. Dit het die geestelikes natuurlik ontstel, en hulle het hierdie “nuwe godsdiens” van hulle preekstoele af veroordeel.
Ek en Abraham was gevolglik nie meer welkom by ons vriende se huise nie. Selfs my vader het gedreig om my uit die huis te sit. Maar my moeder, ’n waarlik sagmoedige mens, was nooit onvriendelik nie. Mettertyd het my dierbare vader, wat ’n diepe eerbied vir die Bybel gehad het, aan die “nuwe godsdiens” gewoond geraak, en ons het die Getuies gasvry in ons huis onthaal. In daardie vroeë dae het ons niks van die Genootskap geweet nie en het ons geheel en al op Jehovah vertrou. Later het kolporteurs (wat nou pioniers genoem word) ons besoek en ons in aanraking gebring met die Genootskap en sy kantoor in Kaapstad—1 600 kilometer ver. Ek is gevolglik in 1918 gedoop.
Twee jaar later het ek ’n byeenkoms in Pretoria bygewoon. Ongeveer drie-en-twintig broers en susters was aanwesig, en broer Ancketill, die Genootskap se verteenwoordiger, was die voorsitter. Hoe wonderlik was dit tog om saam met medegelowiges te wees, al was ons so min! Die program het hoofsaaklik bestaan uit leerstellige sake en “getuienisse”, of ondervindinge, maar dit het my dermate gestimuleer dat ek standvastig kon bly. Ek het dit nodig gehad.
’n Teleurstelling—toe seëninge
Dit was die grootste skok van my lewe toe my goeie vriend, Abraham, nadat hy die skool verlaat het en deur die plaaslike Skoolraad in diens geneem is, met afdanking gedreig is tensy hy sy godsdiens sou verloën. Hy het die waarheid verlaat en by die Nederduits Gereformeerde Kerk aangesluit. Dit het beteken dat ek, jonk en nuut in die waarheid, stoksielalleen in Noord-Transvaal was. Ek het baie trane gestort oor die verlies van my metgesel, maar ek het sonder ophou tot Jehovah gebid en is versterk om “standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here” te wees.—1 Korinthiërs 15:58.
Toe het die vroeë twintigerjare aangebreek. Jehovah het my volgehoue pogings om die waarheid na my beste vermoë uit te leef, geseën. Ek het “skape” in my omgewing begin vind. ’n Naburige boer se jong seun het die goeie nuus van die Koninkryk aanvaar en dus vir my verlies van ’n metgesel vergoed. Hierdie broer, Hannes Grobler, was tot sy onlangse dood getrou. Ek het ook ’n studie in die boek Die harp van Goda met die Vorsters, ’n gesin van sewe, begin.
Ek het elke Saterdag met genoeë 6,4 kilometer deur die veld geloop om die studie te gaan hou. Die ouers is as Getuies gedoop en het tot die dood getrou gebly.
In 1924 het broer George Phillips, wat kort tevore in Suid-Afrika aangekom het om in die takkantoor in Kaapstad te dien, Nylstroom besoek—’n opwindende gebeurtenis vir my. Dit was die begin van ’n hegte vriendskap en ’n tydperk van teokratiese samewerking wat geduur het totdat hy in 1982 sy aardse loopbaan voltooi het.
Die plaaslike belangstelling het gegroei, en ons was weldra ’n voortreflike groep van 13 broers en susters—die eerste groep Getuies noord van Pretoria. Mettertyd is die boodskap van die Koninkryk na die uitgestrekte Noord-Transvaal uitgedra.
Probleme en vooruitgang in Pretoria
My werkgewers by die bank het my egter daardie selfde jaar na Pretoria oorgeplaas, waar daar ’n groepie van agt Bybelstudente (Jehovah se Getuies) was. Maar net een het ’n behoorlike waardering vir teokratiese sake gehad, en hy is oorlede kort nadat ek gekom het. Die ander—party was geleerd—het nie waardering getoon vir die Genootskap se reëling om die gemeentes vir diens te organiseer nie, en twee van hulle het die groep verlaat.
Die “ouere man” van die groep was intussen besig om ’n boek oor sy eie vertolking van die Skrif te skryf, al het die Genootskap dit afgekeur. Ek het self ’n beroep op hom gedoen om die idee te laat vaar. Een Sondagoggend het dit ’n hoogtepunt bereik. Sy boek was reeds gedruk, en hy het ’n paar eksemplare gebring en gevra dat die groep dit versprei. Ek was geskok. Ek het opgestaan en sy versoek teëgestaan. Gevolglik het die “ouere man” en vier of vyf ander die organisasie verlaat. Ek, my vrou en ’n dierbare ou suster het oorgebly. Maar ons was vasbeslote om ‘standvastig en onbeweeglik’ te wees en die Genootskap lojaal te ondersteun. Van toe af het Jehovah stadig maar seker die vermeerdering gegee.—1 Korinthiërs 3:6; 15:58.
