Is jy met God versoen?
BAIE mense sien geen sin in daardie vraag nie. Volgens hulle is dit belangriker om met jouself versoen te wees. ‘Volg jou eie kop’ is deesdae ’n gewilde leuse. ‘Moenie skuldig voel nie’, is nog een.
Dit is nie net die beskouing van ’n paar jongmense wat die lewensfilosofie van ‘ek eerste’ huldig nie. In Frankryk, waar 82 persent van die bevolking gedoopte Katolieke is, het ’n opname wat in 1983 gedoen is byvoorbeeld getoon dat slegs 4 persent van die mense die gedagte van sonde aanvaar. Wat die Verenigde State betref, het dr. Karl Menninger, glo die “vader van Amerikaanse psigiatrie”, hom ’n paar jaar gelede daartoe gedwonge gevoel om ’n boek oor die onderwerp Whatever Became of Sin? te skryf. Daarin het hy geskryf: “As ’n nasie het ons so twintig jaar gelede amptelik opgehou ‘sondig’.” Die omslag van die boek sê: “Die woord ‘sonde’ het feitlik uit ons woordeskat verdwyn.”
Die begrip ‘sonde’ is vandag inderdaad so vaag dat talle mense, selfs beweerde Christene, dit moeilik sou vind om te verduidelik wat sonde werklik is.
Hedendaagse bedenkinge
Ondanks hierdie kwyning van die gedagte dat sonde bestaan, het etlike onlangse verwikkelinge in die wêreld mense aan die dink gesit. Een is die groot hoeveelheid aborsies in baie van die wêreld se mees ontwikkelde lande. Party van hulle, hoewel oorheersend “Christelik”, het uiters liberale aborsiewette. Hierdie oorvloed fetusmoorde het reaksies uitgelok wat vir mense wat die begrip ‘sonde’ verwerp moeilik moet wees om te verduidelik.
Waarom sou party vroue wie se lewensfilosofie hulle toelaat om ’n aborsie te hê byvoorbeeld daarna skuldgevoelens ervaar, en selfs sielkundig aangetas word? En tog “toon studies dat baie vroue wat aborsies gehad het wanaangepas is”, selfs in kommunistiese Joego-Slawië [The New Encyclopædia Britannica). Professor Henri Baruk, lid van die Franse Akademie vir Geneeskunde, verklaar hierdie verskynsel as die gevolg van die skending van “’n fundamentele beginsel wat in die hart van elke mens geskryf is”. Geskryf deur wie?
Nog ’n onlangse verskynsel wat mense aan die dink gesit het, is die wêreldwye toename van seksueel oordraagbare siektes. VIGS (Verworwe immuniteitsgebreksindroom), met sy hoë sterftesyfer, het ’n vlaag van twyfel en angs veroorsaak onder talle mense vir wie promiskue seks kwansuis bevryding van ouderwetse taboes gebring het. Die hoë prys wat talle vir hulle seksuele “vryheid” betaal, laat party van hulle wonder of hulle nie tog wel gestraf word nie. Gestraf deur wie?
Sulke hedendaagse herinneringe aan die feit dat die mens sedelike beginsels nie ongestraf kan veronagsaam nie, laat sommige denkende mense hulle menings oor sonde en aanspreeklikheid voor God hersien.
Die kerke en sonde
“Die sonde van hierdie eeu is die verlies van alle besef van sonde.” Pous Pius XII het reeds in 1946 daardie kragtige verklaring gedoen. Dit is duidelik dat die situasie sedertdien versleg het. In sy onlangse geskrif oor sonde en belydenis, wat “Versoening en Boetedoening” genoem is, het pous Johannes Paulus II daardie woorde van sy voorganger aangehaal en betreur wat hy die vertroebeling van die sondebegrip in vandag se verwêreldlike gemeenskap genoem het.
Die pous het Katolieke priesters, en Katolieke in die algemeen, ook daaraan herinner dat gesamentlike belydenis en absolusie, soos vandag in talle Katolieke kerke beoefen word, nie goed genoeg is nie. Hy het gesê dat individuele belydenis “die enigste gewone en normale manier” is om die sakrament van boete te hou. In die Katolieke dogma word boetedoening geassosieer met goeie werke wat die sondaar met God versoen.
Die meeste Protestantse kerke meen dat private belydenis aan ’n priester nie nodig is nie. Hulle voer aan dat belydenis aan God genoeg is vir die vergifnis van sondes, maar party staan algemene belydenis en absolusie by die “Nagmaaldiens” voor. Talle Protestante glo dat slegs geloof nodig is om voor God geregverdig te word.
Sulke teenstrydige leerstellings in die sogenaamd Christelike kerke oor die onderwerp van belydenis, boetedoening en regverdigmaking, of hoe om ’n goeie posisie voor God te verkry, verwar talle mense. Hulle het ’n vae idee dat hulle iets moet doen om met God versoen te word, maar hulle weet nie hoe om dit te doen nie.
Die volgende artikel sal verduidelik waarom ons met God versoen moet word, en dit sal die Katolieke en Protestantse standpunt oor “regverdigmaking” beskou. Twee ander artikels sal verduidelik wat die Bybel leer oor die verkryging van ’n regverdige posisie voor God, en hoe dit jou raak.