Belsasar—Kroonprins of koning?
BYBELGELEERDES redeneer al lank oor Belsasar. Volgens die Bybelboek Daniël was “koning Belsasar” heerser van Babilon en het hy ’n groot maaltyd geniet daardie noodlotsnag in 539 v.G.J. toe Kores die Pers die stad verslaan het (Daniël 5:1). Die probleem is dat slegs die Bybel Belsasar se naam meld. Ander vroeë geskiedenisverslae laat dit uit en berig dat Nabonidus op daardie tydstip die heerser van Babilon was. Talle het dit beskou as bewys dat die boek Daniël geskiedkundig nutteloos is en waarskynlik etlike eeue na Babilon se val geskryf is.
Dit was egter ’n oorylde mening. Volgens ’n artikel deur Alan Millard in Biblical Archaeology Review (Mei/Junie 1985) is daar in 1854 ’n inskripsie in Irak opgegrawe wat ’n gebed om die lang lewe en goeie gesondheid van Nabonidus en sy oudste seun bevat. Die naam van hierdie seun? Belsasar! Daar was dus ’n Belsasar in Babilon! Sedert 1854 is talle ander inskripsies gevind wat dit bevestig. Maar nie een van daardie inskripsies noem Belsasar koning nie. Hulle praat van hom as die koning se seun of as die kroonprins. Kritici beweer derhalwe dat die skrywer van Daniël dit mis gehad het toe hy die uitdrukking “koning Belsasar” gebruik het.
Maar hulle het dit selfs hier mis. Hoe weet ons? Eerstens, volgens Allan Millard is regsdokumente van daardie tyd opgegrawe waarin die partye by Nabonidus en by Belsasar sweer. Waarom is dit betekenisvol? Omdat dit die vaste gewoonte vir die partye was om by die gode en by die koning ’n eed te sweer. Die enigste uitsondering hierop is dat daar by Belsasar gesweer is, dus moes Belsasar duidelik ’n spesiale status beklee het. Trouens, dit blyk dat Belsasar baie jare lank alleen in Babilon geheers het terwyl sy vader by die oasis Teima in noordelike Arabië gewoon het. Volgens ’n tablet wat nou in die Britse museum bewaar word, het Nabonidus gedurende hierdie tyd “die koningskap toevertrou aan” Belsasar.
Waarom noem amptelike inskripsies hom dan “kroonprins” terwyl die boek Daniël die uitdrukking “koning” gebruik? ’n Argeologiese vonds in noordelike Sirië verstrek ’n antwoord. In 1979 is ’n lewensgroot standbeeld van die koning van eertydse Gosan daar opgegrawe. Op die onderstuk was twee inskripsies, een in Assiries en die ander in Aramees. Hoewel die twee inskripsies feitlik identies was, was daar ten minste een interessante verskil. Die teks in die taal van die Assiriese heersers het gesê dat die heerser wat deur die standbeeld afgebeeld is “die goewerneur van Gosan” is. Die teks in Aramees, die taal van die gewone mense, beskryf hom as “koning”.
In ooreenstemming hiermee kom Allan Millard tot die slotsom dat hoewel amptelike inskripsies Belsasar kroonprins noem, “daar moontlik gemeen is dat dit heeltemal in die haak is vir sulke nie-amptelike verslae soos die boek Daniël om Belsasar ‘koning’ te noem. Hy het opgetree as koning, sy vader se agent, hoewel hy moontlik nie wetlik koning was nie. Die presiese onderskeid sou irrelevant en verwarrend gewees het in die verhaal soos vertel in Daniël.”
Dit opper die vraag: As die boek Daniël werklik eeue na die val van Babilon geskryf is, hoe het die skrywer geweet van Belsasar, wat deur ander geskiedskrywers oor die hoof gesien is? En waarom het hy hom “koning” genoem in navolging van ’n gebruik wat bestaan het toe Belsasar gelewe het, maar in latere eeue vergeet is? Die verwysing in die boek Daniël na “koning Belsasar” is gewis kragtige bewys dat die boek in der waarheid deur iemand geskryf is wat in die sesde eeu v.G.J. in Babilon gelewe het.