Wie is regtig die ontvlugters?
“ONTVLUGTING van die werklikheid.” Dit is wat ’n familielid gesê het toe ’n jong prediker na die Suidsee verhuis het om sendingwerk te doen. En talle sal dit eens wees met hierdie gedagte. ’n Radiokommentator in Nieu-Seeland het byvoorbeeld onlangs te kenne gegee dat wanneer ekonomiese toestande agteruitgaan talle mense hulle tot geloof in God wend as ’n vorm van lewensontvlugting.a
Maar is diegene wat hulle lewens aan die najaging van geestelike belange wy werklik ontvlugters? Nie volgens Jesus Christus nie. Hy het geloof in God nie as ’n illusie, ’n versinsel of ’n blote hersenskim beskou nie. In Johannes 7:28 (NW) het hy gesê: “Ek het nie uit myself gekom nie, maar hy wat my gestuur het, bestaan werklik.”
In Jesus se geval het geloof in God hom egter nie op die een of ander passiewe wyse beïnvloed nie. Hy is beweeg om sy lewe aan God aan te bied en het gesê: “Kyk, Ek kom . . . om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:7). Ware Christene word vandag net so dwingend beïnvloed. Let ter toeligting hiervan op die raad wat Paulus geskryf het aan Timotheüs, ’n vooraanstaande ouere man in die eerste-eeuse gemeente. Paulus het geweet dat sommige in die gemeente baie materiële bates besit het. Maar omdat hulle geloof op die werklikheid berus het, sou hulle beweeg word om hierdie bates te benut. Paulus het gesê: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”—1 Timotheüs 6:17-19.
Die Christelike godsdiens is derhalwe nie ontvlugting van die werklikheid nie. Dit vereis dat verantwoordelikheid moedig onder die oë gesien word. Die God wat ons aanbid, is geen hallusinasie nie; hy bestaan werklik. Die lewe van diens wat ons lei, is sinvol en bevredigend. In plaas van ’n ongegronde veronderstelling te wees, het ons hoop op ’n toekomstige beloning ’n vaste fondament, naamlik die beloftes van ’n God wat nie kan lieg nie.—Hebreërs 6:18.
Maar wat van diegene wat ontken dat dit nodig is om God te dien, en wat hulle lewens om materiële dinge of die een of ander selfsugtige loopbaan bou? Is hulle dalk in werklikheid die ontvlugters?
Die wyse man Salomo het uitdrukkings soos “tevergeefs” en “’n gejaag na wind” gebruik om ’n lewe te beskryf waarin materiële dinge en vleeslike genietinge ’n belangrike plek beklee. Hy het die uiteinde beskryf en gesê: “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.”—Prediker 2:10, 11.
Ja, selfs ’n materialistiese lewenswyse het vreugde van die een of ander aard meegebring. Maar ware bevrediging en blywende geluk het kortgekom. So ’n lewe is eenvoudig “tevergeefs”. Die Hebreeuse woord vir “tevergeefs” beteken dan ook letterlik “asem” en dui dus iets aan wat nie bestendig en blywend is nie. The New English Bible gebruik derhalwe die woord “leegheid”.
Is die persoon wat die soort lewe lei wat Salomo as “tevergeefs” bestempel het dus in ’n posisie om ’n Christen daarvan te beskuldig dat hy tot ’n toestand van denkbeeldige vergenoegdheid ontvlug? Nouliks. Trouens, die apostel Paulus het verder getoon dat ‘die toneel van hierdie wêreld besig is om te verander’ (1 Korinthiërs 7:31, NW). Hy vergelyk die goddelose wêreld hier met ’n verhoog met immer veranderende tonele. Dinge wat vandag groots, pragtig, selfs skouspelagtig lyk, kan môre weg wees. Hedendaagse “spelers” word mettertyd deur ander vervang. Maar ondanks al hulle kragtige pogings bring hulle lewens niks van blywende waarde voort nie. Hulle het geen ware hoop vir die toekoms nie.
Dit is soos Philip Chesterfield, 18de-eeuse Engelse howeling en redenaar, tereg gesê het: “Ek het al die lawwe vorme van vermaak op die proef gestel, en is klaar daarmee. Ek het al die genietinge van die wêreld gesmaak, en ek takseer hulle volgens hulle werklike waarde, wat eintlik baie laag is . . . Wanneer ek nadink oor wat ek gesien het . . . en wat ek gedoen het, kan ek my kwalik daarvan oortuig dat al daardie ligsinnige gehaas en gewoel van vermaak in die wêreld enige werklikheid gehad het.”
Christene is egter soos Abraham wat “die stad verwag [het] wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:10). Omdat hulle geloof seker is, hoef hulle nie te ontvlug nie, maar hulle vul hulle lewens met bevredigende bedrywighede. Wat van jou lewe? Is dit ’n blote ontvlugting, of is dit stewig, op die werklikheid gebou?
[Voetnote]
a “Lewensontvlugting” is volgens definisie “om die verstand voortdurend tot fantasie te wend as ’n ontvlugting van die werklikheid”, of “die ontwyking van die werklikheid deur die verstand in . . . ’n denkbeeldige situasie, bedrywigheid, ens. te verdiep”.