Beroepsmense wat ’n ware lewensloopbaan gevind het
DIE naglug was ysig en die water yskoud. Tweehonderd jong manne en vroue, geklee in wit mantels en met kerse omhoog gehou, het borsdiep in die water geloop. ’n Inisiasieritus van die een of ander mistiese kultus? Of miskien ’n jeugdige kaskenade?
Hierdie jong hoërskool- en universiteitsgegradueerdes het aangesluit by duisende ander van hulle ouderdom in wat as ’n toetredingsritus tot ’n beroepsloopbaan by ’n groot maatskappy in Japan beskou kan word. Die doel van die ysige massadoop was om ontslae te raak van enige onafhanklike neigings wat voornemende werknemers moontlik op skool aangeleer het en om hulle lojaliteit aan die maatskappy te versterk.
Professionalisme en toegewydheid
“In Japan is die betrekking die gemeenskap. Die gemeenskap is die betrekking”, skryf Frank Gibney in sy boek Japan: The Fragile Superpower. Dit beteken dat wanneer ’n persoon ’n maatskappy betree dit die spil van sy lewe word. “As hy vir Mitsubishi werk, is hy ’n Mitsubishi-man. Die meeste van sy vriende is van Mitsubishi. Hy drink saam met hulle, speel gholf of rolbal saam met hulle en deel sy probleme met hulle. Hy ding weliswaar met hulle mee, maar soos kinders meeding in ’n gesin wat niemand sal oorweeg om te verlaat nie. Met uitsondering van sy familie, en moontlik ’n paar skoolvriende, is die meeste van sy metgeselle—en dikwels dié van sy gesin—deel van die maatskappy.”
In ruil vir sulke toegewydheid en selfopoffering word die werkers sekuriteit in die vorm van ’n lewensloopbaan gegee. Dit beteken voortdurende opleiding, oriëntasie, verplasings en, natuurlik, verhogings.
Die meeste jongmense in Japan aanvaar hierdie formule vir sukses geredelik en word deel van die stelsel. Ander, ofskoon hulle nie die maatskaplike leer bestyg nie, spook om in ander beroepe vooruitgang te maak. Maar verskaf so ’n stelsel vreugde en bevrediging? Beteken ’n lewensloopbaan lewenslange genot? Al hoe meer vind uit dat daar iets beters en lonenders is as om die maatskaplike leer te bestyg of te sukkel om persoonlike rykdom en aansien te verwerf.
Sy werk was sy lewe
Junichi het in 1961 aan die Keio-Universiteit se handelsfakulteit gegradueer. In navolging van tradisionele universiteitsgegradueerdes het hy by ’n invloedryke maatskappy gaan werk. In sy geval was dit die grootste motormaatskappy in Japan, met sowat 4 700 werknemers. Hy het goeie vooruitgang in die maatskappy gemaak. Hy het uiteindelik seksiehoof in sy afdeling geword. Hoewel sy werk, dikwels van soggens tot middernag, hom feitlik geen tyd vir sy vrou en vyf kinders gelaat het nie, het hy dit alles aanvaar as die nodige opoffering vir ’n veilige toekoms.
Maar iets het in Oktober 1974 gebeur. Junichi het uitgevind dat sy vrou en kinders die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer en Christenvergaderinge bywoon. Hy het alles in sy vermoë gedoen om dit stop te sit. Hy het selfs uit die huis getrek, maar dit het niks gehelp nie.
Eendag toe hy van die werk af tuiskom, was sy gesin by die vergadering. “Die tafel was gedek vir my aandete en daar was ’n brief vir my”, het Junichi gesê. “In die brief het my gesin vir my gesê dat hulle nooit die waarheid kon prysgee nie, dat dit werklik ook tot my voordeel was en dat ek eendag sou verstaan.” Dit het ’n groot indruk op Junichi gemaak. “Ek het gedink miskien is dit die waarheid, en ek het opgehou om hulle teen te staan.”
“Met die verloop van tyd het die Getuies my besoek en aangespoor om die Bybel te bestudeer. Dit is waar my beroepslewe in my pad begin staan het. Ek was so besig by die werk dat ek gemeen het ek nooit tyd vir Bybelstudie en vergaderinge sou kon afstaan nie. Ek het ook geweet dat as ek sou studeer ek die oneerlikheid en talle laataandonthale wat met die werk gepaard gegaan het, sou moes staak. Aangesien dit die onderneming skade sou berokken, het ek gehuiwer om te studeer.”
Maar met die aansporing van die Getuies het Junichi begin studeer en weldra so vooruitgang gemaak dat hy sy lewe aan God toegewy het en gedoop is. Hoewel hy steeds sy voltydse werk het, het Junichi syns insiens ’n ware lewensloopbaan gevind. Sedert Maart 1978 dien hy as ’n gereelde hulppionier en bestee hy 60 uur per maand aan die predikingswerk.
Het Junichi baat gevind by sy nuwe lewenswyse? “Ja, ek het. Ek vind dat ek gedurende die dag baie produktiewer is ten einde die aande vry te hê om saam met my gesin Koninkryksbelange na te jaag. Ek het talle geleenthede gehad om vir my medewerkers te getuig en die Bybel te studeer met ander mans wat net so druk besig gehou word deur hulle sekulêre werk soos eens met my die geval was. Twee is gedoop, en ek studeer met nog drie. Ek dank Jehovah vir sy geduld met my.”
Hy wou gou ryk word
Takafu was een van ses kinders en het die Tweede Wêreldoorlog se lugaanvalle op die stad Nagoja met die hemp aan sy lyf en ’n word-gou-ryk-filosofie oorleef. Op aansporing van sy oom het hy hom op die ouderdom van 15 by ’n beroepsfietsrenskool ingeskryf. Teen die ouderdom van 22 was hy ’n eersterangse fietsjaer en het hy aan wedrenne dwarsoor die land deelgeneem. Hy onthou hoe hy sy moeder sy prysgeld as ’n blyk van waardering voor die gesinsaltaar sien offer het. Dit het gelyk asof Takafu sy lewensdoelwit bereik het en asof alles voor die wind gaan.
Toe het ’n sendeling van Jehovah se Getuies by sy huis besoek afgelê en Takafu stof tot nadenke gegee. Woorde soos dié, wat deur Jesus geuiter is, het hom bygebly: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (Mattheüs 16:26). Mettertyd het Takafu se Bybelkennis toegeneem en het hy besef dat sekere veranderinge aangebring moet word.
“As ’n beroepsfietsryer het ek geweet dat fietsjaery en dobbelary hand aan hand gaan”, het Takafu gesê. “Maar die besluit was nogtans nie maklik nie. Ek het sewe jaar van my lewe aan die sport gewy, en my inkomste het noodsaaklik gelyk vir die gesin se welsyn. Maar ek het uit die Bybel geleer dat Moses en Paulus voor soortgelyke besluite te staan gekom en die beter weg gekies het. Ek het ook.” Takafu het ’n nuwe wedloop—die wedloop om die lewe—begin, en hy volhard vandag nog daarin, terwyl hy gemeentes etlike jare al as reisende opsiener help.
Sy onderneming het al sy tyd in beslag geneem
Satoshi was in die damesklerebedryf. As die suksesvolle eienaar van vier boetieks, was hy finansieel veilig. Maar sy omgang in die sakewêreld het hom ook tot die slotsom laat kom dat wêreldwye besoedeling, voedseltekorte en oorlog weldra ’n einde aan die mens se bestaan sou maak. Toe ’n Getuie besoek aflê met ’n blaadjie wat die versekering gee dat God dit nie sou toelaat nie, het dit dus Satoshi se belangstelling gewek.
Maar sy onderneming het in die pad gestaan. “Die mededinging is so fel dat ’n mens se onderneming te gronde sou gaan as jy minder werk”, het Satoshi gesê. “Dis ’n kwessie van ‘verslind of word verslind’. Daar is ’n gesegde in die bedryf dat as jy nie werklik besig is nie jy bankrot moet wees.” Dit het dus twee jaar, sowel as groot inspanning, gekos voordat Satoshi uiteindelik besluit het om ’n Bybelstudie te aanvaar.
Nadat hy een van Jehovah se Getuies geword het, het hy twee van sy winkels verkoop en het hy bestuurders om na die ander twee om te sien. Hoewel Satoshi nou slegs twee of drie dae per maand as ’n rekenmeester en adviseur werk, sê hy: “My inkomste is nog genoeg. Ek wil my diens aan Jehovah God eerste stel.” Hy oefen nou sy ware beroep in die voltydse bediening uit deur as ’n pionier te dien. Hy en sy gesin maak goeie geestelike vooruitgang.
Sy beroep het hom gehelp om God te vind
Hiroshi het in sy familie se blikwarewinkel gewerk. Maar sy eintlike belangstelling was in natuurfotografie. Hy het so bedrewe daarin geraak dat sommige van sy insekfoto’s gepubliseer is. Teen die ouderdom van 29 was hy ’n beroepsnatuurfotograaf.
“As gevolg van my studie van insekte”, sê Hiroshi, “het ek gereken dat as God bestaan, hy ’n goeie sin vir humor moet hê. Dit het my aan die evolusieteorie laat twyfel en ek het ’n bietjie in die Bybel begin belangstel.”
Een winterdag het twee Getuies Hiroshi besoek. “Toe ek twee tydskrifte met artikels oor diere by hulle geneem het, het hulle aangebied om die Bybel tuis met my te bestudeer”, het Hiroshi gesê. “Ek het gemeen dat ek nie ’n lid hoef te word nie, aangesien ek nie kerk toe hoef te gaan om te studeer nie. Ek het dus ingestem.” Hoewel hy verbaas was toe hy geleer het wat die Bybel oor die Skepper sê, het hy dit gou aanvaar. Sy belangstelling in die skepping het minder belangrik as sy liefde vir Jehovah geword.
Hiroshi onderhou nou sy gesin as ’n vryskutfotograaf. Maar sy ware loopbaan is dié van ’n voltydse bedienaar.
Hulle het iets beters gevind
Die lys van beroepsmense in Japan wat hulle lewens—en soms hulle werk—verander het toe hulle van Jehovah en sy voornemens geleer het, is eindeloos. Hulle geledere sluit in dokters, tandartse, argitekte, rekenaarprogrammeurs en stelselontwerpers, onderwysers, veeartse, haarkappers, sakeleiers, ensovoorts.
Al hierdie beroepsmense was eens op ’n tyd ten volle toegewy aan hulle werk. Toe hulle geleer het dat hierdie stelsel sy einde nader, het hulle ’n beroepsbesluit geneem. Hulle het hulle sekulêre werk in die regte plek geplaas en iets beters begin najaag—God se Koninkryk en die beloofde seëninge daarvan (Mattheüs 6:33). Hulle het laat vaar wat hulle voorheen gedink het hulle lewensloopbaan sou wees en het beroepsmense op ’n nuwe gebied geword. Hulle het ’n lewensloopbaan as pionierknegte van die Allerhoogste, Jehovah God, begin.
[Prent op bladsy 23]
Fietsrykampioen Takafu Yamaguchi