“Die Woord was by God, en die Woord was . . .”?
MIN gedeeltes in die Bybel het soveel aandag in die kerke van die Christendom ontvang as Johannes 1:1. Baie Bybelvertalings gee dit weer soos die Afrikaanse vertaling: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God [ὁ θεός], en die Woord was God [θεός].”
Talle wat die Drie-eenheid aanvaar, gebruik hierdie gedeelte om hulle leerstelling te ondersteun. Party vertalings gee hierdie vers egter anders weer, ter erkenning van die feit dat die oorspronklike Grieks ’n verskil bevat wat verskuil bly in vertalings soos die bogenoemde.
In 1984 het daar ’n Engelse vertaling van ’n Duitse kommentaar deur geleerde Ernst Haenchen (Das Johannesevangelium. Ein Kommentar) verskyn. Dit gee Johannes 1:1 soos volg weer: “In die begin was die Logos, en die Logos was by God, en goddelik [van die goddelike kategorie] was die Logos.”—John 1. A Commentary on the Gospel of John Chapters 1-6, in Engels vertaal deur Robert W. Funk, bladsy 108.
Waar dit Genesis 1:1 met die eerste vers van Johannes se Evangelie vergelyk, sê hierdie kommentaar: “Johannes 1:1 praat egter van iets wat reeds in die voorwêreldlike tyd bestaan het; verbasend genoeg is dit nie ‘God’ nie. . . . Die Logos (ons het nie ’n woord in Duits of Engels wat ooreenkom met die betekenisveld van die Griekse term nie) word sodoende so hoog verhef dat dit amper aanstootlik word. Die uitdrukking word alleen draaglik gemaak deur die vervolgdeel ‘en die Logos was in die teenwoordigheid van God’, nl. in intieme, persoonlike eenheid met God.”
Klink dit asof geleerde Haenchen in die Grieks ’n onderskeid tussen God en die Logos, of Woord, gesien het? Die skrywer se volgende woorde vestig die aandag op die feit dat geen bepalende lidwoord in die oorspronklike taal saam met die woord theos, of god, in die finale frase gebruik word nie. Die skrywer verduidelik:
“Ten einde misverstand te voorkom, kan hier ingevoeg word dat θεός [the·os] en ὁ θεός [ho the·os] (‘god, goddelik’ en ‘die God’) in hierdie tydperk nie dieselfde ding was nie. Philo het derhalwe geskryf: die λόγος [Logos] beteken slegs θεός (‘goddelik’) en nie ὁ θεός (‘God’) nie, aangesien die logos nie in die engere sin God is nie. . . . Origenes verklaar eweneens: die Evangelis sê nie dat die logos ‘God’ is nie, maar slegs dat die logos ‘goddelik’ is. Trouens, vir die skrywer van die gesang [in Johannes 1:1], net soos vir die Evangelis, was slegs die Vader ‘God’ (ὁ θεός; vgl. 17:3); ‘die Seun’ was ondergeskik aan hom (vgl. 14:28). Maar daar word in hierdie gedeelte slegs daarop gesinspeel, aangesien die klem val op hoe na hulle aan mekaar is.”
Dan sê Haenchen: “Dit was heeltemal moontlik om in die Joodse en Christelike monoteïsme te praat van goddelike wesens wat saam met en onder God bestaan het, maar nie dieselfde as hy was nie. Filip. 2:6-10 bewys dit. In hierdie gedeelte beeld Paulus juis so ’n goddelike wese uit, wat later ’n mens, Jesus Christus, geword het. . . . In Filippense sowel as Johannes 1:1 is dit dus nie ’n geval van ’n dialektiese verwantskap tussen twee-in-een nie, maar van ’n persoonlike eenheid van twee entiteite.”—Bladsye 109, 110.
In plaas van te sê dat die Logos (Jesus) by God was en ook God was, verduidelik Johannes 1:1 derhalwe dat die Logos by die almagtige God was en goddelik, of ’n god, was.