Vrae van lesers
Jesus het ons aangespoor: “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan, want baie, sê ek vir julle, sal probeer ingaan, maar sal nie in staat wees nie” (Lukas 13:24). Wat het hy bedoel, en hoe is dit vandag van toepassing?
Ons kan hierdie interessante Skrifgedeelte beter verstaan as ons die agtergrond daarvan ondersoek. Ongeveer ses maande voor Jesus dood was hy in Jerusalem gedurende die herdenking van die hertoewyding van die tempel. Hy het na homself verwys as die herder van God se skape, maar het daarop gewys dat die Jode oor die algemeen nie van hierdie skape was nie omdat hulle geweier het om te luister. Toe hy gesê het dat hy “een” was met sy Vader het die Jode klippe opgetel om hom te stenig. Hy het na Perea aan die oorkant van die Jordaan gevlug.—Johannes 10:1-40.
Daar het ’n man gevra: “Here, is dié wat gered word min?” (Lukas 13:23). Dit was ’n gepaste vraag vir hom om te vra, aangesien die Jode van daardie tyd geglo het dat net ’n beperkte getal redding sou verdien. As ’n mens hulle gesindheid in ag neem, is dit nie moeilik om jou voor te stel wie volgens hulle daardie min sou uitmaak nie. Hoe verkeerd was hulle tog, soos latere gebeure sou toon!
Jesus was sowat twee jaar tussen hulle; hy het hulle onderrig, wonderwerke verrig en hulle die vooruitsig gebied om erfgename van die hemelse Koninkryk te word. Met watter gevolg? Hulle, en veral hulle leiers, was trots daarop om nakomelinge van Abraham te wees en met God se Wet toevertrou te wees (Matteus 23:2; Johannes 8:31-44). Maar hulle wou nie die Voortreflike Herder se stem herken of daarop reageer nie. Daar was as ’t ware ’n oop deur voor hulle met die vernaamste beloning om lede van die Koninkryk te wees as hulle daardeur sou gaan, maar hulle het geweier. Net ’n betreklike klein groepie, hoofsaaklik van die nederige stande, het Jesus se boodskap van waarheid gehoor, dit aangeneem en by hom gebly.—Lukas 22:28-30; Johannes 7:47-49.
Op Pinksterdag 33 G.J. was dit die laasgenoemdes wat in aanmerking gekom het om met die gees gesalf te word (Handelinge 2:1-38). Hulle was nie onder die werkers van onregverdigheid van wie Jesus gepraat het wat sou huil en hulle tande sou kners omdat hulle nie die geleentheid wat vir hulle gebied is, aangegryp het nie.—Lukas 13:27, 28.
Gevolglik was die “baie” in die eerste eeu die Jode oor die algemeen, en veral die godsdiensleiers. Hulle het beweer dat hulle God se guns wou hê—maar net volgens hulle eie standaarde en weë, en nie God s’n nie. Daarenteen het die betreklik “min” wat gereageer het uit ’n opregte belangstelling daarin om deel van die Koninkryk te wees gesalfde lede van die Christengemeente geword.
Beskou nou die meer uitgebreide toepassing in ons dag. Tallose individue wat na die kerke van die Christendom gaan, is geleer dat hulle hemel toe sal gaan. Hierdie strewe is egter nie op die juiste leringe van die Skrif gegrond nie. Soos met die Jode vroeër wil hulle God se guns net op hulle eie voorwaardes hê.
Daar was egter ’n betreklike klein groepie mense in ons tyd wat nederig gereageer het op die Koninkryksboodskap, hulle aan Jehovah toegewy het en in aanmerking gekom het vir sy guns. Dit het daartoe gelei dat hulle “seuns van die koninkryk” geword het (Matteus 13:38). Hierdie gesalfde “seuns” is sedert Pinkster 33 G.J. genooi. Jehovah se Getuies glo al lank dat die getuienis van God se handelinge met sy volk daarop dui dat die lede van die hemelse klas in werklikheid reeds geroep is. Gevolglik het diegene wat Bybelwaarhede in onlangse jare geleer het, verstaan dat die hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde nou aan hulle gebied word. Hulle is nou meer as die dalende getal van die oorblyfsel van gesalfde Christene, wat die vooruitsig het om werklik hemel toe te gaan. Lukas 13:24 is nie hoofsaaklik van toepassing op diegene wat nie verwag om hemel toe te gaan nie, maar dit bevat beslis wyse raad vir hulle.
Deur ons aan te spoor om ons kragtig in te span, het Jesus nie gesê dat hy of sy Vader struikelblokke in ons weg lê om dit vir ons moeilik te maak nie. Maar ons verstaan uit Lukas 13:24 dat God se vereistes van so ’n aard is dat dit onwaardiges uitsluit. “Span julle kragtig in” dui op worsteling, dat ’n mens jou beste gee. Ons kan ons dus afvra: ‘Gee ek my beste?’ Lukas 13:24 kan geparafraseer word: ‘Ek moet my kragtig inspan om deur die nou deur in te gaan, want baie sal probeer ingaan, maar sal nie in staat wees nie. Span ek my dus werklik kragtig in? Is ek soos ’n atleet in ’n eertydse stadion wat alles uithaal om die prys te wen? So ’n atleet sou nie halfhartig wees en dinge lig opneem nie. Wat van my?’
Jesus se woorde gee te kenne dat party dalk sal probeer om slegs wanneer dit vir hulle gerieflik is, teen ’n gemaklike pas wat hulle verkies, ‘deur die deur in te gaan’. So ’n gesindheid kan ’n invloed op individuele Getuies hê. Party redeneer dalk: ‘Ek ken toegewyde Christene wat hulle jare lank ingespan het, baie opofferings gemaak het; maar teen die tyd dat hulle gesterf het, het die einde van hierdie goddelose stelsel nog nie gekom nie. Ek moet dus liewer minder doen, nie al my kragte inspan nie, ’n meer normale lewe lei.’
Dit is maklik om so te dink, maar is dit werklik wys? Het die apostels byvoorbeeld so gedink? Beslis nie. Hulle het hulle uitgegiet in ware aanbidding—tot en met hulle dood. Paulus kon byvoorbeeld sê: “[Christus] verkondig ons . . . Met dié doel werk ek inderdaad hard en span ek my in ooreenkomstig sy werking, wat met krag in my aan die werk is.” Later het hy geskryf: “Met dié doel werk ons hard en span ons ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, veral van getroues.”—Kolossense 1:28, 29; 1 Timoteus 4:10.
Ons weet dat Paulus beslis die regte ding gedoen het deur hom in te span. Hoe tevrede sal elkeen van ons tog wees as ons soos Paulus kan sê: “Ek het die voortreflike stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar” (2 Timoteus 4:7). In ooreenstemming met Jesus se woorde wat in Lukas 13:24 opgeteken is, kan elkeen van ons ons dus afvra: ‘Lê ek my vlytig en ywerig toe? Ja, gee ek oorvloedige, gereelde bewys van die feit dat ek Jesus se vermaning ter harte neem: “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan”?’