Jesus se lewe en bediening
’n Vraag oor die vas
FEITLIK ’n jaar het verstryk sedert Jesus die Pasga van 30 G.J. bygewoon het. Johannes die Doper is nou al etlike maande in die tronk. Hoewel hy wou gehad het dat sy dissipels volgelinge van Christus moes word, het nie almal van hulle nie.
Party van hierdie dissipels van die gevange Johannes kom nou na Jesus toe en vra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie?” Die Fariseërs vas twee keer per week as ’n ritueel van hulle godsdiens. En Johannes se dissipels volg moontlik ’n soortgelyke gebruik. Dit kan ook wees dat hulle vas om te rou oor Johannes se gevangenskap en wonder waarom Jesus se dissipels nie saam met hulle vas as teken van droefheid nie.
In antwoord verduidelik Jesus: “Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”
Johannes se dissipels behoort te onthou dat Johannes self van Jesus as die Bruidegom gepraat het. Terwyl Jesus teenwoordig is, sou Johannes dit dus nie paslik ag om te vas nie en Jesus se dissipels ook nie. Later, wanneer Jesus sterf, rou en vas sy dissipels wel. Maar wanneer hy opgewek word en na die hemel opvaar, het hulle nie meer rede om droewig te vas nie.
Jesus vertel vervolgens hierdie illustrasies: “Niemand sit ’n nuwe stuk lap op ’n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom ’n erger skeur. ’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke.” Wat het hierdie illustrasies met vas te doen?
Jesus het Johannes se dissipels help besef dat niemand behoort te verwag dat sy volgelinge hulle na die ou gebruike van Judaïsme, soos rituele vas, moet skik nie. Hy het nie gekom om ou, uitgediende aanbiddingstelsels, wat weggedoen sou word, te lap en uit te rek nie. Die Christelike godsdiens sou nie aangepas word by die Judaïsme van die dag met sy mensetradisies nie. Nee, dit sou nie wees soos ’n nuwe lap op ’n ou kleed of soos nuwe wyn in ’n ou leersak nie. Mattheüs 9:14-17; Markus 2:18-22; Lukas 5:33-39; Johannes 3:27-29.
♦ Wie het gevas, en waarom?
♦ Waarom het Jesus se dissipels nie gevas terwyl hy by hulle was nie, en hoe het rede om te vas later spoedig verdwyn?
♦ Watter illustrasies het Jesus vertel, en wat beteken hulle?
[Volbladillustrasie op bladsy 8]