Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 1/15 bl. 10-14
  • “Span julle kragtig in”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Span julle kragtig in”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jy moet nou ‘hard stry’
  • Waarom deur ’n “nou poort”?
  • Wat beteken Jesus se woorde vir jou?
  • Kan jy jou kragtig inspan om pionierdiens te doen?
  • Doen jy jou bes?
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Pionierdiens—Is dit vir jou?
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Benodig—10 000 hulppioniers
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Pioniers bring en ontvang seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 1/15 bl. 10-14

“Span julle kragtig in”

“Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan, want baie, sê ek vir julle, sal probeer om in te gaan, maar sal nie in staat wees nie.”​—LUKAS 13:24, NW.

1. Wat begeer die meeste mense?

AS JY sesjarige Robbie vra waarom hy daarvan hou om Koninkryksaal toe te gaan, antwoord hy: “Ek leer van Jehovah en die Paradys waar ek ’n lang, lang tyd saam met goeie diere kan bly.” Sy driejarige nefie, Dustin, ken sy ouers se roetine goed genoeg om te weet wanneer om te sê: “Wil Koninkryksaal toe gaan!” Wat Robbie sê en wat Dustin leer om te sê, sal by die meeste mense byval vind​—lewe, ewige lewe. Mense wil “gered” word. Maar hoe? Deur bloot godsdiensvergaderinge by te woon?

2. (a) Waarom kan redding nie verdien word nie? (b) Hoe toon Jesus se woorde in Lukas 13:24 wat vir redding nodig is?

2 Redding kan nie deur vergaderingbywoning of op enige ander manier verdien word nie. Dit is vry, ’n gawe van God. En tog verwag Jehovah God dat ons ons inspan om sy gawe van die ewige lewe te ontvang (Romeine 6:23). Wat is dit? Eerstens, kragtige inspanning in sy diens! Hierdie dade moet uit opregte waardering verrig word. ’n Man het eenkeer vir God se Seun, Jesus Christus, gevra: “Here, is die wat gered word, min?” Jesus se antwoord het nie net die vraer ingesluit nie, maar ook enigiemand anders wat in redding belangstel, met inbegrip van ons. Hy het geantwoord: “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan, want baie, sê ek vir julle, sal probeer om in te gaan maar sal nie in staat wees nie.”​—Lukas 13:23, 24, NW.

3. (a) Waarom was die man se vraag buitengewoon? (b) Hoe betrek Jesus ons by sy antwoord?

3 Die ongenoemde man se vraag was buitengewoon. Hy het gevra: “Is die wat gered word, min?” en nie “Sal ek onder die paar gereddes wees?” of “Hoe kan ek gered word?” nie. Die Joodse filosofie dat slegs ’n beperkte aantal mense redding sou verdien, het dalk tot sy vraag aanleiding gegee.a Wat ook al die oorsaak van sy nuuskierigheid, Jesus het die vraag gou van abstrakte teorie na praktiese toepassing​—persoonlike toepassing—​gevoer. Hy het die vraer gedwing om te dink aan wat hy vir redding moet doen. Maar dit is nie al nie. Aangesien Jesus se woorde “span julle kragtig in” in die meervoud is, moet dit ons ook beweeg om diep na te dink oor ons manier van aanbidding.

4. Wat moet ons doen om die ewige lewe te kry?

4 Die ewige lewe kan dus nie so maklik verkry word soos sommige mense miskien dink nie. Jesus benadruk harde werk, voortdurende inspanning, as die manier om “deur die nou deur in te gaan”. Hierdie onvermoeide inspanning word aangedryf deur duursame geloof, wat gebou is op gehoorsaamheid aan Christus se leringe. Om redding te verkry, moet ons derhalwe nie net na ‘sy woorde luister’ nie; ons moet aanhou om ‘dit te doen’.​—Lukas 6:46-49; Jakobus 1:22-25.

Jy moet nou ‘hard stry’

5. (a) Wat beteken Jesus se woorde: “Span julle kragtig in”? (b) Hoe gee daardie woorde groter betekenis aan jou beskouing van heilige diens?

5 Wat beteken die uitdrukking “span julle kragtig in”? In die oorspronklike Grieks is die uitdrukking a·go·niʹze·sthe, wat kom van ’n woord (a·gonʹ) wat ’n “wedstrydplek” beteken. “Stry” is hoe The Kingdom Interlinear Translation dit stel. Stel jou dus ’n antieke stadion voor en hoe die atleet nou stry, of al sy kragte inspan, om die prys te verower. Hoewel die betrokke Griekse werkwoord ’n tegniese term vir mededinging in die Griekse spele kan wees, beklemtoon dit derhalwe Jesus se vermaning om heelhartig op te tree. Halfhartige pogings is eenvoudig nie genoeg nie.​—Lukas 10:27; vergelyk 1 Korinthiërs 9:26, 27.

6. Waarom moet ons ons nou kragtig inspan?

6 Wanneer en hoe lank moet ons ‘stry om deur die nou poort in te gaan’? (Lukas 13:24). Beskou Jesus se woorde in Lukas 13:24 noukeurig en let op hoe hy die hede, “stry hard”, met die toekoms, “sal probeer”, vergelyk. Dit is dus nou die tyd om te stry. Diegene wat verhinder word om in te gaan, probeer blykbaar ingaan slegs wanneer dit vir hulle gerieflik is. Maar teen daardie tyd is dit te laat; die geleentheidsdeur is toe en gegrendel. Jesus sê voorts in Lukas 13:25 (NAV) dat wanneer die huiseienaar die deur gesluit het mense sal begin klop en pleit: “‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’” Wat ’n droewige uiteinde wag daar op diegene wat die aanbidding van Jehovah nie nou hulle hoofdoel in die lewe maak nie!​—Mattheüs 6:33.

7. Hoe dui Filippense 3:12-14 op voortdurende inspanning? En waarom is dit nodig?

7 Ons voer ’n voortdurende stryd. Nie een van ons het heeltemal deur “die nou poort” ingegaan nie. Paulus het dit besef. Sy wedloop om die lewe was ’n veeleisende, daaglikse inspanning. Hy het geskryf: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, ek jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Ons kursiveer.)​—Filippense 3:12-14.

8. (a) Wat verhinder die “baie” om die ewige lewe te kry? (b) Watter waarskuwing hou dit vir ons in?

8 Wie is die “baie” en waarom is hulle nie in staat om in te gaan nie? Die “baie” word met die Christendom geïdentifiseer, veral sy geestelikeklas. Hulle gee voor dat hulle Jesus intiem ken en deel van sy gesin is deur te beweer dat hulle ‘saam met hom geëet en gedrink’ het. Maar omdat hulle redding wil hê op hulle manier, nie op God s’n nie, ontken Jesus nadruklik dat hy hulle ken en beskou hulle as “werkers van die ongeregtigheid” (Lukas 13:26, 27). Individue wat nie toegelaat word om die ewige lewe in te gaan nie, kan selfs diegene insluit wat verslap het in hulle heilige diens aan Jehovah en nou ’n ‘vat-dit-kalm’-benadering tot ware aanbidding het. Hulle ywer vir Koninkryksbelange het louwarm geword (Openbaring 3:15, 16). Hulle het dalk nog “’n gedaante van godsaligheid”​—formele velddiens en vergaderingbywoning—​maar lewer geen blyk van die soort geloof wat die ware dryfkrag agter rein aanbidding is nie. (Vergelyk 2 Timotheüs 3:5.) Hulle besef nie dat dit nie genoeg is om net ‘te probeer’ om deur “die nou poort” te gaan nie. Jy moet hard stry om deur te gaan.

Waarom deur ’n “nou poort”?

9. Waarom vereis dit kragtige inspanning om deur die nou poort in te gaan?

9 Die nou poort tot redding is vir almal oop. Maar die “baie” wil nie stry om in te gaan nie. Wat is party faktore omtrent ingang deur die nou poort wat kragtige inspanning vereis? ’n Persoon moet eerstens juiste kennis van Bybelwaarheid opdoen en Jehovah God en Christus Jesus leer ken (Johannes 17:3). Dit beteken dat die tradisies en gebruike van wêreldse godsdienste, dié van die Christendom inkluis, verwerp moet word. Dit vereis dat jy God se wil doen, soos Jesus dit gedoen het terwyl hy hier op aarde was (1 Petrus 2:21). As ’n toegewyde, gedoopte Christen moet ’n mens ook die materialisme, die onsedelikheid en die onreinheid van die wêreld vermy (1 Johannes 2:15-17; Efesiërs 5:3-5). Dit moet afgelê en deur Christelike eienskappe vervang word.​—Kolossense 3:9, 10, 12.

10. Watter verband is daar tussen selfbeheersing en die ewige lewe?

10 Die “min” besef die waarde van ywer in die bediening, tesame met die openbaring van die vrug van die gees, met inbegrip van selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Met behulp van Jehovah se heilige gees stry hulle hard om die oorhand oor hulle liggaam te kry en dit op die weg na die ewige lewe te hou.​—1 Korinthiërs 9:24-27.

Wat beteken Jesus se woorde vir jou?

11. (a) Op watter lewensterreine moet party hulle kragtig inspan, en waarom? (b) In watter werk kan almal hulle kragtig inspan?

11 Hetsy ons pas gedoop of dekades al in Jehovah se organisasie bedrywig is, ons kan nie verslap in ons pogings om hom te behaag nie. Soos Jesus se woorde duidelik toon, moet ons heelhartig in ons toewyding aan Jehovah wees en bereid wees om tot elke prys deur die nou poort in te gaan. Hoewel Jesus nie net oor beter en meer diens aan God gepraat het nie, verg dit kragtige inspanning van party van ons om ons gedrag te verbeter of van slegte gewoontes ontslae te raak sodat ons ‘nie die minste hindernis in die weg lê nie’ (2 Korinthiërs 6:1-4). Ander van ons moet voortdurend aandag skenk aan ’n noukeurige program van persoonlike studie sodat ons ‘liefde meer oorvloedig mag word in juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë’ (Filippense 1:9-11, vgl. NW). Nog ander moet ’n groter poging aanwend om gemeentevergaderinge, met inbegrip van die Gemeentelike Boekstudie, gereeld by te woon en daaraan deel te neem (Hebreërs 10:23-25). Maar ons almal kan ons persoonlike velddiens ondersoek om te kyk of ons ons waarlik kragtig inspan in “die werk van ’n evangelis”.​—2 Timotheüs 4:5.

12. Watter vrae kan ons stel om te bepaal in watter mate ons ons geestelik inspan?

12 Al hoe meer het hulle vir hulppionierdiens, gewone pionierdiens of Betheldiens bekwaam omdat hulle daarin geslaag het om hulle aldeur kragtig in te span om Jehovah te behaag. Maar wat van jou? Kan jy, as jy ’n Koninkryksverkondiger is, verskeie kere per jaar hulppionierdiens doen of selfs ’n gewone pionier word? Streef jy daarna om gewone pionierdiens te doen as jy reeds ’n hulppionier is? Indien nie, waarom oorweeg jy dit nie? Jy kan sodoende geseën word deur ’n selfs hegter verhouding met Jehovah God en Jesus Christus aan te kweek.​—Psalm 25:14, NW.

Kan jy jou kragtig inspan om pionierdiens te doen?

13. (a) Watter twee dinge is noodsaaklik as jy ’n pionier wil wees? (b) Op watter lewensterreine is aanpassings dalk nodig om ’n pionier te kan word?

13 Kan jy, as jy ’n gewone pionier kan wees maar nie een is nie, ‘hard stry’ om aanpassings in jou lewe te maak sodat jy pionierdiens kan doen? Twee dinge is noodsaaklik. Eerstens, jy moet die begeerte hê. Tweedens, jy moet die regte omstandighede hê. As jy die begeerte kortkom, bid daarvoor. Praat met pioniers. Brei jou huidige bedrywigheid as ’n gemeentelike verkondiger uit. Doen hulppionierdiens wanneer moontlik. Kyk of ’n aanpassing gemaak kan word as jou omstandighede jou nie nou toelaat om sulke diens te verrig nie. ’n Werkende vrou hoef miskien nie te werk nie. ’n Afgetredene hoef moontlik nie aan te hou werk nie. ’n Hoë lewenstandaard, duur vakansies, die nuutste motors, en so meer, is nie noodsaaklik vir die lewe nie.​—Lukas 12:15; 1 Johannes 2:15-17.

14. (a) Waarom was ’n sekere egpaar nie tevrede om gemeenteverkondigers te bly nie? (b) Watter doelwit het hulle vir hulle kinders gestel?

14 Een vader met drie seuns, waarvan twee nog nie die tienderjare bereik het nie, het ses jaar gelede ’n pionier geword. Waarom? “Ek wou meer doen”, verduidelik hy. “As ek ’n gewone pionier kon wees en dit nie was nie, sou ek nie my toewyding nakom nie.” Sy vrou het ook gewone pionierdiens begin doen. Waarom? “Ek het vier jaar lank elke maand hulppionierdiens gedoen en eindelik besef dat dit maklik geword het”, sê sy. “Ek wou ’n groter aandeel hê aan hierdie werk wat nooit weer herhaal sou word nie en wou die regte voorbeeld vir ons seuns stel.” Beide die man en vrou het die waarheid na hulle universiteitsopleiding geleer. “Ons ouers het verwag dat ons vier jaar universiteit toe gaan”, sê die vader. Watter doelwitte het hulle dus vir hulle seuns gestel? “Ek het my seuns vertel dat ons wil hê dat hulle pioniers moet word en ten minste vier jaar by Bethel moet deurbring.”

15. (a) Waarom het party hulle ingespan om as gewone pioniers te dien? (b) Waarom sou jy graag in die voltydse diens wil wees?

15 Die volgende is redes waarom ander besluit het om gewone pioniers te word:

“Ek het geestelik nie vordering gemaak nie, en dit het my gepla.” (Robert H.)

“Ek was nooit vergenoeg as ’n gewone verkondiger nie.” (Rhea H.)

“Die pionierdiens gee rigting en sin aan my lewe.” (Hans K.)

“Ek wou Jehovah volkome dien, en die pionierdiens was my manier om dit te doen.” (Charanjit K.)

“Ek sou spyt wees as ek nie my energie, krag en jeug gebruik het om aan hierdie groot werk deel te neem nie.” (Gregory T.)

“Jehovah seën slegs inspanning. Ek moes hom iets gee om te seën.” (Graceann T.)

“Die pionierdiens het my gehelp om te toon hoe ek oor Jehovah voel.” (Marco P.)

“’n Voltydse sekulêre werk het my nie die vreugde verskaf wat ek onder die pioniers gesien het nie.” (Nancy P.)

Watter redes kan jy by hierdie lys voeg?

Doen jy jou bes?

16. Is dit net pioniers wat hulle kragtig inspan? Verduidelik.

16 ’n Aantal van Jehovah se Getuies het hulle persoonlike situasie eerlik en biddend ondersoek en gevind dat hulle in hulle huidige omstandighede hulle bes doen. Miskien is jy een van hulle. Skep dan moed. Jehovah en sy Seun gee vir jou om en stel jou heelhartige diens hoog op prys. (Vergelyk Lukas 21:1-4.) As gevolg van ongunstige politieke of ekonomiese toestande werk ons broers in sommige lande byvoorbeeld vyf of ses dae per week nege uur per dag net om die lewensnoodsaaklikhede te bekom. In ’n land waar daar ’n streng regeringsverbod op die werk van Jehovah se Getuies is​—en hierdie lande het al hoe meer pioniers—​is die pioniers gewoonlik die afgetredenes, jongmense wat nagdiens doen en moeders (met kinders) wat deur die regering van sekulêre werk vrygestel is.

17. Hoe toon die geval van Epafroditus dat Jehovah nie die mate van ons inspanning meet net aan die hoeveelheid werk wat ons in sy diens verrig nie?

17 Maar miskien sê jy: ‘Ek wens ek was fisies sterker. As ek maar net weer jonk was!’ Moet egter nie mismoedig wees nie. Ons inspanning word nie streng gemeet aan die hoeveelheid werk wat ons in God se heilige diens verrig nie. Onthou jy Epafroditus? Toe hy siek was, kon hy hom nie so kragtig in ‘die Here se werk’ inspan soos toe hy gesond was nie. Maar Paulus het hom vir sy inspanning geprys. Trouens, soos Paulus getoon het, ons moet ‘sulke manne en vroue dierbaar ag’.​—Filippense 2:25-30, vgl. NW.

18. (a) Hoe kan diegene met moeilike omstandighede die voltydse diens in die gemeente bevorder? (b) Wat kan jy doen om die pioniergees in die gemeente aan te wakker?

18 Daar is egter iets wat jy kan doen om die voltydse diens in die gemeente te bevorder. Wat is dit? Span jou kragtig in om die pioniergees te openbaar. Kan jy, as jy tans weens gesinsverpligtinge nie ’n pionier kan wees nie, byvoorbeeld ander in jou gesin​—jou vrou, kinders, broer of suster—​help om ’n pionier te word? Diegene met swak gesondheid of wat andersins gestrem is, kan opregte belangstelling toon in diegene wat pionierdiens kan doen en kan, wanneer omstandighede dit toelaat, saam met hulle velddiens doen. (Vergelyk 1 Korinthiërs 12:19-26.) So kan almal in die gemeente hulle inspan om die voltydse diens te benadruk. Die resultate kan vir almal baie bemoedigend wees!

19. Wat moet ons ons voorneem?

19 Wat beteken dit vir jou om jou kragtig in te span? Beteken dit dat jy vordering moet maak met die oog daarop om gedoop te word? Dat jy die een of ander slegte gewoonte te bowe moet kom? Dat jy jou verhouding met Jehovah in die een of ander opsig moet versterk? Kan dit hulppionierdiens beteken? Gewone pionierdiens? Betheldiens? Wat dit ook al van jou verg om geestelike vooruitgang te maak, dit is nou die kragtige inspanning werd. Laat ons derhalwe almal volhard in die stryd om in te gaan deur die nou poort wat na die ewige lewe lei!

[Voetnote]

a Die getal gereddes was ’n hoogs omstrede teologiese kwessie onder die rabbi’s. Een naslaanwerk sê: “Een van die eienaardige kabbalistiese fantasieë van die rabbi’s was ’n poging om die getal van die gereddes te bepaal volgens die numeriese waarde van hierdie of daardie teks.”

Gedagtes om te bespreek

◻ Wat het Jesus bedoel toe hy vermaan het: “Span julle kragtig in”?

◻ Wanneer en hoe is Jesus se woorde op jou van toepassing?

◻ Waarom kan die “baie” nie deur die nou poort ingaan nie?

◻ Hoe kan diegene met moeilike omstandighede hulle inspan?

◻ Hoe lank moet ons hard stry om deur die nou poort in te gaan?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel