Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 7/1 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Soortgelyke materiaal
  • Is daar net een ware God?
    Ontwaak!—2006
  • Wat van “bewysplase” van die Drie-eenheid?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
  • Johannes 1:1 – “In die begin was die Woord”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Die universele hofsaak waarby jy betrokke is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 7/1 bl. 31

Vrae van lesers

▪ Hoe kan Jesus “’n god” wees wat deur Jehovah geskep is as Jehovah in Jesaja 43:10 sê: “Voor My is geen God geformeer nie, en na My sal daar geeneen wees nie”?

Dit is welbekend dat Jehovah se Getuies uit die Bybel leer dat Jesus die geskape Seun van God en ondergeskik aan sy Vader is (Johannes 14:28; 1 Korinthiërs 11:3). As ’n kragtige Een wat as God se Woordvoerder, of Logos, dien, kan hy nietemin “’n god” genoem word. In ’n aantal Bybelvertalings sê Johannes 1:1 dat die Logos “’n god” was. Das Evangelium nach Johannes (1979) deur Jürgen Becker sê byvoorbeeld: “. . . und der Logos war bei dem Gott, und ein Gott war der Logos.” (Afrikaanse vertaling: “ . . . en die Logos was by die God, en ’n god was die Logos.”)a

Maar soos die vraer toon, kan dit lyk of dit in stryd is met Jesaja 43:10, 11, wat sê: “Julle is my getuies spreek die HERE, en my kneg wie Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is​—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.”

’n Opregte Bybelstudent word gehelp deur noukeurig te let op die konteks van hierdie woorde. Die almagtige God Jehovah het homself gekontrasteer met die mensgemaakte beelde in die nasies rondom Israel. Jehovah vra: “By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?” Beslis nie ’n beeld wat deur ’n metaalwerker gemaak of uit ’n boom uitgesny is nie (Jesaja 40:18-20; 41:7). Sulke “gode” kan nie ‘die hemele uitspan soos ’n dun doek’ soos Jehovah gedoen het nie (Jesaja 40:21-26). Jehovah kan boonop die toekoms voorspel; die beelde van die nasies kan beslis nie ‘dinge te kenne gee wat later sal kom, sodat ons kan weet dat hulle gode is’ nie (Jesaja 41:23). Hierdie gedagte word in Jesaja 43:9 herhaal, waar Jehovah sê: “Al die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring.” Die Almagtige sê tereg: “Ek is [Jehovah], dit is my Naam; en my eer sal ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.”​—Jesaja 42:8, vgl. NW.

Die konteks toon dus dat die Almagtige ’n uitdaging aan die sogenaamde gode van die nasies rig. Daar hulle blote gode met geen goddelike mag is nie, is hulle beslis nie gode wat aanbid moet word nie; hulle is in werklikheid niksbeduidend. Jehovah sê verder: “Is daar ’n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie. Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge [van metaal gemaak of uit hout gekerf] bring geen voordeel nie” (Jesaja 44:8-17). Die konteks van Jesaja 43:10 toon gevolglik duidelik dat Jesus nie bespreek word nie; die “gode” onder bespreking is die magtelose gode van die nasies.

Die woord “God” of “god” word algemeen met betrekking tot ’n bomenslike voorwerp van verering gebruik. In die gedagtes van talle mense beteken “god” dus òf (1) die Opperwese, die Almagtige, òf (2) ’n valse god, soos ’n afgod. Maar die Bybel gebruik dit ook op ’n ander manier. Ons kan dit in Psalm 82:1, 2 (NW) sien. Daar word die Goddelike (Jehovah God) onderskei van menseregters wat die psalmis “gode” noem. Jesus het self later na hierdie gedeelte verwys. Omdat hy van Jehovah God as sy Vader gepraat het, wou sommige Jode hom stenig. Op hulle beskuldiging dat hy homself ’n god gemaak het, het Jesus geantwoord: “Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit [daardie menseregters] gode noem . . . , sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik​—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?”​—Johannes 10:31-36.

Daar is onteenseglik net een almagtige God, net soos die apostel Paulus geskryf het: “Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is​—soos daar baie gode en baie here is​—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, . . . en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korinthiërs 8:5, 6). Die Here Jesus Christus is nie ’n valse god, ’n demongod, ’n blote afgod nie. Hy ‘is die afskynsel van Jehovah God se heerlikheid’ (Hebreërs 1:3). Dit is dus gepas vir Johannes 1:1 om Jesus as “’n god” of “goddelik” te erken (Johannes Schneider).

[Voetnote]

a “Die titel ho theos [die God, of God], wat nou die Vader as ’n persoonlike werklikheid aandui, word nie in die N[uwe] T[estament] op Jesus self toegepas nie; Jesus is die Seun van God (van ho theos). . . . Joh. 1:1 moet streng vertaal word met ‘die woord was by die God [=die Vader], en die woord was ’n goddelike wese’.”​—Dictionary of the Bible (1965), deur John L. McKenzie, S.J.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel