Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 12/1 bl. 26-31
  • ‘Soek eers die Koninkryk’—ons gesin se doelwit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Soek eers die Koninkryk’—ons gesin se doelwit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voltydse diens​—en die oorlog!
  • Ons gaan uitmekaar
  • Ecuador en die sendingveld
  • Siekte en terug na Engeland
  • Getuieniswerk by skole
  • Predikingswerk in Ierland
  • Ek behou die pioniergees
  • Na Suid-Afrika, Ierland en terug Brittanje toe
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die beste manier waarop ek my lewe kon gebruik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Ons dank Jehovah—Deur voltydse diens!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 12/1 bl. 26-31

‘Soek eers die Koninkryk’​—ons gesin se doelwit

Deur Stan en Jim Woodburn

“HIERDIE boodskap het my van ’n hele gesin beroof!” As ek terugdink aan sowat 50 jaar gelede, is dit nie moeilik om ons predikant se ergernis te verstaan nie. Al sewe van ons Woodburns, broers en susters, het kort na mekaar in Whitehaven, Engeland, Jehovah se Getuies geword.

Dit het begin toe John Woodburn, my oudste broer, twee boeke, een van hulle Die Harp van God, by Ida Eccles, ’n voltydse bedienaar (pionier) wat steeds getrou in Blackpool preek, gekoop het. John het dadelik die Getuies se vergaderinge begin bywoon, en in 1936 het ek (Stan) en twee van my broers, John en Tom, per motor na Glasgow, Skotland, gereis om die destydse President van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, oor Armageddon te hoor praat. Hoewel dit ons eerste byeenkoms was, het ons by die 70 vrywilligers aangesluit wat gevra is om as plekwysers by broer Rutherford se openbare toespraak te dien.

Die voltydse diens​—en die oorlog!

In 1937 het ’n ywerige, 26-jarige broer van die hoofkwartier in Brooklyn af gekom om toesig oor die Londense takkantoor te hou. Hy was broer A. D. Schroeder, nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Wat ’n groot aanmoediging was hy tog vir ons as jongeres wat voltydse predikers wou wees! Vroeg in 1939 het ek en twee van my broers, ongetroud en sonder gesinsverantwoordelikhede, gehoor gegee aan die oproep om pionierdiens te doen.

Die wêreldtoneel het vinnig verander, en op 3 September 1939 het Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar. Druk is uitgeoefen om die predikingswerk te stuit, en kort daarna het ons voor die geskil van Christelike neutraliteit te staan gekom.

Toe ek as ’n gewetensbeswaarde voor die geregshof moes verskyn, het die jurie van sewe my beswaar gehandhaaf en ek is toegelaat om met my bediening voort te gaan, tot die onverbloemde ergernis van die voorsittende regter. Tom is ook vrygestel van militêre diens. Maar John, Jim, en Martin, nog een van my broers, was nie so gelukkig nie. Hulle het almal tronkstraf gekry.

Ons het almal talle opwindende ondervindinge gedurende daardie oorlogsjare gehad, en hulle het ook hulle snaakse kant gehad. By een geleentheid het ’n polisieman sy kop by die venster van die klankmotor ingesteek om vir my te sê dat die dorpenaars gesê het dat ek boodskappe van die Nazi-vyand uitsaai en ontvang! Maar hy het gou self gesien dat die voertuig slegs ’n grammofoon met ’n versterker gehad het, en nie eens ’n radio nie!

Intussen het Jim suid na Birmingham, in die industriële Middelland, getrek waar hy goeie opleiding as ’n pionier ontvang het en saam met ervare prediker Albert Lloyd sakeondernemings besoek het. Die stad is erg beskadig deur die voortdurende lugaanvalle, en die mooi, sentrale Koninkryksaal is gebombardeer. Maar die Koninkrykspredikingswerk het toegeneem en talle gemeentes is in buitewyke gestig.

Die broers het keer op keer goeie rede gehad om dankbaar te wees vir beskerming terwyl hulle in die gebied vir mense geestelike vertroosting gebring het. En hoe nodig was dit tog! Ek kan nog die einste oggend dat oorlog verklaar is duidelik onthou. Ek was toe in ’n Walliese gehuggie en het die grammofoonplaat “Die wêreld se einde” in die openbaar gespeel. Groepe mense het gou saamgedrom en my om lektuur gevra. In ’n kits het ek 38 boeke versprei! Geen wonder dat die aantal Getuies in die Britse Eilande van 1939 tot 1945 feitlik verdubbel het, en teen die einde van die oorlog ’n hoogtepunt van 13 150 bereik het nie.

Ons gaan uitmekaar

Kort ná die oorlog het ek Engeland verlaat om die agtste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in New York, in die Verenigde State, by te woon. Jim en Martin, wat toe as kringopsieners aangestel is, het hulle voorregte in die Britse veld voortgesit. By my graduering in 1947 is ek as ’n streekopsiener na die Britse Eilande toegewys en het ek vyf jaar lank dwarsoor die land gereis waar ek feitlik elke naweek na kringbyeenkomste omgesien het. Tussen my, Jim en Martin het ons gedurende daardie jare die hele land deurkruis.

Maar in 1950 is ons uitmekaar toe Jim na die 15de klas van Gilead genooi is. Hy het op 30 Julie 1950 by die internasionale Teokrasie se vermeerdering-Byeenkoms van Jehovah se Getuies gegradueer en ’n toewysing gekry om in Ecuador, Suid-Amerika, te dien. Hy sal nou sy deel van die verhaal vertel.

Ecuador en die sendingveld

Sendingdiens in Ecuador was ’n uitdaging. Ondanks die moeilike klimaat en ander gewoontes het ons die toestroming van talle nuwe broers en susters gesien. Maar dit was nie maklik nie. Ons het byvoorbeeld geen geld gehad om die eerste kringbyeenkoms in Guayaquil te organiseer nie. Ons, as sendelinge, het dus in die predikingswerk uitgegaan en al die bydraes wat ons vir lektuur ontvang het, bymekaar gesit. Dit het ons genoeg geld gegee om die onkoste vir daardie byeenkoms te dek.

In 1959 het ek ’n baie verblydende verandering van toewysing gekry na La Libertad, waar ’n ander sendeling, Frances Kerr, reeds gewoon het. Sy het die pioniergees van haar moeder gekry, wat van 1919 in die pionierdiens was. Ek en Frances het mekaar al ’n ruk lank geken en ons is in 1959 getroud.

Daar was geen Getuies in La Libertad toe die eerste sendelinge daar aangekom het nie, maar in daardie gedeelte is daar nou drie florerende gemeentes. Dinge het vinnig gebeur en ons het talle toewysings gehad, soos in Quito, Ambato en Manta. Gedurende daardie tydperk het ons die voorreg gehad om 147 nuwelinge te help om Jehovah te dien en kon ons talle ander versterk.

Siekte en terug na Engeland

Nadat ons 20 jaar daar gearbei het, het Ecuador werklik ons tuiste geword, maar in 1971 moes ons ongelukkig na Engeland terugkeer, aangesien Frances gespesialiseerde mediese behandeling nodig gehad het. Ek was nietemin vasbeslote om voort te gaan in die voltydse diens en nie na ’n sekulêre werk terug te keer nie. Gelukkig was daar talle Spaanssprekende mense in die Paddington-omgewing van Londen, en uiteindelik kon ons die eerste Spaanssprekende gemeente in Engeland stig.

Londen is altyd ’n uitdaging vir Getuies wat in die winkels, kantore en hotelle wil preek waar jy mense van alle nasionaliteite teëkom. Dit was ses jaar lank ons toewysing. Ons het ’n ontsaglike deel van Londen gedek, met inbegrip van Camden, Chelsea, Kensington, Mill Hill, Paddington en Stepney. Gedurende daardie tydperk het ons meer as 7 000 Bybels en Bybelstudiehulpe versprei. In een hotel het die sjef al die kombuispersoneel in die hoofeetsaal bymekaargebring en kon ons ’n toespraak van 15 minute hou. Hulle was Spaans, Italiaans en Portugees, en baie het nog nooit ’n Bybel gesien nie. Die reaksie was waarlik wonderlik.

Terwyl ek eendag besig was om kantore in Londen se sakesentrum te besoek, het ek by ’n welbekende bank gekom en, toe ek inkyk, het ek ’n lang, welgeklede en indrukwekkende man gesien. Ek het negatief gedink dat hy die boodskap van die hand sou wys; maar ek het kortliks gebid en hom genader. Hy het sonder ’n woord na sy lessenaar geloop, ’n groen Bybel en ’n Watchtower uitgehaal en gesê: “Ek is ook een van Jehovah se Getuies.” Dit was vir my ’n les om te onthou​—moenie mense vooruit veroordeel nie.

Getuieniswerk by skole

Ons wou altyd teruggaan Ecuador toe, en toe Frances heeltemal gesond was, kon ons dit in 1977 doen. Hoe bly het dit ons tog nie gemaak nie! Ons eerste toewysing was Santo Domingo de Los Colorados. Daar het ons ’n nuwe soort werk op die proef gestel. Terwyl ons een oggend van huis tot huis gepreek het, het ons gevind dat die meeste mense nie tuis was nie. Maar daar was drie skole in die gebied waar daar baie bedrywigheid was​—waarom besoek ons hulle nie? Ons het oor die saak gebid en die onderwysers toe genader met die twee boeke Jou jeug​—Hoe om dit ten beste te benut en Did Man Get Here by Evolution or by Creation? Die resultate was wonderlik!

Ons het gevind dat die onderwysers sowel as die leerlinge baie gretig was om hierdie twee boeke te bestudeer. Een onderwyser, ’n Katolieke priester, wou honderd eksemplare van elkeen hê om seker te maak dat elke leerling van drie klasse persoonlik ’n eksemplaar het. In ’n ander hoërskool het die skoolhoof albei boeke bestudeer en was hy gretig dat die leerlinge hulle ook moes lees. Daar was meer as 3 000 leerlinge en gevolglik moes ons drie keer gaan om met hulle almal in hulle klaskamers in aanraking te kom. Ons het ruim duisend boeke daar gelaat!

By ’n ander Katolieke skool het die hoof, ’n priester uit Spanje, die Evolution-boek met waardering gelees en ons dus sy toestemming gegee om elke klaskamer te besoek en ’n kort toesprakie te hou. Ons het elke publikasie wat ons gehad het by die leerlinge gelaat, en ons moes teruggaan. Toe het ons gehoor dat hulle gevra is om navorsing te doen in die Jeug-boek oor die hoofstuk wat dwelms bespreek. Dwelms was blykbaar ’n toenemende probleem in daardie skool. Ons het by daardie geleentheid meer as 400 boeke versprei.

Ons volgende toewysing was die stad Ambato, wat omring word deur sneeubedekte berge. Hier kon ons weer eens ’n Katolieke opleidingskollege met goeie resultate besoek, asook verskeie ander skole in die Streek. By een het ons na elke klaskamer gegaan en 438 Jeug-boeke versprei. Party van die onderwysers was so geesdriftig oor die boek dat hulle hoofsaaklik die praatwerk vir ons gedoen het en al die hoofstuktitels vir die leerlinge gelees het. Hulle het vir die leerlinge gesê dat hulle werklik ’n eksemplaar moet kry in plaas van waardelose boeke te koop.

Ek onthou die vreugde wat ons gesmaak het om met duisende leerlinge en honderde onderwysers te praat, en meer as 11 000 Bybelstudiehulpe by hulle te laat. Party van hierdie mense het diep in onbereikbare oerwoudgebiede gewoon waar geen motor kan kom nie. Ja, daar is nog baie werk in Ecuador.

Die tyd het verbygesnel en nou, na ’n ruk van siekte, is ons terug in Londen. Jehovah het ons ruim vier dekades met sy heilige gees onderskraag. Wat ’n blyk van sy onverdiende goedheid is dit tog dat ons ons lewens, van ons jeug af, in sy diens kon deurbring! (Prediker 12:1). Maar laat Stan nou die res van die verhaal vertel.

Predikingswerk in Ierland

In 1949 was daar groot teenstand teen die getuieniswerk in Ierland, wat toe onder die toesig van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Londen was. As gevolg van ons Bybeltoesprake in die ope lug het die presiderende leraar van die Noord-Ierlandse Baptistekerk Jehovah se Getuies tot ’n debat oor “Die opstanding van die Here Jesus Christus” uitgedaag. Die Genootskap het my as streekopsiener gevra om hierdie toewysing te behartig. Dit sou in Portadown, waar ’n klein gemeentetjie bedrywig was, gehou word.

Die aand van die debat was die Stadsaal stampvol. Die Baptiste het dit blykbaar ure tevore vir ’n biduur gehuur. Die duisend mense van oor die hele gebied en sowat 70 geestelikes het Jehovah se Getuies in getal oortref. Die Baptistepastor het bloot ’n sentimentele en emosiebelaaide preek afgesteek in ’n poging om die skare tot teenstand op te sweep. Na twee ure se debat het hy geweier om 1 Petrus 3:18 en ander tekste wat bewys dat Jesus as ’n gees opgewek is te verduidelik.

Toe ek hulle later herinner het aan Gamaliël se raad in Handelinge 5:34-39, naamlik dat hulle dalk teen God stry, het die pastor sy humeur verloor en uitgeroep: “Maak julle deure in hulle gesigte toe! Dit is nie verkeerd om julle deure in die Duiwel se gesig toe te maak nie!” Maar verskeie in die gehoor kon sien wie die waarheid het. Party van sy kudde het bedank, en daardie naweek het die Portadown-gemeentetjie die mense besoek en meer lektuur versprei as gedurende die vorige ses maande! Nou is daar ’n groot gemeente met ’n pragtige Koninkryksaal, en talle gemeentes in naburige dorpe.

