Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 5/1 bl. 24-28
  • Ons dank Jehovah—Deur voltydse diens!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons dank Jehovah—Deur voltydse diens!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë dae
  • Pionierdiens gedurende die oorlog
  • Onverwagte vryheid
  • Verdere diensvoorregte
  • Na Gilead toe!
  • Terug na Londen
  • Die stad New York in 1958
  • Seëninge van voltydse diens
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Ek dien met ’n selfopofferende gees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Ek hou al 70 jaar vas aan die slip van ’n Jood
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 5/1 bl. 24-28

Lewensverhaal

Ons dank Jehovah—Deur voltydse diens!

SOOS VERTEL DEUR STANLEY E. REYNOLDS

Ek is in 1910 in Londen, Engeland, gebore. Ná die Eerste Wêreldoorlog het my ouers na ’n klein dorpie, Westbury Leigh, in die graafskap Wilts getrek. As ’n jong seun het ek dikwels gewonder: ‘Wie is God?’ Niemand kon ooit vir my sê nie. En ek kon nooit verstaan waarom ’n klein gemeenskap soos ons s’n twee kapelle sowel as ’n kerk nodig gehad het om God te aanbid nie.

IN 1935, vier jaar voordat die Tweede Wêreldoorlog begin het, het ek en my jonger broer, Dick, met ons fietse na Weymouth aan Engeland se suidkus gery en in ’n tent vakansie gaan hou. Terwyl ons in ons tent na die gietende reën gesit en luister het en gewonder het wat om te doen, het ’n bejaarde man ons besoek en my drie Bybelstudiehulpe aangebied—Die harp van God, Lig I en Lig II. Ek het hulle by hom geneem, net te bly om iets te hê om die eentonigheid te breek. Ek is onmiddellik geboei deur wat ek gelees het, maar min het ek geweet dat dit my lewe—en ook my broer s’n—heeltemal sou verander.

Terug by die huis het my ma vir my gesê dat Kate Parsons, wat in ons dorpie gewoon het, dieselfde soort Bybellektuur versprei. Byna almal het haar geken, want al was sy redelik oud, het sy met ’n klein motorfiets gery en mense in ons yl bevolkte dorpie besoek. Ek het haar gaan besoek, en sy het met graagte die boeke Creation en Rykdom sowel as ander publikasies van die Wagtoringgenootskap vir my gegee. Sy het ook vir my gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is.

Nadat ek die boeke saam met my Bybel gelees het, het ek geweet dat Jehovah die ware God is, en ek wou hom aanbid. Ek het dus ’n bedankingsbrief aan ons kerk gestuur en Bybelstudies in die huis van John en Alice Moody begin bywoon. Hulle het in Westbury, die naaste dorp aan ons, gewoon. Daar was net sewe van ons by daardie vergaderinge. Voor en ná die vergaderinge het Kate Parsons die orrel gespeel terwyl ons Koninkryksliedere uit volle bors saam gesing het!

Vroeë dae

Ek kon sien dat ons in betekenisvolle tye lewe en ek wou baie graag aan die predikingswerk deelneem wat in Matteus 24:14 voorspel is. Ek het dus opgehou rook, vir my ’n aktetas gekoop en my aan die Groot God, Jehovah, toegewy.

In Augustus1936 het Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, Glasgow, Skotland, besoek om oor die onderwerp “Armageddon” te praat. Hoewel Glasgow ongeveer 600 kilometer hiervandaan was, was ek vasbeslote om daar te wees en om by daardie byeenkoms gedoop te word. Ek het min geld gehad en het dus my fiets op die trein gelaai na Carlisle, ’n dorp op Skotland se grens, en van daar af met my fiets 160 kilometer verder noord gery. Ek het ook amper die hele ent huis toe fietsgery en fisies uitgeput maar geestelik versterk by die huis aangekom.

Van toe af het ek oral met my fiets gery om mense in nabygeleë dorpies van my geloof te vertel. In daardie dae het elke Getuie ’n getuieniskaart gehad waarop ’n skriftuurlike boodskap was wat huisbewoners kon lees. Ons het ook draagbare grammofone gebruik om opnames van Bybeltoesprake deur die Genootskap se president te speel. En ons het natuurlik altyd ’n tydskrifsaka gedra, wat ons as Jehovah se Getuies geïdentifiseer het.

Pionierdiens gedurende die oorlog

My broer is in 1940 gedoop. Die Tweede Wêreldoorlog het reeds in 1939 uitgebreek, en ons albei het besef dat daar ’n dringende behoefte aan voltydse predikers was. Ons het dus ons pionieraansoekvorms ingegee. Ons was dankbaar toe ons albei na die pionierhuis in Bristol gestuur is, waar ons aangesluit het by Edith Poole, Bert Farmer, Tom en Dorothy Bridges, Bernard Houghton en ander pioniers wie se geloof ons al lank bewonder het.

’n Klein voertuig met die vet letters “JEHOVAH SE GETUIES” aan die kante daarvan geskryf, het ons kort voor lank kom oplaai. Die bestuurder was Stanley Jones, wat later ’n sendeling in China geword het en sewe jaar lank daar in alleenopsluiting gevange gehou is vanweë sy predikingsbedrywighede.

Namate die oorlog voortgewoed het, het ons selde ’n hele nag deurgeslaap. Bomme het om ons pionierhuis geval, en ons moes heeltyd op die uitkyk wees na brandbomme. Een aand het ons, ná ’n uitstekende byeenkoms wat in die middestad van Bristol gehou en deur 200 Getuies bygewoon is, deur ’n reën van skrapnel van gevegte in die lug die betreklike veiligheid van ons huis bereik.

Die volgende oggend het ek en Dick na die stad toe teruggegaan om ’n paar dinge te gaan haal wat ons agtergelaat het. Ons was geskok. Bristol was in chaos. Die hele middestad is verwoes en uitgebrand. Parkstraat, waar ons Koninkryksaal gestaan het, was ’n smeulende puinhoop. Maar nie een van die Getuies is dood of beseer nie. Gelukkig het ons reeds ons Bybellektuur van die Koninkryksaal af na die huise van gemeentelede geneem. Ons het Jehovah vir dit alles bedank.

Onverwagte vryheid

Die Bristol-gemeente, waar ek as presiderende opsiener gedien het, het tot 64 bedienaars gegroei teen die tyd dat ek vir diensplig opgeroep is. Baie ander Getuies is weens hulle neutrale standpunt tronk toe gestuur, en ek het verwag dat ek my vryheid om die predikingswerk te doen op soortgelyke wyse sou verloor. My saak is by die plaaslike Tribunaal van Bristol verhoor waar broer Anthony Buck, ’n voormalige gevangenisbeampte, my verteenwoordig het. Hy was ’n moedige, vreeslose man, ’n kampvegter vir Bybelwaarheid, en as gevolg van sy goeie verdediging het ek onverwags algehele vrystelling van diensplig gekry op voorwaarde dat ek in die voltydse bediening bly!

Ek was baie bly om my vryheid te hê, en ek was vasbeslote om dit te gebruik om die predikingswerk in die grootste mate moontlik te doen. Toe ek ’n oproep ontvang het dat ek na die takkantoor in Londen moet gaan om met Albert D. Schroeder, die takopsiener, te praat, het ek natuurlik gewonder wat op my wag. Stel jou net my verbasing voor toe ek gevra is om na Yorkshire te gaan om as ’n reisende opsiener te dien, dit wil sê ek moes elke week ’n ander gemeente besoek om die broers te help en aan te moedig. Ek het so onbekwaam gevoel vir so ’n toewysing, maar ek was van diensplig vrygestel en niks anders het in my pad gestaan nie. Ek het dus Jehovah se leiding aanvaar en gewillig gegaan.

Albert Schroeder het my by ’n byeenkoms in Huddersfield aan die broers voorgestel, en ek het in April 1941 met my nuwe toewysing begin. Wat ’n vreugde was dit tog om daardie liewe broers te leer ken! Hulle liefde en goedhartigheid het my net meer laat besef dat Jehovah ’n volk het wat geheel en al aan hom toegewy is en mekaar liefhet.—Johannes 13:35.

Verdere diensvoorregte

’n Onvergeetlike vyfdaagse nasionale byeenkoms is in 1941 by die De Montfort-saal in Leicester gehou. Ondanks voedselrantsoenering en beperkte nasionale vervoer was daar Sondag ’n opkomshoogtepunt van 12 000; en tog was daar op daardie tydstip net meer as 11 000 Getuies in die land. Opnames van toesprake deur die Genootskap se president is gespeel, en die boek Kinders is vrygestel. Daardie byeenkoms was beslis ’n mylpaal in die teokratiese geskiedenis van Jehovah se volk in Brittanje, aangesien dit te midde van die Tweede Wêreldoorlog gehou is.

Kort ná hierdie byeenkoms het ek ’n uitnodiging ontvang om saam met die Londense Bethelgesin te dien. Daar het ek in die versendings- en verpakkingsafdeling gewerk en later in die kantoor, waar ek sake in verband met die gemeentes behartig het.

Die Bethelgesin het dag en nag te kampe gehad met lugaanvalle op Londen, sowel as besoeke deur die owerheid wat voortdurend gekontroleer het wat verantwoordelike broers doen wat daar gewerk het. Pryce Hughes, Ewart Chitty en Frank Platt is almal weens hulle neutraliteit tronk toe gestuur, en uiteindelik is Albert Schroeder na die Verenigde State gedeporteer. Ondanks hierdie druk is daar altyd goed omgesien na die gemeentes en die Koninkryksbelange.

Na Gilead toe!

Toe die oorlog in 1945 geëindig het, het ek aansoek gedoen om as ’n sendeling by die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei te word, en ek is vir die agtste klas in 1946 aanvaar. Die Genootskap het gereël dat ’n hele paar van ons, waaronder Tony Attwood, Stanley Jones, Harold King, Don Rendell en Stanley Woodburn, van die Corniese vissershawe Fowey af vertrek. ’n Plaaslike Getuie het ons reis op ’n klein vragskip bespreek wat porseleinklei vervoer het. Ons kajuite was baie beknop, en die dek was gewoonlik onder water. Hoe verlig was ons tog toe ons uiteindelik by ons inklaringshawe, Philadelphia, aankom!

Die Gilead-kampus was in ’n pragtige omgewing geleë by South Lansing noord van die stad New York, en die opleiding wat ek daar ontvang het, het vir my baie beteken. Die studente in ons klas het uit 18 lande gekom, en dit was die eerste keer dat die Genootskap soveel bedienaars uit ander lande kon inskryf. Ons het almal goeie vriende geword. Ek het die geselskap van my kamermaat, Kalle Salavaara van Finland, baie geniet.

Die tyd het vinnig verbygegaan, en aan die einde van die vyf maande het die Genootskap se president, Nathan H. Knorr, van die hoofkwartier in Brooklyn gekom om ons ons diplomas te gee en vir ons te sê waar ons toewysings sou wees. In daardie dae het studente nie geweet waarheen hulle sou gaan nie totdat dit by die graduering aangekondig is. Ek is weer na die Londense Bethel aangewys om my werk daar voort te sit.

Terug na Londen

Die naoorlogse jare was moeilike jare in Brittanje. Voedsel en baie ander noodsaaklikhede, insluitende papier, is toe nog gerantsoeneer. Maar ons het klaargekom, en Jehovah se Koninkryksbelange het uitgebrei. Buiten die werk wat ek by Bethel gedoen het, het ek ook by streek- en kringbyeenkomste gedien en gemeentes besoek, wat ’n paar in Ierland ingesluit het. Dit was ook ’n voorreg om Erich Frost en ander broers en susters uit Europa te ontmoet en by hulle te hoor van die onkreukbaarheid van mede-Getuies wat die afgryslike toestande in die Nazi-konsentrasiekampe verduur het. Betheldiens was beslis ’n geseënde voorreg.

