Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/15 bl. 8-9
  • ’n Hoogmoedige regent verloor ’n ryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Hoogmoedige regent verloor ’n ryk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mederegent of koning?
  • ’n Uiters selfversekerde en hoogmoedige regent
  • Belsasar—Kroonprins of koning?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Vier woorde wat die wêreld verander het
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Wat sê die Bybel oor Daniël?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/15 bl. 8-9

’n Hoogmoedige regent verloor ’n ryk

“KONING BELSASAR”, het die profeet Daniël geskryf, “het ’n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink.” Maar gedurende die feesmaal het die “gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan”. Voor die nag verby was, “is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Darius, die Meder, . . . [het] die koningskap ontvang”.—Daniël 5:1, 6, 30; 6:1.

Wie was Belsasar? Hoe het dit gebeur dat hy “die koning van die Chaldeërs” genoem is? Presies wat was sy status in die Neo-Babiloniese Ryk? Hoe het hy die ryk verloor?

Mederegent of koning?

Daniël noem Nebukadnesar die vader van Belsasar (Daniël 5:2, 11, 18, 22). Hierdie verwantskap is egter nie letterlik nie. Die boek Nabonidus and Belshazzar, deur Raymond P. Dougherty, voer aan dat Nebukadnesar miskien sy moeder, Nitocris, se vader was, met ander woorde sy grootvader aan moederskant. Dit kan ook wees dat Nebukadnesar as ’n koninklike voorganger bloot wat die troon betref die “vader” van Belsasar was. (Vergelyk Genesis 28:10, 13.) In elk geval, die spykerskrifinskripsies op verskeie kleisilinders wat gedurende die 19de eeu in suidelike Irak gevind is, identifiseer Belsasar as die oudste seun van Nabonidus, die koning van Babilon.

Aangesien die verslag in Daniël hoofstuk 5 handel oor die gebeure van die nag toe Babilon in 539 v.G.J. geval het, sê dit nie hoe dit gebeur het dat Belsasar koninklike gesag gekry het nie. Maar argeologiese bronne gee ons ’n idee van die verwantskap tussen Nabonidus en Belsasar. “Die Babiloniese tekste toon dat Nabonidus ’n eksentrieke heerser was”, sê Alan Millard, argeoloog en kenner op die gebied van eertydse Semitiese tale. Millard voeg by: “Hoewel hy nie die gode van Babilon geïgnoreer het nie, het hy . . . besonder baie aandag geskenk aan die maangod by twee ander stede, Ur en Haran. Nabonidus het gedurende baie jare van sy bewind nie eers in Babilon gewoon nie; hy het eerder in die verafgeleë oase van Teima [of Tema] in noordelike Arabië gewoon.” Nabonidus was blykbaar vir ’n groot deel van sy heerskappy nie in die hoofstad, Babilon, nie. Gedurende sy afwesigheid is die administratiewe gesag aan Belsasar toevertrou.

’n Spykerskrifdokument wat beskryf word as die “Versverslag van Nabonidus” werp meer lig op Belsasar se ware posisie en sê: “Hy [Nabonidus] het die ‘Laer’ aan sy oudste (seun), die eersgeborene, toevertrou, die soldate oral in die land onder sy (bevel) geplaas. Hy het (alles) oorhandig, [hy] het die koningskap aan hom toevertrou.” Belsasar was dus ’n mederegent.

Maar kan ’n mederegent as ’n koning beskou word? ’n Standbeeld van ’n eertydse heerser wat in die sewentigerjare in noordelike Sirië gevind is, toon dat dit nie ongewoon was dat ’n heerser ’n koning genoem is terwyl hy eintlik ’n ondergeskikte titel gehad het nie. Die standbeeld was van ’n heerser van Gosan, en Assiriese en Aramese inskripsies was daarop gegraveer. Die Assiriese inskripsie het die man die goewerneur van Gosan genoem, maar die ooreenkomstige Aramese inskripsie het hom die koning genoem. Dit sou derhalwe nie iets ongehoords wees dat Belsasar in die amptelike Babiloniese inskripsies ’n kroonprins genoem word terwyl hy in die Aramese geskrif van Daniël ’n koning genoem word nie.

Die reëling van medeheerskappy tussen Nabonidus en Belsasar het tot in die laaste dae van die Neo-Babiloniese Ryk voortgeduur. Gedurende die nag van Babilon se val het Belsasar dus aangebied om Daniël die derde heerser in die koninkryk te maak, nie die tweede nie.—Daniël 5:16.

’n Uiters selfversekerde en hoogmoedige regent

Die laaste gebeure van Belsasar se heerskappy toon dat die prins uiters selfversekerd en hoogmoedig was. Toe Nabonidus se heerskappy op 5 Oktober 539 v.G.J. geëindig het, het hy in Borsippa weggekruip, aangesien hy kort tevore deur die Medo-Persiese magte ’n nederlaag toegedien is. Babilon self was deur aanvallende magte omsingel. Maar Belsasar het so veilig gevoel in die stad wat deur reusagtige mure omring is dat hy daardie aand “’n groot maaltyd berei [het] vir sy duisend maghebbers”. Herodotus, ’n Griekse geskiedkundige van die vyfde eeu v.G.J., sê dat mense in die stad “gedans en feesgevier het”.

Maar buite Babilon se mure was die Medo-Persiese leër wawyd wakker. Onder leiding van Kores het hulle die waters van die Eufraatrivier, wat deur die middel van die stad gevloei het, weggekeer. Sy krygers was gereed om met die rivierbedding langs te loop sodra die watervlak genoegsaam gesak het. Hulle sou teen die wal uitklim en die stad binnegaan deur die koperdeure in die muur langs die rivieroewer.

As Belsasar op die bedrywighede buite die stad gelet het, kon hy die koperpoorte gesluit het, sy sterk manne op die mure langs die rivieroewer uitgesit het en die vyand betrap het. Pleks daarvan het die verwaande Belsasar onder die invloed van wyn gesê dat die voorwerpe uit Jehovah se tempel ingebring moet word. Toe het hy, sy gaste, sy vrouens en sy byvrouens God getart deur daaruit te drink terwyl hulle die Babiloniese gode geprys het. Skielik het ’n hand wonderdadig verskyn en op die paleismuur begin skryf. Met vrees vervul, het Belsasar sy wyse manne laat roep om daardie boodskap uit te lê. Maar hulle “was nie in staat om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie”. Uiteindelik is Daniël “voor die koning gebring”. Onder Goddelike inspirasie het Jehovah se moedige profeet die betekenis van die wonderdadige boodskap bekend gemaak en voorspel dat Babilon voor die Meders en die Perse sou val.—Daniël 5:2-28.

Die Meders en die Perse het die stad maklik ingeneem, en Belsasar het nie daardie nag oorleef nie. Met sy dood en die feit dat Nabonidus klaarblyklik aan Kores oorgegee het, het die Neo-Babiloniese Ryk tot ’n einde gekom.

[Prent op bladsy 8]

Daniël lê die boodskap uit wat onheil vir die Babiloniese Ryk voorspel het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel