Ek vind rasseharmonie in verdeelde Suid-Afrika
Soos vertel deur Merlyn Mehl
EK IS ’n Suid-Afrikaner, of, soos ons koddig in hierdie land genoem word, ’n gekleurde Suid-Afrikaner. Ek is ook ’n professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die grootste oorwegend Swart universiteit in die land. Ek het ’n doktorsgraad in fisika-opvoedkunde. Ek is ook die afgelope 20 jaar een van Jehovah se Getuies. Watter van hierdie twee situasies het my gehelp om rasseharmonie in hierdie land van wrywing en konflik te ervaar?
My kinderjare in Suid-Afrika
Kaapstad, aan die suidpunt van Afrika, is al beskryf as ‘die skoonste Kaap in die hele aarde’. Dit is ’n roerende ondervinding om op ’n helder nag na die sterre in Kaapstad te kyk. Ek onthou dat ek eenkeer, terwyl ek dit gedoen het, vir ’n vriend gesê het: “Wat is die doel van dit alles? Dit moet tog sekerlik iets beteken; en tog is dinge hier onder so sinloos. Hoe kan mense so teen ander diskrimineer? Waarom is dinge so onregverdig?”
As ’n mens in Suid-Afrika gebore is, is jy van jongs af bewus van diskriminasie. Rasseprobleme is skynbaar alomteenwoordig. Van kleintyd af word mense op grond van ras geskei en geklassifiseer. Ons familie word deur die Suid-Afrikaanse wette as “gekleurd” geklassifiseer. As kinders is ons geleer dat Blankes die verdrukkers is, terwyl ons onder die verdruktes tel. En aangesien ons op skool of op sosiale gebied bykans geen kontak met ander rasse gehad het terwyl ons grootgeword het nie, is dit verstaanbaar dat ons agterdogtig was teen mense van ’n ander ras. Dit het vir ons gelyk asof Blankes die beste van alles het—huise, fasiliteite en skole. “Apartheid”, die wetlike skeiding van rasse, het die mees gehate woord in ons woordeskat geword.
Voordat ek my laerskoolopleiding voltooi het, moes ons gesin padgee uit die huis in die veelrassige buurt waar ek en my suster gebore is. Waarom? As gevolg van die Wet op Groepsgebiede, wat bepaal het dat elke buurt aan net een rasgroep toegewys kan word. Ons het na ’n ander buurt getrek, waar ons ’n paar jaar gewoon het tot dit ook tot ’n “Wit buurt” geproklameer is. Toe is ons daar ook weg.
Weens die ooglopende onregverdighede het my ouers sowel as ons onderwysers ons aangespoor om hard te leer op skool. “Julle moet vir die Witman wys dat julle beter as hy is”, was die boodskap. Dit het my gesindheid teenoor die skool beïnvloed. Hoewel ek vreeslik skaam was, was ek lief vir leer. Ek het die meeste van my tyd daaraan bestee om alles te lees wat ek in die hande kon kry. Toe ek skool verlaat het, was ek gevolglik onder die topleerlinge in die land. Dit was vanselfsprekend dat ek universiteit toe sou gaan. Omdat ek wetenskap en wiskunde geniet het, was dit maklik om ’n graadkursus in die wetenskap te kies, met fisika en wiskunde as hoofvakke.
Aangesien die Wet op Aparte Universiteite in 1960 (die einste jaar wat ek universiteit toe gegaan het) in werking getree het, was ek verplig om na ’n universiteit vir my rasgroep te gaan. Baie publisiteit is aan die studente by hierdie afsonderlike universiteite gegee. Ek het elke jaar met onderskeiding geslaag en uiteindelik ’n meestersgraad in die kernfisika behaal. Dit het baie aandag getrek, veral omdat ek toe as dosent van die Universiteit van Wes-Kaapland aangestel is—die eerste Kleurlingstudent wat so ’n aanstelling gekry het.
En tog was ek op hierdie stadium baie gefrustreerd. Ek het nie die antwoord gehad op die belangrike vraag van die lewe nie: Wat is die doel van dit alles? Die voormelde gesprek met my vriend het omtrent hierdie tyd plaasgevind.
My vrae word beantwoord
Tot op hierdie stadium het godsdiens ’n baie klein rolletjie in my lewe gespeel. As kind het ek na die Anglikaanse Kerk toe gegaan en is ek op die ouderdom van 16 aangeneem. Maar my vrae is nooit beantwoord nie. Namate ek ouer geword het, het ek al minder kerk toe gegaan en uiteindelik opgehou.
Toe het ek eendag die huis van ’n universiteitskollega besoek. Sy vrou, Julia, het die Bybel gebruik om te toon dat daar ’n oplossing is vir die politieke en rasseprobleme van nie net Suid-Afrika nie, maar ook van die hele wêreld. Ek was verbaas en skepties. Maar ek het die boekie Grondslag vir geloof in ’n nuwe wêreld geneem, huis toe gegaan en dit uit nuuskierigheid begin lees.
Twee-uur die volgende oggend was ek nog aan die lees! Hier was beredeneerde argumente oor waarom die Bybel waar is, waarom die profesieë daarvan betroubaar is, waarom die mensdom soveel probleme ondervind, waarom 1914 so ’n betekenisvolle jaar is en waarom ons kan hoop op ’n regverdige nuwe stelsel hier op aarde. Dit moes eenvoudig die waarheid wees!
Die volgende dag het ek weer na die huis van my kollega gegaan. “Het jy nog sulke lektuur?” het ek sy vrou gevra. Ek is daar weg met ’n stapel boeke oor basiese Bybelleerstellings, uitleggings van die profesieë van Daniël en Openbaring, die aard van die ses skeppingsdae en nog baie ander onderwerpe. Wat my getref het, was dat hulle getoon het dat daar nêrens in die Bybel enige regverdiging vir rassediskriminasie is nie, aangesien “God geen aannemer van die persoon is nie” (Handelinge 10:34). Ek het al die lektuur verslind. Hier was die antwoorde op die vrae wat my altyd gepla het. Ek is na ongeveer ’n jaar van doelgerigte Bybelstudie as een van Jehovah se Getuies gedoop. Dit was op 21 November 1967.
As ’n organisasie is Jehovah se Getuies waarlik nie-rassisties en nie-polities. Hulle is trou aan net een regering, God se Koninkryk. Sosiale status is vir hulle werklik onbelangrik. Maar in Suid-Afrika is daar altyd probleme in verband met rassekwessies. Weens die Wet op Groepsgebiede bestaan gemeentes hoofsaaklik uit die rasse wat in daardie gebied woon. In die Claremont-gemeente waaraan ek verbonde was, was die meeste mense dus Kleurlinge. Die paar Blankes was òf sendelinge òf manne wat die leiding geneem het.
Ek onthou nog, na al hierdie jare, twee voorvalle wat toon hoe moeilik dit is om rassevooroordeel af te skud. By byeenkomste het Blankes gewoonlik voor in die kafeteriatoue gaan staan, hulle kos gekry en eenkant gaan eet, terwyl die res van ons gestaan en wag het. Dit het my gegrief. Die Blanke Getuies was ook geneig om hulle vrouens so voor te stel: “My skat, dit is Merlyn. Hy studeer die Bybel.” “Merlyn, dit is my vrou, suster So-en-so.” Hulle het my op my eerste naam aangespreek, maar ek moes “Suster” of “Broer” sê. Ek was hoogs verontwaardig!
Maar toe het ek daaroor begin nadink. Die probleem is dat jy altyd dink dit is die ander persoon wat rassisties is. En tog sal ’n etnies gepolariseerde gemeenskap soos Suid-Afrika noodwendig die lewens beïnvloed van almal wat hier woon. Sommige Blanke Getuies moes weliswaar werk aan hulle verhoudinge met mense van ’n ander kleur. Maar ek moes ook. Die Bybel gee goeie raad oor hierdie onderwerp: “Moenie gou kwaad word nie: dit is ’n dwaas wat gou kwaad word” (Prediker 7:9, NAV). Ja, ek moes daaraan werk om nie so liggeraak te wees nie en om nie gewaande beledigings in rasseterme te vertolk nie.
Ek moet ook noem dat die algemene situasie in die land sedertdien ietwat verander het. In vroeër jare is slegs ’n beperkte aantal Blankes toegelaat om godsdienstige samekomste van ander rasse by te woon, en hulle moes apart eet. Dit is nie meer die geval nie.
Die heel belangrikste is egter dat hier ’n organisasie van mense was wat vryelik gemeng het, wat welkom was in mekaar se huise en wat mekaar broer en suster genoem en dit werklik bedoel het! Hierdie oortuigings is onwrikbaar en is stewig op Bybelbeginsels gegrond. Wanneer rassevoorvalle dus opduik—en in Suid-Afrika is dit feitlik onvermydelik—dink ek aan hierdie feite, en dit help altyd om my gevoelens te temper. Met die verloop van die jare leer ek om Bybelbeginsels beter toe te pas en kry ek dus groter innerlike vrede wat rasseaangeleenthede betref. Maar ’n mens moet daaraan werk!
Die voltydse bediening
Kort nadat ek gedoop is, het ek besef dat ek my bediening moet uitbrei. Ek was ongetroud en het min verantwoordelikhede gehad, en daarom het ek op 1 Oktober 1968 as ’n gewone pionier begin dien. Dit het heelwat opspraak verwek, aangesien dit beteken het dat ek die universiteit verlaat het en wat in talle se oë ’n glinsterende loopbaan was, prysgegee het. Die opskrif van ’n koerantberig oor my stap was: “Topwetenskaplike word Bybeldweper.” Ek het weldra tien of meer Bybelstudies met verskillende persone of gesinne gehou. By een byeenkoms is twee van hierdie mense gedoop, by die volgende, vier; toe sewe, ensovoorts.
Op 17 September 1969 is ek getroud met Julia, die Getuie by wie ek die eerste keer die waarheid gehoor het. Sy het geruime tyd voor ons huwelik ’n wetlike en skriftuurlike egskeiding verkry. So het ek ’n kitsgesin geërf, aangesien sy twee seuns, John en Leon, gehad het. Ons het ons voorgeneem om so lank moontlik in die pionierdiens te bly, wat ’n goeie grondslag vir die seuns was en my gehelp het om ’n sukses van ons stiefgesin te maak.
Die vroeë sewentigerjare was ’n baie opwindende tyd om in die voltydse diens te wees, soos hierdie ondervindinge toon. Terwyl ons van huis tot huis gepreek het, het ons ’n vrou genaamd Annabel ontmoet. Sy het onmiddellik die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en ’n Bybel geneem. (Ons het later gehoor dat sy met haar laaste geld vir die lektuur betaal het—die melkverkoper moes sy geld die volgende week kom haal!) Sy het ten spyte van ’n onrustige baba van die begin af goed voorberei vir haar weeklikse Bybelstudie. Sy het ook begin om haar familie te vertel wat sy geleer het. Haar man, Billy, het haar spoedig na vergaderinge begin vergesel. Annabel se ouers het hulle vyf kinders volgens die alfabet name gegee. Haar suster Beattie het begin studeer. Charlie en sy vrou wou nie agterbly nie. Daphne het ook belangstelling getoon en Edna en haar man ook. Vandag dien daardie hele familie al baie jare lank getrou. Die mans is ouere manne of bedieningsknegte en baie van die vrouens het as pioniers gedien.
En dan is daar Stanley. Ons het hom in die huis-tot-huiswerk ontmoet, die laaste besoek op ’n koue Maandagmiddag. Maar wat ’n ontvangs! Sy vrou het ons ingenooi, en dit was dadelik duidelik dat ons met ’n godvresende man te doen het. Trouens, hy het pas tevore om hulp gebid om die Bybel te verstaan. Ons eerste bespreking het oor die Drie-eenheidsleer gehandel. Na ’n uur se bespreking het dit gelyk of ons hom oortuig het. Die volgende week het hy ons met hierdie woorde gegroet: “Julle mense is reg. Ek het die hele ‘Nuwe Testament’ deurgelees, en daar is nie ’n Drie-eenheid nie. Ek het die predikant gaan sien om hom te vra waarom hy my mislei het. Hy het geweier om my te woord te staan, daarom het ek die kollektekoeverte teruggegee wat ek gebruik het om geld by ander kerklidmate op te neem.” En dit alles sonder dat hy ’n enkele publikasie by ons gekry het! Hy wou die vergaderinge bywoon en ons het beloof om hom te gaan haal. Maar daardie Sondag het ons vyf minute later gekom as wat ons beloof het. Ons het hom teëgekom waar hy op sy fiets op pad vergadering toe was! “Ek het gedink julle het my vergeet”, het hy gesê. Ons het drie maal ’n week studeer, en hy is drie maande na ons eerste ontmoeting gedoop. Stanley dien al baie jare met dieselfde ywer as wat hy aan die begin gehad het.
Ek en Julia het uitgewerk dat ons deur die jare heen die voorreg gehad het om sowat 50 mense te help om Getuies van Jehovah te word.
Terug na sekulêre werk
Na vier jaar in die pionierdiens was ons geld amper op. Die lewenskoste het gestyg en die seuns het groter geword. Met swaar harte het ons besluit om die voltydse bediening te verlaat. Dit was in September 1972. Wat het daarna gebeur? Op 1 Januarie 1974, net meer as ’n jaar later, het ek weer by die universiteit begin doseer toe ’n pos in die fisika-afdeling gevul moes word. Dit het ’n aansienlike heraanpassing geverg, en ek moes ook waak teen neerslagtigheid. Maar met goeie ondersteuning van Julia kon ek die aanpassings maak. Wat my baie gehelp het, was om baie bedrywig in die bediening en die gemeente te bly—om werklik aan te hou om ‘eers die koninkryk te soek’.—Mattheüs 6:33.
Aangesien daar van alle universiteitsdosente verwag word om navorsing te doen, het ek gewonder of ek na die kernfisika moet terugkeer. Ek het dit baie moeilik gevind om hierdie esoteriese soort navorsing te versoen met die feit dat ek my vrye tyd daaraan bestee het om mense te probeer help om die waarheid van die Bybel te verstaan. Dit het so sinloos gelyk om navorsing bloot ter wille van navorsing te doen. En navorsing oor die kernfisika kan natuurlik militêre aanwendings hê en dit kan probleme veroorsaak ten opsigte van Christelike neutraliteit.—Jesaja 2:2-4.
In Suid-Afrika het ’n universiteit soos dié van die Wes-Kaap baie studente wat “minder bevoorreg” genoem word. As gevolg van swak skoling en ander sosiaal-ekonomiese faktore is hulle nie voldoende voorberei wanneer hulle universiteit toe kom nie. In baie gevalle het hulle nie ’n gebrek aan potensiaal nie—hulle het net nie die geleentheid gehad nie. Die afgelope 13 jaar het ek, as deel van my universiteitswerk, navorsing gedoen oor die leerprobleme van sulke studente en alternatiewe leermetodes opgestel. As gevolg van hierdie navorsing het ek ’n doktorsgraad in fisika-opvoedkunde ontvang en is ek tot professor bevorder. Navorsing word nou gedoen in samewerking met universiteite in die Verenigde State en Israel. Dit is interessant om die bevindinge van hierdie navorsing met die onderrigmetodes van Jehovah se Getuies te vergelyk.
’n Teorie wat deur professor Reuven Feuerstein en sy kollegas in Israel opgestel is, word Middellike Leerervaring genoem. Die kern van die teorie is dat kinders denkvermoë ontwikkel nie net deur eksterne stimuli wat hulle deur hulle sintuie bereik nie, maar ook deur ’n menslike bemiddellaar wat die stimuli vir hulle vertolk. As dit nie gedoen word nie, ontwikkel hulle denkvermoë nie soveel soos dit kan nie.
Jehovah se Getuies lê baie klem op die rol van die ouer as die vernaamste onderrigter van die kind. Getuie-ouers bestee baie tyd daaraan om geïllustreerde Bybelstudiehulpe saam met hulle kinders deur te werk, vrae aan hulle te stel oor wat hulle sien en hulle te help om die betekenis van Bybelverhale te verstaan. Hulle beklemtoon hoe belangrik dit is om nie net weekliks die Bybel te bestudeer nie, maar ook voortdurend opleiding te gee, veral ten opsigte van Bybelbeginsels (Deuteronomium 6:6-8). Dit lyk asof voormelde navorsing toon dat ouers wat dit doen in werklikheid die intelligensie van hulle kinders ontwikkel.
Konstruktivisme is ’n ander teorie waarvolgens onderrigting nie eenvoudig oordraging van inligting van die verstand van die onderrigter na die verstand van die leerling is nie. Elke persoon vorm eerder sy of haar eie konstruksies van wat gesien, gehoor of ervaar word. Dit is waarom twee mense na dieselfde informasie kan luister en verskillende gevolgtrekkings kan maak. Mense moet self die informasie bestudeer om die leerproses doeltreffend te maak.
Die vergaderinge van Jehovah se Getuies moedig juis dit aan. Daar word van almal verwag om die inligting wat bespreek sal word vooraf voor te berei uit die beskikbare lektuur. Gedurende die vergadering self word die gehoor gevra om kommentaar te lewer oor die voorbereide materiaal. Op hierdie manier word mense nie net aangespoor om wat hulle geleer het weer te gee nie, maar ook om baat te vind by die voorbereiding van ander.
Die koms van rekenaargesteunde onderwys is begroet as die middel om onderrig te individualiseer. En tog blink die Bybelstudiewerk wat die Getuies al baie jare in die huise van mense doen hierin uit! Een onderrigter help een, twee of drie mense (selde meer) om gedrukte materiaal oor ’n Bybelonderwerp wat die student voorberei het, te bestudeer. Die student word, paragraaf vir paragraaf, aangemoedig om te verduidelik wat hy verstaan, en dan word dit bespreek—waarlik ’n persoonlike Bybelstudie. Met die oog op sulke goeie onderrigbeginsels is dit geen wonder dat Jehovah se Getuies so suksesvol is nie. Hulle hoef hierdie beginsels natuurlik nie by ’n universiteit te leer nie. Hulle leer dit uit ’n verhewe bron—die Bybel.—Mattheüs 28:19; Johannes 6:45.
Rasseharmonie vervang rassespanning
Meer as 20 jaar het verbygevlieg sedert ek een van Jehovah se Getuies geword het. John en Leon, my stiefseuns, is nou groot, en albei is gedoop en dien getrou. In 1976 is ons seun Graeme gebore. Dit is ’n voorreg om hom ook in die weg van die waarheid groot te maak. Ons gesin is geseën omdat Julia weer as pionier kan dien, terwyl ek ten minste drie maal per jaar hulppionierdiens doen. Oral om ons heen in Suid-Afrika was daar ’n dramatiese toename in rassespanning. ’n Mens sien dit in die graffiti op geboue en voel dit in die lug. En tog vind ’n hedendaagse wonderwerk te midde van al die rassepolarisasie plaas. Weens die staat se verslapping van wette oor samekomste kan Jehovah se Getuies nou taamlik vryelik bymekaarkom, veral by groot byeenkomste. Ek het die voorreg gehad om te help om sommige van hierdie byeenkomste vir alle rassegroepe te organiseer. Daar sien ons ware rasseharmonie, mense wat deur die verhewe standaarde van die Bybel opgevoed is om waarlik kleurblind te wees! Hier is mense wat na ander se innerlike kyk, nie net na die kleur van hulle vel nie.
Jehovah se Getuies vorm vandag die enigste ware wêreldwye broederskap van die mensdom. Jehovah sal binnekort, in sy nuwe stelsel van dinge, “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”. Saam met miljoene van my broers en susters dwarsdeur die wêreld sien ek uit na daardie wonderlike, regverdige, nie-rassistiese nuwe wêreld.—Openbaring 21:3-5.