Die voortplanting van lewe—deur evolusie of van God?
“Wonderbaarlik gekompliseerd”. So beskryf die blad Science News ’n vrou se voortplantingstelsel. Maar ’n eiersel van ’n vrou se eierstokke kan nie op sy eie lewe voortbring nie. Dit kan eers gebeur as wanneer ’n saadsel van die manlike voortplantingstelsel met die kern van die eier saamsmelt. Maar wat doen die saad om die eier te laat ontwikkel? Dit is ’n vraag wat wetenskaplikes nog dronkslaan.
Vir die wat glo dat die manlike en die vroulike voortplantingsorgane geëvolueer het, ontstaan daar nog ’n vraag: Hoe is lewe oorgedra voordat albei organe volledig gevorm was?
Daar is ander wondere by voortplanting betrokke. Die genetiese materiaal in ’n bevrugte eier kan slegs met behulp van ’n mikroskoop gesien word. Tog bevat dit “ontsaglike biblioteke vol informasie”, soos professore Friar en Davis dit in hulle boek A Case for Creation stel. “Daar is geen ander voorbeeld van miniaturisasie wat enigsens hiermee vergelykbaar is nie”, voeg hulle by. Hierdie mikrobiblioteek beheer die groei van al die liggaamsdele, met inbegrip van besonderhede soos die kleur van die oë en die hare.
Kort na bevrugting verdeel die sel in twee, die twee word vier, en so hou dit aan tot daar ’n massa selle is. Seldeling behels die duplisering en rangskikking van miljoene molekules. Dit is soos ’n fabriek wat outomaties in twee afsonderlike fabrieke verdeel, kompleet met identiese masjienerie wat dieselfde produk lewer, waarna hierdie vermenigvuldiging oor en oor plaasvind. Dan gebeur daar nog ’n verstommende ding.
Selle met verskillende fatsoene begin vorm—senuselle, spierselle, huidselle en al die ander soorte selle waaruit die menseliggaam bestaan. Seldifferensiasie is ’n raaisel. So ook selsamevoeging. “Niemand weet vir seker”, sê Science Digest, “waarom sekere selle saamtros om ’n nier te vorm, terwyl ander aaneensluit om ’n lewer te vorm, ensovoorts” nie. Uiteindelik bereik die menseliggaam sy volle grootte, met sowat 100 000 000 000 000 selle.
Volgens die evolusieteorie het menselewe uit eenvoudige mikroörganismes geëvolueer. Maar anders as mense kom die meeste mikroörganismes van net een ouer. Hulle plant op hulle eie voort. Hoe kon hierdie vorm van voortplanting geëvolueer het tot die ingewikkelder vorm waar twee ouers nodig is? Evolusioniste vind dit moeilik om hierop te antwoord, soos die aanhalings op die vorige bladsy toon.
Evolusioniste beskryf hierdie groot sprong eenvoudig as “die uitvinding van geslagsvoortplanting”. Maar sommige wetenskaplikes het die moed om beswaar te maak. Professor Jaap Kies van die Universiteit van die Wes-Kaap beskryf dit as “ongegronde spekulasies”.
Daar is net een bevredigende verklaring vir die voortplanting van lewe. Dit is ’n gawe van die alwyse Skepper, Jehovah God. Soos die Bybel sê: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer.”—Jakobus 1:17.
[Venster op bladsy 3
Wat evolusioniste oor voortplanting erken
“Ons het nie eens die vaagste benul oor die finale oorsaak van seksualiteit nie; waarom nuwe wesens voortgebring sou word deur die samesmelting van die twee seksuele elemente, pleks van deur ’n proses van partenogeniese [voortplanting waarvoor net een ouer nodig is] . . . Die hele saak is tot dusver in duisternis gehul.”—Charles Darwin,1862.
Met verwysing na Darwin se beskouing het Science News van 8 September 1984 gesê: “Hy kon net sowel vandag geskryf het.”
“Hierdie boek,” sê professor George C. Williams in die voorwoord tot Sex and Evolution, is geskryf weens die oortuiging dat die voorkoms van seksuele voortplanting in hoër plante en diere nie met die heersende evolusieteorie klop nie.”
In sy boek The evolution of Sex bied professor John Maynard Smith “’n skema vir die oorsprong van geslagtelikheid” aan, en hy noem dit “die beste skema wat ek aan die hand kan doen.” Hy sê ten slotte: “Ek kan nie voorgee date ek veel vertroue in hierdie verklaring het nie.”
“Geslagtelikheid is die grootste probleem in die evolusionêre biologie. . . . Dit wil voorkom of van die fundamenteelste vrae in die evolusionêre biologie nog skaars gestel is. . . . Die grootste en mins ignoreerbare en hardnekkigste van hierdie vrae is: Waarom geslagtelikheid?”—The Masterpiece of Nature, deur professor Graham Bell.