Ek behou die pioniergees

In 1952 het ek met Joyce Cattell, ’n lid van die Londense Bethelgesin, getrou en in 1957 het ons ’n aangename verrassing in die vorm van ’n dogtertjie, Jane, gehad. Hierdie gebeurtenis het ’n verandering in ons lewenswyse meegebring. Ek het teësinnig sekulêre werk gaan soek. Maar ten spyte hiervan het die Koninkryk steeds die voorkeur in ons lewe geniet en het ons die bewys van Dawid se woorde in ’n gunstelingpsalm ervaar: “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.”​—Psalm 16:8.

Gedurende die daaropvolgende jare het ons na verskeie plekke verhuis om te dien waar hulp nodig was en het ons van tyd tot tyd hulppionierdiens gedoen. Broers het my vriendelik met betrekkings gehelp, maar ek het die versoeking weerstaan om die najaging van materiële rykdom my hoofdoel in die lewe te maak. Wanneer ek werk gesoek het om vir die nodige huisvesting te sorg, het ek dit gevind. Ek is so bly dat ek hierdie pioniergees behou het.

Na Suid-Afrika, Ierland en terug Brittanje toe

Nadat ons in talle plekke dwarsdeur die Britse Eilande gedien het, met inbegrip van die afgeleë Buite-Hebride, het ons in die laat sestigerjare na Suid-Afrika verhuis. Hier het ons onder die kleurlingbevolking gewerk en was bly om deel te hê aan die vermeerdering van ’n groepie van 5 Getuies, wat tot 61 toegeneem het (1 Korinthiërs 3:6-9). Om gesondheidsredes het ons in 1974 na Noord-Ierland teruggekeer, waar ons langs die grens te midde van terroristebedrywigheid gedien het. Terwyl ek eenkeer in 1975 weens my deeltydse werk oor die grens moes reis om goedere af te lewer, het drie gemaskerde terroriste my langs die pad voorgekeer en beveel om uit my motor te klim. Toe ek gevra is wie ek is en wat ek doen, het ek gou gesê: “Ek is een van Jehovah se Getuies.” Nadat hulle seker gemaak het dat ek nie ’n spioen vir die Engelse was nie, het hulle my laat gaan en het ek verder gereis, dankbaar vir Jehovah se beskerming.​—Spreuke 18:10.

In 1977 het ons na Engeland teruggekeer. Toe het ons ’n heuglike voorreg ontvang. Op die ouderdom van 62 is ek genooi om weer kringwerk te doen! Teen hierdie tyd was ons twintigjarige dogter, Jane, ’n gewone pionier en kon sy goed vir haarself sorg. Ons het dus ons paar besittings verkoop, en na twee jaar se kringwerk het ek weer die verantwoordelikheid gehad om op die Streek te dien en om te sien na die byeenkomste by die Manchester-Byeenkomssaal in noordelike Engeland. Ons het inderdaad die vervulling van Psalm 16:6 se pragtige woorde ervaar: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Nou doen ons vreugdevol kringwerk in gebiede waar ek jare gelede gedien het. Maar hoe anders is dit tog! Ja, ons ontmoet die getroue, ouer broers wat ons toe geken het, maar danksy die uitbreiding van die Koninkrykswerk is daar honderde meer broers en baie meer gemeentes.

Hoewel drie van die oorspronklike sewe lede van die Woodburn-gesin nou afgesterf het, dien die res van ons​—Beth, 80 jaar oud, en Tom, nou 78, sowel as ek en Jim—​Jehovah steeds. My broer Martin het in 1973 sy loopbaan na 34 jaar van voltydse predikingswerk getrou voltooi, en Marie, sy weduwee, is nog aktief in Glasgow, Skotland. Wat ’n bevoorregte gesin was ons tog! Al die kinders en kleinkinders ingereken, het altesaam 35 van ons ons lewe aan Jehovah toegewy. Die liefde en vriendelikheid van talle dierbare broers, asook die beskermende liefde en seëninge van Jehovah self, het vir ons almal bewys dat dit in ons dag die waarlik veilige en verstandige weg is om ‘eers die koninkryk te soek’.​—Mattheüs 6:33.

[Prent op bladsy 27]

Stan, Jim en Martin Woodburn, almal in die voltydse diens in 1950

[Prent op bladsy 28]

Jim en Frances Woodburn het as sendelinge in Ecuador gedien

[Prent op bladsy 29]

Stan Woodburn, vergesel van sy vrou Joyce, dien voltyds op die kring in Engeland

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel