Eer jy Jehovah met jou waardevolle dinge?
“Liewe broers, Hoe gaan dit? Ek wil ’n sendeling wees wanneer ek groot is. Gebruik asseblief hierdie dollar om sendelinge te help.” So skryf driejarige Shelley. Haar kinderlike gekrabbel is onder aan die brief deur haar moeder ontsyfer.
Stefan het meer informeel geskryf: “Liewe Bybel- en Traktaatgenootskap. Ek is 8 jaar oud. Ek woon in 89ste straat. Ek hoop julle het ’n aangename tyd. Ek gee julle een dollar vir die Koninkryksaalfonds. Skryf gou vir my terug.”
WAAROM het hierdie kinders aan die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier geskryf? Want hulle wou Jehovah eer deur hulle besittings tot sy lof te gebruik. Hulle het die Bybelse opdrag gehoorsaam: “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge en met die eerste vrugte van jou hele opbrengs.”—Spreuke 3:9, NW.
Jehovah is beslis hierdie eer waardig. Niemand kan met hom vergelyk word nie. Soos Openbaring 4:11 sê: “U is waardig, o HERE, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” “Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Handelinge 17:28, NAV). Maar dit is nie al nie. Hy het vir ons die allerbeste voorsien. Soos die Bybelskrywer Jakobus ons herinner, is God die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe”.—Jakobus 1:17.
Maar nie almal besef die nodigheid om Jehovah te loof en te eer nie. Trouens, miljoene mense het nie eens sy naam geleer nie! Talle aanbid die dinge wat geskape is “bo die Skepper” (Romeine 1:25). Opregte persone moet ingelig word. Hulle moet weet dat Jehovah binnekort daadwerklik gaan optree. Deur die heerskappy van sy Seun sal hy die aarde vir ewig van verdrukkers en hulle verdrukking bevry, dinge weer in volmaakte balans plaas, en die Paradys en die mens se vermoë om vir ewig in volmaakte gesondheid te lewe, herstel (Daniël 2:44; Openbaring 21:1, 3, 4). Waarlik, die lewens van diegene wat geregtigheid soek, hang daarvan af dat hulle sulke kennis inneem en ooreenkomstig handel.—Sefanja 2:3; Johannes 17:3.
Gewilligheid en waardering nodig
Wil jy ook aan hierdie lewensreddende werk deelneem? Daar is baie daarby betrokke om die “evangelie”, of goeie nuus, van daardie Koninkryk “in die hele wêreld” te verkondig (Mattheüs 24:14). Gewillige werkers moet opgelei, toegerus en uitgestuur word om te preek. Hoe bevredigend is dit tog om te sien dat meer as 2 800 000 mense Jehovah nou vereer deur die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig! Rekordgetalle van hulle doen dit voltyds, en talle verhuis selfs na gebiede waar hulp nodig is. Duisende sendelinge is reeds gestuur om die predikingswerk in ander lande oop te stel, en ander word voortdurend by hulle geledere gevoeg.
’n Ontsaglike organisasie is nodig om oor al hierdie werk toesig te hou, dit aan die gang te hou en te ondersteun. Nuwe takkantore en sendelinghuise moes dwarsoor die aardbol gebou en vergroot word. Plaaslike plekke van aanbidding—Koninkryksale en Byeenkomssale—word tans teen ’n ongeëwenaarde tempo gebou. Dit is opbeurend om te sien hoe gewillig Jehovah se volk reageer deur hulle bereidwilligheid om alles wat hulle het in Jehovah se diens te gebruik (Psalm 110:3). Maar die voorspelde ‘bespoediging’ van die insamelingswerk in hierdie laaste dae verg nou groter gewilligheid om Jehovah met ons waardevolle dinge te eer (Jesaja 60:22, vgl. NW). Wat word dan van ons verwag?
Waardering is een ding—waardering vir alles wat Jehovah ons gegee het. Ja, ons bates is in werklikheid gawes van Jehovah. “En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?” vra die apostel Paulus (1 Korinthiërs 4:7). En waarvoor het God dit vir ons gegee? Sodat ons sulke gawes tot eer van hom kan gebruik!—1 Petrus 4:10, 11.
Hierdie gawes sluit in ons fisiese, verstandelike, geestelike en stoflike bates—ja, die lewe self. En hoe vrygewig was Jehovah tog nie teenoor elkeen van ons nie! Wat ’n uitstekende voorbeeld het hy tog in mededeelsaamheid gestel! Die feit dat ons soveel van Jehovah se gawes ontvang het, moet ons beslis beweeg om waardering vir sulke voorsienings te toon. Beweeg dit ons dan nie om hom te eer met wat ons het nie?
Jy meen miskien dat jy nie veel kan doen nie. Nie elkeen kan immers as ’n sendeling in ’n afgeleë land dien of hom aan die een of ander vertakking van die voltydse diens wy nie. Die meeste van ons het ook nie die vermoë of middele om met bouprojekte te gaan help nie. Baie kan weens individuele omstandighede ook nie hulle lewe daaraan wy om by takkantore te dien waar noodsaaklike publikasies, soos hierdie tydskrif, gedruk word nie. Maar elkeen van ons kan die groter geluk smaak wat deur mededeelsaamheid verskaf word (Handelinge 20:35). En ons kan almal ons lewe en spraak op maniere gebruik wat God behaag en hom tot eer en lof strek.—Kolossense 3:23.
Hoe dit gedoen kan word
Hoewel Shelley en Stefan baie jonk is, het hulle ’n manier gevind. Hulle het besef dat hulle bydrae aan die Wagtoringgenootskap gebruik sou word ter bevordering van die wêreldwye predikingswerk. En hulle bydrae, ongeag die bedrag, is beslis op prys gestel. Stefan het sy dankbrief ontvang. Klein Shelley ook. Dit is nie die bedrag nie, maar die beweegrede wat tel, want ’n geskenk moet heeltemal vrywillig wees om aanvaarbaar te wees (2 Korinthiërs 9:7). Jehovah skep behae in ons bydraes, hetsy groot of klein, wanneer dit ’n blyk van ons hartgrondige toewyding aan hom is.—Lukas 21:1-4.
Waardering word dus deur dade getoon. Het ons in oënskou geneem watter waardevolle dinge ons het wat gebruik kan word om God te eer? Ons lewe, hoeveel energie en krag ons ook al het, is ongetwyfeld kosbaar en moet nie op ydele strewes verkwis word nie. Bestee ons soveel tyd moontlik om ’n intieme, persoonlike verhouding met Jehovah op te bou en te versterk? Eer ons hom deur sy naam en boodskap met ons lippe te verkondig? (Hebreërs 13:15, 16). Jong kinders is ook ’n waardevolle besitting wat Jehovah gegee het (Psalm 127:3). Spoor ons hulle aan om hulle aan God se diens te wy?
Dan is daar ons letterlike goud, silwer en ander geldelike bates. Sulke bydraes onderhou ons plaaslike gemeentes, onder meer die instandhouding van die Koninkryksale en Byeenkomssale wat as sentrums vir Bybelonderrig en predikingswerk in ons gemeenskap dien. Wanneer dit aan die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier of ’n takkantoor in ’n spesifieke land gestuur word, help hierdie bydraes om die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk te bevorder. Sulke gawes kan bestem word vir gebruik in watter aspek ons ook al verkies. Klein Shelley, met haar doel van sendingwerk in gedagte, wou sendelinge help. Stefan, wat gehoor het van die groot behoefte aan nog honderde Koninkryksale en die geweldige onkoste daarby betrokke, wou hê dat sy bydrae by die Genootskap se Koninkryksaalfonds gevoeg moes word. Ander dra tot spesiale behoeftes by, soos vir noodleniging tydens rampe.
Maar individue verkies dikwels dat die takkantoor besluit hoe die geld benut moet word, aangesien daardie broers weet watter behoefte die dringendste is. Een skenker het geskryf: “Ek sluit hierby ’n tjek in vir die Genootskap wat hulle na goeddunke ter bevordering van die predikingswerk kan gebruik. Ons is baie bly om die uitstekende vermeerdering te sien danksy die inspanning van elke lid van Jehovah se volk met Jehovah se seën op die werk.” ’n Ander brief lui: “Ek het onlangs, met my aftrede, ’n ronde som ontvang van die maatskappy waarvoor ek gewerk het. Dit is my sowel as my vrou se innige begeerte dat van hierdie geld gebruik word om die Koninkryksverkondiging te bevorder. Ek sluit ’n tjek namens ons en ons kinders in. Mag Jehovah julle seën wanneer julle besluit hoe om hierdie geld ten beste te benut.”
Dit verskaf Jehovah genoeë om sulke bereidwilligheid te sien om hom met ons waardevolle dinge te eer. Hy beloof voorts: “Dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.” Net soos in eertydse Israel beloon Jehovah sulke vrygewigheid vandag mildelik. Die gebruik van jou waardevolle dinge om hom te eer, beteken nie dat dit opgebruik word nie, maar dat dit vermeerder word as gevolg van Jehovah se seën op die gewer!—Spreuke 3:9, 10.
Wat ’n voorreg het ons tog om Jehovah te eer en anders te wees “te midde van ’n krom en verdraaide geslag”! En wat ’n voorreg het ons tog om deel te neem aan die Koninkryksverkondiging, die werk wat hy opgedra het en wat gedoen moet word voordat hierdie goddelose stelsel eindig (Filippense 2:15; Mattheüs 24:14; 28:19, 20). Binnekort sal die geïnspireerde gesig vervul word wanneer “elke skepsel”, ongeag waar, vir ewig eer, heerlikheid en mag aan Jehovah sal toeskryf (Openbaring 5:13; 7:12). Laat ons Jehovah gerus nou reeds met ons waardevolle dinge eer.
[Venster op bladsy 22]
“Presies hoe word julle werk gefinansier?”
Talle stel hierdie vraag. Hulle is verbaas wanneer Getuies by hulle deur aanklop en nie geld vra nie. Ander is eweneens verbaas wanneer hulle ’n Getuiebyeenkoms bywoon of vir die eerste keer na ’n Koninkryksaal gaan en sien dat daar nooit ’n kollekte gehou word nie. Hoe word die getuieniswerk dan gefinansier? Die antwoord: deur vrywillige bydraes van diegene wat Jehovah met hulle waardevolle dinge wil eer. Hier volg ’n paar maniere waarop dit gedoen word.
Skenkings: Geldelike bydraes kan regstreeks aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Privaatsak 2, Elandsfontein, 1406, gestuur word, of in ander lande na die Genootskap se takkantoor aldaar. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n bydrae is, moet hierdie bydraes vergesel. Eiendom kan ook geskenk word.
Reëling vir voorwaardelike skenkings: Geld, aandele, obligasies en eiendom kan aan die Genootskap bemaak word op voorwaarde dat die skenker, in geval van persoonlike behoefte, opvragings kan maak. Hierdie metode voorkom die onkoste en onsekerheid van regterlike verifikasie van ’n testament, en verseker dat die Genootskap die eiendom in die geval van sterfte ontvang.
Versekering: Die Wagtoringgenootskap kan benoem word as die bevoordeelde van ’n versekeringspolis en moet daarvan in kennis gestel word. Spaarrekenings kan eweneens vir die Genootskap in trust geplaas word.
Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word. ’n Kopie moet aan die Genootskap gestuur word.
Nadere inligting of raad kan bekom word deur te skryf aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Tesourierskantoor, Privaatsak 2, Elandsfontein, 1406.