Mettertyd het Jehovah meer werkers by die Pretoria-gemeente gevoeg. In 1931 het twee Swart broers byvoorbeeld na ons studiesentrum gekom en hulself voorgestel. Daarna het ek ’n paar jaar lank die verantwoordelikheid gehad om Wit sowel as Swart te dien—’n seldsame voorreg in Suid-Afrika. Ek het ’n groepstudie in die Swart broers se lokasie gelei om hulle te help. Ek het ook opnames van broer Rutherford se toesprake in die Swart woonbuurt gebruik. Daarbenewens het ’n Swart broer, Hamilton Kaphwitti Maseko, my elke Sondagaand gehelp om hierdie lesings met ’n kragtige transkripsiemasjien op Kerkplein, in die hartjie van Pretoria, uit te saai.
Jehovah het die vermeerdering gegee, en ’n Swart gemeente is gestig. As stadsopsiener het ek jare lank hulle spesiale vergaderinge gereël. Van ’n klein begin het die werk onder die Swartes in Pretoria teen 1984 uitgebrei tot 16 gemeentes in die gebied.
’n Oorlogsverbod
Die begin van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 het in baie lande verskriklike lyding veroorsaak. Suid-Afrika was egter ’n uitsondering. Baie Suid-Afrikaners het nietemin vanweë die wêreldskokkende gebeure uit hulle selfvoldaanheid ontwaak en hulle gedagtes op die vervulling van Bybelprofesieë gerig. Gevolglik was daar uitsonderlike groei in die Koninkryksbedrywigheid en het die verkondigersyfer vir die 1941-diensjaar met 50 persent toegeneem. Dit het die misnoeë gewek van die kerke, veral van die Katolieke Kerk, wat die Genootskap as ’n gevaar vir die Staat bestempel het. Die Regering het toe baie van die Genootskap se publikasies in die ban gedoen.
Omstreeks daardie tyd het ek, my vrou Anna en ons twee kinders, Paul en Anelise, Nylstroom besoek, waar ek ’n toespraak moes hou. Ek het die geleentheid benut om vir die plaaslike broers te wys dat ’n mens ons tydskrifte op straat kan aanbied. Ek het buite die Landdroshof gaan staan. ’n Polisiesersant het kort daarna vir my gesê dat ek ’n onwettige werk doen en dat ek my onmiddellik by die aanklagkantoor moet aanmeld. Maar aangesien ons besluit het om ’n uur lank te werk, het ek net aangehou. Toe het ’n konstabel vir my kom sê dat die Polisiehoof vir my wag. Maar ek het nie beweeg nie. ’n Ander konstabel het ’n soortgelyke boodskap gebring en dieselfde reaksie gekry. Ons het die uur met goeie resultate voltooi, en toe het ek en my gesin by ’n kafee gaan tee drink.
Toe ek eindelik na die aanklagkantoor gegaan het, is daar vir my gevra wat van die lektuur geword het. Ek het verduidelik dat dit onder die publiek versprei is. Die polisie het later na my ouers se plaas, waar ons gebly het, gegaan en al die tydskrifte wat hulle kon vind, geneem.
Ons het die saak met die plaaslike broers bespreek en besluit om ons te verset. Die volgende week het dertig van ons dus in die strate van Nylstroom gewerk, en die week daarna in Warmbad, 29 kilometer na die suide. Teen die verwagting het niemand ons probeer keer nie. Ons het al die publikasies wat nie verbode was nie, later na ’n groot gesukkel teruggekry.
‘Standvastig en onbeweeglik’ ondanks die ouderdom
My vrou Anna het my tot haar dood in 1949 getrou ondersteun. Sedert 1954, toe ek weer getrou het, staan my liewe vrou Maud my getrou by. Van kleins af het die twee kinders, Paul en Anelise, my in alle aspekte van Koninkryksdiens vergesel. Albei het pioniers geword toe hulle die huis verlaat het. Anelise en haar man, Jannie Muller, is nog in die voltydse diens. Paul het later van die waarheid weggedryf en ’n universiteitsloopbaan gevolg, maar hy het in die laaste jare weer begin assosieer. My vyf kleinkinders is almal Getuies van Jehovah; twee van hulle dien saam met hulle huweliksmaats as voltydse bedienaars. Ek raai ouers sterk aan om na aan hul kinders te bly en hulle, deur woord en voorbeeld, te leer om Jehovah lief te hê en hom heelhartig te dien.—Deuteronomium 6:6, 7.
Gedurende 69 jaar van teokratiese diens het ek opwindende uitbreiding gesien. In 1931 was daar in Pretoria en omgewing vyf Koninkryksverkondigers. Nou is daar meer as 1 500 in 26 gemeentes. Alle lof en eer hiervoor kom Jehovah toe! Wanneer my gesondheid dit toelaat, geniet ek nou, op ses-en-tagtigjarige leeftyd, steeds die uitdaging van getuieniswerk van huis tot huis en straatwerk met Die Wagtoring en Ontwaak! Ek en Maud is vasbeslote om ‘standvastig en onbeweeglik’, getrou aan Jehovah, te wees en sy naam tot in alle ewigheid te loof.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap