Regverdigheid voor God—Hoe?
“GOD ’e say ’im alrite.” Dit is blykbaar hoe “regverdigmaking” in ’n onlangse weergawe van die “Nuwe Testament” in Nieu-Guinee-Pidgin beskryf word. Al klink dit hoe snaaks, bevat dit die basiese gedagte van die woord wat in Romeine 5:16 met “vryspraak” (“regverdigverklaring”, NW) vertaal word.
Party mense sê andersyds: ‘Ek lei ’n goeie lewe. Ek doen goed aan ander wanneer ek kan. Ek is gereed om my Maker te ontmoet.’ Hulle dink blykbaar dat regverdigmaking selfregverdiging beteken. Volgens die Bybel slaan die leerstelling van “regverdigmaking” op die manier waarop God ons beskou en die manier waarop hy met ons handel. Jehovah is die “Skepper” (Jesaja 40:28). Hy is “die Regter van die ganse aarde” (Genesis 18:25). Niks kan derhalwe belangriker wees as die manier waarop hy ons beskou nie.
Waarom ons met God versoen moet word
Die Bybel sê van Jehovah: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:4). Hy is die verpersoonliking van regverdigheid. As die Skepper en Lewegewer het hy die reg om die standaard, of norm, vas te stel vir wat reg en wat verkeerd is. Dit wat in ooreenstemming met God se standaard is, is regverdig.
God stel dus die standaard vas waaraan sy intelligente skepsele moet voldoen as hulle in harmonie met hulle Skepper wil lewe. Die versuim om aan daardie standaard te voldoen, is wat die oorspronklike tale van die Bybel sonde noem. Sonde is derhalwe ongeregtigheid. Dit is ’n versuim om aan God se definisie van reg en verkeerd te voldoen. Sonde is gevolglik ook ’n vorm van wanorde, ’n vorm van wetteloosheid.—1 Johannes 5:17; 3:4.
Jehovah “is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33). Al sy skepsele in die hemel en op die aarde was aanvanklik volmaak. Hulle was begaaf met wilsvryheid (2 Korinthiërs 3:17). Hulle het “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” geniet (Romeine 8: 21). Solank sy regverdige standaarde eerbiedig is, het vrede en orde dwarsdeur die heelal geheers. Wanorde het die heelal binnegedring toe sommige skepsele, eers in die hemel en later op die aarde, wetteloos voor God geword het en sy reg om oor hulle te heers verwerp het. Hulle het afgewyk van God se standaard van reg en verkeerd. Hulle het te kort geskiet en hulself dus sondaars gemaak.
Dit was die geval met ons eerste ouers, Adam en Eva (Genesis 3:1-6). “Daarom . . . [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en deur die sonde die dood, en so [het] die dood tot alle mense deurgedring . . . omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Sedert hulle opstand het sonde “as koning geregeer met die dood”, want al Adam se nakomelinge “het gesondig en is ver van God” se regverdige standaard af (Romeine 5:21, NW; 3:23, NAV). Vandaar die nodigheid om met God versoen te word.
Die Katolieke beskouing van “regverdigmaking”
Al die kerke wat beweer dat hulle Christelik is, erken dat dit nodig is om met God versoen te word. Katolieke en Protestantse leerstelling verskil egter wat betref hulle begrip van die manier waarop dit bereik kan word en van die Christen se posisie voor God.
The Catholic Encyclopedia sê oor die Katolieke dogma: “Regverdigmaking wys op daardie verandering of transformasie in die siel waardeur die mens oorgeplaas word van die toestand van oorspronklike sonde, waarin hy as ’n kind van Adam gebore is, tot die van genade en Goddelike seunskap deur Jesus Christus, die tweede Adam.” A Catholic Dictionary verduidelik verder: “Ons bepaal ons hier by die proses waardeur volwassenes van ’n toestand van dood en sonde verhef word tot die guns en vriendskap van God; want wat kinders betref, leer die Kerk dat hulle in die doop geregverdig word sonder enige handeling van hulle kant.”
Kortom, die Katolieke Kerk leer dat “regverdigmaking” ’n daad van God is waardeur ’n persoon wat in die Katolieke geloof gedoop is werklik regverdig gemaak en geheilig word deur die gawe van goddelike “guns”. Dit beweer ook dat sodanige regverdigmaking (1) deur persoonlike verdienste of goeie werke vermeerder kan word; (2) deur ’n doodsonde en deur ongeloof verloor kan word; (3) deur die sakrament van boete herwin kan word. In hierdie reëling moet die geregverdigde Katoliek sy sondes aan ’n priester bely en absolusie ontvang. ’n Persoon kan deur goeie werke boete doen of deur middel van ’n “aflaat” kwytskelding ontvang vir enige “tydelike straf” wat na absolusie nog van krag is.a
Die Protestantse beskouing
Die skaamtelose verkoop van aflate in die vroeë 16de eeu het tot die Protestantse Hervorming gelei. Katolieke monnik Martin Luther het teen hierdie gebruik te velde getrek in die 95 stellinge wat hy in 1517 aan die deur van die kasteelkerk in Wittenberg, Duitsland, geplak het. Maar in werklikheid het Luther se meningsverskil met amptelike Katolieke dogma dieper as dit gegaan. Dit het die kerk se hele leerstelling van regverdigmaking ingesluit. A Catholic Dictionary bevestig dit: “Die geloofsverskil oor die manier waarop sondaars voor God geregverdig word, was tydens die Hervorming die hoofonderwerp van onenigheid tussen Katolieke en Protestante. ‘As hierdie leerstelling’ (d.w.s. die leerstelling van regverdigmaking deur die geloof alleen) ‘val’, sê Luther in sy Table Talk, ‘is dit verby met ons.’”
Wat het Luther presies met ‘regverdigmaking deur die geloof alleen’ bedoel? As ’n Katoliek het Luther geleer dat die mens se regverdigmaking die doop, persoonlike verdienste en goeie werke behels, asook die Sakrament van boete wat uitgevoer word deur ’n priester wat die belydenis aanhoor, vergifnis skenk en versoeningswerke oplê wat selfkastyding insluit.
In sy pogings om vrede met God te vind, het Luther gebruik gemaak van al die middele van Roomse dogma oor regverdigmaking, met inbegrip van vas, gebede en selfkastyding, maar tevergeefs. Onbevredig het hy die Psalms en Paulus se briewe weer en weer gelees, en hy het uiteindelik gemoedsrus gevind deur tot die slotsom te kom dat God mense regverdig verklaar, nie op grond van hulle verdienste, goeie werke of boetedoening nie, maar bloot op grond van hulle geloof. Hy het so in ekstase geraak oor hierdie gedagte van “regverdigmaking deur die geloof alleen” dat hy die woord “alleen” na die woord “geloof” in sy Duitse vertaling van Romeine 3:28 gevoeg het!b
Die meeste Protestantse kerke het basies Luther se beskouing van “regverdigmaking deur genade deur middel van die geloof” aangeneem. Trouens, dit is reeds voor die Hervorming deur die Fransman Jacques Lefèvre d’Étaples gemeld. Ter opsomming van die verskil tussen die Katolieke en Protestantse beskouing oor regverdigmaking sê A Catholic Dictionary: “Katolieke beskou regverdigmaking as ’n daad waardeur ’n mens waarlik regverdig gemaak word; Protestante beskou dit as een waarin hy bloot regverdig verklaar en geag word, en dat die verdienste van ’n ander—nl. Christus—aan hom toegeskryf word.”
Nie Katolieke of Protestantse “regverdigmaking” nie
Katolieke dogma oorskry wat die Bybel leer wanneer dit beweer dat “’n mens waarlik regverdig gemaak word” deur die gawe van goddelike genade wat by die doop geskenk word. Dit is nie die doop wat die oorspronklike sonde afwas nie, maar dit is Christus se vergote bloed (Romeine 5:8, 9). Daar is ’n groot verskil tussen om deur God waarlik regverdig gemaak te word en om regverdig gereken, of beskou, te word (Romeine 4:7, 8). Enige eerlike Katoliek, wat sukkel in sy stryd teen sonde, weet dat hy nie waarlik regverdig gemaak is nie (Romeine 7:14-19). As hy waarlik regverdig was, sou hy geen sondes gehad het om aan ’n priester te bely nie.
As Katolieke dogma by die Bybel gehou het, sou die sondebewuste Katoliek bowendien sy sondes aan God bely en deur Jesus Christus om vergifnis vra (1 Johannes 1:9-2:2). Daar is geen grond in die Bybel vir die voorspraak van ’n mensepriester by enige stadium van “regverdigmaking” nie, en ook nie vir die ophoping van verdienste nie, waarop die leerstelling van aflate gebaseer is.—Hebreërs 7:26-28.
Die Protestantse begrip van regverdigmaking, naamlik dat ’n Christen regverdig verklaar word op grond van die verdienste van Christus se offerande, is ongetwyfeld nader aan wat die Bybel leer. Maar sommige Protestantse kerke leer “regverdigmaking deur die geloof alleen” wat, soos ons later sal sien, sekere bepaalde redenasies wat deur die apostel Paulus en deur Jakobus voorgelê is oor die hoof sien. Daardie kerke se geestelik selfvoldane gesindheid word opgesom deur die uitdrukking “een maal gered, altyd gered”. Party Protestante glo dat dit genoeg is om in Jesus te glo om gered te word en dat regverdigmaking derhalwe die doop voorafgaan.
Terwyl hulle regverdigmaking deur die geloof leer, volg sekere Protestantse kerke ook die Franse hervormer Johannes Calvyn en leer persoonlike predestinasie, wat gevolglik die Bybel se leerstelling van wilsvryheid loën (Deuteronomium 30:19, 20). Daar kan derhalwe gesê word dat nòg die Katolieke nòg die Protestantse begrip van regverdigmaking heeltemal met die Bybel ooreenstem.
Wat leer die Bybel?
En tog leer die Bybel definitief die leerstelling van “regverdigmaking”, of die manier waarop ’n mens ’n regverdige posisie voor God kan verkry. Ons het vroeër gesien waarom ons met God versoen moet word, aangesien ons almal nie as God se kinders nie, maar as “kinders van die toorn” gebore word (Efesiërs 2:1-3). Of God se toorn oor ons gaan bly of nie, hang daarvan af of ons sy barmhartige voorsiening vir versoening met hom, die heilige, regverdige God, aanvaar of van die hand wys (Johannes 3:36). Daardie liefdevolle voorsiening is “die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”.—Romeine 3:23, 24, NW.
Die apostel Paulus het getoon dat Christus se losprysoffer twee verwagtinge oopstel, een “op die aarde” en die ander “in die hemele”. Hy het geskryf: “Dit het die Vader behaag dat in Hom [Christus] die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis . . . die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.”—Kolossense 1:19, 20.
Dit is nodig om ’n regverdige posisie voor God te hê om enigeen van hierdie twee verwagtinge te koester, en dit behels baie meer as om net “in Jesus te glo”. Die volgende twee artikels sal bespreek presies wat dit beteken vir Christene wat die hemelse hoop het en vir diegene wat hoop om vir ewig in ’n paradys op aarde te woon. Lees gerus verder, en moenie huiwer om die getuie van Jehovah wat hierdie tydskrif vir jou gegee het te vra om hierdie artikels aan die hand van die Bybel met jou te bespreek nie.
[Voetnote]
a Volgens Katolieke dogma bring sonde skuld en twee soorte straf—ewige en tydelike—mee. Sondeskuld en ewige straf word kwytgeskeld deur middel van die sakrament van boete. Vir tydelike straf moet daar in hierdie lewe boete gedoen word deur goeie werke en boetegebruike, of in die volgende lewe in die vaevuur. ’n Aflaat is ’n gedeeltelike of ’n volle kwytskelding van tydelike straf deur die toepassing van die verdienste van Christus, Maria en die “heiliges”, wat in die “Genadeskat van die Kerk” opgegaar word. Die “goeie werke” wat vereis word om ’n aflaat te kry, kan ’n pelgrimstog of ’n geldelike bydrae tot die een of ander “goeie” saak behels. So is geld in die verlede ingesamel vir die Kruistogte en om katedrale, kerke en hospitale te bou.
b Luther het ook die egtheid van die brief van Jakobus in twyfel getrek daar hy gemeen het dat sy redenasie in hoofstuk 2, dat geloof sonder werke dood is, die apostel Paulus se verduideliking van regverdigmaking “sonder werke” weerspreek (Romeine 4:6). Hy het nie besef dat Paulus van die werke van die Joodse Wet gepraat het nie.—Romeine 3:19, 20, 28.
[Lokteks op bladsy 5]
DIE KATOLIEKE KERK leer dat regverdigmaking die mens waarlik regverdig maak, maar dat regverdigmaking deur ’n doodsonde verloor of deur persoonlike verdienste vermeerder kan word
[Lokteks op bladsy 6]
TALLE PROTESTANTE glo in regverdigmaking, of regverdigverklaring, deur die geloof alleen, en dat geloof in Jesus redding verseker. Party glo dat regverdigmaking voorbestem is
[Lokteks op bladsy 7]
DIE BYBEL leer dat die mens wilsvryheid het en dat Christus se losprysoffer twee verwagtinge oopstel, een is ’n hemelse en die ander ’n aardse hoop. Albei verwagtinge hang van ’n regverdige posisie voor God af.