Ek het Joan Webb, ’n spesiale pionier in Watford, ’n dorp net noord van Londen, al tien jaar lank geken. Ons is in 1952 getroud. Aangesien ons al twee in die voltydse diens wou bly, was ons verheug toe ek, nadat ek Bethel verlaat het, as ’n kringopsiener aangestel is. Ons eerste kring was langs Engeland se suidkus, in die graafskappe Sussex en Hants. Kringwerk was in daardie dae nie maklik nie. Ons het hoofsaaklik met die bus, fietse en te voet gereis. Baie gemeentes het groot, plattelandse gebiede gehad, wat dikwels moeilik was om te bereik, maar die aantal Getuies het voortdurend toegeneem.

Die stad New York in 1958

In 1957 het ek nog ’n uitnodiging van Bethel ontvang: “Sal jy asseblief na die takkantoor kom en help met die reëlings vir die reis na die komende internasionale byeenkoms wat in 1958 by Yankee-stadion en die Polo-terrein in die stad New York gehou gaan word?” Ek en Joan was weldra besig met die aansoekvorms van die broers vir plekke op die vliegtuie en skepe wat die Genootskap gehuur het. Daardie byeenkoms was toe die bekende Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms, wat deur ’n baie groot gehoor van 253 922 bygewoon is. By hierdie byeenkoms het 7 136 hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer—meer as twee keer die getal wat, volgens die Bybelverslag, by die geskiedkundige geleentheid van Pinkster 33 G.J. gedoop is.—Handelinge 2:41.

Ek en Joan sal nooit die goedhartigheid van broer Knorr vergeet nie toe hy ons persoonlik genooi het om die byeenkoms by te woon om te help omsien na die afgevaardigdes wat uit 123 lande in die stad New York aangekom het. Dit was vir ons albei ’n vreugdevolle en lonende ondervinding.

Seëninge van voltydse diens

Nadat ons teruggekeer het, het ons voortgegaan met die reisende werk totdat ons gesondheidsprobleme begin ondervind het. Joan is in die hospitaal opgeneem, en ek het ’n ligte beroerte gehad. Ons het spesiale pioniers geword, maar later die voorreg gehad om tydelik weer kringwerk te doen. Uiteindelik het ons na Bristol teruggekeer waar ons in die voltydse diens gebly het. My broer, Dick, en sy gesin woon naby ons, en ons praat dikwels oor ons herinneringe.

My sig is in 1971 onherstelbaar beskadig toe my retinas geskeur het. Sedertdien sukkel ek baie om te lees, en daarom is die kassetopnames van Bybellektuur vir my ’n wonderlike voorsiening van Jehovah. Ek en Joan hou nog steeds tuisbybelstudies, en deur die jare heen het ons die voorreg gehad om ongeveer 40 mense te help om kennis van die waarheid op te doen, en dit sluit een gesin van sewe in.

Toe ons ons lewe meer as 60 jaar gelede aan Jehovah toegewy het, was dit ons begeerte om die voltydse diens te betree en daarin te bly. Hoe dankbaar is ons tog dat ons nog die krag het om die Groot Jehovah te dien—die enigste manier waarop ons hom vir sy goedheid teenoor ons en vir ons gelukkige jare saam kan bedank!

[Voetnoot]

a ’n Materiaalsak wat oor die skouer gedra kon word en gemaak is om eksemplare van Die Wagtoring en Consolation (later Ontwaak!) in te sit.

[Prent op bladsy 25]

Saam met my broer Dick (heel links; Dick staan) en ander pioniers voor die pionierhuis in Bristol

[Prent op bladsy 25]

Die pionierhuis in Bristol in 1940

[Prent op bladsy 26]

Stanley en Joan Reynolds op hulle troudag, 12 Januarie 1952, en vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel